Bang vir die lewe

By Henry Bordeaux

The Project Gutenberg eBook of Bang vir die lewe
    
This ebook is for the use of anyone anywhere in the United States and
most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions
whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms
of the Project Gutenberg License included with this ebook or online
at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States,
you will have to check the laws of the country where you are located
before using this eBook.

Title: Bang vir die lewe


Author: Henry Bordeaux

Translator: Jan F. E. Celliers

Release date: December 6, 2023 [eBook #72345]

Language: Afrikaans

Original publication: Cape Town: Nasionale Pers Bpk, 1925

Credits: Kobus Meyer, Emmanuel Ackerman and the Online Distributed Proofreading Team at https://www.pgdp.net


*** START OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK BANG VIR DIE LEWE ***





Bang vir die Lewe




                            Bang vir die Lewe

              Uit die oorspronklike Frans van Henri Bordeaux
                ná die 137e Franse uitgaaf vir Suid-Afrika
                            vertaal en bewerk

                                   deur
                            JAN F. E. CELLIERS

                             (_Derde Druk._)

                     [Illustration: HET DAGHET OVERAL
                           NASIONALE PERS BPK]

       Die Nasionale Pers, Beperk, Drukkers en Uitgewers, Kaapstad,
             Stellenbosch, Bloemfontein en Pietermaritzburg.
                                  1925.




VOORWOORD AAN DIE LESER.


Hierdie verhaal het, as vervolgstorie, in „Die Brandwag” verskyn, van die
allereerste nommer af.

Baie boeke van die buiteland, en veral romans, behandel toestande,
persone en insigte wat vir die gewone Afrikaanse leser vreemd en dus
onverstaanbaar en ongenietbaar is. Dit kan van hierdie boek nie gesê word
nie: wat hier aan ons vertoon word, is algemeen-menslik—sulke persone en
hartstogte en gevoelens en kontraste tref ons by ons net so aan.

Sonder dat die outeur as sedemeester optree, gaan daar ’n sterk morele
invloed van sy boek uit, deurdat hy ons op meesterlike wyse die
teëstelling laat sien tussen swakkelinge—ryk en bedorwe sywurms wat bang
is vir die lewe en stryd en strewe daarvan—en ’n famielie van staatmakers
wat sout en krag in hulself het.

Die sentrale figuur is ongetwyfeld die brawe ou moeder Kibert—vir haar
vergeet ons nooit weer nie as ons die verhaal gelees het. En ons dink
daarby aan die talryke Afrikaanse moeders en dogters wat agtien jaar
gelede op so treffende wyse aan die wêreld getoon het hoe min _hulle_ vir
die lewe bang was—en vir die dood. Hulle rus daar op ons velde vandag,
dog die dag sal kom dat Afrikaanse skrywers ook uit _hul_ lewe stof sal
haal vir roerende en opbouende verhale. Dog die gewone lewe lewer daartoe
al stof genoeg op; hierdie skrywer—soos elke goeie skrywer—maak die
gewone vir ons interessant en het geen kunsies, soos intrigue en sulke
goed, nodig nie.

Hierdie verhaal is goed inmekaargesit. Die skrywer gee nie onnodige
praatjies en beskrywinge nie; ook sy natuurbeskrywinge is net van pas op
die toestande wat voorgestel word en nie plesiertuintjies waar die outeur
in verdwaal en die verband van sy storie versteur nie.

                                                             DIE VERTALER.




INHOUD.


    Hoofstuk.                                  Bls.

                        DEEL I.

       I. Terugkoms van Marcel Kibert            1

      II. Broer en Suster                       17

     III. Die Blommefees                        31

      IV. ’n Agtermiddag op Chenée              39

       V. Die Geheim van Alida                  55

      VI. Meneer en Mevrou Delourens            70

     VII. Die Huweliksaanvraag                  86

    VIII. Planne                               101

      IX. Afskeid                              113

       X. Vertrek                              121

                       DEEL II.

       I. Dertien aan Tafel                    130

      II. Die Boodskap van die Veldwagter      148

     III. Haar Laaste Kind                     154

      IV. Roubeklag                            162

       V. Jan                                  173

      VI. Isabella                             187

     VII. Die Geheim van Paula                 201

    VIII. Mevrou Kibert                        214

      IX. Haar Laaste Kind                     223

       X. Kalme Berusting                      233




Bang vir die Lewe.

_Uit die oorspronklike Frans van Henri Bordeaux na die 137e Franse
uitgaaf vir Suid-Afrika vertaal en bewerk deur Jan F. E. Celliers._




I.

TERUGKOMS VAN MARCEL KIBERT.[1]


Klaar om te vertrek, in haar een hand haar sambreel, alhoewel dit mooi
weer is, terwyl die ander die swart kripsluier wegskuiwe wat van haar
hoedjie afhang oor haar gesig, staan mevrou Kibert te wag in haar
voorkamer op Maupas, moeite doende om geduldig te bly. En nadat sy
al verskeie kere na die horlosie gekyk het, staan sy op en loop met
langsaam, swak stappies deur die kamer; dan gaan sy meteens weer sit, nie
op een van die lekker sagte leuningstoele nie, dog op ’n rottingstoel,
waarvan sy gou kan opstaan sonder alte veel moeite. Mevrou Kibert is al
taamlik oud, kort en dik, en haal langsaam asem. Haar gelaat vertoon
sagtheid sowel as beslistheid. Haar oë is helder-blou, en sy kyk daar
so teer en droefgeestig uit, dat dit lyk of daar trane in is—getuiende
van ’n skroomvallige en liefhebbende geaardheid, wat maklik skrik
aan te ja is deur omgang met die wêreld; maar haar vierkantige ken
en haar gesette, stewige postuur, gee weer ’n indruk van geeskrag en
weerbaarheid. Haar wange het, ondanks haar jare, nog fris gebly, duidende
op edel bloed en goeie gesondheid.

Na ’n bietjie aarseling, besluit sy om ’n deur oop te maak en te roep:

—Paula, kom jy nou? Dis tyd om te gaan.

’n Helder en suiwer stem gee antwoord:

—Ag, ma, ons het nog baie tyd.

—Dis al sewenuur op die horlosie, sê die ou vrou, maar sonder haarself op
te win.

—Ma weet dat die horlosie drie-kwartier voor is.

—Ja, maar hy kan miskien meteens agtergebly het, hy is so vol nukke.

Die jongmeisie antwoord met ’n skaterlag, maar uitlag is dit darem glad
nie. Spoedig laat sy daarop volg:

—Ek sit nou my hoed op, ma, en ek kom.

Getroos gaan mevrou Kibert weer sit. Sy laat haar oë gaan deur haar
voorkamertjie (hulle woon buite die dorp), oor die wit gordyne, onlangs
skoon gewas en gestryk, waar die lig dowwerig deur val, reeds versag
deur die nuwe somergroen van die groot bome buite. Die meubels is oud en
stemmig, en daar is nie onnodige opskik nie.

Dis die roostyd, en sy sit ’n vaas met rose aldag daar, as ’n offerande
aan die portrette van die geliefdes aan die muur—oorsaak van al haar
vreugde en smarte; die vergrote portret van haar man, dokter Maurits
Kibert, gestorwe die jaar vantevore as slagoffer van sy plig gedurende
die koorssiekte wat geheers het; en die portret van haar dogter Thérèse,
’n klein meisie van twaalf jaar, na God geroep in die daeraad van haar
jeug en skoonheid. Daar is ’n groepie van haar kinders op één portret
bymekaar: Etienne, haar oudste seun, ingenieur in Tonkin; Marcel,
offisier; Magreet, pleegsuster; Frans, by sy broer in die verre Oos; dan
Paula, die laaste wat nog vir haar oorgebly het. Ag, hoeveel maal het sy
al moet afskeid neem—en vir altyd—in sestig jaar tyds! Maar dit lyk of
hulle haar toelag vandag—’n feesdag in haar huis van rou.

Haar twede seun, Marcel, is terug in die land. Hy het deelgeneem aan
die oorlog in Madagaskar tot onderwerping van die inboorlinge. Op
agtienjarige leeftyd was hy reeds kaptein. Hy het die erekruis gewin en
kom nou terug, fris en gesond, na afwesigheid van drie jaar. ’n Telegram,
vanmôre ontvang, wat sy al gelees en herlees het, lê nog oop op die
tafel, en het haar te kenne gegee dat hy sal aankom op Chamberie vanaand
met die trein van half-ag. En dis daarom dat mevrou Kibert haar vandag
twee ure te vroeg klaar gemaak het om na die naburige dorp, Chamberie,
te ry en haar seun by die stasie te ontmoet. Haar gedagtes loop haar
al vooruit op die treinspoor waar hy langs moet kom. Maar sy voorsien
by die ontmoeting ’n ontroering wat al haar moed sal verg. Daar ver in
die vreemde land het Marcel gehoor van sy pa se dood. As die dood in
die verte diegene tref wat ons liefhet, hoe bitter en wreed is dan sy
slae! Met die eerste oogopslag sal Marcel haar rouklere sien en die
vermeerderde tekens van haar ouderdom. Daar sal ’n skaduwee van die
dode oprys tussen haar en haar seun. Sy beproef haar kragte, en sê by
haarselwe:

—Sy kinders het nog nooit teruggekom met die trein van hier of daar nie,
of hy was altyd self by die stasie om hulle te verwelkom. Ek sal nou daar
wees in sy plek.

Paula kom nou die kamer in. Haar fraai blinkend-swart hare omlys haar
ronde dofkleurige gesig. Haar swart klere laat haar dun lyk, maar sy lyk
nie swak nie. Uit haar fiere houding en vaste uitkyk straal beslistheid
en dapperheid. Hierdie kind van twintig jaar het al geweet wat lye is,
op ’n leeftyd dat die lewe sy hoogste geur en fleur het. Om nie ’n
swakkeling te wees nie, het sy haarself skrap gesit, en die gevolge van
die stryd kom uit in haar houding.

Paula het ’n nuwe hoedjie in haar hand wat sy stilletjies klaar gemaak
het die dag vantevore.

—Sit nou eers stil, ma. Ma moet mooi lyk as Marcel vandag kom. Kyk wat
’n mooi hoedjie het ek klaar gemaak; daardie een wat ma op het, is te
afgedra.

Haar ma wil eers teënstribbel, maar laat haar dan begaan.

—Maar nou word dit darem regtig tyd, my kind.

—Ja, sê Paula, ek gaan Trelas roep.

Trelas is die kneg, wat sal leisels hou op die pad na Chamberie.

Paula kyk nog ’n keer op die horlosie en sê:

—Ons sal nog ’n uur by die stasie moet wag.

—My kind, ek sou tog nie te laat wil wees nie.

Met moeite klim sy van die stoep in die rytuig. Noudat sy sit, probeer
sy te glimlag met Paula, en die onvoleindigde glimlag gee vir ’n oomblik
aan haar gesig die frisse saligheid terug, wat die bekoring van haar jeug
was. Paula spring vlugtig in die rytuig, en gaat naas haar sit.

—Laat loop maar, Trelas, en ’n bietjie gou, hoor; maar moenie alte baie
slaan nie, en pasop by die afdraands.

—Tyd genoeg, sê Trelas drogies.

Hul ry onder die laning van swaargeblaarde kastaiingbome en plataanbome
deur, verby die eikebosse. Die ou merrie begin haar bene te kry en so
hard te draf dat mevrou Kibert bangerig word. Agter die bult is die son
al ondergegaan, dog die blonde lig van die someraand verlig die velde nog
lank.

—Ma, kyk tog na die berge, sê Paula.

In ’n groot sirkel lê die berge om Chamberie, hul rotsagtige toppe
helder-rooskleurig getint, terwyl op hul voet, en langs hul kante, soos
’n fyn sluier die blouagtige waas hang, wat mooi weer voorspel. Maar
mevrou Kibert is te besorg om na die sonnegloeie op die toppe van die
berge te kyk; meteens kom dit uit waaroor sy sit en prakseer:

—Sê nou die trein was te vroeg! En hoewel sy dit mènens gesê het, is sy
die eerste wat glimlag oor so ’n nuwe veronderstelling. Sy sien hoe die
tere en ligte skaduwee stadig die berge uitklim, terwyl ’n oomblik die
toringkruisie van die dorp helder daarteen afsteek. Sy wys dit aan haar
dogter, as ’n beeld van stralende geloof. En nou daal dieselfde stille
vrede neer op die hele natuur, en ook vir die eerste keer, sedert lank,
op die gesigte van die twee vroue in rou.

Naby Chamberie kom ’n rytuig, met twee pragtige harddrawers bespan, hul
agterop, en ry hul verby.

—Dis die rytuig van die famielie Delourens, sê Paula. Hulle het ons nie
gegroet nie.

—Hul het ons seker nie herken nie.

—O ja, ma, maar vandat ons ons geld verloor het deur ons oom te help,
groet hul ons amper nie meer nie.

Sy praat van ’n famielie-ramp wat voorgeval het kort voor die dood van
haar vader. Mevrou Kibert neem die hand van haar dogter.

—Dis maar niks nie, my kind; dink tog daaraan dat ons netnou vir Marcel
sal sien.

Maar na ’n oomblik stilte vra Paula;

—Was dit nie pa wat vir Alida Delourens gedokter en gesond gemaak het nie
toe die koorssiekte so geheers het, waaraan pa ook self gesterwe het?

—Ja, fluister die ou vrou, en al haar plesier is weg as sy daaraan dink.
En sonder klag voeg sy sag daarby:

—Ja, en hul het nog altyd vergeet om die rekening te betaal. So maak die
ryk mense baie maal. Hul weet nie dat ’n mens geld moet verdien om te
lewe nie.

—Dis omdat hul aan niks anders as aan tydkorting dink nie.

Mevrou Kibert sien ’n bitter trek op die nog jong gesig.

—Luister, my kind, ons moet hul nie beny nie. Onder die verstrooiing
vergeet hul om te lewe. Sou hul selfs weet dat die lewe iets kosbaars is?
Hul weet nie wat ’n mens se hart kan vervul en dit harder laat klop nie.
Ek sal gou sestig jaar oud wees.—Ek kan my gestorwene en my opofferinge
tel. Ek het my dogter Thérèse verloor, en my man, wat my krag was. Jou
ouer suster, Magreet, is sendelinge, en ek het haar in vyf jare nie
gesien nie. Etienne en Frans is in Asië, in Tonkin, en ek ken nie eens
my kleinkind wat daar in die verre land gebore is nie. Marcel kom terug
vandag, nadat sy afwesigheid my drie jare van onrus besorg het. Maar ek
het darem tog ’n skone deel ontvang. Ek prys die Heer, Wat my beproef het
nadat Hy my met weldade oorstelp het. Elke dag van my lewe het ek gevoel
hoe goed Hy is. Selfs in my ellende het Hy my ’n steun gegee—en dis jy.

Met haar klein handjie, sonder handskoen, druk Paula die verrimpelde en
gekerfde hand van haar moeder.

—Ja, dit is so, ma, ek sal nie meer kla nie.

Hul is eindelik by Chamberie, na die rit van drie myle. Trelas laat die
vroue afklim by die stasie en gaan opsy met die rytuig.

Paula kyk op die horlosie en sien met verbasing dat dit tien minute oor
sewe aanwys. Haar ma sien dat sy verwonderd lyk:

—Het ek jou nie gesê ons sou te laat kom nie?

Die jongmeisie glimlag:

—Te laat, omdat ons nie meer as twintig minute sal moet wag nie?

Hul gaan na die wagkamer. Net soos mevrou Kibert die deur oopmaak, wil
sy weer terugtree. Maar Paula druk haar saggies binne-toe. Die kamer is
vol deftig aangeklede mense. Dis die hoë mense van Chamberie wat wag op
’n trein wat hul na die komedie sal neem. Paula en haar ma herken die
famielie Delourens.

Mevrou Kibert voel ongemaklik en wil uitgaan; sy fluister in Paula haar
oor:

—Laat ons in die wagkamer van die derde klas gaan: dis beter daar.

—Waarom? sê Paula.

Op dié oomblik verlaat ’n aansienlike jongman ’n klompie vroue wat daar
staan, en stap na hulle toe. Hul herken in hom luitenant Jan Berlier,[2]
’n vriend van Marcel. Hy groet hul op die vriendelike manier wat ’n mens
dadelik eie laat voel.

—U wag op die kaptein, is dit nie so nie, mevrou, want u hou tog nie van
reis nie.

—O, nee!

—Hoe bly sal hy wees om u netnou te ontmoet!

—Vroeër, sê die ou vrou aan die jongman, wat sy al as kind geken het, was
dit sy vader wat hom altyd ontmoet het, weet u!

—Ja, ek weet.

En om nou nie verder op ’n publieke plek oor die sterfgeval uit te wy
nie, laat Jan Berlier daarop volg:

—Ek sal Marcel ook nog die hand kan druk, eerdat ons trem weggaan.

—Kom soek hom op by ons huis. Gaan u op reis?

—Vir vanaand. Ons gaan na die stad. Daar word vanaand ’n nuwe
komedie-stuk opgevoer. Maar u stel daar nie belang in nie.

Altyd openhartig, antwoord mevrou Kibert:

—Ek is nog nooit in ’n komedie gewees nie. En om u die waarheid te sê, ek
het daar ook nie spyt van nie.

Alhoewel sy saggies praat, het twee jongmeisies in ligte klere haar
gehoor, en een van hulle, met bruin hare en brutale blik, bars uit van
die lag. Dit kan wees dat ’n luitenant wat met hulle staan en praat, die
lag verwek het.

Paula bekyk die meisie wat lag, veragtelik, van bo tot onder met haar
swart oë, wat ’n snelle blits uitskiet.

—Moenie hier so bly staan nie, sê Jan.

Die ou vrou gaan sit in ’n donker hoekie, op ’n stoel wat naas ’n leë
leuningstoel staan, net soos iemand wat hom nederig en bangerig voel.

—Maar neem dan tog die leuningstoel, ma, sê Paula ’n bietjie ongeduldig.
Sy beantwoord drogies ’n groet van die ander jongmeisie van die twee—wat
nie met haar saam gelag het nie, maar gebloos.

Die jonkman praat nog ’n paar woorde met hulle en gaan dan terug na sy
eie geselskap. Paula kyk hom na en hoor hoe hy aan mevrou Delourens sê:

—Ja, dis mevrou Kibert. Sy verwag haar seun uit Madagaskar.

—Watter een? Sy het so baie.

—Maar die offisier, Marcel!

—Watter rang het hy?

—Kaptein—dié wat die eremedalje gewin het—beroemd, sê Jan haastig, ’n
bietjie ongeduldig oor die uitvra, want die meisie met die bruin hare
roep hom.

Maar mevrou Delourens wil nou meer hoor:

—Beroemd? Wat het hy gedoen?

—Weet u dan niks van die slag van Audriba, waar sy kommando-afdeling die
oorwinning behaal het nie?

—Is jy seker daarvan?

—So seker as iets. Die hele land praat van Marcel Kibert.

Mevrou Delourens is dadelik vol belangstelling, en tree op mevrou Kibert
toe. Tot selfs in haar verval word die ou weduwee nou belangwekkend,
omdat haar seun so ’n naam gemaak het.

—Kom die kaptein vanaand tuis, mevrou? Ag, ons het hom almal met ons
harte gevolg, daar in die verre land en in die vreeslike oorlog, waar hy
sy land eer aangedaan het. In die koerante het ons gelees wat hy alles
volbring het in die slag van Audriba.

Agter sy vrou staan mnr. Delourens, ’n baie onderdanige en hoflike klein
mannetjie, en met ’n hoofbeweging bevestig hy al wat sy vrou sê.

Mevrou Kibert voel haar in dié omgewing baie ongemaklik. Hoe steek haar
armoedige rouklere af (alhoewel deur haar dogter opgeknap) by hul deftige
aandkleding; sy voel dat sy geen enkele gedagte gemeen het met hierdie
mense van die wêreld nie. Almal kom rondom haar staan en wens haar geluk.
Na mevrou Delourens kom mevrou Orlandi haar gelukwens. Laasgenoemde
is ’n ou Italiaanse gravin wat stil lewe in Chamberie en gedokter was
vir haar senuwees deur oorlede dokter Kibert. Meneer De Marthenay, ’n
luitenantjie, kyk die ou vrou op ’n byna brutale manier deur sy oogglasie
aan. Bangerig beantwoord sy hulle met enkele woorde; die bloed styg in
haar wange op, haar dogter Paula merk dit, en kom haar te hulp. Paula is
meer op haar gemak en, selfs ’n bietjie styf, ondanks die lieftalligheid
wat die twee jong meisies haar betoon—die bruine Isabella Orlandi, wat
in haar woorde net so aanstellerig is as in haar houding, en veral die
ander meisie, die blonde Alida Delourens, wat van nature vriendelik is.
Sy oorlaai Paula met beleefdheidjies en voorkomendheid, haar stem is
sangerig en breierig, sy versag die hardklinkende woorde en praat met ’n
aangename soetvloeiendheid.

—So, dan kom jou broer vandag? Jy is seker bly? Dis al jare gelede dat ek
hom laas gesien het. Weet jy nog toe ons almal saam gespeel het in julle
tuin by Maupas, of in ons syne by Chenée.

—Ja, sê Paula, en nou speel ons nie meer saam nie. Die tuin by Maupas lê
woes, en dié by Chenée is weer alte mooi versorg.

—Maar waarom kom jy nie meer na ons toe nie? Jy moet regtig kom.

En Paula vra haarself af waarom haar vriendin van vroeër dae—deur
lewensomstandighede van haar geskei—nou so vriendelik vir haar is. Sy
kyk na haar eie swart rok, so eenvoudig en glad, en bewonder dan, sonder
afguns, Alida haar ligblou lyfie, opgemaak met wit kant en ’n bietjie
laag in die hals—’n wit, dun hals, wat lyk soos ’n tere blom. Paula
beskou dan verder haar gelaat, waarvan die trekke fyn en suiwer is, en
die ligrose gelaatskleur sonder ’n vlekkie. Sy kan nie help om te sê nie:

—Hoe mooi is jy tog, Alida!

Die fris wange word meteens purperrooi. Alida gaan opsy om iemand te laat
verbykom, en Paula merk dat selfs haar slap-sleperige stap iets bydra om
haar dooierig-tingerige bekoorlikheid te voltooi: naas haar voel Paula
beter haar eie jong krag. . . .

—Nee, Paula, dis jy wat mooi is. . .

Daar kom die trein aan en breek al die gesprekke meteens af. Almal storm
die wagkamer uit. Die famielie Delourens en hul geselskap soek eersteklas
rytuie in die trein, wat nou stilhou. Die mense wat uit die trein stap,
loop al haastig na die uitgangsdeur. Die voorste van almal is ’n lang
jonkman, skraal en regop; hy hou sy hoof fier omhoog. In sy hand dra hy
’n sabel, in groen baai. Net soos hy mevrou Kibert opmerk, hardloop hy na
haar toe, en is in haar arms.

—My kind! sê sy, en ondanks haar besluit om sterk te bly, bars sy in
snikke los.

En hy, hy rig hom weer op ná die omhelsing, en teer kyk hy sy moeder aan,
wat die merke dra van haar beproewing. Sy songebrande, byna hardvogtige
gelaat, vertoon ’n ontroering. ’n Naam wat hulle nie nodig het om uit te
spreek nie, beef op hulle lippe, en een selfde eerbiedige nagedagtenis
roer hul harte. Die vreug van sy terugkoms gee iets treffend nuuts aan
die smart wat hulle al lank gevoel het.

Met versagte blik kyk Paula haar groot broer en haar ma aan.

Voor die deurtjie van die trein draai Alida Delourens en Isabella Orlandi
om, en sien die verwelkoming van die jong offisier; en Isabella kyk
mevrou Kibert met spotlaggende oë aan, omdat sy so dik is en nog huil
daarby.

Jan Berlier staan opsy en wag eerbiedig. Hy kom na Paula toe.

—Hoe gelukkig is hulle tog!

En met iets treurigs in sy stem voeg hy daar nog by:

—As ek van ver af terugkom, is daar niemand wat my verwag nie.

Marcel omhels ook sy suster.

Jan kom laggend nader:

—Ek wil nou ook my beurt hê.

—So, Jan, is dit jy?!

En as warme vriende druk die twee mekaar hartlik die hand. Jan is ’n
oomblik ontroerd, dog glimlag nou weer:

—Tot weersiens. My trein gaat weg: ek moet hardloop.

—Waar gaat jy?

Al lopende draai die jonkman half om en sê:

—Ons gaan na die komedie in die stad. En hy wys met sy hand na die mense
wat by die trein staan.

Marcel Kibert laat haastig sy oog oor die deftig uitgedoste mense
gaan. Maar Paula draai nog ’n keer om en sien hoe Alida haar groet uit
die treinraampie. Sy groet terug, haastig, en nie besonder vriendelik
nie, net of sy ’n soort wantroue of bygelowige vrees voel vir daardie
verleidelike verskyning. Haar jong vurige siel het, deur vroegtydige
leed, ’n soort van trotse gevoeligheid oorgehou. Waarom was Alida so
tegemoetkomend? dink Paula. Haar oë volg die jong kaptein, wat aanstap
met sy ma, haar arm in syne. En, dinkend aan Alida, laat Paula op haar
vraag volg, so by haarself:

—Alte ryk, en te min moed.

Marcel sien die rytuig wat vir hulle wag, en roep:

—Daar is ons ou rytuig!

—Die enigste wat ons oorgehou het, sê mevrou Kibert, net of sy om
verskoning vra daarvoor.

By sy vrolike uitroep het die jonkman so ’n antwoord nie voorsien nie.
Die ou rytuig het hom laat dink aan sy kinderjare, en kyk, nou is dit die
teken van die agteruitgang van die famielie. Sy gesig betrek: hy begryp
meteens hoe moeilikhede van stoflike aard nog die rou en ellende in
Maupas vererger het. Sonder self persoonlike behoeftes te gevoel, want hy
is gewend om met min klaar te kom, voel hy vir sy moeder en sy suster om
die agteruitsetting, wat hy nou begryp. En mevrou Kibert sê by haarself:

—Ons moes ’n rytuig by die stasie geneem het om hom eer aan te doen.

Marcel asem met genot die lug weer in van sy geboorteplek. ’n Swerm
herinneringe kom hom weer te binne, terwyl hulle deur die dorp ry. Die
veld is weer ontwaak in ’n gelukkige hartstogtelike jeug. Half teen die
hoogte op, sag genestel in die groen bome, lê die kerkie, soos ’n skaap
in ’n vet weiland. Die fris, vreedsame groen op die hang versag die ruwe
en strenge indruk van die dreiende rotskranse bo. As hulle naby Maupas
kom, sien Marcel dat die landelike huis nog soos vroeër half begrawe lê
in rose en ander blomme; dat nog soos altyd die aandskemering aan die
bome in die laan ’n aansien gee van stille afgeslotenheid. Hy spring die
eerste af van die rytuig. Die sand maak onder sy voete die welbekende
geluidjie. By die stoep help hy sy ma die treedjies op. En as hulle eers
binne is, druk hy die wenende ou moeder aan sy hart.

En eindelik gee Paula, wat sterker is, haar ook oor aan haar ontroering.
Die hoof van die huis makeer, en op die drumpel van die deur het sy seun
hulle weer sy kragtige persoonlikheid te binne gebring, sy vriendelike
glimlag, sy vertroue.

En noudat hulle mekaar weer gevind het, smaak die drie, in ’n mengeling
van vreugde en smart, die hele inhoud van die menslike lewe. . . .

       *       *       *       *       *

In een en dieselfde eersteklas rytuig het plaas geneem die famielie
Delourens, mevrou Orlandi met haar dogter, en luitenant Marthenay.
Isabella sit in ’n hoekie en kon met moeite ’n plekkie oophou vir haar
„flirt,” Jan Berlier. Hy stap op die laaste oomblik in, as die trein al
in beweging is, en Isabella ontvang hom bra onvriendelik:

—Bly maar liewers daar buite om al die mans hand te gee wat verbykom.

Jan glimlag:

—Ek gee die dames ook hand.

Isabella bly op haar perdjie:

—Wat ’n vertoning het jy gemaak met al daardie Kiberts—dit was belaglik.

Alida Delourens, wat ’n beskaafde inbors het, kry ’n rooi kleur, maar sy
durf nie teen Isabella opkom nie. Die jonkman laat hom nie so gou uit die
veld slaan nie. Hy het ’n manier om by sy flirtery ’n spotagtige toon
aan te neem, wat die meisie kwaad maak, maar darem ook aantreklik is vir
haar—so ’n mooi en vreeslik verwende kind.

—Ja, dis waar, sê hy nadat die Kiberts drie jaar lank geskeie gewees het
in rou, en nou weer mekaar kry, het hulle so skoon vergeet om te probeer
of hulle nie vir jou aangenaam kan wees nie. En selfs die mooi kaptein
het jou nie eens aangekyk nie!

—Loop met jou mooi kaptein!

—Hy is kaalkop, sê luitenant Marthenay, wat ’n digte haarbos het, net
soos ’n borsel.

—Ja, sê Jan, hy het kaalkop geword in die kolonies; het hy liewers
tuisgebly en hier vredesoldaatjie gespeel, dan het hy vandag seker nog
baie hare gehad.

Isabella hou nog maar aan. Al sê sy dit nie, sy voel ’n afkeer teen die
vriende van Jan en val hulle aan—ja, sy weet nou nie meer waar sy moet
ophou nie:

—Maar hoor, daardie offisier het ’n spektakel van ’n ou moeder. Sy was
nog nooit in ’n komedie nie. Watter soort lewe moet sy dan wel gely het?

Jan Berlier het eerbied vir mevrou Kibert, en word nou bitter:

—Sy het gedaan, juffertjie, wat jy nooit sal regkry nie: sy het vir ander
gelewe.

—Dis geen lewe nie.

—So, dink jy so? Ek glo dat sy meer gelewe het dan vir jou ooit moontlik
sal wees, al sou jy honderd jaar oud word.

—Verbeel jou! Ek daag enigeen uit om meer lewe te verlewe as ek.

—Ja, jy is altyd in opwinding, maar dis nie dieselfde nie. Maar wat is jy
in staat om te doen?

En om nou ’n end te maak aan die prekery, laat die jonkman daar met ’n
lag op volg:

—Is jy selfs in staat om ’n huwelik te sluit uit liefde?

—Welseker nie! En sonder geld, nè? Nee, dankie, hoor! Om in trane ’n
stukkie droë brood te eet en linneklere te dra!

En sy laat haar mooi blinkende tande sien, skerp en vraatsugtig.

—Kom, sê Jan, troos jou nou maar en gee my jou hand.

Sy gee hom haar fyn hand, waarvan sy die handskoen uitgetrek het. Hy maak
of hy die hand met aandag beskou.

—Ek sien in die lyne van jou hand dat jy met ’n lelike veertigjarige ou
rykaard sal trou. Maar ná die huwelik sal sy ware geaardheid uitkom,
vrekkerige skraapsug. ’n Mens word altyd gestraf volgens jou oortreding.

Op ’n grapperig-nadruklike preektoon het hy dit gesê, tot vermaak van
almal in die rytuig.

Die gesprek begin weer algemeen te word, en Isabella sê op lughartige
toon aan iemand wat regoor haar sit:

—Dit sal die ryk ou vrek dan wel berou, want ek sal hom fop!

—Deur met my te „flirt,” nè? sê Jan, laggend.

—Miskien met jou, ja. En sy bars daarby weer in ’n skaterlag uit en laat
haar mooi wit tande sien, wat so sterk is as dié van ’n jong hond; en
brutaalweg kyk sy daarby die jonkman aan, omdat hy haar geval.

Alida is heeltemal ontdaan deur die onbeskaamde woorde en bloos vir haar
metgesel. Dit duur nie lank of sy praat nie meer met die ander nie; sy
sit half in slaap en droom van die huwelik uit liefde, waar Isabella nie
van wil hoor nie, en waarvan sy die beeld aanskou in verband met ’n seker
ontmoeting van dié dag.

Mevrou Delourens dink en praat van die partytjies wat sy wil gee, en sê
aan iemand naas haar:

—Dit lyk of hy ’n held is. Ons sal hom dus vra om te kom.

En haar man knik mevrou Orlandi toe dat hy dit heeltemal goed vind.

—Maar veral moet ’n mens sorg dat jou rus versekerd bly. Daarin lê tog
maar die hele geheim van die lewe. . . .




II.

BROER EN SUSTER.


Die vriendskap tussen broer en suster het iets sag-gemakliks en
eenvoudigs, wat dit heeltemal laat verskil van enige ander gevoel.
Vanself is so ’n vriendskap gevrywaar van die heftige liefdesopwindinge
en van die hartstogtelike opwellinge wat te bedwelmend is om lank te
duur. Maar dis tog onderskeie van gewone vriendskap (soos tussen man
en man of vrou en vrou) deur iets bedeks, deur ’n beskeidenheid en
teerheid wat uitgaan van die vrou. Wat aan so ’n vriendskap nog meer
iets aparts bysit, is die wonderlike gemak waarmee die twee gelykdinkend
en gelykvoelend kan wees, deurdat hulle ’n gemeenskaplike oorsprong en
kindsheid gehad het; dit stel hulle in staat om reeds deur ’n halwe woord
te verstaan, op dieselfde oomblik aan iets terug te dink, en altyd weer,
by elke asemhaling die ou tuisplek se lug gewaar te word, ook uit die
verlede.

Die liefde selfs mis hierdie eienskap, en mag daar wel spyt van hê. . . .

Soos hulle daar sit in die tuin van Maupas, in die tuinstoele, merk
Marcel en Paula met vreugde op—sonder te veel onnodige gepraat—dat,
solank as hulle so vér was van mekaar, hulle tog op dieselfde manier deur
die lewe geryp en gevorm was. Hulle voel wel anders as eers, maar hulle
voel tog nog eners.

—Ek voel so lekker hier, sê die jonkman, dat ek vandag niks wil doen nie

Hy is maer. Hy het rus nodig.

Al is hy so gesond, hy het iets oorgehou van die oorlog in die kolonies.
Nou en dan kry hy nog koors, maar die aanvalle word minder. Hy reken
daarop om hier weer heeltemal te herstel.

Dis een van die kalm someragtermiddae dat ’n mens hom kan verbeel die
trilling van die lug te hoor. Geen windjie stryk daar langs hul gesigte
nie. Net die dun toppies van die lindebome word nou en dan geroer deur
’n lui windjie wat die blaartjies laat fladder, sodat beurtelings die
donkergroen bokante en die liggroen onderkante gesien word.

Op die ronde klip-tuintafel lê koerante en briewe deurmekaar. Paula maak
dié oop, want haar broer laat hulle maar lê:

—Die koerante praat nog maar altyd oor jou. Wil jy nie lees nie?

—Nee tog, asseblief nie! sê die kaptein.

—Hier is uitnodiginge, sê Paula weer; daar word ’n eetmaal gegee tot jou
eer. ’n Kaartjie vir die konsert in die stad. Barones Vittos ontvang
Dinsdags geselskap . . .

—Dit gaan my alles niks aan nie. Ek wil niemand sien, glad geen een nie!

—Ja, jy is nou in die mode. Jy moet daar maar jou deel van neem. Daar
word inbreuk gemaak op jou vrye tyd. So wil die mense in jou roem deel.

—Kyk, sussie, nou praat ons daar nie meer oor nie, hoor.

—Maar almal maak so. Roem is teenswoordig in die mode. Een van die dae
sal die famielie Delourens ons kom opsoek en nog ander mense ook, wat ons
tot nou toe nie gesien het nie van dat ons die geld verloor het!

Haar gladde voorhoof, oorskadu deur haar swart hare, het van die
beproewingstyd af ’n plooitjie van bitterheid oorgehou.

In dié tyd is die geld ook verloor wat sy sou kry as sy sou trou, en so
is haar kanse op ’n huwelik ook verminder. Haar broers reken op haar
toewyding aan hul moeder op haar ou dag, net of sy maar altyd haar eie
lewe moet vergeet en tevergeefs die teer verlange na liefde in haar hart
moet voel opkom.

Marcel kyk haar lank aan. Met liefderyke eerbied bewonder hy haar
rank liggaamsbou, wat lenigheid aandui, en toekomstige krag, haar
gelaatskleur, waarvan die suiwerheid nog beter uitkom deur haar swart
klere, haar diepsinnig-sombere en tog sagte oë—oë van ’n vrou wat
die lewe ken, wat daar stryd mee gevoer het en nie bang is daarvoor
nie—Hy sien haar in haar geheel soos sy is: ’n bekoorlike maag, fier en
deugsaam. Hoe sou dit kan wees dat iemand haar nie eendag sal lief kry
nie!

Langsaam, vashoudend aan die tralies en elke keer met albei voete op ’n
treedjie stappend, kom mevrou Kibert die stoep af na haar kinders toe.
Soos ’n najaarsblom wat ’n verlate tuin versier, so verhelder ’n flou
glimlaggie mevrou Kibert haar gesig vandat Marcel terug is. Hy loop haar
tegemoet en bring haar op ’n plekkie waar sy in die koelte kan sit.

—Sit ma nou lekker so?

Die glimlag versprei hom oor haar hele gesig:

—My groot seun! Jy lyk tog so baie na _hom_.

Die jonkman se gelaat word ernstig toe hy sê:

—Dis nou al agtien maande dat hy ons verlaat het. O, die aand daar vér in
Madagaskar! Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het rondgeloop om die kamp,
ek het hom geroep, en het jul almal se name genoem, ek het die dood naby
my gevoel . . .

Ná ’n oomblik van diepe stilte sê mevrou Kibert weer:

—Agtien maande! Is dit moontlik! . . . . Ek het die maande tog darem
deurleef. En dit het ek aan hierdie een te danke. My liewe kinders, so
lank as ek nog leef, sal ek God dank vir die man wat Hy my gegee het, en
vir seuns en dogters soos myne!

Sy droog haar oë af en begin die droewige verhaal te doen wat haar seun
al lank verwag het:

—Die ongeluk van jul oom Markus was die begin van al ons ellende. Ons
was alte gelukkig, Marcel. Jou vader was die krag, die vertroue, die
arbeidsaamheid in persoon. Ná sy swaarste dae het hy nog altyd vrolik
tuisgekom. En julle het almal goed geslaag in jul lewenswerk.

—Almal was jaloers op julle, sê Paula.

En haar broer, fier soos sy, voeg daarby:

—Dis beter om beny as bejammer te word.

Die ou vrou gaan aan:

—Dit het baie goed gegaan met jou oom se bank. Iemand wat àl sy vertroue
gehad het, het toe weggeloop met die papiere en die geld. Die storm wat
daarop gevolg het, kon hy in die eerste oomblikke van verslaendheid nie
weerstaan nie. Hy het homself van sy lewe beroof. God gewe dat hy nog
tyd gehad het vir berou! Jou pa het dadelik daarnatoe gegaan, het alles
oombliklik begryp. Alles het hy toe betaal—kapitaal en rente—maar ons
moes self die grootste deel van ons fortuin afstaan. Maar Maupas het ons
darem tog gehou—dis famieliegoed.

—Ja, sê Marcel, Maupas is vir ons almal die lewende beeld van ons
kinderjare.

—Maar voor hy sy besittinge afgestaan het, sê mevrou Kibert verder, het
hy julle almal gevra om toe te stem.

—Ja, dit onthou ek nog goed, sê Marcel, die veldtog sou net begin. Ek het
in dié versoek van pa niks meer gesien as oorbeleefdheid nie. Geldsake
is my so vreemd en onverskillig.

—Ons het Paula ook gevra.

—Ons naam moes gered word en ons eer, sê Paula.

—Jou huweliksgeld moes ook afgegee word, my kind . . . . . Die droewige
lot van jou pa se broer was vir hom ’n sware slag. Sy opgewektheid was
weg vir altyd; maar sy ywer en werkkrag het hy verdubbel. By die uitbreek
van die koorssiekte het hy homself nie genoeg gespaar nie. Laaste van
almal, toe hy uitgeput was van vermoeienis, het die siekte hom aangepak.
Van die begin af het hy gevoel dat hy verlore was, maar hy het daar niks
van laat blyk nie. Naderhand het ek hom begryp; Hy het self die gang
van sy siekte gevolg. Eendag sê hy aan my: Moenie ongerus wees nie: God
sal jou help. En het ek geantwoord: Ja, Hy sal ons help. Hy het toe
geen antwoord meer gegee nie. Sonder vrees het hy die dood afgewag. Nog
heeltemal by sy verstand het hy in ons arms gesterwe.

—Net ek was nie hier nie, sê Marcel.

—Etienne was by hom—hy was terug van Tonkin—, Frans, Paula, en Louise
Saudet, die verloofde van Etienne.

—En Margreta?

—Sy kon nie kom nie, sê mevrou Kibert sonder bitterheid, maar nie sonder
droefheid nie. Sy is te vér. Sy behoort aan God. Vandat sy sendelinge is,
het ons haar nie meer gesien nie.

Hulle is stil, en dink al drie aan die verlede. Rondom hulle, wat so aan
die dode dink, is alles lewe en lig. ’n Blaartjie, reeds deur die son
verskroeid, vroeë voorloper van die verre najaar, val langsaam af van een
van die bome, as gedra op die loue lug. Paula wys haar broer daarop, en
sê:

—Alreeds verlep!

In sy droefgeestige stemming sien Marcel daar ’n teken in.

—Hy het gewag vir die somer, ander vergaan al in die voorjaar.

Hy dink aan sy vroeg-gestorwe suster, Thérèse; hy dink aan homself, wat
al meer as eenkeer deur die dood genader is. Maar die somber gedagte aan
’n voorteken skud hy van hom af, en sê:

—Of dit nou kort duur of lank, ons moet ons lewenstaak dapper ter
hand neem. So het pa gedoen. In plaas van my af te skrik, moedig sy
nagedagtenis my aan.

Mevrou Kibert vertel hom hoe Etienne toe weer terug is na Tonkin, om sy
werk daar weer aan te vat.

Marcel vra:

—En is Louise gewillig met hom meegegaan na die verre land?

—Louise is net so dapper as wat sy kalm is. Ag dae na hul huwelik is
hulle weg. Nou het hulle ’n seuntjie, wat ek nie ken nie, maar wat ek
liefhet.

Paula voeg daarby:

—Dit was ’n hele opskudding in Chamberie toe Louise getrou het. Al die
vrouens het Louise haar ma bekla: hoe kon sy tog haar dogter so vér weg
laat gaan? Hulle het haar beskuldig van onvergeeflike koudhartigheid.
Maar mevrou Saudet het gesien dat Louise gelukkig was, en dit was vir
haar genoeg. Al dié wat so baie gepraat het, dink net aan hulself en aan
hul eie gemoedsrus. Meneer Delourens sê ook altyd: _Voor alles moet ’n
mens rustig wees_.

Dit lyk somtyds of ’n losweg uitgesproke naam diegene aanbring wat
die naam dra. Sulke heeltemal toevallige gebeurtenisse het selfs
’n spreekwoord laat ontstaan. Voor die ope hek, in die laning van
kastaiingbome, hou ’n rytuig stil, en Paula sien dat dit die rytuig is
van die famielie Delourens.

—Hulle het al heeltemal nie meer na ons toe gekom nie, sê mevrou Kibert,
en haar gesig word rooi. Sy is ’n heldin in die lewe, maar bangerig voor
die mense.

—A, dis omdat ons ’n held hier het, sê Paula, om haar broer te pla. Hul
staan aldrie op en gaan die besoekers tegemoet. Mevrou Delourens het die
eerste afgeklim, en haar eerste woorde doel al op die kaptein, want die
eerste wat sy aan mevrou Kibert sê is:

—O, mevrou, hoe trots moet u tog wees op so ’n seun!

Mevrou Delourens is van adellike geboorte en vergeet dit nooit nie;
daardeur dink sy dat al sulke bemoeiinge, van haar kant, uit hoë genade
geskied, en selfs ’n soort van welwillende beskerming is van alle
verdienste en heldedade, wat eintlik alleen die voorreg van die adel
behoort te wees, maar waarvan die adel darem die eer kan bemagtig deur
daar maar baie lawaai oor te maak.

Heeltemal agter sy vrou verdwene, maak meneer Delourens ’n bevestigende
buiging sonder opgemerk te word. Van kop tot teen, van hoed tot skoene,
is hy in ’n grys pak gekleed. Instinkmatig het hy ontdek dat so ’n
kleur by iemand pas wat op die agtergrond staan. Hy het ’n vreesagtige
bewondering vir sy vrou, wat met hom getroud is ondanks sy burgerlike
afkoms, omdat hy ryk was; maar deur haar houding teenoor hom laat sy
hom altyddeur voel wat ’n opoffering dit van haar kant was. Hy dank
sy ydelheid en sy politieke opienies aan hierdie huwelik, wat hom met
diepe eerbied vervul vir die adellike stand, waarvan hy ’n persoonlike
voorstelling sien in sy mooi vrou, groot en swaar van liggaam, met ferm,
gebiedende gelaatstrekke en ’n gesagvoerende, selfs knorrige stem.

Alida is die laaste van almal van die rytuig afgestap. Sy dra ’n ligblou
rok, bekoorlik soos die fyn kleur wat die see smôrens vertoon; die tint
pas goed by haar gelaatskleur en verhoog nog die sagte skoonheid daarvan.
Sy kom nader met ’n bangerige bevalligheid, wat aan haar skoonheid ’n
aansien van swakkerigheid gee. Dadelik kyk Marcel na niemand meer as
na die jongnooi. Sonder dat dit hom plesier doen, bedank hy vir die
komplimentjies wat almal hom maak; sy nederigheid en militêre eergevoel
maak dit vir hom ondraaglik.

Sonder enige twyfel is hierdie besoek op hom gemunt—hy is daarvan die
beweegrede en doel. Die adellike mevrou Delourens betoon wel enige
beleefdheid, en selfs lieftalligheid, aan mevrou Kibert en Paula, maar
dis ’n hooghartige beleefdheid en ’n neerbuigende lieftalligheid, wat
deur die moeder nie raak gesien word nie, dog wat nie ontsnap aan haar
dogter nie, wat fyner sien en die ou wêreld beter ken. Maar onophoudelik
draai mevrou Delourens haar na Marcel se kant toe, net of sy die jonge
beroemdheid somaar wil steel en wegneem in haar rytuig.

—Nou wel, jonkman, sê sy aan die end brutaalweg, u is nou al ’n paar dae
terug, maar ’n mens sien u nêrens nie. ’n Mens sou sê u kruip weg. Dis
tog nie u gewoonte nie. Die vyande weet dit wel goed.

Meneer Delourens het baie bewondering vir mense wat werkkrag en moed
besit, en wil die woorde van sy vrou krag bysit:

—O, maar dit was ’n swaar veldtog . . . . U het seker nie dikwels rus
gehad nie?

Paula bars amper uit van die lag. Almal is al so gewend aan meneer
Delourens se praatjie oor rus, dat hy al die bynaam het van die Rustige
Ridder—’n gelukkig gekose naam wat sy adellike neiginge en sy liefde vir
vreedsaamheid mooi saamvat.

Mevrou Delourens neem nou weer die woord:

—Al ons vriende wil graag met u kennis maak. My huis is vir u oop, as u
maar net wil kom.

En, net of sy meteens vir Paula sien, sê sy daarby:

—Natuurlik, met u suster.

Die suster moet ook maar by, omdat dit nie anders kan nie—dis duidelik.

En dis Paula wat antwoord gee:

—Dank u, mevrou; maar ons is nog in die rou.

—Halwe rou. Na agtien maande mag jongmense al uitgaan, veral agtermiddags.

En sy sê aan die jong offisier:

—Ons gaan Maandag na die stad om deel te neem aan die blommefees. Gaan
nou met ons saam. In die aand eet ons almal saam. U sal daar vriende
ontmoet: graaf Marthenay, luitenant Berlier, u vriend van lank al. U weet
sy huwelik met die mooie Isabella Orlandi word nou bekend gemaak.

Sy vertel die leuen, so op die oomblik bedag, om die trotse Paula te
tref, wat haar planne so dwarsboom. Vrouens het ’n voorgevoel (niemand
weet hoe nie), wat ingegee word deur ’n begeerte om te behaag sowel
as om seer te maak—’n voorgevoel van die geneëntheid wat daar bestaan
tussen geeste en harte wat mekaar soek en uitkies. Is daar nie vrouens
wat tog so goed weet hoe om ’n sukses te maak van ’n eetmaal, deur mense
naas mekaar te plaas aan tafel van wie hul veronderstel dat hul goed
met mekaar sal klaarkom nie? So gee hul selfs dikwels aanleiding tot
toenadering.

Paula laat niks merk nie, dit sy dat sy betyds klaar was om haar te
beheers, dit sy dat die nuus haar heeltemal onverskillig is.

—Ons kan dus op u reken, nie waar nie? hou mevrou Delourens aan, net of
sy van Marcel self antwoord wil hê.

Alida kyk die jong offisier vriendelik aan met haar ligblou oë. Paula
het ook haar oog op hom. Hy lyk somber. Hy het goed gevat dat mevrou
Delourens hom wil aftrek van sy suster, en, gelei deur die famieliegees
wat dr. Kibert aan al sy kinders ingeprent het, weier Marcel:

—Dank u, mevrou, my terugkoms lê nog te na aan ons droewige herinneringe;
ek wil liewer op Maupas bly.

Daar straal blydskap uit Paula haar swart oë, terwyl die lang oogwimpers
neerval oor die half geslote blou oë van Alida.

—Hy moet rus hê, sê mevrou Kibert.

Alida, nog altyd met haar oë op die grond gerig, bloos ’n bietjie, terwyl
sy sê:

—Dis u vader, meneer, wat my gesond gemaak het. Vroeër het u ons dikwels
opgesoek. Paula was my beste vriendin. Ons moenie van mekaar vervreem nie.

As sy eindelik haar hemelblou oë opslaan, ontmoet sy die blik van Marcel,
en sy glimlag. Dan bloos sy weer: haar bloed volg die geheime roeringe
van haar hart.

—Seker sal hulle u kom sien, juffrou, sê mevrou Kibert, ’n bietjie
verwonderd oor Paula se teenstribbeling.

—Waarom _juffrou_ gesê? U het my vroeër altyd Alida genoem.

—Dis lank gelede: u was toe nog klein.

—Ag, ek is nog maar ’n bietjie klein.

Mevrou Delourens kan dit nie reg verkrop dat sy so uit die veld geslaan
is nie. Sy dink aan die naam wat sy met haar partytjies sal maak. As sy
hierdie held van Madagaskar kan beetkry, dan kan sy haar teenstander,
barones Vittos, ’n mooi vlieg afvang, want laasgenoemde spog nou met ’n
ontdekkingsreisiger wat sy in die hande gekry het.

Ja, sy het Jan Berlier goed verstaan; die jong kaptein het ’n skitterende
verlede. Aan sy vasberadenheid en moed is dit grotendeels te danke
dat die oorlog in Madagaskar ’n sukses was. Aldag word nog van hom
gepraat. Hy het die erekruis ontvang en nog meer erkenningstekens van
sy verdienste. Hy is dus net uitgeknip om tot pronk van die ydelheid te
dien. En ’n strydlustige vrou soos mevrou Delourens het aan so ’n held
meer as aan ’n letterkundige of wetenskaplike beroemdheid. En daarby is
die teenwoordigheid van die jong kaptein by haar huis nodig om graaf
Marthenay ’n bietjie bang te maak, want hy is tog alte stadig om Alida
ten huwelik te vra.

—Ek glo nog nie dat u weier nie, sê sy aan die jonkman, terwyl sy
klaarmaak om te vertrek, ons verwag u in die stad by die blommefees. Sy
verander werktuiglik haar manier van praat toe sy mevrou Kibert groet, en
sê, op ’n soet-salwende toon wat heeltemal in stryd is met haar aard:

—Ag, al die moeders beny u, mevrou!

Alida is oordadig vriendelik by haar afskeid van Paula, wat haar nog maar
ewe koel hou. Die rytuig is al lank die hek uit toe Marcel nog altyd na
die ope hek staan en kyk. Hy is so in gedagtes verlore dat hy nie merk
hoe sy suster hom staan en aankyk met liefderyke droefgeestigheid nie.

—Waaraan dink jy tog? vra sy.

Hy keer hom na haar kant toe met ’n half swaarmoedige glimlaggie, net of
hy hom skuldig voel aan ’n swakheid.

—Ons gaan tog eendag by hulle kuier, nie waar nie?

Hy is ’n bietjie verwonderd oor die uitwerking van sy vraag, want Paula
haar gesig betrek en haar oë is neergeslae:

—Jy het alreeds nie genoeg aan ons nie, sê sy saggies.

Oombliklik oorwin sy haar, en sê met vaster stem:

—Wat my betref, ek gaan nie. Hulle het my nie gevra nie.

—Maar seker, sê Marcel.

—Ja, ja, soos ’n handjievol op die koop toe! Mevrou Delourens het my dit
goed laat voel.

—Paula, ou sus, jy weet ek gaan nie sonder jou nie.

—Nou kom, ons gaan glad nie. Laat ons hier bly. Ma en ek is so bly dat
jy hier is by ons; ons wil jou vir ons hou. Die huis was so lank stil en
onder ’n wolk. Maar jou aankoms het ’n sonnetjie daarin gebring.

—Ja, my kind, sê mevrou Kibert, bly tog maar by ons.

Marcel se voorhoof lyk somber. Hy hou daar nie van dat sy vryheid aan
bande gelê word nie, en hy verdra dit sleg selfs van dié wat hy die
liefste het. Bowenal is hy ontevrede met homself. Hy het teruggekom
met die vaste besluit om hom in Maupas af te sonder, om die lug van sy
ou tuis in te asem tot hy daar genoeg van sou hê, om te lewe in die
herinnering van dié wat oorlede is, en om ook sy moeder en suster ’n
bietjie op te vrolik—en kyk, die besoek van daardie noointjie was genoeg
om al sy planne te bederwe, om sy trots en sy wil te breek.

Ondanks hul mooi-praat bly hy stil. Paula kan die somber stemming van
haar broer nie lank verdra nie:

—Nou kyk, sê sy, jy gaan alleen daarnatoe; ek kan nie gaan nie; ek het
nie klere nie.

Sy antwoord is maar alte gou klaar en toon aan hoe erg hy op die besoek
gesteld is:

—Ek sal vir jou ’n rok bestel, ou sus: ek het nog geld.

—Jy het ons reeds gehelp, sê mevrou Kibert, en liefderyk kyk sy haar seun
aan, net of sy nog nie heeltemal gewend is om hom so naby haar te sien
nie.

Laat in die aand, terwyl mevrou Kibert met stadige stappies rondgaan om,
soos al dae, te kyk of die huis goed toe is, sien Paula vir Marcel weer
in gedagtes verlore staan, in die voorkamer; sy nader hom en lê haar hand
saggies op sy skouer:

—Jy staan nou te dink aan mooi Alida? Sy sê dit op so ’n vriendelike
manier, dat hy glimlag:

—Nee, sê hy, en verloën so sy swakheid. Maar dadelik erken hy dit deur te
sê:

—Maar sy is darem regtig mooi. Hou jy van haar?

—Ons het saam skoolgegaan, soos jy weet. Sy is ’n bietjie ouer as ek;
sy het my altyd liefgehad soos ’n ouer suster, want sy is sagaardig,
onderdanig, bangerig: sy laat liewer iemand anders voorgaan as dat sy dit
self doen.

—Vir ’n vrou is dit mooi, sê hy.

Paula lê haar hand op haar broer se voorhoof en sê:

—Alida is nie ’n vrou vir jou nie.

Sy antwoord is vinnig:

—Ek het daar nog nooit aan gedink om met haar te trou nie.

Maar Paula ken sy gedagtes:

—Sy het geen moed nie. En dan, sy behoort nie tot ons kring nie.

—Nie tot ons kring nie? Omdat die famielie Delourens meer geld het as
ons? Gelukkig bepaal die rykdom hier nog nie ’n mens se maatskaplike
standpunt nie!

Paula het spyt dat sy hom ’n bietjie kwaad gemaak het.

—Dit wou ek ook nie sê nie. Dié mense neem die lewe anders op as ons.
Hulle maak daar ’n vertoning van en verwar bogterige dinge met sake van
belang. Ek kan my nie duidelik maak nie, maar dit was nie my plan om jou
kwaad te maak nie.

—Jy wil vir my preek oor die wêreld; voordat jy dit self ken, wil jy
daaroor oordeel!

Geraak deur die kwetsende toon van sy stem, draai Paula haar om, en stort
nou al die bitterheid uit wat in haar jong hart is.

—Dink jy waarlik dat ek nie onderskeid kan sien tussen ’n gryns en ’n
glimlag, en leuentaal nie kan onderskei nie? Daardie mense verafsku ons
en sou ons éénkant wil laat lê. Maar hulle haal jou aan om hul ydelheid
te voed; en vir ma en my stoot hul opsy, omdat ons maar arme vroumense
is. Alida is toegewys aan ’n seker graaf Marthenay en is nie vir jou
bestemd nie.

As die laaste woorde nie gespreek was nie, sou Paula se uitstorting, so
vol verontwaardiging, seker uitwerking gehad het. Wat Paula so ronduit
gesê het, voel Marcel self al, hoewel minder duidelik. Sy trots en die
liefde wat hy voel vir sy moeder en suster, sou hom teruggehou het. Maar
Paula se laaste woorde het alles oorstem wat sy die eerste gesê het. Die
gedagte alleen dat hierdie voorkamer-offisiertjie in sy pad gegooi word
as ’n teenstander, seker van oorwinning, wakker meteens sy veglus aan,
sy behoefte om baas te wees en te heers. Hy is al jaloers voordat hy
bemin.




III.

DIE BLOMMEFEES.


—Daar kom hulle! Daar kom hulle! sê Jan Berlier, en hy wys na die bo-end
van die baan.

—Daar kom hulle, sê ook Isabella Orlandi, en sy klap haar hande.

Die rytuie, met blomme opgemaak, kom aan om verby te gaan voor die
tribunes wat beset is met ’n skaar van mooi aangeklede mense. Die
toeskouers trappel van geesdrif toe hul die rytuie sien aankom en maak
meteen allerhande beweginge soos ’n klomp gekke of ’n werksame bye-swerm,
neem die mandjies vol blomme aan van die blommeverkopers wat verbygaan
en sit dit voor hulle neer; dis hul ammuniesie; en as inleiding op die
komende slag, laat hul uitroepe van opgewondenheid hoor, soos soldate
maak voor ’n aanval.

In die helder sonlig, van vér, lyk die naderende rytuie net soos
opmekaarvolgende helder lig-vlekke, met oral tussenin uitskietende
blitsies van die blinkende tuie en wiele. Hulle kom nader. Dit lyk soos
’n skitterend-ryke oosterse optog.

Voor op die groot tribune het die famielie Delourens en hul uitgenooide
vriende plaasgeneem: Jan Berlier naas Isabella, Marcel Kibert tussen
mevrou Delourens en Alida. Paula wou nie met haar broer meegekom het
nie, en Marcel staan swygend voor die kleurryke skouspel en sien in sy
verbeelding twee bedroefde vrouegesigte; hy verlang na die stille vrede
van Maupas en begin die inwendige vernederinge te voel wat die liefde
meebring.

Die musikante begin dansmusiek te speel. Op die ligte tone, verlore in
uitroepe en gelag, begin die blommeslag.

Op die grasperke oorkant hardloop die mense toe wat wil deelneem en nie
te laat wil kom nie, en dis daar ’n lewendige geharwar van kleurige rokke
en sambreeltjies.

Die voorste van die optog is kinders, en die eerste bossies blomme word
na hulle gegooi. Hulle is self bekoorlike blommetjies van die menslike
lewe.

Met sierlik bedwonge gang volg die rytuie mekaar op, en langsaam
verbygaande kry ieder sy beurt om deel te neem aan die aangename
stryd. Die bevalligste wat die aarde besit, is in die rytuie aanwesig;
vroueskoonheid en blommegeur. Die siel van die beroofde blomtuine
leef nog in hierdie bewegende tuine. Rytuie van allerhande soort en
fatsoen verdwyn onder ’n blommereën van duisende helder kleure. En die
jongnooiens in die rytuie glimlag vol vertroue, wetende dat hulle die
skoonste en verleidelikste blomme van almal is.

—Ere aan die blomme! Ere aan die blomme! roep al die mense vol geesdrif.

Isabella Orlandi en Jan Berlier het in uitgelate vrolikheid met hul
blomme gegooi tot hul mandjies leeg is.

Alida Delourens het ’n pers rok aan, opgemaak met wit kant—dit verhoog
nog haar dromerige bevalligheid. Naas haar voel Marcel Kibert hoe sy
standvastigheid langsamerhand padgee en sy droefgeestigheid verdwyn. So
baie kleure en geure oorrompel en bedwelm hom. Hy sien nog net blomme op
sy toekomstige lewensweg. Nou en dan kom daar herinneringe in hom op aan
skooltonele uit sy kindsheid, en tot sy spyt moet hy ondervind dat sy
gehegtheid daaraan hom ontval, hoe hy ook al teenstribbel. Maar hoe kan
hy nog by die verlede stilstaan as die teenwoordige so veel aantrekliks
het? Met die gevoel van triestigheid wat die ontluikende liefde kenmerk,
kyk hy na die blanke hals van die jongmeisie, wat vooroor buie om te kan
sien of haar sleggemikte blombossies hul doel tref.

Alida kyk nou om na hom: sy spraakloosheid druk haar; en net een opslag
van haar hemelblou oë is genoeg om sy gedagtes te verhelder. Sy wys hom,
met haar fyn handjie, op die mandjie wat al leeg begin te word.

—Daar is nog blomme. Waarom gooi jy nie?

Sy bloos by die eenvoudige woorde, en die oordrewe verleëntheid maak haar
nog mooier.

Daar kom ’n rytuig aan met offisiere in uniform. Luitenant Marthenay—’n
bietjie dikkerig van postuur, omdat sy eerste jeug al verby is—is die
enigste wat regop staan in die rytuig. In sy hand hou hy ’n bossie duur
en seldsame blomme. Dit lyk of hy na iemand soek op die tribunes. Hy sien
nou vir Alida, en glimlaggend en langsaam mik hy sy gooi na haar toe.
Die brutale manier om die aandag van almal op die jongnooi te vestig,
is vir Marcel te veel: hy buk skielik na Alida haar mandjie, en met
snelle beraad val hy die eerste aan op sy teenstander. Die doel was mooi
berekend, maar nie die krag van die gooi nie. Hy raak die offisiertjie
hard in die middel van sy glimlaggende gesig. Heeltemal uit die veld
geslaan laat laasgenoemde die kosbare blomme somar op die grond val.
Kwaadaardig kyk hy rond tussen die mense op die tribune, en sien net vir
Isabella Orlandi, wat haar hande klap en uitroep:

—Goed geraak! Die skerpskutters bo!

Jan Berlier juig haar toe: die uitbundige vrolikheid is vir hom mooi.
Luitenant Marthenay steur hom nie aan hulle spotterny nie. Naas Alida, ’n
bietjie na agter toe, sien hy eindelik die baasagtige en minagtende gesig
van Marcel Kibert. Hy is nog vol kwaadaardigheid en nyd as die rytuig met
hom en die ander offisiere weer aanry en weggaan.

Elke keer as hy weer verbykom voor die famielie Delourens en hul
geselskap, sien hy hoe Alida heeltemal vergeet om deel te neem aan die
slag, en net staan en gesels met sy teenstander; en sy lyk heeltemal van
gedaante verander, vol aandag, opgefleur. En elke keer het Isabella en
haar vryer ’n ondeunde plesier daarin om hom in sy waarneming te steur
deur hom aanhoudend met blomme te bombardeer.

Die mense begin nou genoeg van die fees te kry, en die geveg verflou.

Die aand begin al te daal op die vlakte. Tere tinte, ’n mengeling van
rose kleur, violet, pers en goud, verdof die gesigseinder soos ’n
ontasbare stofwaas. En die rotskranse van die berge behou nog net vir
hulle alleen die glans van die reeds ondergegane son; ’n gloeiende rooi,
wat so ’n volheid van lewe uitstraal, dat dit lyk of die kranse tintel in
’n opbruising van blydskap te midde van die ligbad.

Agter Alida wil Marcel net die tribune afstap, maar hy bly staan as hy
die pragvertoning van die natuur gewaar. Die jongnooi draai om, om hom te
roep, en is verwonderd om te sien wat ’n uitdrukking van geluk daar op sy
gelaat lê. En hy gewaar ook in sy binneste ’n ooreenkomstige opwakkering
van al sy lewenskragte.

Die famielie Delourens en hul gaste ry na die stad, daar naby. Die
tuine is vol eethuise en op die grasperke daarby staan ’n menigte klein
tafeltjies; die lampe daarop het kappe van allerhande kleure, wat lyk
soos groot vuurvliegies tussen die bome.

Luitenant Marthenay was deur mevrou Delourens gevra om by hulle te eet
en kom nou by die geselskap. Hy is in ’n slegte bui. Hy kan dit maar nie
verkrop dat sake hom die middag so teëgeloop het nie. So gou as hy Marcel
Kibert sien, loop hy sonder nadink somar op hom toe, en sê:

—Meneer, u weet nie om onderskeid te maak tussen speletjies en geveg nie.

Marcel trek hom in sy volle lengte orent—hy is baie langer as
Marthenay—,kyk hom permantig aan, en antwoord:

—Ja, maar u het nie geweet wat die onderskeid was tussen respek en
hoflikheid nie.

Die toon van die gesprek laat mevrou Delourens vrees vir onweer; sy kom
nader. In haar gedagte weeg sy die tietel van die een teen die roem van
die ander: haar ydelheid het albei nodig.

Marthenay kan nie sien dat hy iets onbehoorliks gedoen het nie, en soek
nou rusie. Daar waai Isabella Orlandi meteens soos ’n warrelwind aan, en
los die gespanne verhouding op.

—Jan, kom kyk, hier is hy!

En aangesien sy as bedorwe en sleg-opgevoede kind nooit geleer het om
haar luim te beteuel nie, laat sy daar onmiddellik op volg:

—Wys ons jou gesig.

—Maar, mejuffrou!... protesteer die luitenant, en word bleek.

—’n Oomblikkie, net maar ’n oomblikkie! sê sy.

Sy maak of sy sy gesig bekyk en sê, asof sy almal opmerksaam wil maak:

—Maar dis snaaks, hy makeer niks.

—Maar wat wil u tog van my? vra Marthenay met nadruk.

Die meisie bars uit van die lag en sê nog spottend daarby:

—Jy kan nie stry nie, die kêreltjies wat in die kolonies was, weet
darem hoe om goed te mik. Julle klop hulle in die danssaal; maar in die
oorlog—daar moet jul vir hulle oppas!

—Maar ek begryp nie . . . sê Marthenay. . . .

—O, ja! u begryp my baie goed. Meneer Kibert, hier, het jou lekker
uitgeklop. Ons juig hom toe. Hy is ons held. As jou uniform ’n bietjie
nat gereën het, praat jy ’n hele week groot oor jou heldedade.

Vir ’n man van die wêreld is daar niks so moeilik nie as om met fatsoen
los te kom uit die verleëntheid waarin ’n mooi jong meisie hom dring deur
hom so te laat deurloop onder haar kwinkslae. Luitenant Marthenay is nie
fluks genoeg daarvoor nie. Hy draai weer na Marcel toe:

—Die meisies neem u in beskerming, meneer.

Isabella Orlandi laat hom nog nie los nie, en sy gee antwoord in plaas
van Marcel:

—O, om ’n aanval te maak het hy nie beskerming nodig nie.

Mevrou Delourens kom nou tussenin:

—Isabella, jy is onredelik.

Op ’n komieke manier gooi die nooi haar arms omhoog:

—O, so ’n offisiertjie van die dragonders mag ’n mens nie raak nie, selfs
nie met ’n bossie blomme nie.

Dis haar plesier om hierdie jonkman te verneder. Voordat die lewe
haarself verneder—want sy is vooraf beslote om alles, ook die liefde,
prys te gee aan haar begeerte om te skitter—gee sy haar heeltemal oor
aan die plesier van mooi en behaagsiek en vermetel te wees.

Gedurende die toneeltjie het Alida sku en stil gebly.

Almal gaan nou aan tafel sit, en die voorvalletjie word vergeet in die
onderlinge hartlikheid wat so vanself kom as mense so ’n heel dag saam
pret gemaak het in die ope lug. Isabella het opgehou met haar geplaag
en kry dit selfs reg om haar vyand weer op te vrolik. Alida sit tussen
Marcel Kibert en luitenant Marthenay, en hoewel sy agterhoudend is, soos
altyd, probeer sy tog om dit vir albei ewe aangenaam te maak. As almal
opstaan van tafel, vergeet sy naas haar bord die bossie blomme wat sy die
hele middag op haar bors gedra het. Marcel tel dit op en sy merk dit.

—U wil dit tog wel aan my gee, nie waar nie, juffrou? vra hy; so ’n
smeektoon val hom swaar, en hy voeg daarby:

—U gee daar so min om, dat u dit laat lê het—en die blommetjies is al
verlep.

Sy antwoord nie, dog bloos, en die glimlag is vir hom ’n teken van haar
voorkeur.

Marcel vertrek vroeg met die trein terug na Chamberie; hy wil vroeg
tuis wees om sy moeder nie ongerus te laat voel nie. Dis so ’n heerlike
aand, dat hy, by aankoms op Chamberie, besluit om huis-toe te loop van
die stasie af. Dis tienuur. Hy moet drie myl loop deur die veld, onder
lanings van plataanbome deur, en dan deur ’n bos.

Hy stap haastig aan, en ruik nou en dan die skerpgeurende blomme. Die
donker van die nag is onder die bome nog eens so swaar—hy kan maar ’n
paar sterre deur die blare sien. Met volle teue asem hy die balsemgeurige
aandlug in. Hy het ’n gevoel van ’n heerlike vernuwing en opheffing van
sy hele wese.

Het hy haar lief? Hy weet nog nie reg nie. Maar die teenwoordigheid van
die nooi was voldoende gewees om sy jong bloed in onstuimige beroering te
bring.

Meteens kry hy gedagte aan iets wat hom eenkeer in Algiers oorkom het, ’n
paar jaar gelede. Dit was so ’n onvergeetlike oosterse nag, swaardonker,
met so ’n lui, lou windjie. Hy was te perd, alleen, op ’n stap deur die
bossies. Meteens het sy perd stil gestaan. Rondom het hy niks anders
gesien nie as die donker kolle van die naaste bossies. Hy het die perd
met die spore gesteek en gepaai, maar vooruit wou hy nie, en hy het
gebewe oor sy hele lyf. Was daar iets lewends in die donker naby hulle?

In die groot stilte, drukkend op die donker en verlate vlakte, het die
perd iets geruik. Maar Marcel het nie bang gevoel in teenwoordigheid van
die geheimsinnige gevaar nie—vrees was vir hom iets onbekends. Nee, hy
was alleen bewus van al sy vasberadenheid en van al sy krag.

Met geweld het hy die perd toe gedwing, en die dier het op galop die
duisternis ingehol. Hy het nooit agtergekom of dit ’n denkbeeldige vrees
van die perd was nie, dan wel of hulle werklik naby die dood verbygegaan
het . . . .

Waarom moet hy op hierdie oomblik nou aan dié geval terugdink? Hy het
dieselfde wonderlike gevoel van daardie nag. Soos toe, voel hy nou ook
dat daar gevaar naby is: hy weet nie wat vir ’n toekoms van vreugde of
verdriet hy tegemoet gaan nie. Maar, net soos toe, voel hy nou ook sterk.
Hy druk sy hand op sy bors: daar is ’n béwerige gevoel in, terwyl hy met
’n diep haal die aandlug inasem. Hy trek sy lyf orent, om nog groter te
wees, en hy verheug homself in sy jonkheid. In ’n bedwelming van hoop en
fierheid begin hy te hardloop. Hy hou weer op; maar die gevaar sonder
oorsaak, wat hy voorgevoel het, is nog nie weg nie: dit bly in hom.

In die bos sug die luggie droefgeestig deur die blare . . . .

Naderhand sou Marcel nog terugdink aan hierdie aand, toe hy in die donker
gehardloop het na iets bedwelmends en gedugs, wat niks anders was as die
liefde nie.




IV.

’N AGTERMIDDAG OP CHENÉE.


—Ek kom u kinders wegneem, sê Jan Berlier aan mevrou Kibert, nadat hy
haar gegroet het.

Die ou vrou se sagte antwoord is:

—O, ek smeek u, gun hulle aan my.

Haar glimlag is fyn en teer. Die jonkman het haar verras by haar werk;
sy sit in die skaduwee van die kastaiingbome, voor die huis. Sy het
haar bril op, om die steke beter te kan sien van die handwerkie waar sy
aan besig is. Dadelik roep sy vir Marcel en Paula; hulle is ’n entjie
daarvandaan, in die tuin. Terwyl hulle stadig nader kom, vra sy byna
bangerig:

—Gaan julle na Chenée, na die famielie Delourens?

—Ja, sê Jan, om krokee en tennis te speel. En net of hy spyt het dat hy
dit gesê het, laat hy daarop volg:

—As u wil, mevrou, sal ek hulle daar niks van sê nie.

—O Ja! Marcel het ’n bietjie afleiding en beweging nodig. Hy is gewend
aan baie beweging. En my arme Paula het alte lank met ’n ou vrou, soos
ek, alleen gebly.

Sy dink nie aan haarself en aan haar eensaamheid nie.

Mevrou Kibert behandel Jan Berlier amper soos ’n moeder haar kind. As
klein kind het sy hom dikwels op Maupas sien speel, saam met haar eie
kinders. Hy is die enigste seun van ’n advokaat wat die hof van Chamberie
eer aangedaan het en in die krag van sy lewe gesterwe het. Te vroeg
’n wees geword, is Jan opgevoed deur ’n oom wat ’n bietjie snaaks en
afgetrokke van maniere is en hom maar baie min oor Jan bekommer. Hy is ’n
liefhebber van rose; sy huisie is amper daaronder begrawe. Hy verlies Jan
heeltemal uit sy gedagte as Jan weg is op diens in die kolonie. En as Jan
op verlof tuiskom, vertel hy hom van die nuwe roos-soorte wat hy gekweek
het, en dink dat hy hom daarmee baie liefde bewys.

Marcel en Paula is nou ook by, en Jan vertel hulle dat hulle op Chenée
verwag word. Hy sê aan Marcel:

—Jy skuld bowendien ’n besoek aan mevrou Delourens, na die blommefees; as
jy nou vanmiddag gaan krokee speel, dan doen jy tegelyk die besoek af.

—Dit is so, sê Marcel.

—En u gaat seker saam, juffrou Paula?

Maar Paula weier.

Marcel kyk haar neerslagtig aan, en Jan met simpatieke nuuskierigheid.
Jan onthou nog hoe hy vroeër op hierdie selfde plek gespeel het met ’n
uitbundig vrolike kind, nog wilder as ’n jongetjie. En in haar plek sien
hy nou ’n jongnooi, teruggetrokke en fier, selfs teenoor haar vroeëre
speelmaat. Hy kan darem nie help om haar slank, bevallige postuur te
bewonder nie, haar flinkheid daarby, en haar somber oë, wat lyk of hulle
lig uitstraal. Hy sou wel die vriendskap van sy ou kameraadjie weer wil
win, maar voor _hierdie_ Paula, so mooi en so moeilik te nader, voel hy
’n verleëntheid en bangerigheid waarvan hy homself die oorsaak maar nie
wil vra nie.

—Jan, ek moet jou knor, sê mevrou Kibert meteens.

—O nee, asseblief nie! antwoord Jan, en trek ’n gemaak-kwaai gesig. Sy
goeie humeur is spreekwoordelik, en sodra hy êrens gesien word, neem alle
gesigte ’n vrolike plooi aan.

—Ons is jou oudste vriende, sê mevrou Kibert, en tog moet ons van mevrou
Delourens hoor van die groot gebeurtenis in jou lewe.

—Watter groot gebeurtenis? sê Jan, met gemaakte verbasing.

Paula staan op en loop haastig na die huis se kant toe, net of sy daar
iets belangriks te doen het, terwyl mevrou Kibert aan Jan antwoord:

—Jou huwelik.

—My huwelik! Grote goedheid! en met wie nog al?

—Met Isabella Orlandi.

Mevrou Kibert self sê nooit iets sonder dat sy dit meen nie—daarom het sy
ook geglo wat mevrou Delourens vertel het. Jan Berlier bars uit in ’n lag.

—Sy is my „flirt,” het mevrou Delourens gemeen. Maar ek glo dat u die
betekenis van die Engelse woord nie ken nie.

Paula klim langsaam die treedjies op. Eers hou sy haar hand op haar bors,
net of sy met moeite asemhaal; maar dan stap sy weer makliker. Voor die
spieël in die voorkamer bly sy ’n oomblik staan, en is self verwonderd
dat sy so mooi lyk. Sy glimlag droefgeestig teen haar spieëlbeeld,
en die laggie sê soveel as: Wat help dit? Wat help skoonheid vir dié
wat geen huweliksgeld het nie, en die teerheid en toewyding wat in ’n
leë hart tog maar brand soos ’n lampie wat in ’n kamer vergeet is?
Maar onwillekeurig vind sy darem nog troos by die aanskouing van haar
nuttelose bekoorlikheid.

Jan hou homself baie geleerd terwyl hy aan mevrou Kibert uitlê:

—„Flirt” is eintlik ’n vryery na ’n nooi met wie ’n mens juis _nie_ wil
trou nie.

—Speletjies dus, sê mevrou Kibert. Jan, dis nie mooi van jou nie. Kyk, ek
is ’n ou vrou, luister na my: jonkmans en meisies staan nie gelyk in die
spel nie; jongmeisies verwag altyd om te kan trou. Julle jonkmans bedrieg
’n hoop wat by hulle heeltemal wettig is, en vir jul plesier versteur
julle die vrede van hul harte en die opregtheid van hul gevoelens.

Die jonkman hoor die sedeles aan met ’n eerbiedige glimlaggie.

—Ek hoor u graag so praat; maar ek merk wel dat u die jongmeisies van ons
dae nie ken nie.

—Ek ken hulle ook nie, sê Marcel. Gaan jy dikwels na Chenée?

—Ja, vir my oom en sy roosplantjies is ek te woelig. Hy is altyd bang dat
ek hulle sal trap. As hy my sien weggaan, gee hy ’n sug van verligting.
Die mense op Chenée is so belangwekkend.

—So? sê Marcel, en hy doen baie moeite om te laat sien dat die mense hom
eintlik maar min aangaan.

—Ja, sê Jan, hulle het duisende middeltjies om die tyd—hul ergste
vyand—dood te maak—En, ondanks alles, smaak hulle nou en dan die
verveling van niks-doen. Mevrou Delourens roer en woel, skryf
uitnodiginge, stel spyskaarte op, skrywe vir die koerante verslae van
haar partytjies. Meneer Delourens, bangerig en gedwonge, rangskik sy
boeke, waarvan niemand tog ooit die goeie orde versteur nie, begroet
die mense wat sy vrou uitnooi, keur die minste woordjie van sy vrou
goed, en hou homself so nederig, dat dit lyk of hy altyd maar aan so ’n
deur-en-deur aristokratiese vroumens verskoning vra vir sy burgerlike
bloed. Haar seun, Clement, ry honde dood met sy motorkar.

—En Alida? vra mevrou Kibert, onskuldigweg.

Die jonkman antwoord versigtig:

—Juffrou Alida wag af wat met haar sal gebeur; dit kan nie anders wees as
aangenaam nie. Die hemel het haar met skoonheid geseën.

—Maar gaan jy net na Chenée om die famielie Delourens te sien? vra Marcel.

—Daar is nog hul gaste, mevrou Orlandi, by voorbeeld. Sy het teruggekom
na haar geboorteplek om haar verlore skoonheid te beween—meer as haar
man. So lank as sy nog mooi was, het sy in Florence gewoon. Dog na haar
jeug verby is, het sy Italië verlaat. Haar verminderde fortuin het dit
noodsaaklik gemaak. Maar sy wou haar agteruitgang nie laat sien op die
plek waar sy so geskitter het nie. Sy het alle spieëls uit haar kamer
verban; ek hoor hulle is nou almal na die kamer van haar dogter verhuis.
Sy hou net mooi, fris kamermeisies, en takel haarself op met juwele—die
getuie van haar vroeëre triomfe pak sy heeldag in en uit. Maar sy het
darem nog tyd genoeg om haarself heeldag besig te hou met ’n afskuwelik
lelike mopshondjie, waar sy meer van hou as van haar dogter Isabella.

—Daar het ons haar eindelik, na ’n lang ompad, sê Marcel.

—Juffrou Isabella is bekoorlik. Sy weet dat haar skoonheid haar die vrou
sal maak van ’n miljoenêr. Sy sal dié plig wel nakom; haar ma en ek
moedig haar aan daartoe.

—Foei! sê mevrou Kibert, en hou op met haar werk.

—Sy het nie aanmoediging nodig nie, sê Jan. Die Italiane is baie
prakties. Eindelik is daar nog juffrou Sonjon, met haar maer gesig van ’n
adellike ou-jongjuffrou; sy is nog nie die mins wonderlike van die klomp
nie.

—Ek ken haar, sê mevrou Kibert, sy is ’n heilige. Sy doen so baie aan
liefdadigheid en bring haar lewe deur met bywoon van vrome byeenkomste,
en sy reis daarvoor baie rond.

—Ja, sy hou baie van rondtrek en heers. Sy order en gaan van plek tot
plek, en sy maak of sy godsdienstig is, terwyl sy net haar eie luste
dien. Die mense sê dat sy soos ’n Jood haar skuldenaars uitsuig om haar
God soveel te meer volgens die mode te kan dien.

Mevrou Kibert het hom belet om verder te praat:

—Jan, my liewe Jan, wat vertel jy daar? Jy sal ons laat dink dat jy ’n
ondeug is.

—Dis maar kwaadsprekendheid, sê Jan. Kyk, ek het vryuit gepraat, soos ek
in eie famieliekring sou gedaan het, as ek een gehad het. Ek voel my hier
op my gemak. As kind was ek al hier. Maar moenie vir my vertel van die
ou-jongjuffrou Sonjon nie. Sy ’n heilige? Nee, maar u is een, mevrou.

Ondanks haar leeftyd bloos mevrou Kibert as sy so geprys word. Sy is
alleen inwendig dapper.

—Jan, wat sê jy daar? God het my bederwe deur sy goedheid—dis al.

Die jonkman kyk met verbasing na die ou vrou in haar rouklere, met haar
gesig deur droefheid verlep, met haar oë altyd vol trane, en die Heer
dankend vir haar beproewinge. Sy sien sy blik op haar en sê:

—Ja, God het my oorlade met Sy seëninge, voordat Hy dié weer van my
weggeneem het. Maar nou nog, as ek lewe vir my kinders wat oral versprei
is, vir hierdie een, Marcel, wat deur so baie gevare gegaan het, hoe sou
ek dan nie tegelykertyd ook trots voel op hul moed, op hul werk nie? Is
hul lewe nie my lewe nie?

Jan is bewoë; hy staan op, neem mevrou Kibert haar hand en soen dit.

—U is ’n heilige, soos ek gesê het. As ek u sien, word ek self beter en
voel ek nie meer lus om my lewe te laat verstrooi deur die vier winde
nie: ek voel lus om mannewerk te doen, soos u seuns. Maar ek, ek het nie
’n moeder nie.

Hy sien Paula die treedjies weer afkom. Sy het haar hoed op, en haar
gelaat het ’n nuwe uitdrukking van frisheid.

—A, juffrou Paula, so het u darem tog besluit om mee te gaan?

—Ja, sê sy, dis sulke mooi weer en Marcel is vererg as ek tuisbly.

Sy soen haar ma, en sy stap saam na Chenée, tussen die twee jonkmans, en
sonder moeite hou sy hul snelle looppas by.

Hulle kom aan voor die poort van Chenée. ’n Laning van plataanbome lei na
die huis, wat ruim en elegant is. Tussen die grasperke voor die huis is
tennis- en krokeegronde. Agter die huis is ’n bos van eeueoue eikebome,
waar in die somer baie koel en afgeslote hoekies is.

Die famielie Delourens weet hoe om dit vir hul gaste gemaklik te maak,
en hulle groot verskeidenheid van afleiding aan te bied. Op die oomblik
dat Paula met Marcel en Jan daar aankom, het die krokeeparty net opgehou,
en almal staan om Isabella Orlandi, wat baie hard praat en baie beweging
maak met haar hande:

—En dan is sy naam nog Landeau, sê sy.

—Wie is dit? vra Jan, terwyl hy by die kring van toehoorders kom.

—My aanstaande! En sy bars uit in ’n harde, byna oorverskeurende
skaterlag. Sy gee haar hand aan Jan:

—Dag Jan.

Sy noem hom by sy voornaam, want, sê sy, sy het hom eenmaal as kind
gesien.

Die krokeespel gaan weer aan; en terwyl sy en Jan by ’n afgeleë hoepel
staan, maak sy van die geleentheid gebruik om met hom te praat:

—Ja, sê sy, terwyl hy merk dat sy bleek is, ek moet jou bekend maak dat
ek gaan trou met ’n fabrikant van die stad Lyon—’n besigheidshuwelik.

—Veels geluk, sê Jan.

—Dankie. Hy is meer as miljoenêr, en is baas van verskeie welvarende
fabrieke. Hy het groot beloftes gemaak aan my notaris. Jy begryp, dan kom
dit daar ook maar min op aan dat hy lelik is, dat hy veertig jaar oud is,
en opgeskeep met ’n belaglike naam.

—Dit spreek vanself.

—Nie waar nie?

Hul meespelers roep hulle om te speel. Maar hul lus om te speel is weg,
en deur hul skuld verloor hul kant die spel.

Toe die spel uit is, gaan almal na binne om iets te gebruik. Hulle twee
sorg dat hulle draai tot hulle die laaste van almal is. Meteens vra sy
aan Jan:

—Begryp jy dit nou, Jan, dat ’n mens trou, terwyl daar reeds liefde in
jou hart is?

—Liefde vir jou man, nie waar nie?

—Loop, jy maak grappies.

Dis werklik skerts van sy hart, want hy _wil_ haar nie begryp nie. Maar
as hy op dieselfde oomblik ’n vieslike slak sien kruip op ’n roos, in
die tuin, dan voel hy tog alte jammer dat Isabella haar skoonheid so ten
offer moet bring.

—Dis beter om voor die tyd iemand anders lief te hê as daarna, sê hy.

—O, as ’n mens vantevore liefhet, dan het jy daarna nog lief, antwoord sy.

Hy gee ’n ander wending aan die gesprek, want hy weet dat hy te stry
het teen ’n hartstogtelike aandoening. Nog nooit het hy soveel plesier
gehad in die mooi gesig, die onbeskaamde oë, die rooi, sinlike lippe, die
glinsterende tande, die volle buigsame bevalligheid van haar hele wese.

—Is ek nie ’n goeie profeet nie? sê hy. In die trein het ek jou ’n tyd
gelede so ’n huwelik voorspel.

—Ja. My ma het my al baiemaal gesê: „My liewe kind, na ’n week is al
die mans maar eners. Geld en jeug is verbygaande dinge, maar die eerste
alleen maak die twede van waarde.”

—Ja, jou ma is wel skerpsinnig.

—In Italië is al die mense so. Digterlikheid is goed as dit by woorde bly.

Meteens, op die skielike manier wat haar grootste aantreklikheid is en
haar in onverwagte vervoering bring, begin sy te ween. En terwyl hy haar
nog verwonderd daaroor aankyk en nog geen woord van medelye kan kry nie,
sê sy:

—Waarom trou jy nie met my nie, jy?

Sy antwoord kom hakkelend, maar darem gou:

—Ek kan jou nie meeneem na die kolonies nie.

—Jy kan ’n handelsbesigheid begin. Dit lewer geld genoeg op. Meneer
Landeau sal jou help.

En by die gedagte aan die wonderlike rol wat sy meneer Landeau (haar
aanstaande) wil laat speel, bars sy uit in ’n lagbui, of sy mal is; die
jonkman word daar ook deur aangesteek. Hulle stap nou aan deur die laning
van plataanbome. Sy neem die kans waar in die donker skaduwee van ’n
groot boom:

—Gee my ’n soen, om my te troos.

Die fris wang se smaak proe hy nog as sy reeds te kenne gegee het dat
haar keus gedaan is:

—Dis tog jammer, maar waarom is jy nie ’n miljoenêr nie?

—Ja, dit vra ek ook, sê Jan . . . .

Mevrou Delourens sien Jan en Isabella in die verte, en sê aan haar gaste,
terwyl sy na haar wys:

—Ek neem dit haar nou glad nie kwalik dat sy so ’n huwelik doen nie; nee,
ek keur dit goed. Haar huwelik met meneer Landeau bewys dat sy groot
geeskrag besit. Fortuin besit sy nie.

Haar skatryk gaste sê almal dat sy gelyk het. So aangemoedig, gaan sy
aan, nadat sy eers agtertoe gekyk het of Paula vér genoeg is.

—Kyk nou inteendeel na so ’n meisie as Paula Kibert. Dis nie sy wat met
meneer Landeau sal trou nie. Sy besit geen stuiwer nie en is nog vol
aanstellings daarby! Hoe op aarde kry sy ooit ’n man?

—Ja maar, sê een van die dames, haar vader het al sy besittings opgeoffer
om sy broer te red—dis tog baie mooi.

—Ag, dit was net om die naam van die Kiberts te red! Hy sou veel beter
gedoen het as hy sy geld gehou het; wie weet vandag nog van die
opofferinge?

’n Spreuksprekende meneer sê:

—Vergetelheid kom gouer as die dood.

—Dié Paula! gaan mevrou Delourens aan. Op ’n dansparty wat ek twee jaar
gelede gegee het, het luitenant Sinard sin in haar gekry. Dit was nog
voor die dood van haar pa, die dokter. Hy het daar regtig ernstig aan
gedink om met haar te trou. Maar toe het hy erfgenaam geword van die
driehonderd-duisend pond; wel, julle begryp, toe kon hy hoër kyk.

—O, natuurlik! sê almal, toe kon hy tog aan haar nie meer dink nie . . . .

Onder die strenge blik van juffrou Sonjon, kom die swaarlywige mevrou
Orlandi aangestap. Sy is uitasem, en wil ook ’n goeie uitleg gee van die
keus van haar dogter.

—My dogter het moeite gehad om tot ’n beslissing te kom. Maar haar
aanstaande is ’n man van beginsel en, wat ook glad nie iets verkeerds is
nie, hy besit ’n groot fortuin.

Die woord _beginsel_ was bestemd om die vroom ou-juffrou Sonjon te
behaag. En sy vra:

—Werk hy nog?

—Seker, hy werk nog. Hy is direkteur. Hy bestuur duisende werkmense. Hy
gee bevele, net soos ’n generaal.

Maar die ou-juffrou brom drogies.

—In my dae sou ons, onder ons klas mense, nooit getrou het met ’n man wat
werk nie.

Jan Berlier en Isabella het hul wandelinkie klaar gemaak en kom nou
aangestap. Die jonkman het daar plesier in om juffrou Sonjon te terg; wat
sy daar gesê het, gee hom net ’n mooi handvatsel.

—Alles is nou anders, juffrou. Dis die tyd wat so snaaks is. In die ou
dae het adel daarin bestaan dat ’n mens niks doen nie: vandag kom dit
uit arbeid voort—arbeid, wat nog meer ’n moréle verpligting is as ’n
liggaamlike noodsaaklikheid. Die wêreld is heeltemal omgedraai: dis nou
die vabonde wat nie werk nie.

Maar die vroom presidente van die Rooi Kruis en van verskillende
liefdadigheidsgestigte bekyk hom permantig van hoof tot voete, en
antwoord vinnig:

—Die wat op aarde varke opgepas het, sal hulle in die hemel ook nog oppas.

Jan lag, en vra:

—Is dit ’n woord uit die Bybel?

Alida het ’n bietjie agtergebly met Paula en Marcel; sy loop maar
langsaam.

—Is u moeg? vra Marcel. Hier is ’n bank: gaan sit ’n bietjie.

—Nee, dankie, ek makeer niks nie. Laat ons maar huis-toe gaan. En met
haar glimlaggie van ingebeelde sieke, voeg sy nog daarby:

—Dis die warmte van die lang somerdae wat so druk. Voel u dit ook nie?

Marcel kyk verwonderd:

—Daar het ek nog glad nie aan gedink nie. Ek hou van die son: dis hy wat
die teken tot lewe gee. Ek hou van die lang dae: dit lyk of hulle ons
bestaan verleng.

Paula is stil; sy kyk na die huis, en sien iemand klop aan die voordeur:

—Daar is meneer Marthenay, sê sy.

Daar gaan ’n skaduwee oor die helder oë van Alida, en die rose verdwyn
van haar wange. Sy sak neer op die bank, waar sy eers nie op wou gaan sit
het nie, en wink vir Paula om naas haar te sit, terwyl sy sê:

—Kom ons sit maar ’n bietjie hier.

En terwyl sy vir Marcel aankyk, sê sy met bevallige teerheid:

—Daar is nie plek vir u nie, maar ek is seker dat u nie moeg voel nie.

—Werklik nie, sê hy, en laat daarop volg, ken u die belaglike Arabiese
spreuk wat sê: „Sit is beter as staan, lê beter as sit, en dood weer
beter as lê?”

Nee, ek het dit nog nooit gehoor nie, maar dit geval my.

’n Sware neerslagtigheid, abnormaal soos die wanhoop van ’n kind, is te
lees op haar jong gelaatstrekke—nog so aantreklik en so sag. Sy draai na
die spraaklose Paula:

—Ek beny jou tog so, Paula. Jy is sterk en dapper. Ek is so swak. As jy
tog kon besef hoe swak ek is! Ek het glad geen moed nie.

En sy laat haar skone, wanhopige oë op Marcel rus, net of sy _hom_
aanspreek en van hom uitredding vra. Waarom bekla sy haarself so? En
waarom ontvlug sy meneer Marthenay? so dink Marcel en hy sê:

—Op u leeftyd wanhoop ’n mens nog nie aan toekoms of geluk nie.

In plaas van dié alledaagse woorde uit te spreek, sou hy haar wil
ondersteun met sy eie krag. En Paula, self ook wetend op die oomblik wat
twyfel en teleurstelling beteken, bly nog maar stil; verwonderd, en met
sekere geringagting, sien sy neer op haar vriendin, wat haar beny, en wat
tog deur die lewe vry gelaat word om haar lot na eie keus voor te berei.

Die son het ondergegaan agter die berg, maar voor hulle het die aandlug
’n goue sluier omgehang. Die toppe van die berge gloei nog in die
aandson, die hoogste toppe hou die daglig nog die langste vas. En die
vlakte lê breed uitgestrek onder ’n blou, rose waas wat op alles neerdaal
soos ’n blomreën, en lyne en afstande vervaag.

—Kyk tog, sê Paula; en wys na die horison.

Die twee meisies staan gelyk op om te kyk. Marcel het net oog vir Alida;
in haar wit rok lyk sy soos ’n slank, buigsame lelie; en die suiwere lyn
van haar sy-gesig teken hom teen die goud van die aandlug—’n stralekrans
makeer nog net daaraan om dit as ’n engelekop te laat kyk. Sy draai
langsaam om na Marcel; sy knip haar oë waar die lig te helder inskyn, en
sê met ’n vriendelike glimlag:

—Ek kan nie meer sien nie. Die weerskyn van die son is genoeg om my oë
pyn aan te doen.

Paula dink terug aan die tyd toe sy en haar broers daar plesier in gehad
het om in die son self te kyk, sonder hul oë toe te maak.

Marcel voel jammer, ondanks homself, vir so ’n tengerige skoonheid; hy
voel sy hart klop in sy bors, hy voel die begeerte tot opoffering wat ’n
kenmerk is van ontluikende liefde.

—Alida, roep mevrou Delourens, dis alte koud om buite te bly.

’n Bietjie later neem Marcel en Paula afskeid. Hulle gaan huis-toe langs
’n voetpaadjie deur die veld. Deur die blare van die bome sien hul die
pers, rose lug—’n kleur wat geluk voorspel. Hul loop ingedagte en sê niks.

—Jy het jou tog nie verveel nie, sus? sê hy eindelik.

—Ek? Nee—ek het saamgegaan om jou plesier te doen. Voel jy tevrede?

Hy antwoord nie dadelik nie. Hy is so met homself besig dat hy Paula nie
aankyk en ook nie merk dat sy bedroef is nie. In die donkerte van die bos
openbaar hy sy geheim:

—As ek _haar_ nou vra om met my te trou, wat sou jy sê?

Sy het dit verwag, maar tog voel sy ’n rilling deur haar lyf. Haar oë
is swaarmoedig neergeslaan op die voetpaadjie, wat vol dor blare lê van
vroeëre somers. Byna afstotend sê sy:

—Haar ouers sal weier.

—Waarom? vra hy, en nou roer die trots hom, na die liefde.

—Omdat jy nie ’n adellike tietel het nie.

—Maar hulle het ook nie. En bowendien, wat beteken so iets nog in ons dae?

—O, hulle is almal vol vooroordeel.

—Maar as sy self nou wil?

—Sy het geen wil nie.

—En as sy my nou liefhet?

—Sy sal maar net huil.

Haar eie wanhoop, waar niemand iets van weet nie, wat sy doodsmoor in
stilte en misterie, lê haar dié growwe antwoorde in die mond.

Marcel voel geraak, en in homself geslote, stap hy haastiger aan; teen
die hoogtetjie uit hou hy sy lyf nog reg-orent soos ’n jong eikeboom.

Eindelik, haarself vergetende, nader sy hom en neem sy hand om hom te
laat stilstaan; sy is bewoë:

—Ek het netnou nie mooi met jou gepraat nie. Ek was in ’n slegte bui;
vergeef my, ek moet maar seker verkeerd wees. Ek het goed gemerk
vanmiddag dat sy van jou hou; en haar moeder oorlaai jou met gunsbewyse.

Hy hoor haar aan, maar sy gesig bly somber. Paula gaan aan:

—Jy moet weet, vandat pa dood is, het ek so baie mense gesien wat hul rug
aan ons toegedraai het, dat ek ongetwyfeld bitter geword het. Ek kan nie
mense verdra wat met geringagting neersien op wat ons vereer, en spot
met wat ons ontroer nie. Daardie Isabella Orlandi het jy tog al gehoor.
Maar as Alida jou vrou word, sal sy tog baie gou verander. Sy is so goed,
so sag en fyn. En sy is so mooi.

—Ja, sê hy swaarmoedig, sy is mooi.

Dit word àl donkerder in die bos. Die skaduwee van die bossies word al
swart om die boomstamme. Maar buite die bos vind die broer en suster die
somerse aandskemering terug waarvan die halflig nie wil wyk vir die nag
nie.

As hul Maupas al in die oog kry, bly hy meteens staan:

—Nee, jy was nie verkeerd nie. Maar praat met Alida. Vertel haar van my
verlede, my toekoms, waar ek eer op stel, wat ek my fortuin noem. Ek sal
haar saamneem na Algiers, in Afrika, dis ’n pragtige stad.

Sy verstaan nou en kyk haar broer aan met teerheid, met ontroering:

—O, as jy haar liefhet dan is dit anders. Ek sal doen wat jy wil hê.

Hy druk haar op:

—Praat môre met haar. Ons sal op Chenée gaan eet, saam met die verloofde
van mejuffrou Orlandi.

—Môre al? sê sy eenvoudig. Die uitnodiging was nie aan haar gerig nie,
maar daaraan dink sy nie as sy nog daarby sê:

—Is dit nie beter dat ma met haar ouers praat nie?

—Nee! antwoord hy beslis, ek wil nie hê dat ma miskien verniet moet gaan
nie.

As hul die huisdeur ingaan, fluister sy:

—Ek wil jou tog so graag gelukkig sien.

Hy glimlag vol vertroue, en sê:

—Moet nog niks aan ma vertel nie: sy hou nie van die mense nie, en ek ook
nie. Maar ek het haar lief, _haar_.

En met die laaste woorde erken hy dat hy oorwonne is.




V.

DIE GEHEIM VAN ALIDA.


’n Huwelik tussen ’n man van die burgerlike stand en ’n adellike vrou
word daar ’n _halfbloed_-huwelik genoem, en vir minderwaardig gereken.
En hul word uitgelag as die een toelaat dat die ander, om sy of haar
vernedering te dek, altyd maar weer die adellike afkoms ophaal, tot selfs
op die visietekaartjies.

Meneer Delourens het ook kennis gemaak met die mag van die adellike
vooroordeel. Hy het baie verering vir die opienie van sy vrou en, deur
haar, ook vir alle koninge en prinse. Hy is uitermate koningsgesind. Alle
tietels verafgood hy, selfs dié wat met goud gekoop kan word, en wat hy
nie durf koop nie, omdat hy te agteraf voel. Die toegewende houding van
haar man versoen mevrou Delourens nie heeltemal met die huwelik benede
haar stand nie; maar dit streel darem tog haar baasagtige neiginge.

Soos sy haar man en haar huis regeer, so regeer sy ook haar kinders,
vernaamlik Alida. Sy is een van die moeders wat die geluk van ’n dogter
met hul eie geluk verwar, en wat regtig dink dat die geluk van die dogter
versekerd is as sy (die moeder) maar haar eie geluk najaag. Haar felle
moederhartstog is die uiting van ’n groot liefde wat in haar natuur lê,
dog in haar huwelik geen bevrediging gevind het nie.

Sy maak vanmôre met sorg haar planne klaar vir Alida se toekoms; vir die
vorm het sy haar dogter vertel dat meneer Marthenay haar ten huwelik
gevra het. Maar sy het veral haar hande vol met ’n maaltyd wat sy gaan
gee ter ere van Isabella Orlandi haar verlowing. Af en toe staan sy
haastig op om orders te gee, en let nie baie op Alida nie, en versuim
ook om te vra of sy toestem. Sy maak soos die veroweraars wat nie dink
aan struikelblokke nie. Sy behandel so ’n ernstige saak selfs met sekere
onagsaamheid, omdat sy daar al so lank aan gedink het en dit reeds beskou
het as een van die famieliesakies wat heeltemal natuurlik is en, so te
sê, onvermydelik.

Sy kom nou vir die derde maal uit die kombuis terug en som nog ’n keer al
die voordele op van so ’n huwelik:

—Hy is van baie ou en egte adel. Goeie konneksies. ’n Middelmatige
fortuin, dis waar, maar ons adellike here is nie somar winkeliers nie.
Hy is so ’n mooi jonkman ook. En dan, liefste, bly jy altyd naby my; jy
begryp, daarop het ek aangedring, as hy met jou trou, is dit ’n eerste
voorwaarde waarin hy moet toestem. Hy het my beloof nooit verder as
Chamberie te gaan woon nie. Word hy eendag êrens anders aangestel, dan
bedank hy—dis net al. So sal ons nooit van mekaar af hoef te gaan nie.
Ons kan tog nie van mekaar skei nie.

Eindelik kyk sy haar dogter aan, want haar spraakloosheid begin haar te
verbaas. Alida is doodsbleek en kyk na die vloer. Sy slaan haar oë op en
kyk in haar ma haar gesig. Sy kan nie meer nie, en bars in trane uit.
Mevrou Delourens neem haar in haar arms.

—Wat makeer, liefste?

—Ag, ek weet nie. Waarom moet ek nou al trou? Ek is so tevrede hier. Hou
my tog nog maar by ma.

Haar ma liefkoos haar, op haar wang en op haar hare, soos in die dae toe
sy nog ’n kind was:

—Maar my kind, ek het jou mos uitgelê dat jy nie weggaan van my nie.

En, half onrustig darem, voeg sy daar glimlaggend by:

—Wat ’n mooi gravin Marthenay sal u uitmaak, mejuffrou! En hou u baie van
die graaf?

—Ag, ek weet nie.

Dis haar gewone bangerige manier om iets te weier. Mevrou Delourens het
dit verwag.

—Jy mag self die huweliksdag bepaal.

Dié uitdrukking laat onmiddellik die gevreesde gebeurtenis as werklikheid
sien. Alida beef oor haar hele liggaam, en skree met luide stem:

—Nee, ma, ek wil nie, ek wil nie!

Mevrou Delourens is verstomd, sy voel geraak in haar liefde vir haar
dogter sowel as in haar begeerte. Maar, as vrou van die wêreld, wat aan
die teenwoordige dink, vind sy dat dit nou nie die tyd vir ’n uitleg is
nie. Sy sê:

—Bedaar, liefste. Ek kan jou ontroering begryp. Alles sal reg kom. Dis
nou naby etenstyd. Ons gaste sal haas aankom. Veeg gou jou oë af. Vertrou
op jou ma.

Alida kalmeer haarself. ’n Bediende kom sê dat mevrou Orlandi en haar
dogter in die voorkamer is.—Terwyl mevrou Delourens na die voorkamer
stap, dink sy by haarself dat sy maar nie alte ongerus sal wees oor
die wonderlike weiering van Alida nie: dis maar niks anders nie as ’n
jongmeisiesnuk, wat die oorsaak daarvan is, en beskuldig haarself:

—Dis ekself, sê sy ingedagte, wat daardie kaptein Kibert hiernatoe gelok
het. Dis my skuld. En nou het ek hom waarlik gevra om nog vandag hier te
kom eet ook!

En in haar toorn teen die jonkman, in wie sy reeds ’n teenstander sien
van haar planne, beskou sy haarself byna as sy weldoenster, wat hom op
ondankbaarheid betrap; want sy beskou haar uitnodiginge as voortreflike
middele om iemand in aansien te bring by die wêreld.

Na die maaltyd voel mevrou Delourens nogmaals ongerus as sy deur die
raam van die voorkamer sien—want sy hou haar dogter altyd in die oog—hoe
Alida, aan die arm van Paula Kibert, na die eikebos wandel. En solank as
sy in die voorkamer met mevrou Orlandi en mejuffrou Sonjon gesels en lag,
sê sy by haarself:

—Ek is seker dat sy onder die invloed staan van die bedriegster, wat vir
Alida aan haar broer wil plak.

Sy kyk na die kaptein, wat sit en praat met meneer Delourens en meneer
Landeau, en sy sien dat hy ook deur die raam na die twee meisies kyk, en
sy dink:

—Ja, dit is maar so—dáár lê die gevaar.

Mevrou Delourens is maar min gewend om na te dink en verwerp alle
bedenkinge wat haar gesag sou kon verswak. Sy vra nie eens of die toekoms
van Alida nie miskien veilig sou wees as dit toevertrou word aan die man
van eer nie, en of dit nie selfs haar plig sou wees om Alida aan hom te
gee nie in geval die tere hart van haar dogter onwillekeurig aan hom
geheg is. Sy begryp vanself dat ’n vergelyking tussen Marcel en luitenant
Marthenay ongunstig moet uitval vir laasgenoemde, want dis bekend dat
hy ’n eerlose lewe gelei het met ’n seker vrouspersoon, en sy militêre
loopbaan is sonder roem of toekoms. Instinkmatig verban sy die gedagte
aan so ’n moontlike keus tussen die twee mans, want dit kom op die laaste
oomblik ’n plan versteur waaromtrent sy ’n onherroeplike besluit geneem
het, en wat sowel haar onbewuste ydelheid streel as haar nog onbewuster
moederlike selfsug. Sy het vir haar dogter ’n keus gedaan soos sy vir
haarself sou gedaan het, en daarom kan sy ook nie twyfel aan haar wysheid
en belangeloosheid nie.

Terwyl Jan Berlier verbygaan om by die mans aan te sluit, fluister
Isabella Orlandi in sy oor:

—Wel, hoe lyk hy vir jou?

—Wie?

—My aanstaande, meneer Landeau.

—So, tussenbeie.

—Hy praat min, maar al wat hy dink sê hy.

Sy lag as sy dit sê, en hy sien haar helder wit tande, en vir die
twede maal merk Jan dat dit ’n valse lag is. Hy vergelyk dit by die
liedjies wat ’n mens somtyds snags in die veld hoor sing deur iemand
wat in sy eensaamheid bang voel. Roerloos en spraakloos verslind meneer
Landeau sy aanstaande met sy oë. Blykbaar voel hy vir haar so ’n soort
hartstog as deur jonkheidsverval eerder versterk as verswak word in
harte wat plotseling aangetas word deur ’n gehegtheid wat hul vroeër
nie geken het nie. Hy is al op rype leeftyd, swaarlywig, en sonder
iets wat hom onderskei van die gewone. Hy is onhandig, en laat hom
gemaklik uit die veld slaan deur die ligte en gemaklike hoflikheid wat
die krag en bevalligheid uitmaak van die omgang met mense. Naas die
vyf-en-twintigjarige lewenslustige en welgemanierde Jan Berlier steek
sy ouderdom en sy onbeholpenheid nog meer af. Van vèr kyk hy so na
Isabella, oogverblindend skoon in haar wit klere, soos ’n afgod wat hy
nie durf nader nie. En Isabella self lyk of sy selfs heeltemal vergeet
het dat haar miljoenêr-slaaf nog aanwesig is....

Tussen die eiketakke deur val die sonlig in die bos, tot op die grond,
wat bestrooi lê met dooie blare van vroeër jare. Die twee jongmeisies
loop langsaam in die voetpaadjie, leunende op mekaar, hulle gesigte nou
deur die son beskyn en dan weer in die skaduwee. Die ou, dikstammige bome
staan beskermend oor hulle en omsluit hulle met ’n diepe kalmte. Die
blonde Alida het ’n rooskleurige rok aan. Paula haar swart hare en haar
rouklere laat haar bleek gelaatskleur nog meer uitkom.

Die spel van die lig in die blare vrolik hulle op; sonder moeite hervind
hulle die ou kameraadskap van hul skooldae, en nou en dan wissel hul ’n
glimlag.

Maar hul merk nie dat hul albei ’n bietjie opgewonde is nie. Albei het
’n groot geheim. Alida voel net baie moedig na die gesprek met haar ma
dié môre, en sy brand van verlange om, deur vertrouelike mededeling, die
agting en aanmoediging te win van haar maat. Paula dink met aandoening
aan haar broer en aan sy liefde, wat sy moet bekend maak.

—Paula, onthou jy nog ons skoolpraatjies van die ou dae?

—Ag, ek dink byna nooit meer daaraan nie.

—Eendag het ons van trou gepraat. Sarie Raymond, van die hoogste klas,
het maar altyd dié onderwerp ingelei. En sy het toe gesê: „Ek sal nooit
’n ander neem nie as ’n ryk man van adel.” So het ons almal, om die
beurt, gesê wie ons wil hê. Ek het gesê: Ek weet nie. Maar jy, Paula, ek
sien nog jou mooi swart oë, wat altyd die meeste lig uitgestraal het in
die donker of in die moeilikheid, en jy het gesê, net of jy al ons ydele
begeertes met geringagting beskou het: Om te trou is om lief te hê, en
niks anders nie. Sarie het daaroor gelag, maar ons het lus gehad om haar
’n klap te gee.

—Jy ook? vra Paula, half spottend maar nogtans liefderyk.

—Natuurlik, ek ook. Verbaas jy jou daaroor? Het jy my vanmôre gehoor, dan
sou jy nie verbaas wees nie.

’n Ligte blos op haar wange gee ’n uitdrukking van opgewektheid aan haar
suiwer gelaat en verhoog die skoonheid daarvan, en haar stap lyk minder
sleperig en lam as gewoonlik.

Paula kyk haar aan: sy hou van Alida se aanvallige gelaatstrekke,
alhoewel sy die swakkerige sagtheid daarin afkeur, maar nou is sy
heeltemal verwonderd oor die nuwe vuur wat daaruit straal, en meteens het
sy ’n gevoel dat haar boodskap van haar broer in goeie aarde sou kan val.
Sy vra aan Alida:

—Is dit vanmôre gewees dat jy gepraat het?

—Vanmôre, ja, sê Alida ernstig, het ek geweier om te trou.

Sy sê niks meer nie, om net ’n oomblik die uitwerking van haar woorde te
sien en te geniet. Daar is altyd iets aantrekliks in vir ’n jongnooi om
te praat van vryers wat sy afgesê het. Maar ’n gedagte van kieser aard
laat haar daarby voeg:

—Al sou jy my geheimhouding belowe, sy naam sal ek nie noem nie.

Paula het al geraai, sy glimlag en voel ’n bietjie ongemaklik. Sy beef al
vir hom wat haar ’n vredeboodskap meegegee het.

—Is dit onmanierlik van my om te vra waarom jy geweier het?

Alida swyg. ’n Goue straal val deur die blare net op haar blonde hare. Sy
buig haar ’n bietjie vooroor en lag soos ’n voorjaarsblom toe sy antwoord:

—_Om te trou is om lief te hê, en niks anders nie._

—Jy het dus nie lief nie?

—Nee.

—Niemand nie? waag Paula te vra.

Maar Alida bloos. Is dit omdat haar natuurlike teruggetrokkenheid haar
sê dat sy te roekeloos gepraat het, of skrik sy omdat sy die waarheid
verdraai het?

Paula stap op haar toe en slaan haar arm om haar ranke middel. En so, van
naby, in die stille skaduwee van die bos, en hoewel sy byna al haar moed
verlies en skrik vir die klank van haar eie stem, fluister sy haastig
haar boodskap aan Alida in:

—Jy weet nie dat Marcel jou liefhet nie. Sy hele hart is joue. Sal jy
toestem om sy vrou te word? Hy verwag sy geluk alleen van jou.

Altwee is ewe bewoë en slaan hul oë neer op die dooie blare. Gelyk hef
hul weer hulle hoofde op, bloos albei, en soen mekaar, in trane.

Paula herstel haar die eerste. Met ’n nuwe geneëntheid beskou sy die
skone wese wat op haar skouer leun en, sonder ’n woord te praat, haar
suster geword het. Alida voel haar salig in die ontroering, maar sy word
bang vir die diepte daarvan, hoewel sy verlang om dit altyd te voel. Sy
vrees dat sy haar strafbaar maak deur daaraan toe te gee—en tog gee sy
toe. Dis haar eerste onderhoud met die liefde, en dit ope meteens haar
oog vir die geheime skuilhoeke van haar siel, wat tog nog so sluimerend
en kinderlik is. Haar hart gaan ope soos die rose wat ’n mens in die aand
nog geslote sien en wat die volgende môre op hul oopgespreide blaartjies
die hemeldou ontvang.

—Wil jy? vra Paula sag.

En eindelik antwoord Alida, met ’n stem byna onhoorbaar swak:

—Ja.

Hand in hand stap hul aan—die een luisterend na die liedjie van geluk in
haar boesem, die ander haarself vergetend en genietend ten volle van dié
saligheid wat vir haarself nie weggelê is nie.

—Jy is nou my suster, sê Paula. Ek het jou baie lief. Marcel verdien tog
so om gelukkig te wees! Hy is tog so goed vir ons. Ek kan jou nie genoeg
van hom vertel nie. Na die dood van ons vader het ons wrede dae belewe.
Maar uit die verte het my broer ons bygestaan met sy krag, met sy geld.

Met gemengde vreugde hoor Alida die loftuitinge aan, en voel verleë
daarna. Sy dink nie baie aan geld nie en ken nie die betekenis daarvan
nie. Maar sy stel haar ’n liefderoman nie voor sonder toepaslike omgewing
nie. Onbekend met die lewe, het sy ’n valse voorstelling van die
grootheid en adel daarvan. En hoe sou sy dit in werklikheid tegemoet tree?

Dis maar alles vlugtige oordenkinge. Haar tevredenheid is daar nie minder
om nie. Marcel het haar lief, en Paula praat so mooi met haar. Sy voel
behoefte om haar moed te ondersteun, en wil haar vriendin vra omtrent die
toekoms:

—En wat gaan ons nou verder doen?

—Ma sal hier na Chenée kom om jou hand te vra vir Marcel.[3] Jy moet jou
ouers daarop voorberei. Jou ma het jou baie lief, en wil jou natuurlik
graag gelukkig sien; en jou pa luister maklik na jou ma.

Hulle is nou in die donkerste plek van die eikebos. Alida lyk ’n bietjie
besorg; sy is nou uit die glansende liefdedroom en nader die werklikheid,
waarvoor sy, as vanself, ’n bietjie bangerig voel. Sy vra aan Paula:

—Sal ek moet meegaan met ... met Marcel?

As kind het sy hom so by sy voornaam genoem, en nou sy sy verloofde is,
durf sy dit nie meer doen nie—net of die naam nou haar lippe brand.

—Natuurlik sal jy moet meegaan as jy sy vrou is, sê Paula verbaas.

—Ja, dis waar ook. Maar gaan hy vér weg?

—Na Algiers, in Afrika.

—O, maar dis baie vér. Ma sal daar nooit in toestem nie.

Daar kom trane in haar skone oë. Sy voel dat haar geluk haar reeds ontval.

—Miskien sal hy, om jou genoeë te doen, vereers nie na Algiers gaan nie.
Maar moenie sy loopbaan bederwe nie, Alida: dit lyk vir my gevaarlik—en
syne is so veelbelowend.

—Ag, jy weet, my liewe Paula, dat ek nie alte dapper is nie. Ek sal nooit
’n Kibert word nie. Maar is hy dan nie al dapper genoeg gewees nie?

Paula kan haar lag nie bedwing nie:

’n Mens is dit nooit genoeg nie. Ons wat nie met die wêreld meelewe nie,
Alida, ons wat net vir ons tuis sorg—ons kan ten minste die hande sterk
van ons broers, ons mans, ons seuns, deur ’n kragvolle en verstandige
liefde. Laat ons toon dat ons die voorkeur gee aan manne van moed, aan
manne wat nuttig werksaam is.

—Aan sulke dinge het ek nog nooit gedink nie, sê Alida.

—En jy het vir Marcel lief.

—Al is hy nie meer nuttig werksaam vir sy land nie, ek sal hom nog net so
liefhê.

—Nee! sê Paula, en met gedempte stem, net of sy vir haarself alleen
praat, laat sy daarop volg:

—Wat my betref, ek sou dit nooit waag om my man se lewenswerk te belemmer
nie.

Alida luister nouliks na haar, sy dink by haarself, en sê:

—Aangesien hy my liefhet, kan hy dan nie met my naby sy ma en naby my
ouers kom woon nie? Ons sal so gelukkig wees by mekaar! Ons het daarvoor
geld genoeg.

—Dit sal hy nooit doen nie, antwoord Paula. Sy is verontwaardig en
vergeet in haar trots dat sy ’n vreedsame boodskap het; sy laat daarop
volg:

—Dus is jy onwillig om met hom mee te gaan?

Alida begryp die verontwaardiging en antwoord met vuur:

—O, Seker;—Ek sal hom oral volg, want ek het hom lief. Maar ek sou wel,
maar....

Sy bly ’n oomblik stil, weifelend, en, met grote sagtheid in haar
droefgeestige stem, fluister sy:

—Ma sal nie wil nie.

—Jou ma het jou lief, en wil jou, voor alles, gelukkig sien.

—Ongetwyfeld, maar sy wil hê dat ek naby haar gelukkig moet wees, sodat
sy daar ook deel aan het. Is dit nie natuurlik nie?

Paula dink aan haar eie ma, wat al so baiemaal afskeid moes neem, en tog
nooit haar kinders van hul lewensweg teruggehou het nie. Sy bly stil, en
haar donker oë het hul glans verloor.

Alida neem haar hand; sy laat dit weer los en begin te ween:

—Paula, ek is tog so bang. Maar ek het jou tog so lief.

Die woord van liefde aan Paula is eintlik vir Marcel bestemd. Soos ’n
ouer suster paai Paula die verdriet van ’n vreesagtige jongere.

—Daar kom iemand aan, pas op! sê sy meteens, want sy hoor iets in die
droë blare roer.

—Sal hulle kan sien dat ek gehuil het?

—Nee, nie goed nie, moenie jou oë vrywe nie.

En met sagter stem sê sy nog daarby:

—Hou goeie moed en vertroue, beloof jy my dit?

—Ja, ja!

—Arme klein sus....

Alida glimlag tevrede op die liefderyke woorde.

Om ’n draai van die voetpaadjie verskyn Isabella Orlandi en Jan Berlier.

Sy praat opgewonde:

—Kyk, sê sy toe sy by die twee meisies kom, en sy wys haar linkerhand,
waarop ’n robyn en ’n smarag naas mekaar skitter.

—Twee verlowingsringe!

—Twee? sê Alida, laggend.

—Ja, meneer Landeau is windmakerig en grootmoedig. As ek julle nou
net nog my juwele kon laat sien! Dis ’n hele kissie vol. Ek moes iets
uitsoek, maar alles was so mooi, dat ek nie wis wat om te kies nie, toe
sê hy eenvoudig, met ’n swierige handbeweging: „Vat maar alles.” Om ma te
plesier het ek alles maar gehou. Kyk, hier, wat ’n mooi handbrilletjie:
die handvatsel daarvan is heeltemal bedek met edelstene.

—Maar jou oë is tog goed, sê Jan.

—O, dis niks, so ’n brilletjie lyk deftig en vernaam! sê Isabella, en sy
maak ’n buiginkie vir hom.

Terwyl sy laggend die komedietjie uitvoer, kyk Paula na die dooie blare
wat aan die voet van die groot bome lê.

Mevrou Delourens kom nou ook nader, met kaptein Kibert en meneer Landeau.

Sy is ongerus dat haar dogter so lank uitbly en het aan haar gaste
voorgestel om met haar te gaan wandel in die eikebos. Sy is weer gerus,
nou sy by Alida is, maar sy merk wel dat Alida se gesig rooi is en dat sy
’n bietjie bewoë is.

—Ja, dis tyd dat ons held nou moet trek, dink mevrou Delourens.

Agter haar rug hou Marcel ook sy oog op Alida gerig. Hy sien haar aan met
die verlange van ’n liefde wat nog in twyfel is. Maar gou slaan hy sy
oë weer neer, en hy voel op die oomblik die salige tevredenheid van ’n
liefde wat nie meer twyfel nie.

Mevrou Orlandi en ou-jongjuffrou Sonjon kom nou ook by die klompie. Hulle
bring Paula en Marcel weg tot by die hek; daar neem die twee afskeid.

Vlak voor die ope hek, aan die ander kant van die straat speel ’n klompie
kinders in die son, voor ’n armoedige huisie; hulle hare is deurmekaar,
hulle gesiggies gloei van gesondheid, en hul loop op blote voetjies.
Hulle juig van plesier en maak pret en rusie met mekaar. Hulle ma stap
uit op die drumpel van die deur. Sy is ’n boervrou met ’n sagaardige, dog
reeds verouderde, gesig.

—Hulle is arm, sê mevrou Delourens, en altyd kom daar maar meer
kindertjies. Daar is nou al sewe, en....

—Sewe kinders! hoe afskuwelik! sê juffrou Sonjon, en met afkeer draai sy
om.

—Dis die Heer versoek, voeg mevrou Delourens daarby.

En mevrou Orlandi sê breierig:

—Op ’n skildery sou hul mooi lyk, maar in die werklikheid is hul net
lastig en smerig.

Die boervrou het hul gehoor, en sy sê binnensmonds:

—Jul wil ook hê, maar kan nie kry nie!

En sy tel die jongste kindjie van die grond op en druk dit liefderyk teen
haar bors.

Isabella lag hardop en sê aan haar aanstaande, terwyl sy hom onbeskaamd
in die oë kyk:

—Nee, kyk hier, kinders wil ek nie hê nie!

Meneer Landeau trek sy mond tot ’n gemaakte glimlaggie. Die geselskap
is verleë om so ’n onbewimpelde en onwelvoeglike uitlating, wat net vir
mevrou Orlandi snaaks is, want sy sê:

—Nee, maar dié Isabella!

Alida gee Paula ’n kus tot afskeid. En as sy so vooroor buie, bewonder
Marcel die slapperige skoonheid van haar liggaamsvorm, wat haar ’n
besondere bevalligheid verleen. Naas sy liefde ontwaak die begeerte om
haar te steun en te beskerm. Hy sou sy krag wil afstaan aan hierdie
trektouerige kind: haar swakheid vervul hom met byna godsdienstige
ontroering.

Paula is nou alleen met haar broer op die terugtog na huis. Sy liefkoos
die kindertjies van die arm boervrou; hulle het hul speletjies laat
staan, en staan op ’n klompie bymekaar voor die mense wat hul so bekyk,
en hul het gevoel dat die oë nie met vriendskap op hulle gerig was nie.

—Arme kleingoed! sê Paula, en verontwaardiging blink nog in haar swart
oë. Ons tyd kan julle nie meer verdra nie.

Die boervrou vind dit lief van Paula en sê glimlaggend:

—Wat ’n klompie, nie waar nie?—en hul groei soos kole.

—God is goed en die wêreld is groot, sê Marcel, en hy dink daaraan hoe ’n
plesier sy pa altyd gehad het as hy mooi kindertjies mag sien.

—Ja, meneer Kibert. My moeder het twaalf gehad; ek het drie broers in
Parys en vier in Amerika. Hulle is vèr, dis waar, maar hulle vind hul
bestaan.

Die kindertjies begin met Paula te lag. Sy wys na die span vetsakkies en
sê:

—Die klompie sal jou nog eendag help.

—Ja, maar nou eet hul ons net die ore van die kop. My man moet aldag
sweet om die mondjies vol te hou, en ons ou geldjies kan ons in een hand
toemaak.

—Het julle nie voorraad nie?

—Ja, omtrent genoeg om ’n konyntjie te kan hou!

—Hou maar goeie moed, sê Paula, goeiendag!

En in die rooi handjie van die jongste druk sy ’n silwergeldstuk wat sy
gebêre het om vir haarself ’n paar handskoene te koop.

In die bos bly Paula staan en sê aan haar broer, glimlaggend:

—Jy vra my nie na nuus nie, het jy dan self met haar gepraat?

—Nee, maar ek verstaan. Sy het ja gesê, nie waar nie?

—Ja, sy het vanmôre geweier om met meneer Marthenay te trou; dis ’n
geheim. Sy het jou lief. Sy is fyn. In julle lewe sal jy moet moed hê vir
twee.

Hy gaan nie in op die laaste woorde van haar nie. En selfs broer en
suster praat nie verder alleen met mekaar oor die saak nie. Albei het
eerbied vir mekaar se innerlike gevoel van kiesheid. As hul die hek
ingaan teen die aand, sê hy aan Paula:

—Jy moet dit aan ma bekendmaak, hoor: jy is my beskermengel.

—Ja, sê Paula, ek sal haar dadelik vertel.

Later in die aand, as Paula haar alles vertel het, bly mevrou Kibert ’n
lang tyd spraakloos; eindelik sê sy saggies:

—Sal dit ’n geluk wees vir ons?

—Sy is so sag en lief, antwoord Paula.

En die ou vrou sê weer:

—Dat sy hom tog gelukkig mag maak! Ek sou begeer dat sy minder geld en
meer moed gehad het. Maar nou hy haar liefhet, sal ons haar ook liefhê.
Laat ons bid vir hulle.

Sy dink daar nie aan dat die aanvraag van haar seun miskien afgeslaan sou
kan word nie.




VI.

MENEER EN MEVROU DELOURENS.


Elke môre sê Alida Delourens aan haarself dat sy vandag met haar ouers
sal praat oor die huwelik, waaraan sy maar net hoef te dink om oorstelp
te wees van blydskap; en elke aand moet sy ondervind dat sy nog niks
daaroor gepraat het nie, en dan stel sy dit maar uit tot die volgende
dag. Maar haar tyd word nou baie kort, want Paula het haar gesê dat haar
ma op ’n bepaalde dag sou kom om te praat.

Die aand voordat mevrou Kibert sou kom, het Alida nog nie so ver gekom om
met haar ouers te praat nie. Bekommerd, val sy eers laat aan slaap, en sy
staan vroeg op om kastig tyd te win. Die ure gaan een na die ander verby,
en daar is vrees in haar liefdevolle hart.

Nou lê sy haar ma voor en dan weer haar pa, om hul afsonderlik te spreke
te kry; maar, soos dit altyd met bangerige mense gaan, vind sy die
geleentheid nooit gunstig genoeg nie.

Haar ma is nou alleen in haar kamer. Haastig stap sy daarheen, maar
onhoorbaar saggies sluip sy weer ewe gou terug, want, kyk, haar ma sit
nou net te skrywe: dis maar beter om netnou weer terug te kom.

Met ’n kleurtjie op haar wange, gaan sy weer haar pa soek. Hy loop in die
tuin rond—maar kyk, nou staan hy weer net met die tuinman te praat.

So vind sy wel honderd kreupele verontskuldiginge om haar boodskap uit te
stel. Maar nou is sy eindelik vasbeslote om na die ete te praat. Dan voel
’n mens die lekkerste, sê sy—om haar nou maar weer van blaam te suiwer.

Ongelukkig val al haar mooi planne in die water, want op slag van
twaalfuur kom mevrou Orlandi as selfgenooide gas aangestap, met haar
mopshondjie Pistache op haar arm—sy is nooit sonder hom nie—en begin te
babbel op haar familiare Italiaanse manier:

—Ek kom tog nie ongeleë nie? Dis vir my alte naar om alleen te eet tuis.
Isabella is met haar kamerbediende na die stad om haar uitrusting te
koop. Ja, die trouery maak alles deurmekaar. My kop is al heeltemal op
hol.

Mevrou Delourens is vol van haar, maar sy sê darem:

—Wat ’n goeie gedagte van u om te kom.

En meneer Delourens verklaar op ernstige toon:

—Voorbereidsele tot ’n huwelik is inderdaad strydig met huislike rus.

Almal gaan nou na die eetkamer. Mevrou Orlandi wys op haar hondjie en vra:

—U laat tog toe dat my liefste saam met ons aan tafel gaan?

—O seker. Ons sal nooit so wreed wees om hom van u te skei nie.

Mevrou Orlandi sit Pistache op ’n stoel naas haar. Sy begin dadelik oor
hom te praat.

—My liefste het gister tog so ’n groot verdriet gehad. Ons was op
besoek by die oom van Jan Berlier—my dogter haar „flirt.” Hy woon naby
Chamberie, in ’n huisie wat byna begrawe is onder die rose. Die ou het
goeie smaak maar min beleefdheid. Hy woon maar daar in sy tuintjie
alleen, en vergeet die mense en ook sy goeie maniere. Pistache het hom
vergryp aan ’n jong roosboompie; toe het die ou kêrel so kwaad geword,
dat hy hom buite die hek gesmyt het. My eer het gevorder dat ek toe
ook moes uitstap, en ek het dit subiet gedoen; my dogter het ek daar
agtergelaat. Jan het haar in die aand huis-toe gebring, en het toe
allerhande verontskuldiginge vir sy oom gemaak.

—En meneer Landeau is weg? sê mevrou Delourens, ’n bietjie geskok oor die
manier waarop mevrou Orlandi haar moederlike pligte waarneem.

Met die grootste gelykmoedigheid gaan mevrou voort:

—Meneer Landeau is weg. Hy maak nou pragtige profyte. My dogter sal hom
eers sien as die huweliksdag haas daar is. Hy lyk op die oog nie alte
mooi nie, en Isabella het kunssmaak. Maar sy sal daar wel gewend aan
raak. ’n Mens word aan alles gewend, behalwe aan lelikheid as ’n mens
eers mooi was.

Sy slaak ’n diepe sug om haar verlore jeug, en buig haar gesig oor haar
bord—die gesig is violet-kleurig, onder ’n dik laag poeier; dis al lank
dat sy haarself nie meer durf aankyk in die spieël nie.

Die bediende bied haar ’n bordjie vrugte aan; sy kyk dit verbaas aan, en
sê aan mevrou Delourens:

—Wat, is daar dan geen dessert nie?

—Nee, sê mevrou Delourens, verwonderd oor so ’n vraag.

—Dis nou vervelend.

Mevrou Delourens verbaas haar oor die aandrang om dessert, en maak
ekskuus:

—Ja, liewe mevrou, u het ons nie laat weet dat u sou kom nie. Ons het nie
verwag die eer te hê u vandag te ontvang nie.

—O, ja, sê mevrou Orlandi, sonder die minste verleentheid, ek is redelik
wat dit betref en ek begryp u heeltemal. Maar Pistache sal dit nie
verstaan nie. Hy is gewend om elke dag sy drie soorte kos te kry en sy
dessert. Hy sal nou dink dat ek hom vandag straf, en hy het dit nie
verdien nie.

Ongeduldig laat mevrou Delourens gou ’n wit van ’n eier opklop met
suiker, en dit word aan die verafgode diertjie gegee. Almal staan op van
tafel, maar die lekkerbekkige hondjie bly in die eetkamer agter, dinkende
dat daar nog wat te snoep sal wees—alhoewel sy meesteres hom smekend
aanroep.

Die bediende sien hom, en nou die deur goed en wel toegemaak is agter
dié wat aan tafel gesit het, gee hy Pistache ’n skop, dat hy tot aan die
ander end van die kamer rol. Pistache tjank en brom. Maar verbaas is hy
nie: die lewe lewer vir hom aldag sulke uiterstes op, en wysgerig neem hy
die afwisseling op van liefkosinge en skoppe, van voorkamer en kombuis.

Net na die ete groet meneer Delourens die dames, met ’n aansien van
besigheid en vernaamheid wat ’n bietjie komiek lyk op sy „rustige” gesig,
en hy gaan na sy kantoor, waar een van sy grondhuurders vir hom wag.
Dis ’n kwessie van agterstallige rekeninge. Die boer vra natuurlik om
korting: werkvolk is maar duur, geld is skaars, en die oes was maar baie
skraal.

—Wat, skraal! sê meneer Delourens met die skynbare hardvogtigheid wat
hy aanneem teenoor sy onderhorige en teenoor dié wat vir hom goed moet
lewer—’n poppehardvogtigheid wat hom te meer laat sien hoe swak en
niksbeduidend hy is teenoor sy vrou.

—Wat, skraal! Waar is die oes van verlede jaar? Wat het jy daarmee
aangevang? Het jy dit dan nie verkoop nie?

—Ag, meneer, u weet nie hoe laag die pryse van die wyn nou is nie. Ons
het dit liewers maar self opgedrink.

Meneer Delourens se geldelike belange laat hom ’n oomblik die belang van
sy „rustigheid” uit die oog verloor en hy wil net kwaad word, maar daar
val sy oog op ’n boek op die tafel—dit lê tussen ’n storieboek en ’n boek
oor wapenskilde—en die opskrif daarvan is: _Hoe om vrede te bewaar met
mense._ Om die opskrif alleen het hy dit gekoop, en hy lees ook nie meer
as die opskrif nie, wat so strelend is vir sy aangebore rustigheid. Hy
koel weer af en stuur die boer weg onder ’n hoop mooi woorde, maar sonder
enige afslag te maak.

Terwyl die boer uitstap en hom bekla omdat hy niks gewin het deur die
onderhoud nie, kom Alida in die kantoor van haar pa. Sy bring ’n koppie
koffie, na sy smaak klaargemaak, en sy reken op die invloed van die
geurende drank, wat deur meneer Delourens in ontvangs geneem word met ’n
suikersoet glimlaggie. Terwyl haar pa met klein slukkies die dampende
koffie geniet, gaan sy sit en staan weer op en kan nie op een plek bly
staan nie. Verleë en bangerig bring sy die eenvoudige woorde uit:

—Pa, iemand sal u netnou ’n besoek kom bring.

—Dis goed, my kind. Jou ma is in die voorkamer. En wie sal dit wees?

—Mevrou Kibert, is die antwoord, op gedempte stem, wat voldoende sou
gewees het om die meisie se geheim te verraai aan haar pa as hy nie al
lank afstand gedaan het van sy voorregte as huisvader, en afgeleer het om
sy eie kinders te verstaan nie.

—Mevrou Kibert? Maar vandat sy weduwee is, het sy niemand meer besoek
nie. Dis ’n eer wat ons op prys stel.

En hy trek sy ou postuurtjie orent om aan sy waardering grote vernaamheid
by te sit, en hy voeg daar nog by:

—Sy weet maar min af van geselskapsmaniere, maar sy is darem ’n goeie
vrou, en haar seuns het nogal vooruitgekom.

Alida vind die loftuiting onvoldoende en sê saggies:

—Haar man het my lewe gered, pa: weet u nog van die koorssiekte wat ek
gehad het?

—Ja, ja, sê hy haastig.

Hy onthou ook dat die doktersrekening nooit betaal is nie, en hy het maar
min lus om op die sakie in te gaan. Sou mevrou Kibert op betaling van die
ou skuld wil aandring? Nee, so veel sal sy wel nie waag nie; en veral
nou, dat haar seun en dogter so vriendskaplik op Chenée ontvang word, sal
sy wel ontsien om sulke goeie maatskaplike verhoudinge te bederwe deur
geldpraatjies.

—Het sy gesê sy sal kom? vra hy.

—Ja, pa.

En saggies sê sy daarby:

—Mevrou Kibert kom om my ontwil.

Meneer Delourens kuier op en neer in die kamer; dis goed vir sy
spysvertering—as biblioteek word die kamer maar min benut, maar wel
bepaald as die plek vir dié klein gesondheidsbeweginkie; maar nou bly hy
meteens staan, want dis hom nou eindelik duidelik geword dat daar iets
buitengewoons in sy huis gaande is.

—Om jou ontwil? sê hy besorg.

Met die plotselinge oorhaasting van weifelende mense verbrand Alida haar
skepe:

—Wil u my nie graag gelukkig sien nie, pa?

—Seker, seker! bepaald wil ons dit.

En reeds sien hy allerhande moeilikhede tegemoet wat sy rustige bestaan
kan versteur, ja, selfs sy spysvertering van vandag. En tog, hy het die
mooie Alida lief, haar sagtheid stem ooreen met sy eie karakter; en met
plesier sou sy swakheid haar aanbid en bederwe het as hy nie in toom
gehou word deur vrees vir sy vrou nie, wie se gebare en gesagvertoning
hy na-aap as sy afwesig is. Verdeeld tussen so baie verskillende
aandoeninge, so ingewikkeld, dat hy bang begin word en sy lamgoedige
gelaat ’n harde trek aanneem, vra hy om ’n uitleg:

—Jy praat van mevrou Kibert, en dan van jou geluk—ek verstaan nie.

Alida aarsel nou nie meer nie:

—Sy kom om my hand te vra vir haar seun.

—Vir die kaptein?

—Ja.

Op swakker toon laat sy daarop volg—en in die bangerige versoek wat haar
woorde uitdruk, lê die hele krag van haar liefde:

—Pa, ek smeek u, gee u toestemming aan haar, en haal ma ook oor.

Het sy die laaste woorde nie uitgespreek nie, dan sou haar pa hom laat
ompraat het. Hy onthou gesproke woorde net na mekaar, soos hul kom, en
die laaste woorde onthou hy altyd die beste.

—Ma omhaal! Altyd maar ma! sê hy hardvogtig, en begin weer op en neer te
kuier.

Hy verseker hom eers dat die deur goed toe is en hou sy oor daarby om te
luister; en gerusgesteld daaromtrent, vaar hy parmantig uit:

—Jou ma! Weet jy nie, my kind, dat my toestemming van baie meer belang is
nie? Die wet sê dit—en die wet is regverdig. Daar moet maar een baas in
die huis wees—en as dié baas is die huisvader aangewese!

Hy kyk gou in die spieël om te sien hoe hy lyk as hy oppermagtig is.
Dit lyk of hy heeltemal die ernstige onderwerp van hul gesprek uit sy
hoof verloor het, en die bewende meisie is bang om dit weer aan te roer.
Moet sy nou nog bowendien die naam Marcel Kibert uitspreek? Maar meneer
Delourens kom weer tot die werklikheid terug en bespaar haar ten minste
so ’n hernude daad van moed; hy herhaal woord vir woord wat sy vrou
eendag gesê het:

—Die jonkman is ’n held. Dié heldhaftigheid maak hom ons syne.

En sy vrou wou daarmee sê dat Marcel Kibert gerus ontvang kon word in so
’n vername kring as dié van Chenée.

Meneer Delourens bedink betyds dat hy nie sy woord moet verpand
nie—daarom haas hy hom om teenbedenkinge te opper:

—Maar ek glo dat jy ’n rustige bestaan begeer, my kind. Dan moet jy nie
’n man hê wat die wêreld wil gaan oorwin nie. Jy is kalm en vreedsaam van
aard. Sal die kaptein in Chamberie kom woon?

—Pa, sê Alida, dinkend aan die manhaftige woorde van Paula, ’n vrou
behoort by haar man te staan en hom nie te hinder in sy roeping nie.

—Sy roeping? Nou wel, dié kan hy ook hier by ons volg. Die
soldate-garnisoen van Chamberie is ’n uitgesogte. Hy word hiernatoe
verplaas—dis eenvoudig genoeg. Of wel, hy neem sy ontslag. Maar hy besit
niks.

Alida sê niks. Haar pa merk dat sy stille trane stort. Dit roer hom, en
hy hervind sy ware aard, wat deur sy ploertigheid en afhanklikheid so
lank vervals was. Hy stryk saggies met sy hand oor haar wang:

—Moenie huil nie, my kind, ek wil jou gelukkig sien.

Maar ag, die halfslagtige wilsuiting vlug meteens soos ’n voël voor die
jagter, want die deur gaan oop en mevrou Delourens—eindelik ontslae
van mevrou Orlandi en ongerus oor Alida, omdat sy nie teruggekom
het nie—kom die studeerkamer binne. Nou kan meneer Delourens die
baasagtige houdinkie—waarmee hy hom getooi het voor sy dogter—maar
nie weer vind nie, en die ontroering wat hy gevoel het vir haar, het
heeltemal vervlieg. As vanself neem hy die deemoedige houding aan van
’n ondergeskikte voor die bestuurder van ’n besigheid. Beroof van alle
huisvaderlike moed, en besluiteloos, behalwe tot vermyding van ’n
famielierusie, maak hy dat hy die kamer uitkom, met die soetsappige
woorde:

—Ek laat ons dogter aan jou oor, vrou: sy wil trou, en sal daar met jou
oor praat.

En aan Alida sê hy:

—Daar is jou ma nou. Bespreek maar alles met haar. Wat sy doen, is wel
gedaan.

En weg is hy, voor alles daarop bedag om met die hele wêreld vrede te
bewaar.

Mevrou Delourens het haar man geen antwoord gegee nie; vir die eerste
maal is sy afgunstig op hom: het hy nie vertrouelike mededelinge
van Alida ontvang nie? Sy het haar dogter lief met ’n uitsluitende
en allesbegerende liefde, en deur die oorheersing van dié oordrewe
moederliefde het sy langsamerhand, sonder dit self te weet, die gevoelige
en van nature reeds trae gees van haar dogter heeltemal tot soete
onderdanigheid gebring. Soos ’n besitter van eiendom, verheug sy haar
in die skoonheid van haar dogter, van haar hele jong lewe; sy koester
haar nog soos ’n swak pasgebore kindjie. Hoe sal ’n hart, vol frisheid
en teerheid, so ’n onafgebroke toewyding nie waardeer nie, nie aangedaan
word daardeur nie? Alida dwing haar om, deur gehoorsaamheid, die alles
oormeesterende moeder te behaag, sy voel die moederoog altyd op haar
gerig; dog die liefderyke bewaking verlam haar kragte.

Nou die deur toe is agter haar man, trek mevrou Delourens party van
haar pynlike triomf; sy is reeds op haar hoede teen ’n gevaar wat sy
vooruit voel, slaan albei haar arms om haar dogter, en gaan naas haar op
dieselfde stoel sit. Sy soen haar en sê in haar oor:

—Dis my gravin Marthenay hierdie!

Maar Alida praat niks, en haar trane vloei maar altyddeur.

—Jy wil sy vrou word, nie waar nie? En dit het jy aan jou pa vertel, in
vertroue. Niks kan my meer aangenaam wees nie. Ons sal nooit hoef te skei
nie—Marthenay het my dit belowe.

Sy wil alle twyfel uitvee omtrent die waarmaking van haar plan, en sê
weer:

—Hy sal hier rangverhoging kry, en so nie, wel dan neem hy eenvoudig sy
ontslag! Jy het genoeg, dat julle niks hoef te doen nie; buitendien, die
geselskapslewe gee werk genoeg.

Die aanhoudende trane en spraakloosheid van Alida laat haar eindelik
verstaan dat haar vrees gegrond is:

Het ek my dan bedrieg, my kind? Weier jy om sy vrou te word? Kan hy jou
nie behaag nie?

Ja, so is dit; Alida bevestig dit met ’n hoofbeweging, en nou weet
mevrou Delourens met sekerheid dat die hart van haar dogter aan Marcel
Kibert weggegee is. Sy besit selfbedwang genoeg om haar spyt te verberg;
en dadelik is sy bedag op planne om ’n gebeurtenis te verydel wat sy,
sonder aarseling of nadink, as ’n ramp beskou; so word sy beheers deur
haar gevestigde opienie en toomlose vooroordeel en veral deur haar
moederhartstog: selfsugtig en nie in staat om ’n offer te bring nie. In
Alida haar oor fluister sy:

—Jy wil seker nog nie trou nie. Wou jy nog ’n bietjie by my bly? Ek wil
jou tog te graag gelukkig weet—daarom sal ek toestem om jou nie langer
by my te sien nie—al sal die afskeiding swaar wees, as ek maar net weet
dat jy gelukkig is en ek my elke dag met eie oë daarvan kan oortuig. Maar
jy antwoord nie; is dit dan iets anders?... Het jy jou miskien aan iets
oorgegee sonder my toestemming, en wil jy my daarin teëgaan?

Die verwyt maak Alida nog meer bedroef. Op vleiende toon sê haar moeder
verder:

—Is ek nie jou beste vriendin en vertroueling nie? Het jy geheime vir
my? My liefste, dit het ek nie verdien nie. As jy meneer Marthenay nie
liefhet nie, maar iemand anders, dan moet jy my dit vertel: dan kan ons
saam planne maak.

Nuwe hoop word wakker in die meisie haar boesem; eindelik sê sy met ’n
suggie:

—Ja ma.

—En wie dan? vra haar ma, terwyl sy haar soen: Wie het die hart van my
liefste gesteel? Ek sal my oor by jou mond hou: noem my sy naam.

Sy weet goed wat die naam is, maar wil dit nogtans hoor uit die bewende
lippe.

Alida kan aan sagtheid nie teenstand bied nie. Sy droog haar oë af en
skokkend nog oor haar hele liggaam na die tranebui, sê sy:

—Mevrou Kibert kom netnou.... Sy sal oor my praat ... en oor haar seun....

—Die kaptein?

—Ja.

—My liefste, wat ’n smart doen jy my aan!

Sy laat Alida alleen, gaan op ’n ander stoel sit en berg haar gesig in
haar hande, as wanhopend.

Alida kom om haar te troos:

—Waarom die smart, ma?

Mevrou Delourens lig haar hoof op en antwoord met die grootste droefheid
in haar stem:

—Omdat ek sien dat jy my wil verlaat. Meneer Kibert sal jou vér weg neem
van ons af, miskien wel na Algiers. Wie weet of hy jou nie sal vra om mee
te gaan met ’n kommando nie. Dié wat so hongerig is na roem en gevaar,
kan nie lank liefhê nie. Jy wat so sagaardig en vreesagtig is, hoe kan jy
hom liefkry?

Sy staan voor haar ma, met neergeslae oë, en sy sê saggies:

—O, ma, ek weet tog nie, miskien omdat ek swak is ... en hy sterk.

Met haar ken op haar hand geleun, kyk mevrou Delourens haar dogter nie
aan as sy haar eie uitleg gee nie:

—Ek weet hoe hy daartoe gekom het om met jou te wil trou. Die Kiberts
is drie-kwart bankrot vandat die dokter die skuld goedgemaak het van
sy broer, die bankier. Daar word wel vertel dat daar geen bankrot was
nie, dat alles afbetaal is. Maar ’n mens weet nooit. Die selfmoord,
die ruinasie—dit lyk maar alles baie lelik.... En dan die oorlog in
Madagaskar! Ja! ek weet die kaptein het hom fluks gedra. Ek het hom dit
ook gesê. Daarvoor kon hy my wel dankbaar wees. Maar in plaas daarvan
wil hy my my dogter ontneem. Al ons soldate kry koors in Madagaskar,
elke een, en ek wil nie hê dat jy ’n siek man moet kry nie. Dis my plig
om daarteen te waak. O, ek wil jou net gelukkig sien. Jongmeisies soos
jy ken die lewe nog nie. Julle vurige harte ontbrand te gou vir moed,
heldhaftigheid, naammaak, en dan dink julle dat die bewondering liefde
is. Maar dis nie dieselfde nie, my kind. Te laat sal jy dit uitvind. Mag
jy daar tog voor behoed word!

So verniel en vernietig sy, met kort beslissende woorde, die geluk van
Alida, terwyl sy juis dink dat sy dit bevorder. Verder en verder is die
meisie teruggewyk tot in die breë vensteropening, wat haar half verberg;
sy begin weer te huil, in stilte, en wring wanhopend haar hande.

Mevrou Delourens staan van die stoel op en tree nou aanvallend op:

—Ek het so gedink dat jy sin sou kry aan meneer Marthenay. Het hy nie
alles wat begeerlik is nie? ’n Mooi man, ’n mooi uiterlik, geld. Hy is
offisier en lyk pragtig op ’n perd. Hy dans volmaak. Ek het hom onder
almal uitgesoek. En dan sal jy ook naby ons bly. Dan sal ons ook deel in
jou geluk. Wil jy ons dan die deel ontneem?

—Maar, ma! sê Alida.

—Kinders is tog ondankbaar. Jy, wat ek as swakkerige kindjie so opgepas
het, en weer toe jy die koorssiekte gehad het—jy wil my nou gaan verlaat.

En as versagting van die selfsugtige klag laat sy dadelik volg:

—Ag, as ek maar seker was dat jy gelukkig sou wees! Maar as ek nie by is
om te waak oor jou gesondheid nie, aldag bang om te hoor dat jy siek is
daar vér, altyd vresende vir jou vrede en gemak, waarvan ek my nie met
eie oë sal kan oortuig nie, selfs nie teenwoordig te wees as daar miskien
kindertjies gebore word nie—dit sal dan voortaan my treurige bestaan moet
wees....

Alida is bewoë deur die uitstorting van moederlike toewyding en liefde,
sy steek haar arms na haar moeder uit:

—Ma, ma, ek sal u nooit verlaat nie!

Mevrou Delourens werp haar in die arms van haar dogter, wenend omhels hul
mekaar.

—En ek sal nooit trou nie: ek wil by ma bly.

Die halwe oorwinning het so gou gekom, dat mevrou Delourens dit as
voldoende beskou, en nie meer van haar planne praat nie nog die naam noem
van Marthenay.

—Ek het my liewe klein Alida weer gevind, sê sy, en druk haar kind aan
haar hart. Ek het jou tog so lief. Jy weet nie hoe baie lief ek jou het
nie. Ek dink dat ek jou te veel liefhet. O, ek wil jou tog so graag
gelukkig sien!

So vanself kom die woorde oor haar lippe op dieselfde oomblik dat sy die
hart van haar dogter breek.

Op die skouer van haar ma geleun, sien Alida nou deur die raam ’n vrou
in rouklere aankom; sy loop in die laning plataanbome na die huis toe.
Langsaam, gebuie, kom mevrou Kibert, vol vertroue, haar vra vir Marcel.
As Alida haar so sien aankom, maak sy haar bewend los uit die omarming
van haar moeder.

—Sy is nie gewaarsku nie, dink Alida. Dis nou te laat. O, die arme vrou!

Mevrou Delourens verbaas haar oor die nuwe ontroering van haar dogter en
dink:

—Wat makeer haar nou nog? Sou sy ’n twede maal van gedagte wil verander?

Alida gaan weg van die venster: dis vir haar te pynlik om die ou vrou te
sien, sy kan dit nie uithou nie.

—Hoe swaar sal sy tog moet ly! Ek wil nie! Ek wil nie! sê sy by haarself
terwyl sy van die een stoel na die ander loop.

Haar gevoel van medelye is selfs groter as haar groot, verminkte liefde.
Om die onvermydelike verdriet van die ou vrou so veel moontlik te
vertraag—van die ou vrou wat alreeds krom loop onder die sware slag van
die noodlot—sê sy niks van mevrou Kibert se aankoms aan haar ma nie—haar
ma, wat die wrede weiering sal uitspreek. Sy hou haar ma daar in die
kamer deur allerhande praatjies te maak. Haar pa sou ongetwyfeld die
saak op die lange baan skuiwe, geen besliste antwoord gee nie. Soos dit
met swakkelinge gaan, wat hulle tevredestel met die geringste uitkomste,
probeer sy niks verder as om mevrou Kibert ’n alte skielike verdriet te
bespaar, en sy erken vir haarself nie dat sy haar reeds buite staat voel
om die smart self van die ou vrou af te keer nie—die smart waaroor sy die
eerste gehuil het en waaroor sy altyd sal huil.

Na enige oomblikke van angstig wag, word aan mevrou Delourens berig
gebring dat mevrou Kibert in die voorkamer is.

—Ek kom, sê sy. Sy soen haar dogter, wat sy ten offer gebring het, en
stap die gang in. Skaars het sy die deur toegemaak of Alida, met haar
hand op haar hart, loop haar agterna na die deur; maar haar hand bewe, en
sy kom nie so vér dat sy die deur oop maak nie.

—Ma! roep sy, deur die geslote deur. Ek het hom lief! ek het hom lief! Sê
ja, ek bid u!

Ten laaste maak sy die deur oop, maar die gang is leeg. Mevrou Delourens
is al weg. Sy het wel heel duidelik die laaste, hartverskeurende beroep
gehoor. Haar gewoonte om haar dogter as ’n kind te behandel wat sy moet
regwys, het haar verhinder om daar enige gewig aan te heg. Bedaard,
sonder iets wat haar stuit, oortuig dat sy handel soos ’n liefhebbende
en vooruitsiende moeder, gaan sy mevrou Kibert ontmoet; en by die tyd
dat sy die deur van die voorkamer oopmaak, het sy al in haar gedagte die
uitgesogte en beleefde woorde van haar weiering agtermekaargesit.

Sodra Alida vind dat sy daar alleen is in die kamer, voel sy haar
heeltemal terneergeslae. Sy bly onbeweeglik staan, hygend, skuddend van
bewerasie, klaar om flou te val. Meteens druk sy haar hande teen haar
hoof, loop haastig die trappe af, en vlug die huis uit in die tuin in.
Sy hardloop om haar verdriet te gaan verberg onder die skaduwee van die
eikebome, op dieselfde plek waar sy uit Paula haar mond gehoor het dat
Marcel haar liefhet. Sy gaan sit op die dooie blare, sy wil selfs gaan lê
op die sagte blare en daar só bly, sonder beweging, soos ’n roerlose en
verlate ding.

Dis in die hoekie, vol misterie, waar haar jong hart sy eie jeug leer ken
het, waar haar oog vir die eerste keer die skoonheid en lieflikheid van
die natuur leer sien het, waar haar siel meteens die saligheid van die
lewe begryp het. Reeds beskou sy die plekkie as die enigste heiligdom van
haar teer bestaan, vandag afgesluit, en moedeloos dink sy aan die dood.

Sy het nooit geweet hoelank sy daar in die bos gebly het dié dag nie. Al
haar trane het sy daar uitgeween. Sy het aan haarself gesê dat sy haar
verloofde in gedagte trou sou bly, en aan niemand sou behoor nie, terwyl
sy nie syne kon wees nie. Maar sy het nie begryp dat die belofte, aan
haarself, ’n versaking inhou nie: so oordeel sy haarself dan ongeskik vir
die lewendige liefde wat stryd voer en oorwin.




VII.

DIE HUWELIKSAANVRAAG.


Langsaam en sukkelend kom mevrou Kibert aangestap in die laning van
plataanbome. Vir dié plegtige geleentheid het sy haar nuutste swart
rok aangetrek, en met besondere sorg het Paula haar hare en haar
weduweesluier in orde gemaak.

—So lyk ma nou net mooi, het haar seun en dogter haar verseker toe sy
voor die stoep van Maupas in die rytuig gestap het. Hoewel sy daarop teë
was, het Marcel vandag vir haar ’n mooi Victoria-rytuig bestel, in plaas
van hul ou rytuig.

Liefderyk knikkend met haar hoof na haar kinders, het sy vol vertroue
weggegaan, soos een met ’n boodskap van vrede en geluk. Maar sy dag dat
die pad baie kort was, en die vreemde perd baie vinnig. Sy wou afgeklim
het voor die hek van Chenée, sodat hulle haar ongewoon deftige rytuig nie
sou sien nie: dit laat haar verleë voel, net soos iemand wat opreg is en
’n leuen vertel.

—Sit my hier maar af, het sy aan die koetsier gesê, ek sal verder te voet
gaan.

[Illustration: Langsaam en sukkelend kom mevr. Kibert aangestap in die
laning van plataanbome.]

So stap sy dan aan in die breë laning, leunend op haar swart
sambreeltjie. Haar hart klop tog so. Ondanks haar groot lewensmoed het
sy bangerig gebly: die wêreld skrik haar af. Sy beskou die wêreld as
ydel en beuselagtig, maar is darem tog bang daarvoor. Haar ingebore
opregtheid en braafheid is oorsaak dat sy maar min verstand het van die
oordrewe modemaniere, en die alte afgelekte woorde, wat so goed berekend
is om ’n selfsugtige of kwaadwillige ondergrond van ’n mens se gedagtes
te verberg, of wel die leegheid daarvan, soos ’n mens ’n graf met blomme
toemaak. Dan, dink sy alte baie dat sy onhandig is in haar maniere, en
dit laat haar ook ongemaklik voel, nie vir haarself nie, maar vir haar
seun, want vir sy geluk wil sy haar op haar ou dag nog aantreklik maak.

Weet sy dan nie vooruit wat die toekoms van haar sending sal wees nie?
Kan iemand dan nalaat om met blydskap die aanvraag in te willig van haar
liewe Marcel, wat hom in sy hele lewensloop so waardig betoon? Al is sy
ook sy moeder, haar liefde het haar nie blind gemaak nie as sy besef
wat ’n aantreklikheid daar moet uitgaan van sy lang postuur en sy fiere
houding—soos ’n jong boom—,van die gebiedende manier waarop hy sy hoof
dra, van sy skone, welbesnede gelaatstrekke vol wilskrag, van sy oë
veral—afstotend of aanhalend na gelang sy blik hard of sag is—groen-grys
oë vol lewe en so opmerklik juis van uitdrukking. Wat sy van hom weet,
die arme ou moedertjie, dink sy dat alle vroue op sy gesig moet lees: die
deursettingsvermoë wat met waardigheid, byna met minagting, die teenhede
van die lewe dra; die daadwerklike goedaardigheid; die lewendigheid en
beslistheid in woord en gebaar—tekens van ’n woelende, vooruitstrewende
en ryke gees, van ’n gestaalde leiersgeaardheid. Nee! hy behoor tog nie
tot die geslag van popperig-mooi heertjies, laf en voos—’n geslag wat
onder éénselfde wêreldse vernis, en éénselfde mode-eenvormigheid, alle
dor, selfsugtige en bankrot siele insluit. Sy, wat sy lewenskameraad
sal word, om hom lief te hê, met hom te ly en te waag—sy sal nie weet
wat ’n dowwe en alledaagse bestaan beteken nie; hy sal haar hart en haar
gees verryk, hy sal al die bronne van haar vermoëns ontgin en haar bring
tot die volledige opbloeiing wat die skoonheid uitmaak van die menslike
bestaan.

Bowendien, weet mevrou Kibert dan nie van haar dogter dat haar besoek
aangekondig is, en dat haar aanvraag ingewillig is nie?

So kom sy dan aan by die buitehuis van die famielie Delourens—gerus, en
tog vol vrees. Sy eerbiedig Marcel se keus, hoewel dit nie ooreenkom
met haar begeerte nie; en, vergetende wat sy self sou wens, wil sy haar
onderwerp aan die wil van haar seun en al haar kragte inspan vir sy
toekoms; sy dink daaraan dat sy binne enkele oomblikke ’n kind by sal kry
in haar famielie en in haar liefde, en sy is klaar om alles vir haar te
doen.

Voordat sy aan die deurbel trek, bly sy ’n rukkie staan om asem te skep
en om die klop van haar hart te laat bedaar. Sy sien nie die venster waar
Alida staan te huil nie—Alida, wat haar sien aankom en haar ontsteld en
verslae aankyk.

In die voorkamer word sy deur meneer Delourens ontvang, en sy beskou
dit as ’n goeie voorteken. Die niksbeduidende mannetjie sal haar tog
onmoontlik van haar stuk kan bring en sal haar selfs in staat stel om
heeltemal by haarself te kom. Na ’n paar beleefdheidswoordjies, wat hy
uitstamel, sê sy, omdat sy die doel van haar koms nie langer kan verberg
nie:

—U vermoed al, meneer, waarom ek na Chenée gekom het.

En sy glimlag vriendelik—fris en lief is die glimlag, selfs nog op haar
ou dag, haar reine en byna nog arglose siel word daarin uitgedruk.

—Nee, mevrou, ek weet dit glad nie. Glo my, ons is baie vereerd met u
besoek. Dit spyt my dat my vrou nie hier is nie.

Verleë, bang om ’n lastige verantwoordelikheid op hom te neem, kan die
arme man nie op één plek bly staan nie. Hy trek hard aan die koord van
die kamerbel. Die diensmeid kom binne.

—Het jy mevrou gesê daar is mense?

—Ek soek haar, meneer: mevrou is nie in haar kamer nie. Is mevrou nie
miskien by die jongejuffrou in meneer se kantoor nie?

—Ja, ja! Hardloop en roep haar. En om tyd te win, herhaal hy nog ’n keer:

—Dis jammer, mevrou, dis baie jammer. Maar u sien, sy word geroep, die
meid gaan haar waarsku. Sy kan nie lank wegbly nie: dit spyt my tog so
dat u moet wag.

—Wat ek te sê het, meneer, gaan u net soveel aan as mevrou Delourens, sê
mevrou Kibert; sy is vol van haar boodskap, kyk na die vloer en dink daar
nie aan om te let op die manier waarop hy hom probeer te red nie.

Meneer Delourens spring verskrik van sy stoel op: Sal hy waarlik alleen
moet staan om antwoord te gee op so ’n lastige vraag? Sal hul hom só
blootstel aan die eerste aanval? Nee, maar dit kan tog nie: sy vrou moet
absoluut by die onderhoud teenwoordig wees.

—Maar sy sal kom, ek is seker daarvan, sê hy gejaag-haastig. Wag
asseblief net ’n bietjie, mevrou, my vrou sal tog alte jammer wees as
sy u nie sien nie. En met haar sal u baie beter kan praat, natuurlik,
natuurlik. Terwyl hy nog maar altyd woorde op woorde stamel, trek hy weer
aan die belkoord; hy kan dit nie meer hou nie en maak die deur oop:

—Ekskuus, mevrou, ekskuus!

Net soos hy die gang wil ingaan, lig mevrou Kibert eindelik haar oë
op van die vloer en gewaar hom in die beklaenswaardige, onrustige
houding. ’n Man wat heeltemal weggesyfer is, is nog meer te bekla as ’n
niksbeduidende man. Sy skaam haar vir sy part en dink:

—Ja waarlik, dis maar beter om te wag tot mevrou Delourens kom. Aan
hierdie sukkel sal ek tog niks van belang kan sê nie.

’n Donker voorgevoel bekruip haar goeie vertroue. Sy vergelyk in
stilte hierdie armsalige bog met haar eie oorlede man, wat onder geen
omstandighede sy kalmte, deursig en beslistheid verloor het nie, en
oombliklik alle harte tot hom getrek en gerusgestel het.

—Wat ’n verskil! dink sy meelydend, want sy kan niemand verag nie. Sy
dink nie aan haarself nie, hoe sy van haar eie seuns en dogters manne en
vroue gemaak het wat die lewe dapper tegemoet tree.

Solank meneer Delourens haar oorstelp met allerhande praatjies oor sy
gesondheid, slaan sy ’n liefdevolle blik op ’n portret van Alida, as kind:

—Sy is maar min verander, sê sy by haarself, so skoon, so sag soos ons
haar sal liefhê! Sy is fyn en swakkies, maar sy sal sterker word. Ons sal
haar versorg en liefderyk behandel. Van hierdie binne-huisblom sal ons
’n fris, vry veldblom maak. . . En dit kan wees dat sy, eerder as ek,
oorsaak sal wees dat hy meer tuis sal wees by ons. Ek is al oud, en elke
jaar word dit vir my swaarder om altyd weer afskeid te neem.

Aan haarself beken sy wel dat sy maar ’n swak vrou is.

Daar kom mevrou Delourens eindelik binne, soos ’n warrelwind. Vresende
dat haar man al alles bederwe het deur ’n onversigtige uitlating, het
sy so gou as sy kon die trappe afgekom. Die besef van haar gestrenge
oorheersing was nie genoeg om haar gerus te stel nie—sy weet skaars wat
’n despoot sy is.

Met talryke mooi woordjies maak sy ekskuus by mevrou Kibert dat sy so
lank weggebly het. Net so gou as mevrou Kibert haar sien, verloor sy
byna al haar selfvertroue. Wat kan sy vir goeds verwag van hierdie nog
mooi en behaagsieke vrou, met haar alte hoë stem, wat so neerbuigend en
ongevoelig klink, terwyl haar alte gemaakte beleefdheid nouliks haar
trots en koudhartigheid verberg. Mevrou Kibert begryp onmiddellik hoe
verskillend hul opvatting moet wees van die lewe en van ernstige sake. ’n
Afgrond skei hulle van mekaar. Sy het ’n stil gevoel dat al wat vir haar
gewigtig is, hier as van geen gewig sou wees nie, en dat toewyding, moed,
geeskrag, werk—die ware menslike adel—netnou hul krag sal moet meet met
die wêreldse oppervlakkigheid, wat sy tuis as niksbeduidend beskou het,
maar waarvan sy die onrusbarende werklikheid meteens gewaar in hierdie
voorkamer. Sy voel hoe arm en oud sy is, en sy roep die hulp van God in.

Onderwyl oorstelp mevrou Delourens haar nog maar altyd met
beleefdheidjies en komplimentjies; en uit die bangerigheid, wat sy wel
verwag het, wil sy party trek. Terwyl sy van die verdienstelikheid van
seker famielies praat, neem mevrou Kibert die kans waar om met haar
boodskap uit te kom:

—Hoe goed van u, mevrou, om so te praat. Ja, my seuns het goeie werk
gedaan. En in belang van één van hulle, van Marcel, kom ek met u praat.

Sy dink daar nie aan dat sy op dié manier te verstaan gee dat sy nie sou
gekom het as sy nie _moes_ kom nie.

Met teerheid praat sy van Alida, uit haar hart kom die woorde:

—Marcel kon haar nie sien sonder van haar te hou nie. Hy onthou nog
hoe sy hom as kind eendag gesê het: „Ek voel my so aangenaam by jou,
ek wil by jou bly.” Hy dra my op om u haar hand te vra vir hom. Hy gee
die versekering dat hy haar gelukkig sal maak. Sy geluk sal u vir altyd
verseker.

Mevrou Delourens, anders so gou klaar met haar woorde, bly nou stil, sy
wil die ou vrou op dié manier nog meer verleë maak. Dit geluk haar ook!
Dog op sagmoedige toon gaan Marcel se moeder aan:

—U weet dat ons geen fortuin besit nie. My seun het daar nie aan gedink
nie, omdat hy liefhet. My man het aan sy kinders meer eer as rykdom
nagelaat. Dog, alhoewel hy nog jonk is, het Marcel reeds ’n skitterende
verlede wat veelbelowend is vir sy toekoms.

En met waardigheid voeg sy daarby:

—Dis ook ’n fortuin.

—Ons is baie vereerd, sê meneer Delourens eindelik; daar is ’n stryd
gaande by hom tussen die vrees om die goeie mevrou Kibert pyn aan te doen
en die vrees om sy vrou te vererg.

Met één kyk na sy kant toe lê sy vrou hom stil-swye op. Waar bemoei hy
hom mee!?

—Ja, waarlik, ons is baie vereerd, sê sy ook, met ’n berekende
langsaamheid van uitdrukking. Die eer is vir ons ’n verrassing. Ons was
daar nie op verdag nie.

Mevrou Kibert is verbaas, en vra haarself af:

—Het Alida waarlik versuim om met hulle te praat? .... of word ek vergek
gehou?

—Die lof van u famielie hoef nie meer verkondig te word nie, sê mevrou
Delourens verder, bedaard. Want ons weet, mevrou, dat u man hom
geruïneer het om sy broer te red—ongelukkig kon hy nie verhinder die
selfmoord en—die likwidasie nie.

Op dié manier uitgespreek, beteken die woord _likwidasie_ dieselfde as
_bankrot_. Mevrou Kibert voel die venynigheid van hierdie steek. Sy bring
’n boodskap van vrede en liefde, en vyandigheid tree haar tegemoet: dié
onreg jaag haar bloed na haar gesig, en dit skemer voor haar oë. Sonder
verder bewys weet sy van nou af dat haar saak verlore is; tog bring sy
nog in:

—Maar daar _was_ geen likwidasie nie. Kapitaal en rente—alles is
uitbetaal. Daaromtrent bestaan nie die minste twyfel nie. Die eer van ons
famielie is heeltemal onbevlek.

Sy dink aan die moed van haar man en aan die verlore huweliksgeld van
haar arme Paula. Waar voor is al sulke opofferinge dan? Het alleen die
rykdom dan die voorreg om eerbied en ontsag af te dwing?

Haar lydensbeker is nog nie heeltemal leeg gedrink nie. Met die gemak wat
eie is aan die wêreldse lewe, gaan mevrou Delourens verder, koud, en met
’n glimlag op haar lippe:

—Die kaptein het ’n skitterende loopbaan gehad. Nog so jonk en nou al
eretekens ontvang! Ek moet u sê dat niemand sulke verdienste meer prys
nie as ek. Hoe swaar moet dit tog vir u gewees het toe hy so lank weg was
in Madagaskar! Ons het tog so baie aan u gedink! Ons het u beklaag maar
ook beny . . . . En is hy nou heeltemal herstel van die soort koorssiekte
waarvan ’n mens so langsaam genees?

Die maat is nou vol: mevrou Kibert kan nie meer antwoord nie. As sy
probeer om te praat, sal sy seker in snikke losbars. Dié allerheiligste
van haar siel word aangeraak—haar kinders. Offer maar jou fortuin op
om die famielienaam te red, gee jou seuns aan hul vaderland, stel hul
maar bloot aan die dood—daar kom die troueloosheid en leuenagtigheid en
mistrou die belangeloosheid en heldhaftigheid en verklein dit voor die
askoekklompie wat _die wêreld_ genoem word!

Maar mevrou Delourens bou op wreedaardige manier voort op haar behaalde
voordeel, met speldeprikke kwel sy haar ongelukkige ontwapende slagoffer:

—Ek kan u niks met sekerheid sê nie, mevrou, voor nog teë. Ek sal u
aanvraag getroulik aan my dogter oorbring, en u sal gou haar antwoord
weet. Dis mos die mode nou in ons dae om jongmeisies te vra hoe hul dit
graag sou wil hê. Maar ek kan wel vooruitsien dat die vooruitsig van te
moet skei van my, die liewe kind skrik sal aanjaag; sy is so gewend om
altyd by my te wees; ons was nog nooit van mekaar af nie. Ek bewonder u
krag. Een van u dogters is sendelinge, nie waar nie? Twee van u seuns
is in Asië. Die kaptein gaan na Algiers. Hoe dapper is u tog, en wat ’n
voorbeeld gee u aan die moeders wat hul kinders alte liefhet!

—Dink u dan dat ek hul minder liefhet as die ander moeders? dit sou
mevrou Kibert haar wil vra. Ja, so goed as ek kon, het ek al die
losskeuringe gedra, en ek het daar selfs stil onder gebly, om nie die
moed te ontneem aan dié wat vér van my moes weggaan om ’n groot roeping
te vervul nie, in plaas dat ek hulle wou in die pad staan en beperk deur
hulle by my te hou. Ek het my altyd gedwing om hulle aan te moedig tot
gebruik van al hul kragte, na die wil van die Heer. En, wat u nie weet
nie, mevrou, die skeiding verminder volstrek nie die liefde tussen moeder
en kind nie, maar veredel en louter dit. Dit neem hul natuurlike selfsug
weg en bedeel hulle met die onsterflike skoonheid van selfverloëning en
opoffering, waarin vreugde en toewyding één word.

Maar dit alles sê sy nie, haar lippe bly stom. Later sou sy haar weer
die minste besonderhede te binne bring van hierdie onderhoud, om al die
vernederende daarvan te besef, en selfs in haar vroomheid te dink dat dit
’n straf vir haar was, omdat sy te hoogmoedig was op die deugde van haar
talryke kinders.

Mevrou Delourens bly nie lank stil nie.

—Alida is van natuur wankelmoedig. Sy is nog so jonk, nog maar ’n kind.
Sy het al meer aansoeke gehad, mevrou. Dis nou maar tussen ons gesê. Die
voordeel van die ander is dat ons dogter nie van ons behoef weg te gaan
nie. Dis iets wat swaar weeg by Alida. Adel, fortuin—alles kom daar nog
by. As die kaptein tog maar wou toestem om nie weg te gaan van Chamberie,
om te bedank, sodat hy naby ons kan bly, en naby u ook! Het hy dan nog
nie genoeg roem behaal om tevrede te wees nie?

Mevrou Kibert staan op, en sê eenvoudig:

—Ek weet nie, mevrou; ek dank u.

Sy bedank haar vyand, wat haar so onnodig wreed gemartel het. Nog nooit
het sy haar so swak en ontdaan gevoel nie.

Mevrou Delourens doen haar uitgeleide; tevrede met haar oorwinning, het
sy nou jammer vir haar, en oorstelp haar met mooi woordjies oor haar
gesondheid, oor haar kinders, wat help om ’n nuwe vaderland oor die see
op te bou, oor Paula, so fier en skoon, wat nie genoeg by Alida kom
kuier nie. Sy hou haar dogter—dus kan sy nou wel goedgeefs wees met mooi
woorde. Dit lyk of sy op die allervriendelikste manier haar allerbeste
vriendin na die voordeur bring. Agter haar kom meneer Delourens op ’n
trippelstappie aan en kan nie genoeg klein buiginkies maak nie . . . .

As mevrou Kibert weer alleen is in die laning van plataanbome, haal sy
diep asem, soos iemand wat aan ’n groot gevaar ontsnap het. Die vrou was
sleg en hard vir haar. Hoe goed het sy geweet wat haar sou seermaak, in
haar gevoel en in haar trots. Wat ’n valse uitleg het sy gegee aan die
gebeurtenisse in mevrou Kibert haar famielie, waar die ou vrou eer op
stel! Haar lewe van daaglikse, ongesiene toewyding het haar nooit geleer
dat moederliefde nog makliker ’n moederhart kan verklein as verruim nie;
anders sou sy wel begryp het dat dit so ’n hartsgebrek was wat mevrou
Delourens daartoe beweeg om, op alle maniere, haar bedreigde geluk te
verdedig, haar eie geluk, wat sy werklik aansien vir die geluk van haar
dogter.

Maar sy vind nie lank troos by haarself alleen nie. Moet sy nie nou
teruggaan na Maupas en die droewige nuus aan haar seun vertel nie? Die
gedagte dat sy hom die smart nie kan bespaar nie, dat sy die boodskapper
daarvan moet wees, laat eindelik die trane vloei wat sy so lank met
moeite teruggehou het.

Die strale van die langsaam dalende son boor deur die sware loof van die
bome en beskyn nog die ongeluksdag van ’n jong liefhebbende hart. Vir die
eerste maal pynig dit haar om die ou tuis binne te gaan: sy weet dat sy
daar afgewag word met ongeduld en vertroue.

Sy sukkel nog meer as ander dae om vooruit te kom, ontmoedig en stadig.
Die dag druk swaarder op haar as sestig jare. Sy verwyt haarself so lank
as sy loop: sy was te sleg; waarom kon sy Marcel se saak nie bepleit het
op ’n mooier en handiger manier nie; die mense is aan komplimentjies
gewend, waarom het sy nie rekening gehou met hulle gewoontes nie, waarom
nie hulle eieliefde ’n bietjie gestreel nie; skik haar seun hom ook nie
in die laaste tyd na die ydelheid nie; kon haar eergevoel dan nie ’n
oomblikkie omgemunt word in veinsery en loftuitinge nie; sou sy haar
daardeur verlaag het? Hy is so ’n skone jonkman, so mooi gemanierd, byna
beroemd—waarom het sy van dit alles nie gepraat nie? Maar nee, sy is
maar ’n arme ou vrou, en sy kon nie aan vleiery dink by so ’n ernstige
saak nie. En dan, as sy van haarself en van haar kinders praat, voel sy
die terughoudendheid van teergevoelige siele. So sterk as sy is in haar
eie huis, so gou verlies sy die krag as sy oor die drempel stap. So het
sy ook teenoor die onregverdigheid niks meer as trane gehad nie. Die
trane—hoeveel maal het sy haar nie al gaan wegsteek om hul in stilte te
stort nie, na ’n afskeid, vir ’n tydjie, of vir altyd: sou sy hul nou
gaan stort voor die oë van dié wat haar onreg aandoen? Dit moet maar
wees dat die Heer haar beproef en kasty omdat sy alte trots is. Dié
uitleg is bevredigend vir haar geloof; sy laat dit haar welgeval, en sy
ly sonder teenspraak, en in haar verslaenheid skep sy daar ’n soort van
droefgeestige behae in om te herkou op haar eie deemoed en swakheid. Sy
dink by haarself:

—My man! nou hy nie meer hier is nie, beteken ek niks nie. Hy was my
vreugde en my krag. Had hy nog gelewe vandag, dan had alles anders
gebeur. O Heer, het U my dan verlaat? Ek het my man belowe om so goed as
moontlik sy plek in te neem, en kyk, ek sien ek kan nie . . . .

Haar wanhoop word haar te magtig; sy kan nie meer nie. Aan die end van
die laning vra sy haarself of sy wel sterk genoeg is om aan te stap. Haar
asem is op: sy moet stilstaan.

—Ek wil nie hier by hulle siek word nie, sê sy. Dis al wat sy wil, en
daarom span sy haar laaste kragte nog in.

Sy sukkel nog aan tot sy by die hek uit is, en nou sy eindelik van hul
grond af is, gaan sy sit op ’n hoop klippe, uitgeput. Daar gee sy haar
nou oor aan haar verdriet en laat haar trane weer vloei, en sy sien nie
hoe ’n klompie nuuskierige kindertjies om haar heen kom staan. Sy lig
haar hoof op en hulle vlug soos ’n swerm verskrikte voëltjies. Een van
hulle klop op die geslote deur van ’n huisie wat daar staan, en roep:

—Ma, ma, kom kyk, hier is ’n siek mevrou!

Die deur gaan oop en die boervrou kom uit, met haar jongste kindjie op
haar arm.

—Ag! arme vrou! Maar dis waarlik mevrou Kibert! Wat makeer? ’n Pyn? Ja,
dit kan somtyds so onverwags kom. Nee, niemand moet kan sê dat ek u nie
wil help nie. U man het hierdie enetjie deur die koorssiekte gehaal.

En sy wys op ’n laggende klein vetsakkie. Nou sien sy dat daar trane is
op die verwelkte gesig van die ou dame, en sy begryp dat dit hier nie
liggaamlike pyn is nie. Uit beleefdheid vra sy niks, maar sê nog daarby:

—U goeie man wou nie geld van ons aanneem nie. Hy het arm mense
liefgehad, en veral die kindertjies. Hy het altyd maar gelag. En hoe kon
hy tog werk! My kleintjies was nooit bang vir hom nie—hul sou uit één
bord geëet het met hom. ‚Ja, ek het ook so ’n klompie,’ het hy gesê. Dis
waar, ons het baie, mevrou. Maar dis goed, ’n mens het iedereen lief soos
’n enigste seun. ’n Mens sou tog nie één wil verloor nie.

Die vriendelike woorde troos mevrou Kibert weer ’n bietjie, en sy dink:

—My man het Alida Delourens ook gered van die koors. Maar hulle het hom
nie daarvoor meer geëer nie: hulle het dit vergeet. Arm mense vergeet nie
so gou nie.

—Maar nou staan ek te praat in plaas van u te help! sê die boervrou.
Kom binne en drink ’n koppie koffie: dit sal u weer opfris. Kom sit ’n
bietjie en rus.

Mevrou Kibert staan op en neem die aangebode hand van die vrou aan. En sy
antwoord:

—Dankie, ek het niks nodig nie. Die swakheid is al verby. Hoe mooi is u
kindertjies. God seën hulle! Dis nie dat ek niks van jou wil aanneem nie,
maar hul wag vir my tuis.

—Soos u wil, mevrou Kibert. Een van die dae bring ek u ’n dosyn vars
eiers. Nee, moenie bedank nie: dit sal my so ’n plesier wees. Kom,
kleinspan, gee mevrou ’n hand. Was dit nie vir u man nie, dan was daar
vandag een minder, en ek bly nog altyd in u skuld.

—Dis baie goed van jou, goeiendag.

Eindelik is sy dan weer op pad na Maupas. Sy loop langsaam. Nou en dan
bly sy staan om die sweet van haar voorhoof af te veeg, byna beswykend
onder die treurige nuus wat sy dra. Dis laat toe sy by die huis kom. Die
son gaan onder en boor sy laaste strale deur die blare van die bome.

Marcel leun op die hek en kyk in die pad af. Hy sien sy arme ou moeder
pynlik-sukkelend aankom, haar gesig vuurrooi, haar rug gekromd, verouderd
heeltemal. Hy hardloop na haar toe, en toe hy by haar kom, bars sy in
snikke los:

—My kind, my arme kind!

Hy moet haar steun, en hy vra eenvoudig:

—Waarom het u nie weer met die rytuig teruggekom nie? U is moeg en warm.
Dis baie onversigtig. Leun maar goed op my arms, ons sal stadig loop.

So help hy haar tot sy op ’n stoel sit in die voorkamer; en Paula bring
’n tjalie om oor haar skouers te hang. Daar is nog geen woord gepraat
nie, en tog is alles reeds gesê. Marcel se voorhoof staan donker en sy oë
gevestig, maar hy sê niks. Met die eerste oogopslag het hy alles begryp;
en hoewel die slag onverwags is, is hy te fier om hom te beklaag: hy vra
nie om besonderhede nie.

Sy moeder veeg haar gesig af, van die trane en die sweet. Bewende sê sy:

—Moenie jammer wees nie, dis nie die moeite werd nie.

—Hoe so? sê Paula verbaas.

—Hulle wil nie van hul dogter skei nie, en daarom glo hul dat hul haar so
danig liefhet.

Paula vra:

—En Alida self?

—Ek het haar nie eens gesien nie. Sy kruip weg—of wel, hulle steek haar
weg. Haar ouers was nie voorberei op my besoek nie. Hul was verbaas.
Marcel moet belowe dat hy in Chamberie sal bly, dat hy sy betrekking moet
neerlê as dit nodig is. Ek het wel goed gesien dat ’n Marthenay meer na
hulle sin sou wees.

—Ba! sê Marcel, en sy oë skiet vonke.

En mevrou Kibert vertel van die vernederende onderhoud wat sy moes
deurstaan. Marcel wil dit nie erken nie, maar hy voel baie pyn, en dit
maak hom ondankbaar; hy laat haar nie uitpraat nie:

—U kon nie behoorlik u woord doen nie—dis seker. U hou nie van hulle nie
en u het dit nie weggesteek nie. U verag die wêreld en u weet dit nie.

Hy het ’n houding van geringagting aangeneem; trots maak sy wond nog
erger. Sy antwoord hom met sagtheid en diepe droefheid:

—Jou vader het my dié verwyt nooit gemaak nie. Maar, dis waar, ek verdien
dit. Dog ek is tog alte oud om te verander, en die mense het my nie
ontsien nie.

Marcel is kwaad; hy skaam hom, maar hy verlaat die kamer sonder die woord
wat hy gesê het, terug te neem of te versag.

Paula het al die tyd roerloos en spraakloos bly staan. Nou sluit sy haar
bedroefde moeder in haar arms en soen haar met innige liefde.

—Moenie huil nie, ma. O, hoe verag ek daardie mense. En Marcel is
onregvêrdig. Dit was verkeerd van hom om u soiets te sê. Ek is vir hom
ook kwaad.

En oor haar donker oë frons sy haar winkbroue. Haar ma droog haar trane
af en sê:

—Nee, Paula, ons moet niemand verag nie. En wees geduldig met jou broer.
Sien jy nie dat hy smart het nie? Loop soek hom.




VIII.

PLANNE.


In die tuin van Maupas, waar die rose reeds verwelk, in die skaduwee van
die kastaiingboom, waarvan die blare al geel word, kyk Marcel Kibert en
Jan Berlier na ’n landkaart van Afrika wat op die klip-tuintafel oopgevou
lê.

—Dis die pad wat ons moet neem, sê die kaptein, en hy wys met sy vinger
op ’n lang streep rooi kruisies dwars oor die Saharawoestyn.

Met jeugdige geesdrif vra Jan:

—Is dit nou seker dat die kommando sal gaan?

—Ja, en ons sal twee jaar wegbly, ten minste as ’n mens vooruit sou
kan sê hoelank so ’n lang en gevaarlike tog wel sou kan duur. Ek het
in die stad die kommandant gesien. Met honderd of tweehonderd man gaan
ons op pad. Maar ek vrees dat ons nie wegkom voor ander jaar nie. En
met ernstige stem lê Marcel haarfyn uit hoe alles sal gereël word. En
met breë gebare verduidelik hy sy woord oor die onbekende land, so wyd
uitgestrek en eentonig, ondeurgrondelik en geheimsinnig soos die see.

Jan luister, en sy gesig neem ’n uitdrukking aan van aandag en manlike
erns. Hierdie mooi, fyn jonkman, altyd vol lag en grappies, ’n liefling
van die vroue van wie ’n mens by die eerste oogopslag sou sê dat hy net
deug om te „flirt” en mooie meneertjie te speel in die voorkamer—hy toon,
as hy eenmaal in sy natuurlike element en voor ’n ernstige onderneming
geplaas word, dat hy ’n manlike geaardheid besit, ferm en vol durf.
Marcel, wat hom beter ken, het dit altyd geweet; en as hy van Jan hoor
praat as van ’n voorkamersoldaatjie, dan sê hy altyd: Julle ken hom nie.

Mevrou Kibert kom uit op die stoep van die huis.

—Stil! sê Marcel, en lê sy vinger op sy lippe.

—Weet sy nog nie dat ons gaan nie? vra Jan, fluisterend.

—Nee. Sy sal dit altyd nog te vroeg hoor.

Sy kyk die tuin in, maar sien die twee jonkmans nie. Sy dink dat sy
heeltemal alleen is, haal haar bril af—sy het dit gebruik by een of
ander handwerk—en veeg langsaam haar oë af met haar sakdoek. Sy is moeg
en leun op die houttralie waartussen, soos ’n verwelkte versiering, die
ontblaarde ranke van die blomme gevleg is. En in gedagte laat sy haar
droefgeestige blik gaan oor die welbekende ou landskap.

Die dalende aand verf pers en rose tinte op die teer-yle lug. Die
frisheid van die lug kondig die nadering aan van die najaar. Die landskap
rondom laat dink aan die teer-bekoorlike glimlag van ’n sterwende meisie
wat nog terugdink aan die lewe. En dit lyk of die kaal lande en bome en
wingerd, nadat hul alles gegee het wat hul gehad het, nog meer sou wil
gee. Onnuttig nou, het die landskap nog net sy skoonheid behou. Die bosse
is half beroof van hul misterie, en die sterwende aandstrale lê flouerig,
dog amper te swaar op hul geel-groen blare. Langs die muur laat ’n paar
rose hul alte sware blaartjies opehang, en die sagte aandwindjie laat hul
neerstryk op die grond. En bo-op die bult, swart geteken teen die goud
van die aandlug, trek twee osse stadig-stadig in die ploeg—voorbereidende
die oes wat nog moet kom. Oor die kalme afsterwe van die natuur sweef so
die voorspelling van ’n herlewing.

’n Vallende kastaiing, bo uit die bome, laat Marcel opskrik. En as hy
sy liewe ou moeder aankyk, soos sy daar leunende staan, haar gedagtes
vol van haar klompie kinders oor die hele wêreld versprei, dan is dit
of hy meteens besef hoe groot haar liefde moet wees; en hy voel ook die
bygelowige vrees, wat ons somtyds so kan bekruip en pynig as ons dink aan
die swakheid van die wat ons liefhet.

—Arme ou moedertjie! Hoe baiemaal het u al gebewe vir my lewe. En dit sal
weer moet gebeur. Die landkaart hier voor my, onverskillig en spraakloos,
berg die geheim van u toekomstige smarte. Vir die melk van u bors, wat
my gevoed het, vir die lewe wat u lewe my gegee het, vir my gelukkige
kinderjare en jongelingskap—o, wees daarvoor geseën. Ek het u lief.
Maar, as ek wil weggaan, vergewe dit my!

Die beeld van ’n blonde meisie kom voor sy gees. Na die weiering het hy
Alida Delourens nog nie weer gesien nie. Verskeie male het hy al die
tralies oorgeklim wat die eikebome van Chenée skei van die pad. Daar, in
die skaduwee, het hy vir haar gewag. Wetende dat sy hom liefhet, wil hy,
tot elke prys met haar praat en haar ewige trou belowe. Die roem wat hy
in verre lande sou behaal, en geduldoefening, sou haar eindelik wel aan
hom gee. Maar of dit nou toeval was of iets anders, sy het nooit daar na
die bos gekom nie.

Sal hy so moet weggaan? Binne weinige dae sal sy verlof om wees—hy het
geweier om verlenging daarvan aan te vra—en dan moet hy teruggaan na
Algiers, met Jan Berlier en sy kommando. Hy maak allerhande onmoontlike
planne, hy herkou op sy onmag soos ’n jong, ongeduldige perd op sy stang.

—Ek wil nou loop, maar eers wil ek jou ma gaan groet.

—Wag nog ’n bietjie, sê Marcel. En meteens tot ’n besluit komende, sê hy,
fluisterend:

—Kyk hier, ek wil met mejuffrou Delourens praat. Wil jy my help?

Daar bestaan ’n innige vriendskap tussen die twee jonkmans, iets
broederliks en rustigs, gebore uit wedersydse vertroue en ooreenkoms van
aard en strewe. Maar hul hartsgeheime deel hul nie mee aan mekaar nie.
Dit verwonder Jan dus dat sy vriend syne nou so openbaar, al het hy dit
al lank agtergekom. As beskeie toeskouer het hy die spul so aangekyk. Hy
ken Marcel se wilskrag en trots; die groot hartstog boesem hom belang in,
al vrees hy vir die wanhoop wat daarop kan volg—dis so iets anders as sy
eie oppervlakkige vryerytjies vir tydkorting. Hy weet waaraan hy dit moet
toeskrywe dat sy vriend meteens so ’n lus gekry het om met die kommando
na Afrika te gaan, dat hy so ’n opgewonde verlange het na roering en werk.

Jan maak of hy van niks weet nie, en sê:

—Waarom gaan jy nie self na Chenée nie? Dis die eenvoudigste.

Marcel kyk hom deur en deur en antwoord:

—Jy weet waarom ek nie kan nie.

En na ’n oomblik stilte laat hy volg:

—Maar ek wil haar darem sien.

—Om met haar weg te loop? sê Jan, met ’n glimlaggie.

Hy wil nog probeer om daar ’n grappie van te maak, maar ’n stuurse
antwoord is al wat hy kry.

—Kyk in haar oë, en jy sal nie meer so praat nie . . . . Ek moet haar
absoluut sien voor ek weggaan, miskien om jarelank weg te bly. Haar
geluk sowel as myne is daarmee gemoeid. Was daar van myne alleen sprake,
dan sou ek met my smart kan weggaan, sonder om om te kyk. Maar sy moet
gerusgestel word omtrent haar toekoms, sy moet verstaan dat die toekoms
behoor aan dié wat volhou. Sy sal my vrou word, as sy wil. Ek wil haar
net vra om moed te hou en te wag.

—Dis die hoogste eis, sê Jan. Hy het nie ’n alte hoë dunk van Alida haar
moed nie.

—Dis die gemaklikste.

—Ja, vir jou, wat heeldag besig gehou sal word met gevare en hinderpale
om te oorkom. Maar sy . . . .?

—As sy my nou liefhet? sê Marcel eenvoudigweg en daar is iets in sy stem
wat alle gedagte aan eiewaan verban.

—Ja, sê Jan, en hy dink by homself: Sy weet nie wat liefde is nie.
Isabella Orlandi trou met meneer Landeau omdat sy graag wil skitter.
Alida Delourens sal met meneer Marthenay trou uit swakheid, en omdat haar
ma begeer om nog eendag ’n adellike kleinseun te sien. Die jongmeisies
van ons dae weet nie meer wat ’n groot liefde beteken nie, en niemand
leer hul dit nie.

Maar hardop durf Jan dit nie te sê nie. Op die breë, ope voorhoof en in
die ernstige oë van sy vriend sien hy die tekens van ’n siel deur liefde
geroer.

—Wil jy haar absoluut sien?

—Absoluut!

—Jy is al so tuis by die famielie Delourens. Jy kan maklik met die dogter
praat. Ek sou my suster gevra het om dit te doen as sy nog daarheen kon
gaan na die . . . . weiering.

Hy moet sy trots oorwin om die laaste woord te kan uitspreek. En met ’n
sekere minagting hef hy sy hoof op as hy sê:

—So ’n weiering is onregvêrdig. Ouers het geen reg om hul gesag so te
laat geld tot bevrediging van hul eie vooroordeel en selfsug, en om uit
ydelheid die hart van hul dogter te breek nie. Niemand het soveel eerbied
vir ouerlike gesag as ek nie, maar dan moet wysheid en rede dit lei.
Paula het Alida in die kerk gesien, sy was bleek en kwynend. Ek _moet_
haar sien. Daar is geen troueloosheid in nie, geen plan om haar met
minder eerbied te behandel as ek haar verskuldig is nie. Dit wou ek jou
net sê voor jy my antwoord.

—Dis goed, sê Jan. Na ’n oomblik nadink sê hy verder:

—Ek wil jou eie woorde herhaal, Marcel: Kyk in haar oë, dink aan die
eerlike blou oë, en vra jouself af of sy sal uitloop om jou êrens te
ontmoet.

Marcel staan spraakloos, dan sê hy:

—Dis waar. Ek wil daar nie meer aan dink nie: ek sal weggaan sonder haar
te sien.

Geen ander klag kom oor sy lippe nie. Maar sy vriend word aangedaan
deur dié eenvoudige woorde. Alhoewel hy dink: dis ook maar beter dat hy
weggaan sonder haar te sien, kry hy so jammer, dat hy tog ’n plan maak:

—Kyk, laat die saak aan my oor: ek sal jou sê as jy haar kan ontmoet. Sy
sal jou sien sonder dat ek haar vooraf iets sê. Dit sal dan aan jou lê om
te hou wat jy het. Dis nie ’n alte mooi manier nie, maar dié Marthenay
vererg my en die Delourens-klomp is windsakke—daarom ontsien ek nie om
hul ’n bietjie te fop nie.

—Jy wou my moeder nog groet, nie waar nie? Kom, ons gaan binne-toe, sê
Marcel.

Mevrou Kibert en Paula sit nog aan hul handwerk, in die aandskemer. Die
moeder se oog verhelder toe sy haar seun sien binnekom; maar Paula kyk
nie op nie.

—Ek kom groet, sê Jan.

—Wag jy nie tot Marcel gaan nie? Gaan jy nou al weg? vra mevrou Kibert.
Want sy hou van die lewenslustige jonkman en vergeet dat hy somtyds so
ligsinnig kan wees. Sy is hom ook dankbaar dat hy—beter as sy self durf
of kan—aan Marcel afleiding besorg van die droefgeestigheid wat hom druk
soos ’n sware rou en waarvoor sy ’n soort van vrees koester.

—In drie dae tyds gaan ek aan boord, mevrou. My verlof is gouer om as dié
van Marcel.

Paula lig nou haar hoof op. Jan lees in haar donker oë iets van ’n
verwyt, en haar bleekheid verraai dat sy pyn ly. Maar baiemaal is ’n
mens in twyfel oor wat daar spreek uit ’n oog of selfs uit ’n blos op ’n
jeugdige wang. Dis van die snelle en vlugtige uitdrukkings wat vir ons ’n
geheim bêre, wat ons nie graag deurgrond as dit lyk of sulke uitdrukkings
ons ongunstig is of selfs ook maar verleë maak nie. Hierdie meisie met
haar ernstige gesig en bedaarde bewegings, met haar skuwe bevalligheid,
getuiende van groot beslistheid, trek hom aan en stoot hom af tegelyk.
Hy wil haar so graag op ’n lughartige, vriendskaplike manier hoor praat;
maar nou werk haar terughoudendheid verlammend op hom. Haar toejuiging en
agting sou hom kan verhef en sterk maak; maar hy begryp dat hy dié agting
alleen kan verdien deur groot dinge te onderneem en ’n hoë inbors te
besit; en hy voel ’n inwendige vrees vir wat hy noem „die hoë dinge.” Hy
is veral bang om homself ernstig af te vra waarom sy so ’n dubbelsinnige
indruk op hom maak. Hoe baie menselewens gaan daar nie verby, drywende op
die twyfel, sonder die geheim te wil deurgrond van die verwante gevoelens
wat aan hul hele lewe ’n ander koers sou gegee het, maar waarvoor die
meeste mense al vooruit bang is!

Mevrou Kibert stap ’n entjie saam met Jan, buiten-toe. By die treedjies
fluister sy snel in sy oor:

—Kyk tog ’n bietjie goed na Marcel as hy later ook by julle kommando kom.
Ek vra jou om dit vir my te doen, Jan.

Hy is aangedaan deur die vertroulike woorde van die ou vrou:

—Ek beloof u dit mevrou, hy is soos ’n ouer broer vir my.

Hy kyk nog ’n keer om en bewonder die fier sy-gesig van Paula in haar
rouklere; sy staan op die stoep, maar sy kyk nie na hom nie, haar oë is
in die verte gevestig—en die rosetinte van die najaar verbleek op die
berge . . . .

Dieselfde aand gaan Jan op Chenée eet, waar hy Isabella Orlandi ontmoet.
Dis kort voor haar troudag, maar nog nooit is sy so baldadig gewees, en
gee sy so min om fatsoenlike maniere nie, as nou. Ondertussen doen meneer
Landeau sy voordeel met die seldsame opgang van die geldmark; hy maak
baie geld deur toepassing van die moderne misleidingsmiddel, en hy vry so
uit die verte, deur in sy briewe kortliks maar duidelik te laat blyk hoe
goed hy aangaan—hy ken wel die krag van sulke mededelinge.

Dis aand geword; en Isabella gaan by Jan sit op ’n sofa, agter ’n party
varings en palme.

Jan het ’n vrou nodig om sy plan vir Marcel ten uitvoer te bring. Die
plan is eenvoudig om Alida tot ’n wandeling uit te lok—op ’n afgesproke
uur—na die eikebos, waar sy dan meteens vir Marcel Kibert sou aantref.
Maar hy kan Alida nie vra om alleen met hom uit te gaan nie, hy moet ’n
betroubare bondgenoot hê. Jan kyk skuins na Isabella, en dink:

—Hierdie een miskien, maar kan ek op haar reken?

Hy het nie ander keus nie, dus moet hy maar probeer:

—Wat dink jy van hom, sê hy, terwyl hy ’n hoofbeweging maak na die
kant van Marthenay, wat voor mevrou Delourens ’n vertoning staan te
maak, terwyl die arme Alida, om hom nie te sien nie, in ’n boek sit en
prentjies kyk, sonder ’n blad om te slaan.

Isabella lag:

—Wie, Marthenay? Hy is Alida se meneer Landeau. Elke een het haar eie.

—Wil jy my help om hom ’n streek te speel?

—Ja, seker! Dit sal ons weer laat dink aan die blommefees se slag.

—Nou ja, kom môreagtermiddag om vieruur hiernatoe—ek sal dan hier wees.

—As jy hier is, kom ek ook; dit spreek vanself.

—Alida is ’n bietjie bleek die laaste dae, jy sal aan haar sê: „Jy moet
afleiding hê, ’n bietjie meer in die buitelug gaan, jy bly te veel in die
huis.” Ons neem haar na die eikebos, en, op ’n teken van my, laat ons
haar daar alleen. En as jy dan iets sien, sal jy dit vir jouself hou?

—Maar ek begryp van die hele affêre niks nie.

—So moet dit ook wees.

—Sê my ten minste wie ek sal sien.

—Nuuskierige Eva! kan jy ’n geheim bewaar?

—As jy my dit vertel, ja.

—Die geheim is nie myne nie. As ek dit vertel, is ek ’n verraaier.

Sy kyk die jonkman aan met haar wellustige, skone swart oë:

—My liewe Jan, ek is nie veel werd nie, en jy reken my vir nog minder
as ek is. Om jou plesier te doen, sal ek gevare tart . . . . en selfs
welvoeglike maniere.

—Veral „welvoeglike maniere” as jy nie omgee nie.

—Maar seker. O, as jy wil, volg ek jou tot die end van die wêreld.

—Sonder iets te besit? vra hy, met ’n twyfelagtige glimlaggie.

Sy antwoord met ’n mat laggie, wat haar wit tande laat sien.

—Met net so min as hier op my hand is.

’n Rilling loop oor Jan se lyf, by die gewaagde onbeskaamde woorde, en hy
voel ’n soort van verdriet in teenwoordigheid van die skone, verleidelike
liggaam. Voordat sy haar in haar huwelik werp, soos in ’n aaklige
afgrond, het sy daar ’n soort van baldadige plesier in om op die rand
daarvan te baljaar.

Hy is stil, maar sy merk wel wat ’n mag sy nog oor hom uitoefen. Sy
waag dit om boweop nog sy hand te neem en in Italiaans te sê—om haar
onbeskaamdheid half te bemantel:

—Ek hou van jou.

Jan dink nie meer aan Marcel nie. Maar omdat sy so seker lyk van haar
oorwinning, voel hy hom tot teenstand geprikkel, want in die grond van sy
natuur is hy fyngevoelig, trouhartig en byna teruggetrokke. En so gee hy
tog nie die antwoord wat sy verwag nie:

—So, dus sal jy meneer Landeau laat staan om vir my te neem?

Sy vind hom ’n bietjie onnosel, en sê dat hy maar net in skyn iets durf
waag, dat sy danige durf net alles grootpraat is. Dog hy behaag haar om
dié rede nog meer. Op die grond van haar wellustige hart voel sy selfs
ook nog ’n weifeling, omdat die bederf nog maar begin—dis die oorblyfsel
van haar kinderlike onskuld, en sy voel aangedaan deur die onverwagte
eerbaarheid van Jan. Maar oor dié opwelling is sy gou weer heen, en haar
antwoord is:

—Ek sal niks laat staan nie. Ons sal ons nie laat hinder deur die ou
veertigjarige man van my nie.

En sy laat weer die dubbelsinnige laggie hoor.

Hy begryp haar en kan nie help om ’n kleur te kry nie. Dit erg haar. Deur
die plante, van agter die sofa, kan hul Alida sien binnekom. Sy stap oor
die vloer met starende gevestigde oë of sy in haar slaap loop. Sy het
’n rok aan van wit kamerdoek: dit staan goed by haar blonde haar. Eén
oogopslag is vir Isabella genoeg om die rok in alle besonderhede op te
neem. Jan het haar kwaad gemaak, en sy sê:

—Dis duur goed wat sy dra, en kyk hoe volmaak is die snit daarvan. Sal jy
my net sulkes kan gee, meneertjie, as ek met jou sou trou?

—Wat, uit my klein salaris? sê hy.

—Ja, ek hou nou eenkeer van goed wat mooi is.

—Al wat blink, is nie goud nie.

—Reg so, daar is ook nog diamante en ander edelgesteentes.

Half minagtend sê hy:

—Ja, elke een draai sy rug toe aan die lewe en probeer dit te vergeet.
Jou ma het haar hond, Pistache, my oom het sy rose, en jy het jou klere.
Die liefde moet maar sukkelend agteraan kom.

—Dit lyk my jy word nou soet, Jan.

Jan begin nou weer oor sy plan vir môre:

—Dus sal jy jou mond hou as jy môre iets gewaar?

—Ek sweer! Is jy nou tevrede? Kom vertel my nou wat dit is.

Hy weifel eers nog, maar sê dan:

—My vriend, Marcel Kibert, het iets te sê aan Alida. Hy sal vir haar wag
in die eikebos.

—So, so! sê Isabella, vol belangstelling. Maar daarby is ons nie nodig
nie.

—Luister: Alida weet daar niks van nie. As sy weet, sal sy nooit gaan nie.

—So ’n stommerik!

—Sy is ’n bangerige en teruggetrokke kind.

—Ja, te nougeset. Maar sy is ryk, sy kan vir haar ’n man uitsoek. Dis in
hierdie tyd ’n seldsame voorreg. Hoe sou sy nie die voorkeur kan gee aan
kaptein Kibert nie, in plaas van aan die lawwe, verwaande Marthenay? Ek
hou self ook baie van die kaptein—amper so veel as van jou. Net, hy maak
my bang. Ek verwag altyd ’n knor van hom.

—As jy dit nou verdien?

—Ek verdien dit. Knor _jy_ my—maar nie te hard nie. Marthenay is onnosel;
en as ’n mens onnosel is, dan is hy dit vir ’n lang tyd.

Mevrou Delourens dink dat die twee nou lank genoeg alleen gesit het. Sy
kom nader en vra:

—Is Alida nie by julle nie?

—Sy het uit die kamer gegaan, mevrou; maar daar kom sy net terug.

Sy gaan weg van hulle; en Jan sê haastig, om nou ’n end aan hul gesprek
te maak:

—Jy moet weet dat mevrou Delourens haar dogter nie van haar weg wil laat
gaan nie.

—Ag, sê Isabella. Dan sal die arme Alida met meneer Marthenay moet trou.
Sy het net so veel wilskrag as ’n hoender in ’n reënbui.

En op komieke toon voeg sy daarby:

—Laat ons die ongeoorloofde liefde steun. En wat sal jy my gee vir die
hulp?

—Vra, en ek sal gee.

Sy kyk hom skelmrig aan, om hom te oorwin:

—’n Soen van jou lippe, meneer.

Jan is weer in haar mag, en voleindig haar sin:

—Op joue, juffrou!

Hulle lag albei half verleë, en ming dan met die ander mense in die kamer.




IX.

AFSKEID.


Dis ’n dag later, en alles gebeur soos voorsien was:

Isabella Orlandi en Jan Berlier lei Alida Delourens na die eikebos, waar
Marcel haar afwag. By die draai van ’n paadjie staan Alida meteens
voor Marcel. Die twee verlaat haar daar en wandel verder onder die
bruingekleurde najaarsblare.

Alida is verskrik en lê haar hand op haar bors. Haar eerste gedagte is om
te vlug, maar sy voel haar bene knik en haar asem is weg.

—Wag, asseblief ’n bietjie, sê Marcel met ’n ernstige en haastige
stemsuitdrukking—wat hy nouliks as sy eie herken. Vergeef my waagstuk; ek
gaan weg na Algiers, en ek het die moed nie gehad om dit te doen voor ek
jou eers gesien het nie.

—O! sê sy, bleek en bewend. Wat sal ma daarvan sê?

Die gedagte aan haar ma maak Marcel jaloers; hy frons sy winkbroue, dog
gaan voort, op dieselfde sagte manier:

—Alida, ek wil jou vertel dat ek jou liefhet. Paula sê dat jy my ook
liefhet. Is dit so? Ek wil dit uit jou eie mond hoor.

Hy sien hoe sy beef en met albei hande aan haar hals vat, net of sy wil
verstik. Al die bloed is weg uit haar wange, en haar oë is gevestig op
die dooie blare op die grond, maar sy sien niks nie.

Die eiketakke ritsel in die windjie met ’n droefgeestige geluid. Die
rosegloed van die lug, deur die regop stamme van die ou bome, kondig al
die end van die dag aan.

Soos ’n sag-tere klag kom die woorde oor haar lippe:

—Ek kan jou dit nie sê nie.

Dis die aanvallige en reine bekentenis van haar tingerige siel.

Bewoë tot in die binneste van sy hart, kyk hy nou met ander oë na die
vreesagtige kind, soos sy daar op enkele treë afstands van hom staan,
met ’n wit tjalie oor haar skouers, soos ’n geesverskyning onder die
hoë gewelf van die laning. Die lang ooghare lê half oor haar hemelblou
oë. Agter haar, tussen die takke deur, sien hy die son laer sink, soos
’n groot brand, waarteen die swart boomstamme skerp afsteek. En deur die
blare priem vurige, wrede strale van goud en bloed.

—Alida, sê hy, as jy my liefhet soos ek vir jou, beloof my dan dat jy my
vrou sal word.

Eindelik kyk sy op in die fiere gelaat van die jonkman. Sy sien dat hy
deur haar gely het, en daar kom trane in haar oë.

—Ek kan nie . . . . Marcel . . . . My ouers . . . . Verder kan sy nie kom
nie; haar trane verkondig wat sy wil sê.

Hy kom nader en neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie.

Met ferme, oortuiende stem sê hy verder:

—Moet jou nie ongerus maak nie, Alida, jy sal hulle toestemming verkry.
Hou maar moed, en wag. Die tyd sal alles reg maak. Ek vra jou net om
geduldig te wees. Wat my betref, ek sal groot dinge verrig om jou te kry.
Ek gaan met ’n kommando na die binneland van Afrika. Met my oorwinninge
sal ek jou ook wen.

Vrees vir sy lewe verraai haar liefde vir hom:

—Nee, nee, ek wil dit nie hê nie. Jy moet jou lewe nie so blootstel nie.
O, as jy . . . . my liefhet, sal jy nie gaan nie.

—Ek sal gaan omdat ek jou liefhet, Alida.

—Jy ken my nog nie. Ek is banghartig. Ek is bang vir alles. Ek is maar ’n
armsalige wesentjie. O, wat ’n hoofpyn het ek!

Die hand wat hy nie vashou nie bring sy aan haar voorhoof en haar bors.

—Hoe swaar voel my hart! fluister sy.

—Alida! sê hy hartstogtelik, moet vir niks bang wees nie! Ek het jou
lief, ek sal jou beskerm!

Hy buig hom vooroor en raak met sy lippe die handjie aan wat hy vashou.
Die kus laat haar bewe. Sy sê, met ’n suggie:

—Laat ons binne-toe gaan, dis verkeerd wat ons doen.

—O, nee! Ek het jou so lief. Is ek dan nie jou verloofde nie?

Sy sê weer:

—Dis verkeerd.

Hulle kyk mekaar in die oë. Die kleure verbleek aan die aandlug; ’n blou
waas skuiwe tussen die boomstamme deur en oor die grasperke. Dis die
geheimsinnige uur wanneer dit lyk of alles huiwer vir die naderende dood.
Die dag draal nog, maar dis ’n swakkerige daglig, mat en sag wegkwynend.
En die voetpad wat hom onder die bome verloor, word afwisselend
rooskleurig en violet.

Die ondergaande son spieël hom af in die oë van die meisie—die hele
droefgeestigheid van die sterwende Natuur.

Nog nooit het hy so ’n besef gekry van haar tingerigheid nie. Nog nooit
het sy so sterk die kuise behoefte gevoel om haar te steun op sy jeugdige
krag nie. Nogtans, as hy haar nadertrek en vooroorbuig om haar ’n kus te
gee, stoot sy hom saggies weg met haar hande en sê, vir die derde maal:

—Nee, jy mag nie, dis verkeerd!

Die vreesagtige deugsaamheid, wat tog nie haar liefde kan verberg nie,
vervul hom met eerbied en ontroering.

—Alida, sê hy nog ’n keer, sweer my dat jy my vrou sal word.

Maar haar antwoord is weer dieselfde:

—Ek kan nie. My ouers wil nie.

Dit verbaas hom dat hy nog maar nie verder gevorder het as dit, van die
begin af van hierdie onderhoud, waar hy so vurig na verlang het en
waarvan hul toekoms sou afhang. Beslis neem hy weer die woord, sterk in
sy liefde en seker dat hy haar sal oorhaal:

—Alida, Alida, ek gaan weg, miskien vir ’n paar jaar. Maar wat beteken
twee of drie jaar as ’n mens iemand liefhet? Liefde duur vir altyd. Ek
wil jou woord hê om met my mee te neem; dit sal ’n beskermende hand oor
my hou en dit sal my moed gee. Alida, ek het jou meer lief as my eie
lewe, of liewer, ek het my lewe nie lief sonder jou nie. Moeilikhede is
niks as ’n mens liefhet nie. Sweer my dat jy jou hart vir my sal bewaar
solank as ek weg is, en hierdie handjie, wat jy my gegee het, en wat so
yskoud in myne lê.

Maar sy is onder ’n verbod, en sy bly roerloos en spraakloos staan. Sy
het nooit in haar lewe iets uit haar eie gedoen nie. Sy weet nie of sy ’n
eie wil het nie. Selfs haar liefde het haar oorrompel en pynig haar op ’n
manier wat haar oordrewe en ongeoorloof lyk.

So sien hy haar staan, bleek en swak; al wat hy wil is om haar te beskerm
teen die slae van die noodlot. Maar terwyl sy nog maar swyg, sê hy weer:

—Alida, ek het jou lief. Dit word laat, jy moet binne-toe gaan. Die lug
word al koud. Sal jy my laat vertrek sonder ’n woord, sonder enige hoop?

Dis die aangrypende uur van die dag wanneer dit lyk of alles ’n oomblik
in gedagte bly staan, alvorens in die nagskaduwee te verdwyn, te sterwe.
Die laaste lig van die westerhemel val nog op die reine engelgelaat, op
die goue hare; en haar wit tjalie steek af teen die donkerte onder die
bome. Sy bly so staan: spraakloos en roerloos. Terselfdertyd dink sy aan
die onmoontlike stryd teen haar ma en die onmoontlike huwelik met meneer
Marthenay. Sy weet nie wat ons van ons lewenslot kan maak as ons die moed
het om dit te lei met ’n hand wat nie beef nie. Die liefde maak die deure
van die lewe wyd ope vir haar. Verskrik durf sy nie binnegaan nie. Wat
het sy tog misdrewe teen die Heer dat Hy haar keus van haar alleen laat
afhang? Waarom is haar pad tog nie gelyk en gemaklik nie? En so verlam
die vrees haar, dat sy geen keus kon doen nie.

Waarom praat hy nie van sy smart nie? Dit sou haar so aandoen, dat sy die
verlangde belofte sou gee. As hy dan sou probeer om haar, soos vantevore,
nader te trek na hom, sou sy hom nie weer afstoot nie, sy sou eindelik
haar hoof neerlê op ’n dapper bors.

Maar hy wil hê dat sy, in antwoord op sy aansoek, haar uit haar eie moet
gee. Hy wag nog maar daarvoor, en namate dit langer duur, soveel te meer
bejammer hy die arme wankelmoedige kind. Nee, dis nòg skamerigheid,
nòg natuurlike teruggetrokkenheid wat oorsaak is dat sy nie praat nie.
Die omstandighede is te ernstig dan dat sy sou aarsel om te praat as
sy voel dat sy moet. Die moeilikhede wat hulle skei, is maar net die
struikelblokke van ydelheid en selfsug, wat gemaklik te oorwin is. Sy het
hom lief, en tog bly sy stil.

Hy voel dat hulle weë alte veel verskil. Fier en verontwaardig rig hy
hom tot sy volle lengte op teenoor haar. Om haar te kan groet, oorwin hy
egter sy trots en hy sê, met toegeeflike ontferming:

—Nee, Alida, beloof maar liewer niks nie. Jou woord wat jy aan Paula
gegee het vir my, gee ek jou terug. Jy is te swak om lief te hê.

En terwyl hy die klein, koue hand loslaat, wat hom nie versit nie, sê hy
nog daarby, duidelik en ferm:

—Dag, juffrou, ons sal mekaar nooit weer sien nie.

Sy sien hoe hy haastig verdwyn in die laning, waar die skaduwees van
die invallende nag al rondsluip. Hy kyk nie om nie. Nou is hy nie meer
te sien nie, en sy soek hom nog met haar oë. Die boomblare bewe in die
aandwindjie. Een van die blare gaan los, en raak Alida haar hare in sy
val. By dié aankondiging van die winter voel sy die dood om haar heen
en in haar. Soos twee huppelende, vrolike skimme verskyn Isabella en
Jan weer. Hulle kry haar beweegloos staan op dieselfde plek waar Marcel
haar verlaat het. Hulle wil met haar praat, dog sonder ’n woord loop sy
huis-toe om haar verdriet te verberg. Sy dink daar nie aan om Jan Berlier
in vertroue te neem nie—hy sou haar nog uit haar ongeluk kan red. Sy is
in haar kamer, bêre haar gelaat in haar hande, en ween. Maar selfs in
haar verdriet dink sy nie aan stryd nie; sy gee haarself oor aan die
wrede noodlot, wat in haar oë onvermydelik is.

Alida het weggevlug, en Jan en Isabella kyk mekaar verwonderd aan:

—Ek begryp daar niks van nie, sê hy.

—Ek verstaan, sê sy. Dis nog ’n bange! Ons is almal eners in ons dae: Ons
wil geniet, maar niks waag nie. Ek weet net van een wat vir liefde tot
aan die end van die wêreld sal gaan in ’n rok van ’n paar dubbeltjies.

—Wie?

—Paula Kibert.

Voordat sy die naam nog uitgespreek het, sien hy meteens in gedagte die
fiere sy-gesig, die reine gedaante van Paula in haar rouklere. Isabella
merk wel wat daar in sy gedagtes omgaan. Jaloers kom sy nader en sê, op
haar mees vleiende toon:

—En die loon vir my medepligtigheid? Het jy dit al vergeet?

Sy bied haar lippe aan. Hy onthou nou weer wat hy beloof het; en terwyl
’n mistigheid die tinte van die aand bedek, gee hy haar, daar onder die
bome, haar betaling . . . .

Marcel kyk eers om as hy naby Maupas is. Hy sien Chenée onder in die
donkerte, terwyl op die berge bo nog die glans van die aandlig lê. ’n
Lang vlokkige wolk, soos ’n verskeurde doek, sweef op halwe hoogte die
bergwande verby; die strale van die son, wat al onder is, giet daar ’n
fyn rose tint oor, so teer, dat dit lyk soos ’n blou geaderde berggodin,
half verberg in gaas en neteldoek.

Hy skep behae in sy selfpyniging, en hy kyk, tot die opkruipende
skaduwee oor die toppe gaan, die heerlikheid uitwis en die skat van
kleure laat verbleek. Dit lyk vir hom of hy makliker asemhaal in die
versomberde natuur. Met ligter stap gaan hy die bos deur; die bome is
al half ontblaar, en deur die takke sien hy bloedkleurige wolkveë. Die
uile—soos onheilspelende geeste van die aand en die najaar—roep mekaar
met noodkrete, soos die doodsangstige hulpgeroep van slagoffers, wat die
hart van ’n late verbyganger laat stilstaan.

By die hek van Maupas ontmoet hy sy suster; sy was ongerus en het kom kyk
of hy al aankom. Sodra Paula hom sien, weet sy wat die uitslag is van sy
tog.

—Ag! sê sy eenvoudig.

Een woord van hom verklaar die saak.

—Sy is bang vir die lewe: sy en ek is nie van één soort nie.

Sy neem sy arm en wil hom soen, dan sê sy meteens, bewend:

—Luister!

—Dis maar die uile—die bome is vol van hulle.

—Laat ons gou weggaan. Hulle maak my bang. Die boermense sê hul kondig
die dood aan.

Hy maak ’n beweging van onverskilligheid met sy arm . . . .




X.

VERTREK.


Die maaltyd wat voorafgaan aan die vertrek van iemand uit ’n famielie,
kom in treurigheid ooreen met die eerste waaraan die famielie weer
deelneem nadat een van hul lede vir altyd uit hul kring verdwyn het. Al
is almal nog daar, die vreugde is al verban. Elkeen probeer tevergeefs om
vrolik te wees, en die aandoenlike, dog vrugtelose pogings maak die smart
nog dieper.

So is dit ook stil en gedruk in die eetkamer van Maupas, hoewel die
sonnetjie inskyn deur die rame. Marcel sal teen die aand vertrek met
die rytuig; hy moet van die stasie weggaan met die trein van sesuur. As
die gesprek val, dan neem niemand weer die draad daarvan op nie—skaars
lewensvatbaar flikker dit nou en dan op uit ’n onbeduidende woordjie om
dan weer uit te gaan. Marie, die ou huismeid, het dié kos klaargemaak wat
die kaptein graag eet; maar sy skud haar hoof en is self ook bedroef as
sy die skottels terugdra kombuis-toe nog amper heeltemal vol.

Na die maaltyd loop Marcel met sy suster buiten-toe, hy sê aan haar:

—Kom, ek wil ons ou wandelpaadjies nog eenkeer sien.

Teen die hang op gaan hul deur die wingerd tot by die kastaiingbome, waar
hulle dikwels as kinders in die koelte gespeel het. In die sluimerende
water van die meertjie in die verte spieël die berge hulle af—teen die
aand is die tinte altyd die mooiste.

—Laat ons nou na die waterval gaan, sê Marcel.

Voor hy weggaan, wil hy nog ’n keer vars indrukke kry van al die afgeleë
en besielende plekkies wat bygedra het tot die vorming van sy vurige
gemoed.

Marcel bly staan as hy die waterval deur die bome sien—’n lang dun
sluier, vallende van ’n hoogte van honderd voet, ’n opslag van silwere
stof verspreiende in die sonlig. Hy glimlag van plesier.

—Ons moenie verder na bo gaan nie, sê hy. Ons moet nog na die bos en na
die kloof gaan.

Die gronde het vroeër almal by Maupas behoor, maar deur die ongeluk met
hul fortuin, het hul dit moet afgee. Maar al is die plekke verkoop, die
bekoring daarvan bly nog dieselfde. Die skoonhede van die aarde is nie
te koop of te verkoop nie: hulle behoor aan dié wat ’n ope oog het om te
begryp en te geniet.

Die kloof van Foresan is diep; die kante is dig begroei met struike.
Op sommige plekke kan ’n mens langs die skuinste afgaan tot aan die
kristal-heldere stroompie in die diepte. Daar, onder ’n lang blaredak, is
die tuis van die vreedsame, diepe, allesvergetende stilte.

Marcel loop voor. Hy kyk om en sien hoe sy suster haar rok vasgeraak het
in die klimop-plante langs die voetpad. Voordat hy haar gaan help, sê hy:

—Hoe mooi lyk jy, hier tussen die bome!

—Kom help my liewer in plaas van onsin te praat.

Maar hy maak nie gou nie. Die lewendige natuurlike bevalligheid van die
jongmeisie stem so volkome ooreen met die maagdelike en frisse omgewing.
Hy kan nie help om met bewondering te kyk na die lenigheid van haar
beweginge nie terwyl sy besig is om haar aan die plante te ontworstel—die
wandeling het ’n gloed van gesondheid in haar wange gedryf. Voor hy nog
by haar is, spring sy al vooruit, los van die bossies wat haar vasgehou
het:

—Jy is te laat!

—Bravo, Paula! Jy sal nie bang wees vir die bosse van die verre lande
nie. Miskien kom jy nog eendag daar. Jy is van dieselfde ras as jou
broers.

—Ek! sê sy, en die vlam in haar oë verdof, ek sal op Maupas bly tot ek
sterf.

Deur die bome klim hulle weer teen die skuinste uit. Die windjie speel
deur die bome, wat al half beroof is van hul somertooi. Die blare wat hul
nog dra, is van ’n rooiagtige goudkleur, net soos die dik tapyt daarvan
wat alreeds op die grond lê. Dit word aand en die hele bos is gedompel
in ’n violetkleurige newel wat daar iets geheimsinnigs en plegtigs aan
meedeel. In die vensters van ’n plaashuis vlam die rooi gloed van die
ondergaande son.

By ’n omgekapte boom bly Marcel en Paula staan, en gaan daarop sit.

Onder hulle sien hul die voetpad wat hul uitgeklim het; die dooie blare
wat daarop lê, neem ’n rose en pers kleur aan. ’n Skotskar met hooi,
deur twee osse getrek, kom verby hulle. Teen die gloed van die westerlug
vertoon die asem, uit die osse se neusgate, hom elke keer soos ’n
ligtende wolkie. Dis of die aarde vreedsaam en met lang asemhaling die
groot winterslaap ingaan, treurig en beroof van al sy groen weilande en
blaretooi.

Marcel neem die hand van sy suster. Net soos sy sy handdruk voel, bars
sy in trane uit. Alvorens die uur van afskeidneem het hul al te veel
gevoelens in hul harte opgehoop. Hy dink aan die swakheid van Alida, en
Paula dink aan hom. ’n Oomblik bly hy stil, uit eerbied vir Paula haar
trane, hy laat die vrye loop daaraan, dan sê hy:

—Luister, jy moet ma mooi oppas: ek sal miskien baie lank wegbly.

Sy het ’n onrustige voorgevoel van ’n nuwe ongeluk wat dreig. Meteens
oorwen sy haarself.

—Jy kom mos aanstaande jaar terug van Algiers, nie waar nie?

Hy sien haar liefderyk aan:

—Ek weet nie, sus; ek behoor by die kommando wat dwarsdeur die
Saharawoestyn gaan.

—O, sê sy, dit het ek wel gedink. Jy verg te veel van ons moed, Marcel.
Ma is al baie oud en gedaan. Die swaar druk vir haar net so erg as vir
ons. Jy moet haar spaar.

Hy kyk na die vreedsame veld en kry ’n gedagte dat dit wel soet moet wees
om hier te bly by sy ma en sy suster. Maar dis ’n verbygaande begeerte,
en hy hervat:

—Maar jy, ons goeie sus, is mos hier. Ek moet baie vèr gaan . . . . . en
ek moet vergeet. Moet nog nie vir ma vertel nie. Ek vertel vir jou alles.
Ma sal maar alte gou ook hoor.

Sy vra eenvoudig:

—Sal die kommando lank wegbly?

—Met sekerheid kan niks gesê word nie—waarskynlik agtien maande.

Sy probeer haar smart te verberg, maar sy beswyk:

—Jy weet nie hoe lief ma en ek jou het nie. Ag! as dit tog maar moontlik
was om daardie een wat nie gedurf het nie, aan jou te bind; sy sou jou
ten minste hier gehou het, wat ons nie kan doen nie.

Hy omarm haar en kus haar. Seker van haar vriendskap en manhaftigheid,
wag hy tot die bui van wanhoop verby is. Maar Alida haar naam noem hy
nie. Nooit sou die naam weer oor sy lippe kom nie. Hy verwaardig hom
slegs om geringagtend van sy liefde te sê:

—Moenie daarvan praat nie, sus; die huwelik sou my minder gemaak het.
Ongelukkige vroue wat die lewenswerk van hul mans belemmer! Die liefde is
in ons dae nie meer sterk genoeg om skeiding en smarte te kan verdra, of
’n offer te bring nie. Dis jammer, want my pad lê deur die groot wêreld.

—Jy vergeet, sê sy, dat daar vroue is soos dié van ons broer Etienne.

Hy gee haar ’n kus en sê:

—Ja, en ek vergeet een soos jy is ook. Jy sal die hart sterk maak van hom
wat jou sal liefhê.

Sy trek haar fier op:

—Nie vir my nie!

Haar woorde dui ’n inwendige terugstoting aan, wat hy begryp.

Te jonk het die teenhede van die lewe haar oorval op ’n leeftyd as alles
nog sonnig en vrolik wil wees; en sedert die dood van haar vader het
sy te veel lae ondank en kwetsende neerbuiendheid ondervind—sy en haar
moeder. Haar kragte is daardeur gehard, maar ’n verbitterde trots het
sy ook daarvan oorgehou. Sy verwag niks meer van die toekoms nie; sy
probeer om haarself te vergeet, soos almal haar vergeet. Met haar liefde
as suster en dogter, stel sy haar tevrede. Fier in haar waardigheid
en minagting van die wêreld, wil sy die verborge roeringe wat in haar
vurige hart ontkiem, nie deurgrond nie. Hy weet dat sy net soos hy is, in
haarself geslote en nie graag haarself beklaende nie. Hy probeer haar af
te lei en sy groot liefde vir haar lê in sy woorde:

—Moenie ongerus wees nie, Paula: ééndag sal jy gelukkig word. Dis ek wat
jou dit vertel. Jy verdien dit.

Maar sy lei die gesprek op iets anders en vra hom omtrent sy kommando.

—Ek het baie moeilikheid gehad, Paula, antwoord hy. Eindelik het ek dit
so ver gekry dat Jan Berlier ook meegaan.

—So, so, meneer Berlier!

—Ja, en hy kom terug as kaptein, met ’n ereteken op sy bors. Bowenal
sal hy gestaald terugkom. Die woestyn, soos die see, maak hart en hoof
ruimer. ’n Mens dink daar nie aan „flirtery” nie. Maar hoekom noem jy hom
nou meneer en nie Jan soos eers nie?

Sy antwoord nie. Hy kyk haar aan en staan op:

—Laat ons binne-toe gaan, dit word al donker; ons moet ma nie meer alleen
laat nie.

Mevrou Kibert sit voor die deur en wag al vir hulle. Sy brei ’n paar
kouse vir die dogtertjie van die boervrou. Elke keer kyk sy die laning
op, deur haar bril; sy sien Marcel en Paula aankom, en glimlag. Terwyl
hul die treedjies opstap, haal sy gou haar bril af om haar oë af te vee.

—Eindelik terug, sê sy.

Marcel kus haar.

—Ons het te lank versuim in die bos. Maar hier is ons nou. Dit word alte
koud vir ma om nog buite te bly.

Hulle gaan binne-toe, Marcel maak die deur toe. Hy gaan naas sy ma sit op
’n laer stoeltjie, leun teen haar aan en neem haar hand. Hy kyk na die
arme gekerfde werkhand, met vormlose vingers, sonder ringe, sprekende
van ’n werksame lewe en van ouderdom. Mevrou Kibert weet waar Marcel aan
dink, en sy sê:

—Ja, ek het my trouring moet afhaal: dit het my seergemaak. ’n Tydlank
het ek die ring van jou vader gedra, maar die goud was al so dun geslyt,
dat dit eendag gebreek het, soos glas.

En sy voeg daarby asof sy net vir haarself praat:

—Dis maar niks. Wat ons _voel_, is tog maar alles—en dit kan selfs die
dood nie breek nie.

Marcel soek met sy oë aan die muur ’n ou portret van sy ma wat hy
goed ken. Sy staan daarop as jongmeisie, slank en skoon, met iets
teruggetrokkens in haar houding, en met ’n blom in haar mooi, lang
vingers.

Hy buig hom oor die verlepte ou hand, wat hy vashou, en druk daar ’n soen
op. Hy dink daaraan hoe sy moeg en terneergeslae teruggeloop het van
Chenée, na die ongunstige antwoord wat sy daar gekry het, en hy onthou
ook die onvriendelike woorde wat hy haar gesê het:

—Ma, ek is somtyds haastig gewees met my woorde.

Sy trek haar hand saggies uit syne en streel sy wang. En op haar gelaat
lê die helder dog droewige glimlag wat spreek van ’n siel deur lye
gereinig.

—Stil! sê sy, bewoë. Ek verbied jou om jouself te berispe. Elke dag dank
ek die Heer vir die kinders wat Hy my gegee het.

Hulle is nou spraakloos. Die stilte omsluit hulle. Snel gaan die minute
verby, onverbiddelik. Hul is alreeds geskei voor die afskeid nog daar is.
Maar alles opsy skuiwende, geniet hul, tot martelens toe, hul bedreigde
samesyn. Daar is niks wat siele so aanmekaarbind as gemeenskaplike
sorge en smarte nie. Wanneer sal hul ooit weer so bymekaar wees in
die goudkleurige najaar, die geel blare deur die venster sigbaar in
hul sterwende skoonheid? Van die drie wat hier bymekaar is, het twee
’n voorgevoel dat so ’n samesyn nooit weer sou kom nie. Mevrou Kibert
probeer tevergeefs om, soos altyd, sterk te bly by die afskeid. Marcel
se hart is swaar: hy dink aan die eensame woestyne van Afrika van waar
menigeen nie weer terugkom nie.

Die bediende kom sê dat die rytuig ingespan is. Dis al nag as hul vertrek.

Hulle ry deur Chamberie. Onder ’n veranda in die straat sien Paula mevrou
Delourens en haar dogter staan. Sy sien hoe Alida doodsbleek word; maar
as sy haar broer aankyk, dan is sy verbaas om te sien dat hy heeltemal
onverskillig is, hoewel sy voel dat hy hulle ook gesien het.

By die stasie moet hul nog wag en bly bymekaar in die wagkamer. Mevrou
Kibert haar oë is net op haar seun, wat gaan vertrek. Sy sê meteens:

—Van al die kinders lyk jy die meeste na jou pa.

—Sy geloof in die lewe het ek nie, sê Marcel. Hom het ek nooit ontmoedig
gesien nie. By teenspoed het hy laggend sy hoof opgehef en gesê „So lank
’n mens nog nie dood is nie, is daar niks verlore.”

—Vandat hy dood is, sê die ou vrou, is my krag weg.

—Hy leef nog in U, ma. Vir ons is hy nog hier.

—In julle ook. Vir my wag hy.

Marcel kus haar.

—Nee, ma, ons het ma nog nodig.

’n Spoorwegbeampte kom aan die deur en waarsku hulle. Hul gaan op die
stoep en sien die twee lanterns van die naderende trein soos oë wat hul
aanstaar. Hul moet afskeid neem van mekaar. Nog nooit het mevrou Kibert
so bedroef gevoel nie. Sy omarm haar Marcel, en hy glimlag om haar moed
te gee. Haar laaste woord is ’n seën-wens, ’n gebed:

—Dat God jou beskerm!

Krom gebuie na die aarde, wat haar aantrek, so bereik sy, aan Paula haar
arm, die rytuig.

—Moenie ongerus wees nie, ma, sê Paula. Net ’n jaar bly hy weg. Die
vorige keer het U beter uitgehou.

Maar sy het ’n geheime voorgevoel wat haar martel. Swyend ry hul terug
na Maupas. Daar word die ou vrou nog ’n keer oorval deur ’n vreeslike
aandoening van droefheid:

—O, ek is bang ek sal hom nooit weer sien nie.

Paula verbaas haar oor die wonderlike voorgevoel van gevaar, wat haar ma
alleen het.

—Ek weet nie waarom ek so voel nie, sê die ou vrou. Ek voel net so
bedroef, as die jaar toe jou pa gesterwe het.

Met grote selfbeheersing bedwing sy haar, om haar dogter ontwil. Sy neem
die hand van haar laaste kind, met die sagte bevalligheid wat sy nog uit
haar jong jare oorhou; en terwyl sy dink aan al die skeidinge, sommige
vir lange tyd en sommige vir altyd, sê sy:

—My liewe kind, jy is nou die laaste blommetjie wat oorbly in my verlate
tuin.




_DEEL II._




I.

DERTIEN AAN TAFEL.


—Ons sou miskien aan tafel kan gaan.

Meneer Delourens waag om dit te sê, met ’n bangerige stem.

Onder die geselskap van sy vrou haar oog maak hy dadelik dat hy wegkom
van die vuur, waar ’n paar groot eikeblokke vlam, en hy neem die vlug na
’n alleenstaande stoel ver daarvandaan. Laggend toon mevrou Delourens dan
aan haar gaste ’n almanak wat in groot syfers die datum dra: 25 Februarie.

Mejuffrou Sonjon, verdroog en verouderd, kom nader—’n mens sou sê dat
die verbygaande tyd haar besonder veel belang inboesem. Maar ál waar sy
aan dink, is om ’n plekkie te verower naby die vuur. Sy kom net van Rome
terug: in die winter skenk sy net haar aandag aan die gestigte van die
suide—waar dit warm is. Om op laasgenoemde liefdadigheidstog te kan gaan,
het sy skielik die vee moet laat verkoop van ’n boer wat agterstallig was
met sy betaling. Sy maak haar groot voete warm en kyk na die almanak.

—Maar dis 25 Februarie 1898! sê sy, en dis vandag 25 Februarie 1901—dis
net drie jaar te laat.

Al die vrouens, behalwe Alida, kom kyk of dit so is; die almanak gaan
van hand tot hand. Mevrou Orlandi hou Pistache op haar hart gedruk—’n
verouderde Pistache, vet, half kaal en lelik, met half geslote ooglede
oor sy tranerige oë; verwonderd en trots dat sy dit agtergekom het, roep
sy uit:

—A, ek verstaan! U het die datum van u dogter haar huwelik op die almanak
bewaar. Dis vandag net drie jaar gelede. Hoe vindingryk en teer is tog ’n
moeder haar liefde! Dis nou net soos ek is, mevrou, ek onthou ook altyd
sulke dae.

—Ek wil gerus wed, ma, sê Isabella—wat nou mevrou Landeau geword het—dat
U al vergeet het wanneer ek getroud is.

—Nee maar dié Isabella! sy het tog altyd iets snaaks om te sê.

En, met alles behalwe fyne behendigheid, buig sy haar hoof oor haar
mopshondjie, met ’n vloed van soet woordjies.

Mevrou Delourens—siende dat almal aan gesels is—werp ’n haastige blik op
die klok, wat al kwart-voor-agt aanwys, en die afspraak was dat hul om
sewenuur sou aansit.

—My gravinnetjie, het jy jou broer Clement nie vanmiddag gesien nie? vra
sy aan haar dogter, wat afgetrokke en stil is.

—Nee, ma, antwoord Alida, fluisterend.

Vier of vyf maande na Marcel se vertrek was Alida—wanhopend, oorwonne,
onderdanig, volgens die wyse raad van haar moeder—getroud met graaf
Marthenay, wat toe luitenant was in Chamberie. Vir die derde maal
word nou die verjaardag van haar „geluk” gevier. Haar bevallige
jongmeisie-slapheid en slankheid was oorgegaan in neergedruktheid en
maerheid. Haar helder oë, haar neergetrokke mondhoeke, getuig van
’n ingewortelde en diepe droefgeestigheid. Die suiwerheid van haar
gelaatstrekke was nie verlore gegaan nie, maar deurdat haar wangbene
meer uitsteek, haar neus vermaer en haar wange kleurloos is, het die
vroeëre uitdrukking van jeug en onskuld plaas gemaak vir ’n aansien van
pynlike gelatenheid en swakheid. Op haar gelaat dra sy die tekens van ’n
marteling wat elke oomblik van haar lewe aan haar kou, en wat so seker
deur haar man nooit opgemerk word nie. Om daarvan oortuig te wees, is dit
genoeg om ’n oog op hom te slaan, soos hy daar agter haar staan, met sy
opgeblase en puisterige gesig, die gedagtelose gesig van ’n vroegtydig
afgeleefde man.

Mevrou Delourens kyk by die venster uit. Sy laat die gordyn weer val
en kyk dan weer haar gaste besluiteloos aan. Almal is so aan gesels
met mekaar, dat sy dink nog maar ’n bietjie te kan wag. En nie sonder
bitterheid nie dink sy by haarself:

—Mevrou Orlandi, wat anders altyd te laat kom, is nou tog betyds.

Om die vuur luister al die vrouens na mejuffrou Sonjon, wat met
geloofsywer vertel van die katakombe van Rome. Mevrou Orlandi—openlik
haar gebrek aan morele gevoel openbarende, en onhandig om vergelykinge
te maak—sê dat sy meer hou van die bouvalle van Pompeii, omdat daar
sulke vermaaklike muurskilderye te sien is. Mevrou Lavernay en mevrou
Ambelard—ouerige en plegstatige verskyninge—het niks te sê nie. Mevrou
Delourens hou hulle aan om hulle adel, en praat altyd van hulle afkoms.
Hulle is goed om die geselskap vol te maak, en meet die lewe af na die
aantal uitnodiginge wat hul kry.

Hul mans is tafelskuimers van die eerste water en het iets
ouderwets-deftigs oor hulle, vol vooroordele waarmee hulle maklik deur
die wêreld rol, totaal onbekend met die moderne gedagtewêreld, maar met
’n ingewortelde plesierlus. Baron Ambelard, hoogrooi van kleur, hou van
lekker eet; en graaf Lavernay, jonk ondanks sy wit kop, skenk al sy
neerbuiende aandag aan die mooi dames. Hy kom net van die hofsittinge, en
vertel aan die klompie mense om hom heen wat hy as jurielid ondervind
het.

—Julle veroordeel ’n dief, maar ’n kindermoordenaarster laat jul vry, sê
meneer Delourens; en, bang dat hy te veel gesê het, voeg die mannetjie
daar haastig aan toe:

—Let wel, ek kritiseer u glad nie.

Meneer Lavernay lag sonder terughouding.

—My waarde heer, as ons kindermoordenaarsters sou veroordeel, dan sou ons
geen diensmeisies meer kan kry nie.

—Hoe bespotlik ook, sê meneer Ambelard, om kinders te hê! ’n Mens se
beurs moet eers geraadpleeg word. Wat sê u daar nou van, meneer Landeau?

Meneer Landeau beken dat hy daar geen gedagte oor het nie. Hy is
miljoenêr en voer ’n verskriklike stryd in die besigheidswêreld om
’n reën van goud oor sy vrou te kan uitstort, om sodoende—soos ’n
allesoortreffende tjek—haar trotse hart te win. Sy speel met hom soos ’n
dieretemmer maak met ’n brullende leeu wat dreig en sy rug hoog maak.
Onder voorwendsel van kinderpligte teenoor haar onverskillige ma, het sy
geweier om met hom mee te gaan na Lyon; tweemaal in die week kom hy haar
’n besoek bring in die pragtige „villa” wat hy vir haar laat bou het.
Sy lei hom in in die geselskappe, sy skouers is krom gebuig onder die
las van sy besigheid, en sy gelaatskleur is soos lood. En daar, in die
geselskappe—onderworpe en brommend—bewonder hy die bedwelmende skoonheid
van Isabella, in haar element; en sonder vreugde hoor hy haar harde lag
aan—die lag wat haar glansende wit tande laat sien.

Meneer Ambelard hou sy hand voor sy mond, want hy gaap van ongeduld, hy
verlang na die eetmaal.

Marthenay het totnogtoe stilgebly, maar word ook nou oproerig:

—Dis Clement se skuld: hy het seker ’n ongeluk gehad met sy motorkar.

Die wysers van die horlosie staan al op agtuur.

—Hy het nog nooit ’n ongeluk gehad nie, sê meneer Delourens—wat net na
rustigheid verlang.

Marthenay is nou sonder medelye:

—Hy self nog nooit nie—daar is hy te slim voor. Maar daar is genoeg wat
onder sy kar verongeluk: hoenders, honde—en die ander dag ’n ou vrou ook.

—Ons het daarvoor betaal, en selfs baie duur, sê mevrou Delourens
verontwaardig.

—Nou loop sy kreupel vir u geld.

Ruiterlik, en sonder bybedoeling, lê meneer Marthenay uit hoe die arm
mense baiemaal die motorkarre oor hulle laat ry om geldelike vergoeding
te kry.

Almal is eenstemmig in die verdediging van die modesport, behalwe juffrou
Sonjon, wat teen vooruitgang is. Daar kom die jong Clement eindelik
binne, uitgelate vrolik.

Sy ma beknor hom. Hy maak geen ekskuus nie en sê laggend:

—Ons het so lank versuim in die dorp. Die motorkar het uit orde geraak—’n
mooi grap!

Meneer Ambelard is kwaad, hy sê by homself: ’n Mooi grap! Ons so laat wag
vir die ete! Die jonkman praat gemaklik!

Die here gee elk ’n arm aan ’n dame, en almal gaan na die eetsaal.
Clement gaan ander klere aantrek. Hy kom terug as die soepborde al
weggeneem is. Maar met gebiedende stem vra hy sy soep, en maak glad nie
gou om klaar te kom en die ander gaste nie te laat wag nie.

Die verskillende geregte volg mekaar op. Almal is weer opgewek en gesels
deurmekaar. Clement het sy aptyt bevredig en brand nou van verlange om
ook deel te neem aan die gesprekke en die aandag op hom te trek. Hy wag
tot daar ’n oomblik stilte is, en basuin dan uit oor die tafel:

—Ek het groot nuus te vertel.

—Wat, wat? word van al kante gevra.

Maar hy het daar plesier in om hulle te laat wag, en strooi allerhande
praatjies tussenin.

—Maar praat dan, sê verskillende ongeduldige stemme tegelyk.

Alle oë is op hom gerig. Maar hy wil nog ’n oomblik geniet van die
opmerksaamheid wat sy nuus hom skenk. Terwyl daar nog ’n lekkerbek-gereg
voorgedien word, sê mevrou Delourens nou uit naam van almal:

—Vertel nou!

Clement kan hul nou nie meer om die tuin lei nie. Hy het hul ten minste
lank genoeg laat wag om sy lompheid te kan insien, maar op sy gewone
growwe manier sê hy meteens:

—Nou wel! kommandant Kibert is dood.

Dit lyk byna ongepas om sulke nuus somaarso in die middel van ’n fees
te gooi wat amper volmaak weelderig is—met die gloed, die ligte,
die pragtige blomme en skitterende juwele, die ryke damesrokke en
die opgewektheid van die geselskap. Dit moet wel ’n ongemanierde,
sportbedorwe vent soos Clement wees om soiets te waag.

As die dood genoem word, dan beteken dit dat die plesier van die aand
nie sal stand hou nie. En om plesier te hê op die oomblik moet ’n mens
hom kan voorstel dat die plesier sal aanhou. Was dit nou nog maar iemand
onbekend, wat somaar verbygegaan kon word! Maar dit is onmoontlik in die
geval van kommandant Kibert: die bekendheid met sy famielie, sy persoon,
en sy skitterende loopbaan hou die geselskap onvermydelik besig. Almal
voel half verslae.

Isabella Orlandi is die eerste wat praat, en dis om twyfel uit te druk:

—Watter praatjies! Verlede jaar kon ’n mens soiets nog geglo het. Hy was
toe met sy kommando in Afrika; deur onbekende en gevaarvolle landstreke.
Maar hy is fris en gesond, en daarby beroemd teruggekom. Hy is nog maar
twee-en-dertig jaar, en nou al kommandant, en met hoë eretekens. Hy is
ons groot man. Julle is almal jaloers op hom—daarom wil jul op hom sit.

Sy praat op ’n opgewonde manier, skuif heen en weer op haar stoel, en
kyk van links na regs, asof sy wil hê dat almal moet sien hoe kwaad sy
is. Toe Clement sy nuus vertel het, het haar oog vanself op Alida geval,
en sy het gesien hoe die bloed weggegaan het uit Alida haar gelaat, asof
haar lewe haar verlaat; en die dodelike bleekheid gaat ook oor op haar
hande, wat senueeagtig begin te bewe, en so wit is as die tafellaken.

Clement maak ’n beweging met sy hand:

—Wat jul nou ook al sê, hy is dood. Ek bewonder hom, net soos julle, maar
dood is hy.

—O, vaderland! Hou jou mond! sê mevrou Orlandi—sy het meteens met skrik
gesien dat hul dertien aan tafel is, en tel nog ’n keer, hopende dat sy
fout gemaak het.

Plegtig klink die woord van mejuffrou Sonjon:

—Dat die Heer sy siel bewaar!

—Het hy in ons land gesterwe? vra meneer Delourens. Want die kommando is
al sedert ’n paar maande terug.

Meneer Ambelard is onverskillig en eet ’n happie op wat hy vir die laaste
op sy bord bewaar het. En meneer Laverney se oë rus op die mooi hals van
Isabella.

Meneer Marthenay sit sy glas neer, wat hy elke keer leeg drink, en sê:

—Skaars drie weke gelede het ek kommandant Kibert nog gesien. Hy het toe
by die stasie uit die trein gestap. Ek het na hom toe gegaan, maar dit
het gelyk of hy my nie meer ken nie.

—Waarskynlik het hy daar niks omgegee om jou te ontmoet nie, sê Isabella.
Sy kan dit nie laat nie: sy het ’n afkeer van Alida haar man; hy hou aan
om hom aan te stel as haar vryer, sodra hy nie meer sy tyd verknoei met
kaartspeel nie. Om die afjak nog duideliker te maak, sê sy daarby:

—Ongetwyfeld voel hy minagting vir offisiere wat hul betrekking bedank
het.

Marthenay het naamlik die jaar vantevore uit die militêre diens getree.

—Ja, so is dit, sê Clement, wreed. En nou die aandag weer op hom gevestig
is, gee hy ’n paar besonderhede:

—Swaer Marthenay is reg: Kommandant Kibert het verlede maand teruggekom.
Hy was twee dae by sy moeder en suster op Maupas en het toe weer vertrek
na die troepemag in die binnelande van Algiers.

—Ja, sê Marthenay, maar vandag het generaal Servières by die plek
verbygetrek, en hy rapporteer dat die vyand die troepemag daar aangeval
het.

Clement sit sy oogglasie op en kyk die gewese luitenant brutaal aan:

—Ou swaer, is dit jy? Stel jy waarlik eenkeer belang in militêre sake?

Ná nog ’n kyk na die doodsbleek gelaat van Alida, sê Isabella:

—Maar ek verstaan daar niks van nie. Hy was skaars terug van die tog oor
die Saharawoestyn, wat ag-en-twintig maande of twee jare geduur het. Ná
sulke togte kry hul gewoonlik baie lank verlof. Hy het dus glad geen rus
geneem nie en het dadelik weer na die front gegaan? Want as hy dood is,
dan het hy in ’n geveg geval.

Alida neem ’n bos blomme in haar hand en ruik daaraan, om haar bleek
gesig vir die gaste te verberg.

Isabella laat eindelik die vry teuel aan die onrus wat haar nou kwel:

—En kaptein Berlier? Hy is ook terug van die Sahara. Hy het by dieselfde
kommando behoor as kommandant Kibert. Is hy ook weer met hom meegegaan na
die binnelande?

Het Clement Delourens aan die geluid van haar stem gehoor dat sy ongerus
is? Alte dikwels al het hy moet krimp onder die spot van die jong vrou,
wat niemand spaar nie; nou het hy daar ook plesier in om haar ’n bietjie
te martel:

—Maar seker, Jan Berlier moet ook daar gewees het.

—Vertel nou eindelik, wat weet jy seker? sê Isabella, kwaadaardig.

Mevrou Delourens dring ook daarop aan. En Clement vertel:

—By die stadsraad van die dorp is berig gekom van die Minister dat
kommandant Kibert deur die vyand doodgeskiet is by die verdediging van ’n
stelling in die Sahara. Hulle het die veldwagter gestuur om die berig aan
sy moeder te bring.

Daar staan ’n groot kandelaber voor mevrou Delourens, sodat sy haar
dogter nie kan sien nie. Die blomme wat Alida in haar hand hou is swaar
van die trane wat sy daarin ween. By die algemene opwinding merk niemand
dat sy ween nie.

—Hoe het hy gesterwe? vra een van die dames.

—Aan die hoof van sy manskappe, nadat die oorwinning al behaal was—’n
koeël in sy voorhoof.

Seer korrek merk meneer Delourens op:

—Dis ’n groot verlies vir die land.

—Ja, sê sy vrou—meteens welsprekend geword—ons eer sy roemryke
nagedagtenis. Ons sal ’n lykdiens laat hou, so pragtig, dat die hele
dorp verbaas sal staan. Dit kom ons stand toe om aan ons vaderland te
laat sien hoe ware verdienste erken en vergoed moet word in ’n tyd dat
middelmatigheid so algemeen is in ons nasie, wat deur afguns tot die
laagste trap gesink het.

Dieselfde dag het sy die laasuitgesproke sinsnede net so gelees in die
koerant.

Alida is verbaas om sulke woorde te hoor uit die mond van haar moeder en
dink in haar droefheid:

—Waarom het sy dan geweier om my aan hom te gee?

En Isabella is stil, want sy dink aan Jan Berlier, omtrent wie nog niks
seker is nie.

Mevrou Orlandi vergeet Pistache ’n oomblik en vra:

—Weet sy moeder al?

Almal kyk Clement aan. Met ’n losse onverskilligheid, meer eie aan sy
leeftyd as aan sy ongevoeligheid, sê hy:

—Sy moet nou alles weet. Op pad na huis het ek haar verbygekom; in haar
ou rytuig was sy op weg na Maupas.

Iedereen voel iets eienaardigs by dié woorde.

Dit lyk of die koue buitelug meteens binnegekom het in die gerieflike
warm eetsaal. Instinkmatig staan meneer Ambelard op om te kyk of die
rame wel goed sluit. ’n Rilling loop deur die geselskap—hul sien in hul
verbeelding almal dieselfde. En wat hulle sien, is ’n ou vrou wat al baie
harde slae in haar lewe ontvang het, en nou oor die sneeu huis-toe gaan,
kalm en vreedsaam, om in haar huis die doodstyding te ontmoet.

Die onvermydelike ramp, wat nou op die oomblik miskien in hul nabyheid
plaasvind, is nog meer treffend as die verre en roemryke dood van
kommandant Kibert in Afrika.

’n Snik van Alida breek die doodse stilte. Met ’n met skrik bevange stem
fluister Isabella:

—Nou weet sy dit.

Die moeders in die geselskap steek hul trane nie weg nie. En mevrou
Delourens—gou om handelend op te tree—maak planne van roubeklag en
trooswoorde aan die arme vrou, wat sy gou wil besoek.

Clement siet al die lykstasiegesigte; en hy—wat hou van vrolikheid aan
tafel—siet nou dat hy ’n fout gemaak het.

Sy vader—aan ou vorme geheg—hef onwillekeurig die swaarmoedige stemming
’n bietjie op deur ’n bysaak te bespreek waaroor hy nog nie uitgepraat is
nie:

—In plaas van ’n veldwagter te stuur om die nuus oor te stuur, behoort
die burgemeester self na Maupas te gaan.

Meneer Ambelard trek party van die opening in die gesprek om die protes
te laat hoor wat hy al lank met moeite terughou:

—Al ons hartseer sal niks aan die saak verander nie, en ons mag gerus
oor iets minder treurigs gesels. Voor ek na die komedie gaan, vra ek ook
altyd eers of alles gelukkig afloop. In geselskap, soos in die komedie,
moet die treurigheid uitgegooi word.

Graaf Lavernay dink ook so, en so word die dooie begrawe. Die sjampanje
fonkel weer in die glase soos lewende goud. Die blomme geur oor die
tafel, bedek met mandjies gesuikerde vrugte. Die juwele van die vrouens
skitter in die lamplig. Nie sonder genoeë voel hulle hulle weer terug
in hul ou element van deftigheid en welgedaanheid wat versteur was deur
ontydige slegte nuus.

Maar Alida en Isabella voel apart in hul droefheid.

Die geselskap drink op die gesondheid van die jong egpaar Marthenay—want
daarvoor is hierdie fees. En dan gaan almal na die voorkamer.

Alida kon nie meer hou nie en sy vlug na die kamer van haar ma. In die
donker gee sy haarself oor aan haar smart. Sy het nog die moed gehad
om te glimlag toe ’n feesdronk op haar ingestel was en toe gepraat was
van haar „benydenswaardige geluk.” Haar geluk! Tevergeefs soek sy dit,
nou of in haar verlede; en hoe sou sy dit in die toekoms ooit vind? Met
die helderheid van gedagte, wat altyd kom by die sware skokke van die
noodlot, wat ons dreig te verpletter, deurleef sy weer, in haar wanhoop,
haar laaste lewensjare. Snel en helder kom die beelde verby, die een na
die ander—al haar droewige dae . . . .

Sy wou nie die vrou word van Marthenay nie, maar sy was magteloos
teenoor haarself. In haar trourok het sy die kerk ingestap aan die arm
van die man wat sy nie self gekies het nie. En daarna? Kan sy terugsien
op één uurtjie van geluk, die innige, suiwere geluk wat haar kinderlike
verbeelding haar voorgetower het? Die eerste tyd van haar huwelikslewe
het in ’n soort van weldadige verdowing op haar neergekom, soos ’n
mistigheid wat oor ’n verwoeste veld kom en die narigheid daarvan bedek.
Sy het vergeet om haar hart te ondervra. Haar man het die opgeruimdheid
gehad van iemand wat besig is: hy was nou en dan te perd uit, hy het sy
militêre pligte trou vervul, hy het vriende ontvang, hy het partytjies
gegee. Sy het haar laat aflei deur die nuwe huishoudelike sorge en deur
die menigvuldige pligte van wêreldse vertoning. By gebrek aan die man
van haar drome het sy ’n man wat groots is op sy fortuin, en sy gesig,
ja, om die waarheid te sê, sonder fyn maniere, sonder veel verstand of
geestigheid, maar met ’n gesonde maag en ’n verwaandheid waardeur hy in
onophoudelike selfbewondering verkeer. Toe haar dogtertjie gebore geword
het, het sy gedink eindelik haar geluk te vind en die werklikheid te
vergeet.

Van dié tyd, wat nog draaglik vir haar was, gaan haar gedagtes nou
oor op haar teenswoordige toestand, wat altyd duur. Deur onverwagte
gebeurtenisse moes die troepemag van Chamberie verplaas word na die
Verre Oos. Tevergeefs het Marthenay probeer om ’n plaasvervanger te
kry: hy moes saamgaan, of sy betrekking opgee. Die vooruitsig van sy
vertrek het mevrou Delourens so rasend ongelukkig gemaak, dat sy jong
vrou—onversigtig genoeg—hom herinner het aan sy belofte voor hul huwelik.
En as ereman het die luitenant hom opgeoffer: binne vier-en-twintig uur
het hy sy bedanking ingestuur. Met welbehae het hy hom oorgegee aan sy
begeerte na ’n lui-lekker lewe, wat nie moontlik was tydens sy militêre
loopbaan nie. En van dié oomblik af het hy laer en laer geval. Hy het
begin met al die drinkplekke te besoek. Hy het ’n getroue besoeker van
die klub in die stad geword. Hy het begin dobbel en het gewen. Terwyl sy
vroutjie langsaam herstellende was, na haar bevalling, het hy onterende
en berugte omgang aangeknoop met ander vrouens. Alida het eendag die lae
verraad agtergekom. Haar regskapenheid het ná haar huwelik dieselfde
gebly. Sy het eers geleer dat daar soiets as ontrou was deur die
wrede ondervinding van ontrou self. Sy het daarteen opgekom. Maar in
plaas van die skuldbekentenis en berou wat sy verwag het, en wat haar
vergewensgesind sou gemaak het, moes sy die volgende vernederende woorde
hoor:

—Jy wou gehad het dat ek moet bedank—wel, ek _het_ bedank. Gee net
jouself die skuld as ek probeer om, op my manier, afleiding te soek ná
die verlies van my betrekking. ’n Man moet iets te doen hê. Ek het my
lewensdoel vir jou opgeoffer. Wat het jy my daarvoor gegee?

Die verwyte het haar laat verstom. Sy het haar toe apart gehou en
opgesluit in stille smart; hoewel ongetroos, kom die houding ooreen met
haar onderdanige natuur.

Verlies by die dobbelspel het verbitterend gewerk op Marthenay. Hy
het toe begin drink. Onder haar oë het hy probeer om haar vriendin
Isabella te verlei; en, moedeloos, het sy die afjak wat hy gekry
het, met onverskilligheid aangesien. So moes sy stap vir stap die
agteruitgang sien, waarvan sy miskien nog die oorsaak was. Sy kon daar
nie onverskillig by bly nie, en het tog nie in staat gevoel om ’n redding
te probeer wat sy reeds voor onmoontlik aangesien het nie.

Noudat Alida haar hele miserabele bestaan so weer opgehaal het, versadig
van verdriet, verbaas dit haar dat sy daar so deur ly. Dis haar gewoonte
om met haar gedagtes alleen te wees. Sy het al gewend geword aan die
troosteloosheid daarvan. En kyk, nou het hul bitterheid vir haar nog ’n
nuwe smart. Ander droefgeestige gedagtes kom in haar herinnering op,
as om haar daarop te wys hoeveel skuld sy self gehad het aan haar lot.
Sy dink terug aan die dag toe Paula Kibert, daar in die eikebos, haar
hart laat klop het met ’n ongekende verlange. Sy sien weer die rooi
sonsondergang deur die bome, en sy voel weer die hemelse ontroering in
haar boesem. Sy sien hoe Marcel sy lang gestalte na haar oorbuig en van
liefde praat. En nou . . . . . nou sien sy hom daar lê, in ’n verre
land, in die warm son, met ’n gat in sy voorhoof, bleek en aaklig, met
’n verwytende blik op haar. O die oë vol pyn! hoe goed weet sy nog hoe
hul lyk! So het hy haar aangekyk toe sy met haar misdadige swye hul geluk
verwoes het. En in die donker kamer probeer sy verniet om haar gesig toe
te maak en sy oë nie meer te sien nie.

Verward en bewend, rig sy smeekbede en woorde van liefde aan die dooie:

—Marcel, vergewe my. Moenie vir my so aankyk nie! Ek het nie geweet nie.
Ek was nog maar ’n kind. Dis my verontskuldiging. Ja, ek was lafhartig;
ek was bang om stryd te voer vir jou, om my swakheid te verdedig. Ek was
bang om te wag, om lief te hê, om moeilikheid te ly, om te lewe. Maar God
het my gestraf! O, hoe wreed is die straf! Moenie meer vir my so kyk nie;
maak toe jou oë en vergewe my! . . . .

Sy skrik vir die klank van haar eie stem en druk haar hand op haar bors.
Sy voel benoud soos op die dag toe haar kindjie gebore geword het. Uit
haar verskeurde hart verrys eindelik die beeld, die kennis van die ware
lewe, in al sy krag en grootheid. En met haar hele bevryde siel het sy
Marcel lief, soos hy haar liefgehad het—in sy sieleadel, in sy trots.
Dis deur haar dat hy—soekende om sy smart te vergeet—deur die woestyn
gegaan het en daar sy roemryke dood gevind het. En miskien het hy nog
aan haar gedink toe hy geval het. Ja, haar grootste begeerte is nou om
te weet dat sy laaste gedagte oor haar was, al sou hy ook met minagting
aan haar gedink het. Sy vergelyk haar teenswoordige bestaan met dié wat
sy versmaad het; en dit spyt haar dat sy nie liewer die weduwee is van ’n
held nie as om ’n minderwaardige lewe te deel met ’n man wat geen liefde
kan opwek of voel nie . . . .

Die deur van die kamer gaan oop, en mevrou Delourens—ongerus dat haar
dogter so lank wegbly, roep in die donker:

—Alida, is jy daar?

—Ja, wat wil u hê?

Verbaas oor so ’n onverwagte afjak, gaan mevrou Delourens weg en kom met
lig terug. Sy vind haar dogter beweegloos en bleek, en sien aan haar
afgedroogde wange dat sy trane gestort het. Sy gaan by haar sit en haar
omarm. Maar Alida stoot haar weg. En die hart wat net moederlik alleen
is, kry ’n steek.

—My liewe kind, jy het verdriet! Wat is dit dan? Ek is tog jou moeder.
Wat makeer jy vanaand?

Ondanks haar lus om baas te speel—wat deur die teenstribbeling nog
aangewakker word—begryp sy dat sy haar kind nou nie moet opdruk nie. Sy
liefkoos en vlei haar—maar alles verniet, want as sy weer vra:

—Wat makeer jy dan vanaand? dan antwoord Alida, met ’n ferme stem, wat
haar ma heeltemal nie van haar gewend is nie:

—Niks nie!

Die moeder wik en weeg twee vrae wat op haar tong brand. Eindelik—nadat
sy begryp het dat die dood van kommandant Kibert wel iets met die trane
te doen het, en terwyl sy nie durf om die geheim aan te roer wat sy soos
iets niksbeduidends behandel het nie—vra sy:

—Is dit oor jou man?

—Ja, fluister Alida, weer teruggeval in haar swakheid.

Altwee stel hulle tevrede met die leuen, wat hul die pyn spaar om die
onvermydelike verwyt van die verlede te hoor. Hulle dink oor Marcel
Kibert en hulle praat oor Marthenay.

Alida kla oor haar treurige bestaan:

—Dit was verkeerd van ons om hom te vra om sy betrekking te bedank.

—Hoe seer maak jy my, my kind! Sou jy my dan wil verlaat het?

—Is dit beter dat my man my verlaat?

—Ek sou gesterf het, sê mevrou Delourens opgewonde. Jy sal tog nooit
begryp hoe lief ek jou het, en hoe graag ek jou gelukkig wil maak nie!

En sy meen heeltemal wat sy sê.

Mislei deur die droewige klag van haar dogter, vind sy weer haar sekere
stelling terug, wat versteur was deur die gedagte aan die gesneuwelde
held. Afgaande op die ondervinding van haar eie huwelikslewe, kan sy
die teleurstelling van Alida haar bestaan glad nie voel nie. Is dit
dan nie die lot van die meeste vrouens nie? En het haar dogter dan nie
nog as troos, wat aan so baie ander ontbreek, ’n toevlug aan die warme
moederhart nie?

En in haar gedagte sien Alida ’n ander moeder, wat op hierdie selfde
oomblik die bittere lydensbeker leeg drink—’n arme ou vrou, by wie sy
graag sou wil wees, en waar sy sou gewees het as sy haar bestemming
gevolg het. Soos swakkelinge wat in opstand kom, gaan sy die maat te
buite, tot sy onregverdig word ten opsigte van haar eie moeder.

Hulle kyk mekaar aan. Eindelik begryp mevrou Delourens haar dogter,
en voel ’n diepe smart. Daar is meteens ’n diepe kloof ontstaan
tussen haar en haar dogter. Altwee voel die wrede openbaring. Hul
verskillende geaardheid—die een heerssugtig en heeltemal oorgegee aan
wêreldse vooroordele: die ander tengerig, gedwee en oorheers deur haar
teerheid—die verskil val hul meteens kragtig op.

As hul ’n oomblik daarna bedaard en gearmd in die voorkamer kom, dan het
niemand ’n gedagte aan die treurspel wat ’n skeiding tussen hulle gemaak
het nie.

Isabella is daar, sy lei die gesprek op luide toon, parmantig, geestig,
en laat haar wit tande sien. Van tyd tot tyd kyk sy almal met haat en
minagting aan—haar man, haar nalopers, Marthenay, Lavernay, en veral
Clement Delourens—omdat hul haar nie kan sê of Jan Berlier nog leef nie.

Sy sien dat Alida gehuil het, en beny haar die opregtheid van haar smart.

As die oomblik van vertrek daar is, en Alida met haar na die kleedkamer
gaan om haar te help met haar jas, maak sy van die geleentheid gebruik om
haar arms om Alida haar hals te slaan en haar eindelik oor te gee aan die
ontroering wat sy al die heel aand onderdruk het. En sy laat die volgende
woorde hoor—wat Alida dadelik begryp:

—My arme Alida! Hoe lafhartig is ons twee tog gewees! Ag! hoekom kan
ons vanaand nie openlik ons dooie beween nie. Ons lewe het aan hulle
toebehoor, en ons het geweier om hulle dit te gee. Laat ons ons ellendige
bestaan beween; alles kon vir ons helder gewees het!

—Ja, sê Alida. Selfs die dooie te beween, is nou nog te verkies bo ons
teenwoordige bestemming . . . .




II.

DIE BOODSKAP VAN DIE VELDWAGTER.


—Ek sal teen skemerdonker terug wees, het mevrou Kibert gesê aan haar
dogter toe sy die middag weggery het met die rytuig. Sy het na Chamberie
gegaan om famieliesake te reël in verband met die behoud van Maupas, wat
nou moontlik sal wees omdat haar kinders in Asië—Etienne en Frans—en ook
Marcel, deur sy werk in Afrika, so veel sukses gehad het.

Die son is al onder, en Paula gaan op stoep om te hoor of die rytuig nog
nie aankom nie. Maar alles is stil. Dis skerp koud; sy gaan haar tjalie
haal, en wag.

Die landskap is met sneeu bedek, en die aandlig kleur dit met ’n rose
tint—soos ’n blos van maagdelike skroomvalligheid. Die wingerd-ranke en
heinings dra ’n fyn kantwerk van ryp, skitterend in die laaste sonstrale.
Die bosse is kaal en bêre geen geheime meer nie, en die fyn takkies bo
staan swart geteken teen die suiwere winterlug.

Paula bewonder die towerspel van die winter. Sy beef van die kou. Net
soos sy die deur instap, vlie daar ’n kraai in die verte en laat sy
krassende stem hoor—sy vlerke soos ’n swart vlek teen die bleekblou lug.

—Ongeluksvoël! sê Paula, maar sonder gedagte aan ’n slegte voorteken: dis
mos nou die tyd vir kraaie. Omdat daar geen kos meer op die velde te kry
is nie, soek hul dit in die nabyheid van die huise.

Sy sit nog twee stukke hout op die kaggelvuur in die voorkamer en sit ’n
ketel water daarop. Dan gaan sy ’n glas haal, die suikerpot, ’n lepel en
’n paar suurlemoene, en sit alles op ’n tafeltjie by die vuur, terwyl sy
in stilte dink:

—Ma sal koud wees as sy tuiskom. Dis helder weer en koud, en ’n mens
bevries amper in die ope rytuig. Die warm vuurtjie en ’n glasie pons sal
haar goed doen—arme ma!

Sy neem ’n boek en probeer om te lees, maar dit wil nie vlot nie. Die
horlosie slaat sesuur. Ongerus gryp sy weer die tjalie van die stoel en
gaan weer op stoep staan.

Dis nou al nag. Die sterre staan bewerig aan die klare hemelruim—net of
hul koud kry. Hoewel die maan nog nie op is nie, is die gesigseinder
darem nie donker nie. Dit lyk of ’n onbestemde lig van onder opgaan, en
of die wit besneeude aarde die hemelruimte verlig.

Onder in die laagte sien Paula die liggies van Chamberie skitter. Sy boor
met haar oë tussen die eikestamme deur waar die rytuig langs moet kom,
of sy die beweënde lanterns nog nie gewaar nie. Die minste geluidjie wat
die windjie aandra, hoor sy. Nou word sy bedroë deur die tiktak van ’n
windmeul. Dan skrik sy meteens op as sy ’n krysende geskreeu hoor, soos
’n noodroep. Maar die skrik gaan weer weg, want sy het die fluit herken
van ’n naburige fabriek. Lank bly sy so staan, leunende op die tralie
oplettend en onrustig.

Marie, die ou vrou wat hulle deur goeie en kwaaie dae gedien het kom haar
soek en beknor haar:

—Maar is dit nou nie dwaas nie, juffrou, om in so ’n koue buite te bly
nie! Kom nou binne; u sal mevrou tog nie gouer laat kom nie.

Paula gehoorsaam sonder antwoord te gee. Sy gaan in die voorkamer om die
vuur op te stook. Haar gewone moed het haar verlaat. Haar hart klop hard
in haar bors. Sy probeer om haarself gerus te stel—maar dit gaan nie.

—Die ou perd draf maar stadig, sê sy. Die notarisse hou ’n mens altyd
langer besig as jy gedink het.

Sy hou nou op om te probeer die ongerustheid te oorwin, wat elke minuut
groter word. Selfs in die gebed vind sy geen kalmering. Daar hoor sy die
voordeur oopgaan.

—Het ma gekom? vra sy, opspringend, aan ou Marie wat by die deur verbykom.

—Nee, juffrou, dis ’n man wat vra of hy die ou mevrou kan spreek.

En?

—Hy sê hy is die veldwagter en word gestuur deur die burgemeester.

—Die veldwagter? En wat wil hy hê?

Sy word nog meer ongerus en sê dat hy binnegelaat moet word. Maar sy
bedwing haar en ontvang die boodskapper van die burgemeester skynbaar met
die grootste kalmte.

Stug swyend en onverskillig, soos mense wat heeldag besig is met een
soort harde werk, voel die man tog dat hy ’n belangrike sending te
volbring het, nou hy so voor Paula staan. Op pad het hy daar nooit aan
gedink nie.

Paula sê aan hom:

—My moeder is uit. Maar kan ek die boodskap aanneem?

Hy praat nie, hy voel ongemaklik, en sy swye vermeerder Paula se
innerlike angs. Dan stamel hy:

—Juffrou, ek moet . . . . ek moet u vertel . . . .

Die lamplig val op sy gesig, sy sien die verleentheid en beteuterdheid
daarop en gee haar oor aan haar donkerste voorgevoelens. Haastig pratend
skud sy die man nou wakker uit sy verdowing:

—Maar praat, praat dan tog! Het daar ’n ongeluk gebeur? My
moeder . . . . . op die pad . . . .

Sy kan nie verder nie.

—Nee, sê die man. Ek het mevrou nie ontmoet nie.

Dan bly hy weer stil.

—Maar waarvoor het jy dan gekom? As jy iets te sê het, sê dit dan, en
maak gou!

Regop en fier, neem sy die toon van gesag aan, wat sy somtyds laat
geld—net soos Marcel. Dié houding bring die boodskapper heeltemal van sy
stukke af. Met stomheid geslae, haal hy die telegram uit sy sak en gee
dit met sy groot, bewende hand aan die meisie, dan wil hy weggaan. Paula
het die rooi papiertjie in haar hand. Voor sy dit nog oopvou dink sy al
aan haar broer. In ’n sekonde is haar oog daarop. Ag! is al wat sy sê. Sy
verfrommel die papier in haar hand en word doodsbleek. Maar sy span al
haar kragte in en bly regop staan, en stort geen traan nie. Aan hierdie
man, wat sy vir ongevoelig aansien, wil sy haar swakheid nie toon nie.
Maar sy moet vashou aan die tafel. Dié beweging en haar bleekheid is al
wat verraai wat sy voel.

’n Verskriklike stilte lê op albei.

Eindelik sê sy sonder enige beweging:

—Dis goed. Gaan nou maar weg. Dankie.

As hy omdraai om uit te gaan dink sy nog aan die wet van landelike
gasvryheid en sê:

—Vra aan Marie om jou iets te drinke te gee.

Maar die man hardloop die kombuis deur en vlug asof ’n moordenaar agter
hom aan is . . . . . .

—God! Is dit waar? sug Paula, nou sy alleen is. Sy wankel na die
skoorsteenmantel, hou met twee hande daaraan vas om te bly staan, maar
sak neer op ’n stoel. Sy beef oor haar hele lyf. Sy stryk haar hand oor
haar oë, wat geen traan stort nie en verdwaald rondkyk, asof sy die
verskriklike toneel wil uitsluit wat haar voorstaan. Daar voor haar, op
die kamertapyt, sien sy haar broer lê, met ’n gat in sy voorhoof, waaruit
sy edel bloed, sy lewe, wegvloei. O die ernstige gelaat, droefgeestig
maar fier, _welbewus van sy lot_, soos sy dit altyd gesien het na die
weiering van Alida; en nou sien sy dit weer, maar die oë is nou onsiende,
roerloos, starend—skoon is die gelaat, en kalm in die dood!

Saggies roep sy: Marcel! Marcel! en verberg haar gesig in haar hande.
Maar daar kom geen trane om haar smart te verlig nie. Haar broer, vir
wie sy soveel verering gehad het, op wie sy so trots was, is dood,
dood! Tien-, twintigmaal herhaal sy die woord om al die vreeslikheid
daarvan te deurgrond. Dood, die held van die skone oorwinninge! Op
twee-en-dertigjarige leeftyd is die heldhaftige en selfopofferende jong
lewe afgesny. O, hoe min was hy aan die lewe geheg! Al lank het hy daar
met geringagting op neergesien; was die ontmoeting met ’n banghartige
meisie nie genoeg om hom alle lewenslus te ontroof nie? En onwillekeurig
roep Paula al die herinneringe terug wat vir haar voortekens was van sy
naderende dood: Dit was daardie glimlag vol vertroue wat sy die aand op
sy lippe gesien het toe hy haar sy hartsgeheim geopenbaar het. Dit was
dié onverskillige handbeweging wat hy gemaak het toe hul die sombere
waarskuwing van die uile gehoor het ná sy laaste onderhoud met Alida. Dit
was ook—toe hul die dag van sy vertrek daar op die boomstam in die bos
gesit het—die sagte, wonderlike afgetrokkenheid wat hy laat blyk het toe
hy gepraat het van sy toekoms. Jare al, van dié aand dat hy Alida die
laaste gesien het, dra hy die dood in hom om. Nooit het hy weer haar naam
genoem nie. Nooit het hy weer gesinspeel op sy liefde vir haar nie. Maar
hy het alle geloof in die lewe verloor . . . . . . En op die geliefde
gelaat, wat sy in haar verbeelding met innige deelneming aanskou, ontdek
Paula ’n diep-tevrede rustigheid, onversteurbaar, altyddurend. En meteens
gee sy ’n luide skree, val knielend neer en ween.

—Ja, dink sy, jy rus in vrede. Ons liefde was vir jou nie genoeg nie. En
ons het jou tog so liefgehad, Marcel. Jy het nooit geweet hoe lief ek jou
gehad het nie. Ek was nie in staat om jou dit te sê nie, maar mijn hart
was vol van jou. Waarom het die dood my nie weggeneem in plaas van jou
nie? Ek is _tog_ onnuttig!

Daar’s ’n ander onrus nog, waaraan sy maar liewer nie nou wil dink nie,
maar dit voleindig die verwarring van haar gees: Marcel het ’n maat by
hom gehad, in die slag . . . .

Meteens spring sy op:

—As ma nou kom!

Sy het haar vergeet. En terwyl sy God dank dat sy aan haar ma die
allerdroewigste nuus kan meedeel, ween sy nou, nie vir hom wat daar vir
altyd in slaap geval het op die veld van eer en oorwinning nie, maar vir
haar wat daar bedaard aangestap kom, terug uit die donker daarbuite,
sonder argwaan, na die rand van die afgrond. Sal hierdie laaste slag nie
genoeg wees om die ou, swaar-beproefde lewe heeltemal af te breek nie?
Tevergeefs soek Paula na ’n ligplekkie. Om haar heers ’n kerkhofrou.
Ag, al die sterfgevalle en skeidinge: haar suster Thérèse, dood op
twaalfjarige leeftyd; haar vader in sy volle krag afgeknak; haar suster
Margriet ’n sendelinge; Etienne en Frans in die kolonies. Sy is nog
net hier, heeltemal alleen, om haar ma te help om die alte sware kruis
te dra. Maar nou dit nie anders kan nie, sal sy dapper wees en die
wankelende ouderdom met haar krag ondersteun.

Sy droog haar trane af en was haar gesig.

—Ek sal haar nog nie nou, nog nie dadelik, vertel nie, sê sy. Sy moet tyd
hê om warm te word en te rus. Ek sal haar vanaand vertel dat Marcel siek
is. Verlede nag het sy niks geslaap nie. Vannag moet sy ten minste nog
slaap. Môre word haar hart verbrysel. By dag is dit gemakliker om pyn te
ly as in die nare, graf-donkere nag. Vanaand bly ek nog stil. . . . .

Sy spaar haar moeder die bittere lydensbeker. Uit die verre land, waar
sy siel nou in vrede rus, roep haar groot broer haar toe: Spaar haar
vanaand! Sy het tog al so swaar gely!

Daar hoor sy voetstappe. Haastig verberg sy die noodlottige telegram.

Marie, die ou bediende, kom binne:

—Daar is mevrou. Ek hoor die rytuig aankom.




III.

HAAR LAASTE KIND.


—Goeienaand, ma.

Mevrou Kibert kom binne, ’n bietjie vooroor gebuie, toegedraai in ’n
ou mantel waarvan die harebekleding verslete is. Die laaghangende kap
oor die lamp verhinder haar om die bleekheid van haar dogter op te merk
terwyl sy haar soen. Sy gaan na die vuur toe.

—O, hoe heerlik om tuis te kom! En ’n mens hou tog maar van so ’n ou tuis
waar ons die lewe geken het . . . . en die dood! Weet jy nog, Paula, hoe
bedroef ons was toe dit gelyk het of ons Maupas sou moet verlaat?

Sy verwarm haar verrimpelde hande by haar huislike vuurtjie. Paula nader
haar van agter en haal haar hoedjie af.

—Hou u mantel nog maar ’n bietjie om, ma; u het seker baie koud gehad.

Mevrou Kibert draai haar hoof om en kyk haar dogter aan. Sy glimlag haar
teen. En die glimlag, onder haar grys hare, op haar nog frisse wange, in
haar vertroulike, rein, blou oë, is lieflik, soos die najaarsrose wat nog
aanhou bloei, selfs in die sneeu.

—My liewe kind, as ek jou aankyk, dan maak dit my nog warmer as die
vuurtjie wat jy vir my aangemaak het.

Paula staan op haar knieë en vat die ketel aan:

—Ma gaan nou ’n lekker warm pons drink.

Haar ma sien nou meteens dat sy so wit is as was:

—Maar dis jy wat versorg moet word, my kind! Jy is heeltemal bleek en
siek, en jy sê my niks daarvan nie. En die ou vrou staan dadelik op van
haar stoel.

—Ag, dis niks nie, ma. Moenie ongerus wees nie. Ek het miskien kou gevat
buite op stoep. Ek sal na die ete dadelik gaan slaap.

En om die besorgdheid van die moeder tot bedaring te bring, het sy die
moed om daar nog laggend by te voeg:

—Ek verseker u, ma, dis glad niks nie.

Sy dink daaraan dat die hanglamp in die eetkamer haar gesig te veel sal
verlig—daarom sê sy:

—Laat ons hier eet, ma, voor die vuur: dis beter.

—Maar die tafel is binne al gedek.

—O, dis gou te verhelp, ma sal sien.

—Nou toe dan maar, my kind. Jy is self yskoud. En in die oop rytuig het
ek dit ook maar goed gevoel.

Paula het alles reggemaak, en hulle sit aan.

—Jy het niks geëet nie, my kind. Jy is siek. Toe, gaan slaap nou. Ek sal
jou bed vir jou verwarm en ’n bietjie tee vir jou maak. Nou sal ek _jou_
weer versorg.

—Nee, regtig, ma, ek het niks nodig nie. Marie sal my ’n kruik warm water
gee. En nou moet ma ook maar gaan slaap. Nag, ma. My liewe ou mampie!

Hartstogtelik omhels sy haar moeder en verdwyn dan in haar kamer. Sy
kan nie meer nie. Sy pluk haar klere van haar lyf af, maak met een
handbeweging haar lang hare los, blaas haar kers uit, en—toegerol in
haar kombers—gee sy haar heeltemal oor aan haar heftige droefheid, wat
sy te lank onderdruk het. Agtereenvolgens voel sy, daar in die donker,
wat neerslagtigheid is, opstand teen die noodlot, en, eindelik, grenslose
medelye met al wat mens is.

Sy beween haar broer, haar moeder, haarself. Na die kant van die muur
gedraai, begrawe in haar ellende, haar gesig in haar sakdoek, vergeet sy
die verbygaande tyd en hoor nie hoe haar ma ook na bed gaan nie.

Mevrou Kibert se kamer is naasaan. Sy maak saggies die tussendeur oop,
om haar dogter nie wakker te maak nie, en om in die nag te kan hoor as
sy iets nodig mog hê. Dan, soos elke aand voordat sy haar uitklee, kniel
sy voor haar bed, en bid. Soos elke aand, versamel sy in haar gebed haar
geliefde dode en lewende—oor die hele wêreld verstrooi—om hulle aan te
beveel in die beskerming van die Heer; en sy herdink in haar gebed veral
die onsekere bestemming van Paula en die gemartelde siel van Marcel.

Haar hardhorigheid en haar toewyding sonder haar heeltemal af van alles.
Maar nou sy in haar bed is, verbeel sy haar dat sy ’n snik gehoor het. Sy
luister, maar stel haar weer gerus.

—Paula slaap, dink sy. Sy was bleek vanaand. Die arme kind. God behoede
haar en make haar gelukkig! . . . . Ou Marie moet seker ook kou gevat
het. Haar oë was rooi, en haar hande het gebewe.

Meteens gaan sy orent sit. Nee, nou het sy dit alte goed gehoor: die
half-versmoorde snik kom van Paula haar bed. Sy skerp nou haar oor en
hoor dat Paula wanhopend ween.

Geweldig verskrik, klim sy uit haar bed. Sy voel somaar meteens dat daar
niks aan Paula haar gesondheid makeer nie. Sy dink ook nou daaraan hoe sy
die hele aand al ’n treurige stemming in die huis gevoel het. Die ongeluk
is haar vooruitgeloop na Maupas en is voor haar die huis ingegaan—’n
ongeluk waar almal van weet, net sy nie, en wat wèl erg moet wees omdat
dit voor haar weggesteek word. Sy het ’n voorgevoel van die sombere en
gehate teenwoordigheid van haar ou kennis, die dood: Wie het hy weer
geraak? Watter slagoffer het hy haar nou weer ontneem? . . . .

En terwyl sy tastende en blootsvoets in die donker aanstap, tel sy almal
wat afwesig is, Magriet, Etienne, Frans, Marcel . . . . ja, dis Marcel!

Sy voel die geopende deur, sy raak aan Paula haar bed, en oor Paula
gebuie, sê sy:

—Paula, sê my wat jy makeer!

Meer durf sy nie te sê nie.

Die meisie, meteens in haar smart verras, laat ’n skreeu hoor van angs en
jammer, wat haar hele geheim verraai:

—O my arme ma!

—Marcel—is dit nie so nie? sê mevrou Kibert asemloos. Daar’s slegte nuus
van Marcel.

—My ma, my ma! sug Paula.

—Is hy siek, baie siek?

—Ja, ma, hy is siek!

En Paula, half orent, slaan haar arms om die hals van haar ma.

Saggies, maar ferm, stoot haar ma haar weg:

—Hy is dood?!

—O! laat ons tog wag tot môre, ma; dan sal ons tyding kry. Wees sterk,
ma; ons weet nog nie.

—Jy het iets gekry, ’n brief of ’n telegram. Wys dit vir my. Ek wil dit
sien!

—Maar, ma, bedaar tog! smeek Paula, met ’n gebroke stem waar die hele
waarheid in lê.

—Hy is dood! hy is dood! herhaal mevrou Kibert.

Sittende op die rand van die bed, yskoud, voel sy haar hart opegaan en
alle lewensmoed daaruit wegstroom. Tevergeefs wend sy haar tot die Heer,
haar eerste toevlug in die ure van rou. Sonder trane, en verskrikliker as
wanneer sy sou gehuil het, kla sy met luide stem:

—Ag! hierdie keer is dit te veel! Ek kan nie. Nee, daarby kan ek my
nie neerlê nie. Altyd het ek my aan U wet onderwerp, my God! Met ’n
verbryselde hart het ek U naam nog geprys. Maar nou het ek nie meer krag
nie. Ek is ’n arme ou vrou, afgeleef en baie swak, en ek het al meer gely
as wat nodig was om my te beproef. Ek kan nie meer nie, ek kan nie meer
nie! Marcel, my Marcel!

—My ma! my ma! sê Paula weer, en druk haar vas in haar arms.

Sy voel die koue rillings loop oor die lyf van haar ma, wat onbeweeglik
bly in die donker, soos ’n boom in die nag deur die blits getref.
Meteens spring sy op, stryk ’n vuurhoutjie aan, en met haar arms om haar
weeklaende ou moeder, lei sy haar terug na haar kamer. Sy wil haar in
haar bed help. Maar mevrou Kibert—tot dusver volgsaam en gedwee—stribbel
nou teë:

—Nee, staande wil ek ly!

Paula kleed haar ma eers haastig aan voordat sy haarself aankleed.
Dan bring sy haar na die voorkamer, waar sy die byna dooie kole weer
aanblaas. Sy maak ’n groot vuur en sit weer ’n ketel water daarop. Stil
en terneergesla loop sy heen en weer in die kamer, in ’n wit kamerrok,
bleek onder haar lang swart hare, wat in oorvloed neerhang op haar
skouers—sy lyk soos ’n engel van smart en vertroosting.

Sy het haar ma by die vuur gesit, in ’n groot stoel, met ’n kombers oor
haar knieë.

Gewond in die heiligdom van haar moederlike bestaan, bly die ou vrou
verdoof en roerloos sit, sonder ’n lid te beweeg, sonder ’n traan, in ’n
toestand van terneergeslaendheid, erger as die wanhoop self. Sy kla nie
meer nie, sy bid nie meer nie, sy kyk net reguit sonder iets te sien, en
sy swyg. Deur die noodlot oorstelp, lyk sy nou onverskillig. Sy voel haar
gemartelde hart nie meer in haar bors nie. Sy laat haar meegaan met die
ontsaglike stroom van haar ongeluk, soos ’n drenkeling hom oorgee aan die
bodemlose oseaan.

Geduldig wag Paula af tot die trane die aaklige stilte kom verbreek, soos
’n watervloed meteens ’n dam deurbreek wat hom stuit. Maar haar ma bly
nog maar roerloos en stil. Sy wil haar iets laat drink. Sy gaan op haar
knieë staan, neem haar hande en roep haar aan:

—Ma, ma! praat van Marcel. Praat tog, ma!

Daar is geen antwoord nie. Nou begin sy bang te word. Dis of sy met die
dood alleen is. Buite haarself snik sy:

—Ma! is ek dan nie ma haar kind nie, ma haar laaste kind, haar Paula nie?

Dit lyk of mevrou Kibert uit ’n bedwelming ontwaak. Sy kyk na die gesig
vol verdriet wat haar so angstig aanstaar. ’n Lang rilling skud haar hele
lyf deurmekaar. Oorwin, strek sy haar arms uit na haar kind, en aan haar
bors geleun, ween sy. Dis nou sy wat, in haar swakheid, om hulp smeek.

Lank bly die twee so sit, mengende hul trane en hul ellende, en
ondervindende die soete smart van ’n gesamentlike lye in liefde.

As die moeder haar woorde weer kan vind, dan gebruik sy dit om die Heer
te dank:

—Paula, my hart, wat het ek netnou gesê? Nee, God is goed: Hy kan my nog
meer kasty. In my ellende skenk Hy my ’n engel tot hulp, en die engel
is jy. En ek weier om gebroke te wees! O my God, U wil is wreed, maar
geprese sy U naam!

Nou sy weer ’n bietjie moed het, vra sy om die noodlottige telegram te
sien. Herhaaldelik moet sy haar kragte bymekaarmaak om dit te kan lees,
en wenend sê sy aan Paula:

—Hy is geval soos ’n held . . . . Hy herleef nou in die bysyn van sy God.

—Ja, sê Paula, as oorwinnaar is hy gestorwe, in sy voorhoof getref.

Altwee bly stil. Altwee sien die skone voorhoof van Marcel, met bloed
bevlek, die hoë voorhoof wat so ’n fiere gees gebêre het.

Mevrou Kibert kry jammer vir Paula:

—Gaan slaap nou. Môre sal jy al jou kragte nodig hê om jou ou moeder by
te staan.

—Nee, ek laat ma nie alleen nie, sê Paula.

—Kom, laat ons dan same bid.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou
moeder. Paula is uitgeput en gaan sit naas haar. Maar mevrou Kibert hou
aan, ondersteun deur ’n bowemenslike krag; oor haar wange rol die trane,
wat sy nie meer afdroog nie. Sy smeek.

[Illustration: Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed
van die ou moeder.]

—Liewe Heer, neem aan die offer van ons droefheid en ellende. Toe U aan
die kruis gestorwe het, was U moeder ten minste by U. Maar ek was nie by
my seun nie. Skenk my moed om die beproewing te dra. Nie vir my nie, my
God, maar vir die taak wat ek nog te vervul het, vir my kinders, vir
hierdie een wat U nie gespaar het nie. Sy is nog baie jonk om soveel te
dra. Ek het al gewend geword aan pyn en ellende: maar sy—beskerm haar,
wees genadig . . . .

Sy keer haar om na Paula en sien dat sy met haar bleek gelaat agteroor lê
in die groot stoel. Ondanks haar moed is die jongmeisie in haar trane in
slaap geval, haar geswelde ooglede is nog vogtig.

Mevrou Kibert staan op, gaan naas haar sit, en medelydend neem sy die
hoof van Paula op haar skoot. Haar mooi swart hare val om haar gelaat
en verhoog nog die bleekheid daarvan. So lê die doodvermoeide kind aan
slaap, bewaak deur haar moeder.

Haar moeder kyk in haar gesig, op die onbeweeglike, jong gelaatstrekke.
En sy sien ook hoe haar seun lê, daar vèr op die woestynsand, ’n gat in
sy voorhoof; soos hy daar uitgestrek lê, groter nog as toe hy fier orent
in lewe rondgewandel het. Saggies spreek sy hom aan:

—O my kind! my liewe kind! nou weet jy wat die ewige rus en vrede is.
Jy is ’n goeie seun vir ons gewees en ’n dapper man. Niks as wat groot
is, het jou hart geroer nie. Jy kan ons sien, nie waar nie? Jy sien hoe
ons ween en hoe ons harte verbrysel is. Waak oor ons uit die Hemel, oor
Paula. Ek is reeds op pad na my graf, na jou, na jou vader. Die aarde
trek my aan. Ek voel dit, en jy roep my. Gou-gou sal ek vir altyd by jou
wees . . . . My God, wie sal my oë toedruk op my doodsbed as U my al my
kinders ontneem?

En met haar arms om Paula, druk sy haar vol liefde teen haar aan en begin
weer te bid, smekende aan die noodlot om tog haar laaste kind vir haar te
spaar . . . .

Die môreskemer verlig die treurende tweetal. Dit word dag—so ’n
wintermôre wat ’n koue lig-rilling oor die sneeu laat dwaal. Die ou vrou
bid nog aaneen. Uit God put sy haar onoorwinlike krag. As uitverkorene
van die smart, moet sy tot selfs die besinksel van die bittere
lydensbeker uitdrink.

Paula word wakker en sien hoe haar ma, bleek en yskoud, haar flou toelag.
Sy sê tevergeefs aan haar dat sy rus moet neem en moet eet.

Geboë, en meer dan tien jaar verouderd, gaan mevrou Kibert aan
haar skryftafeltjie sit en begin met vaste hand te skrywe aan haar
afwesige dogter en seuns, sodat almal kan deel in hul gemeenskaplike
beproewing . . . .




IV.

ROUBEKLAG.


Gedurende die dae wat volg, beskryf die koerante, tot in alle
besonderhede, die treurspel wat daar vér in die woestyn afgespeel is.
Aan die roemryke nagedagtenis van die heldhaftige kaptein Kibert word
alle eer bewys. Sy portret en lewensbeskrywing kom in die koerante. Sy
te korte loopbaan word deur alle harte betreur. In hul eensaamheid, op
Maupas, oorstelp van droefheid, ontvang die moeder en dogter in stille
gelatenheid die talryke betuiginge van simpatie, wat uit die hele land na
hulle toestroom, van die Regering, van die kommando-maats van Marcel, van
bekende en onbekende mense. Hulle steun mekaar, om hul verlies beter te
kan verstaan en te kan dra; en hul enigste troos vind hul in gebed en in
hul wedersydse liefde vir mekaar.

Meteens kom nou die deftige wêreld tot besluit om die voortou te vat in
die uiting van algemene simpatie—die deftige wêreld, wat eers die rug
toegekeer het aan die famielie Kibert in hul eerlike verlies van hul
fortuin.

Mevrou Delourens voel dat sy iets moet doen. Sy haal ou jongjuffrou
Sonjon oor—as honorêre presidente van die Rooi-Kruisvereniging—om voor
te gaan in die instelling van ’n lykdiens, wat met groot ophef sal
plaasvind in die groot kerk van Chamberie. Dis naamlik van belang om
die nagedagtenis van die roemryke dode in genadige beskerming te neem,
en om deur al die deftigheid uit te blink bo sy burgerlike afkoms. Die
outoriteite sal ook uitgenooi word om teenwoordig te wees; hulle sal aan
die diens iets vernaams meedeel—en hul afwesigheid sal die koerante van
die politieke teenpartye ’n stok in die hand gee! In elk geval sal dit
dus goed gaan.

Alles is nou mooi agtermekaar—alles en almal bymekaargesoek, die diens
bepaal, die uitnodiginge uitgestuur; mejuffrou Sonjon en mevrou Delourens
word offisiëel afgevaardig na Maupas om nou net nog die famielie Kibert
se toestemming tot die kerkdiens te vra. Mevrou Marthenay (Alida) gaan
saam met haar ma; sy wil haar roubeklag doen—wat sy innig diep voel!—aan
mevrou Kibert en aan Paula, en sy het nie gedurf om alleen te gaan nie.

Dis die eerste dae van Maartmaand. Die sneeu smelt op die somber,
modderige velde, op die verspoelde paaie. Onder laaghangende, swaar
wolke, omring van nakende, swart, verwaarloos uitsiende bome, lê die ou
buitehuis daar, droefgeestig en verlate.

—Ek sou my tog nie, jaar-in en jaar-uit, op so ’n plek lewendig wil
begrawe nie, sê mevrou Delourens aan mejuffrou Sonjon terwyl die rytuig
die verlate boomlaning opry.

—Die kerk is te vèr van hulle af, sê die ou jongjuffrou, met ’n vroom
gesig.

Die ou siel het nog nooit uitgevind, dat God oral is nie, en dat sy nie
die hele land hoef rond te reis—veral na die plekke waar sy dit lekker
het—om Hom te vind nie.

Ou Marie, die bediende, sien die deftige rytuig, en waag dit nie om
toegang te weier aan die hoë dames nie, alhoewel sy strenge orders het om
niemand toe te laat nie. So gou as haar ou bene haar kan dra, gaan sy sê
dat daar mense is. Mevrou Kibert is verdrietig daaroor en sê:

—Maar ek het jou tog gesê ek wil niemand sien nie. Sy draai na Paula: Ek
het nie die moed om mense te ontvang nie. Waarom kom mevrou Delourens ons
hinder? Ons het niks aan haar nie, wat wil sy hê?

—Ek weet tog nie ma, sê Paula; sy staan op, klaar om uit die kamer te
gaan.

—Help my om hulle te ontvang, Paula.

Mevrou Kibert kyk haar dogter aan, en sien hoe haar bleek gesig beef en
’n besliste trek aanneem, aantonende wat daar in haar omgaan.

—Paula, smeek sy, verlaat my nie; ek is bangerig en onhandig, dink
daaraan. As ’n mens kwaad gedoen het, is dit gouer vergeet as wanneer ’n
mens goed gedoen het. As sy met my oor die verlede praat, sal ek nie weet
wat om haar te antwoord nie. Bly by my, Paula.

Paula aarsel nie meer nie en gee ’n teken aan Marie om die mense binne te
laat, terwyl sy sê:

—Ek bly hier, ma.

Mejuffrou Sonjon is maar min gewend aan pligpleginge, en laat die woord
aan mevrou Delourens:

—Wat ’n wrede slag vir u! sê mevrou Delourens, terwyl sy nader kom na
mevrou Kibert—die ou vrou moet aan die skoorsteenmantel gryp om te kan
opstaan van haar stoel; dan groet mevrou Delourens ook vir Paula, terwyl
sy voel hoe die meisie haar met ’n ferme en vyandige blik aankyk. Sy wens
dat Paula uit die kamer is.

—Ja, antwoord Marcel se moeder, God beproef ons.

So gee sy dadelik ’n ernstige en godsdienstige wending aan die gesprek.
Mejuffrou Sonjon slaan haar oë op na die hemel, net of sy alleen die
vereiste outorisasie het om die goddelike tussenkoms in te roep:

—Hoe algemeen is tog die beklag wat u in u rou ontvang! sê mevrou
Delourens weer. Die eenstemmige betuiginge van bewondering vir die
heldhaftigheid van die kommandant, die algemene simpatie en rou . . . .
In ons dae van volksheerskappy word verdienste nie meer genoeg geëer nie.
Dikwels moet die dood eers die volle waarde daaraan toeken; en eers na ’n
onherstelbare verlies, betreur ’n mens dit bitter dat jy te laat van die
verdienste kennis geneem het.

Mevrou Kibert is bewoë sodra van haar kind gepraat word. Sy dink by
haarselwe: Nou wil sy ekskuus maak omdat sy Marcel afgestoot het;
eindelik sien sy haar fout in en het daar spyt van; maar mevrou Marthenay
moet nie saamgekom het nie: haar teenwoordigheid is pynlik vir ons.
Die ou vrou kyk mevrou Delourens aan, en die opheldering in haar
smart-verwoeste gelaat lyk soos ’n sonstraal in ’n blaarlose bos in die
winter. Maar Paula is nie so maklik te oorrompel nie, hoewel sy daar nie
aan kan twyfel of mevrou Delourens heeltemal sonder bygedagte so praat
nie.

Nà ’n oomblik stilte, begin mevrou Delourens nou met die doel van haar
besoek.

—U sal dit dus heeltemal natuurlik vind dat ons die begeerte voel om eer
te bewys aan so ’n waardevolle nagedagtenis. Die hele land neem deel in u
rou, maar veral die mense van aansien, tot wie u seun behoor het deur sy
famielie en sy verdienste.

Sy skep ’n slaggie asem, en nou sy voel dat sy mooi op stryk raak,
swaai sy haar oog snel oor haar toehoorders. Mejuffrou Sonjon staan
goedkeurende buiginkies te maak met haar lanklysige, uitgedroogde lyf.
Alida, in haarself gesluit, kyk na die bedroefde aangesigte van mevrou
Kibert en van Paula—haar ou skoolmaat. Sy voel so sleg, dat sy haar hand
op haar bors moet druk: die snikke wat sy inhou, verstik haar. Sy sou
haar hele hart uitstort voor die moeder en dogter, maar sy durf nie. Sy
probeer om saggies die hand te vat van Paula, wat naas haar sit. Maar
beslis trek Paula haar arm weg: sy het nog niks vergeet nie.

Die kragtige stem van mevrou Delourens weerklink weer deur die stille
voorkamer:

—Al die vernaamste dames van die Rooi-Kruis en van die hoogste kringe
het meteens ’n aansporing gevoel om te vra dat daar ’n plegtige lykdiens
gehou sal word in die groot kerk van Chamberie. Al die predikante uit
die omtrek het beloof om te kom. Die Regering sal goed verteenwoordig
word. Die diens sal so groot en pragtig wees, glo my, mevrou, dat dit die
nagedagtenis van die grote dode waardig sal wees.

Sonder ’n woord te praat, het mevrou Kibert haar aangehoor; sy antwoord
eenvoudig:

—Ek dank u, mevrou; en bedank asseblief ook vir my al die dames vir hul
goeie voornemens. Ons het, na ons eie beurs, ’n klein diens laat hou. Al
was dit koud en vèr, ons vriende het almal gekom. Die generaal van die
kommando was self ook daar, en ’n groot klomp offisiere. Baie dankie,
maar ons het nie behoefte aan nog meer publieke plegtighede nie.

—Ja, mevrou, ek begryp u goed. ’n Famielie hou nie daarvan dat
vreemdelinge indring by hul rou nie. Maar dis hier ’n besondere geval.
Die dood van kommandant Kibert is ’n publieke ramp. Die verlies van u
seun is ’n verlies vir die hele land. Sy lewe en sy dood is die land tot
eer. Dit moet u dus nie verwonder as ons hom groot dank betoon nie. Dit
spreek vanself dat die geldmiddele van ’n famielie maar beperk is. Maar
laat _ons_ dit in hande neem. Ontsê ons nie die plesier nie . . . .

Dadelik slaan sy die ongelukkige losgelate woord dood:

—Die droewige plesier wat ’n lykdiens-gebed ’n mens laat voel. Die
plegtigheid is ’n gebed vir ons. U, wat so ’n brawe kristin is—kan u
die gebede weier wat ons wil aanbied? Kan u dit oor u hart kry om ons
deelneming in u rou van die hand te wys?

—Die kerk stel belang in die plegtighede en oefeninge, sê mejuffrou
Sonjon—haar godsdiens is praalsugtig en aristokraties.

Alida het aan die muur ’n vergrote portret ontdek van Marcel; en vir niks
het sy nou nog oog nie as vir die fiere jonkman, wat sy so sonder moed
liefgehad het.

Onderwyl aarsel mevrou Kibert nie omtrent haar antwoord nie, maar
omtrent goeie en beleefde woorde tot inkleding van haar antwoord. Mevrou
Delourens kom haar hier ’n verbetering aanbied op haar eie beskeie
lykdiensie, wat so sonder praal of pronk of glans was, en nou aangevul
moet word deur ’n minder armsalige, deur ’n skitterender en wêreldse
vertoning. Dis die rykdom wat die armoede besoek en genadig onder
beskerming wil neem. So neem Paula dit op; sy kook inwendig en kyk haar
ma skerp aan met haar donker oë, waar lig in flikker—soos blitse in
die nag. Maar mevrou Kibert sien in die aanvraag niks meer nie as ’n
eerbiedige hulde aan haar kind; en hoewel sy so’n mededinging—wat sy as
onnuttig beskou—van die hand wil wys, probeer sy elke woordjie te vermy
wat die minste wrywing sou kan veroorsaak.

Paula vrees dat haar ma te beskroomd is, en het ’n halwe gedagte dat sy
besluiteloos is—dus waag sy dit om haar voor te spring:

—U plan het ons diep getref, mevrou, en ons stel dit na verdienste op
prys; dit spyt ons om so’n guns af te wys. Die nagedagtenis van my broer
is al behoorlik geëer. Ons verlang nie na meer publieke roubetuiginge nie
as ons reeds ontvang het. God meet Sy seëninge nie af na die maat van die
mooiste plegtighede nie.

Mevrou Delourens maak of sy volstrek geen waarde heg aan wat Paula te sê
het nie: sy draai na mevrou Kibert. Die ou vrou begryp die beweging en sê:

—Ja, mevrou, dis soos Paula sê.

Mejuffrou Sonjon stik amper, en slaan haar oë hemelwaarts, terwyl die
meesteres van Chenée—ongewoon om dwars getrek te word—die aanval hernuwe:

—Ek kan u weiering nie verklaar nie. Ons vra niks meer nie as om u ons
simpatie op die mees natuurlike manier te betoon. Al die dames, mejuffrou
Sonjon, gravin Lavernay, barones Ambelard, is dit eens met my. Ek
verteenwoordig hulle by u. Ons predikant sal ook sy bes doen.

Sy dink om indruk op die ou vrou te maak deur al die hoë adel op te noem.
Sy weet nie, en sy kan nie weet, tot wat ’n graad van onverskilligheid
die lewe mevrou Kibert gebring het ten opsigte van wêreldse sake en mense
nie.

Paula kry jammer vir haar ma in haar verleëntheid. Sy kap nou om daar ’n
end aan te maak.

—In Chamberie was dit bekendgemaak dat ons ’n lykdiens sou hou. Al ons
vriende het gekom, selfs van verre plekke; daar het selfs onbekende mense
gekom om ons te bekla. Maar dis my vertel dat u bank leeg was, mevrou; ek
wou dit nie glo nie.

Aan die set voeg sy nog toe:

—As my oudste broer, wat nou hoof van die famielie is, dink dat verdere
pligpleginge nog bepaald nodig is, dan sal hy ons dit wel laat weet. Ons
sal na sy begeerte handel. My moeder en hy is alleen bevoeg om hierin
iets te doen.

Mevrou Delourens sien nou dat alle moeite verniet is; sy staan op:

—Dit spyt my, mevrou, dat ons die misverstand nie kan wegneem nie. Ek het
soiets nie hier verwag nie. Maar ek sien dat u dogter groot invloed oor u
het.

—Ek is dit heeltemal eens met haar, sê die ou vrou, terwyl ook sy met
moeite opstaan.

Sy keur goed wat Paula gesê het, maar sy sou gewens het dat dit alles op
minder oorheersende toon gesê was. Sy vrees dat haar besoekers aanstoot
sal neem, en dit pynig haar, en ’n kleurtjie vlam op in haar bleek wange.
Terwyl sy die dames uitgeleide doen, merk mevrou Delourens die ligte
gloed op. Sy soek na wraak, en sy dink dit daarin te vind: met katterige
spotsug gee sy die ou vrou ’n steek:

Dag, mevrou. Maar kyk, u sien daar waarlik goed uit! Mooi so! Dit verbaas
ons en ons is daar bly om.

Die ou vrou haar oë skiet vol trane: sy is nog maar alte gevoelig vir
onregvêrdige beoordeling. Oud, krom en gebroke, soos sy daar is, moet
sy elkeen met medelye vervul, behalwe die teleurgestelde vrou van die
wêreld. Soetjies sê sy, terwyl die bloed weer uit haar wange wyk:

—Ek hoop die Heer sal my gesond hou! My taak is nog nie op ’n end nie.

Sy dink by dié woord aan Paula; haar onsekere toekoms maak die ou vrou
ongerus en laat haar nog vashou aan die lewe. Maar die voorkamerdeur is
agter hulle toegemaak. Sy volg die dames tot by hul rytuig, hul gaan sit,
maar sien dat Alida agtergebly het.

—Ek sal haar roep, sê mevrou Kibert, en sukkel die treedjies weer op.

Alida het alleen agtergebly by Paula en laat eindelik die vrye loop aan
haar verdriet:

—Paula, my liewe Paula, wil jy my toelaat om jou ’n soen te gee?
O, ek het ook so baie geween. Kan jy ooit weet? Ek is so bedroef
vandat . . . . . vandat hy nie meer leef nie. Ag, jy kan dit nie verstaan
nie!

Paula staan onbeweeglik, ongenaakbaar; met verwondering kyk sy die
elegante jonge vrou aan, met die rein en skoon gelaatstrekke, wat haar om
’n guns vra; en sy dink aan wat verby is:

—Wat sal dit help? sê sy.

En alhoewel sy sien dat Alida haar oë hol is en haar gelaat asvaal, sê sy
nog daarby, tussen haar tande:

—Is dit nie jou skuld, min of meer, dat ons vandag so ongelukkig is nie?

Hierdie swak, verliefde kind het geweier om met haar broer te trou, en
daaraan skryf sy dit toe dat hy so na die dood begin te verlang het;
nadat hy die laaste keer van Chenée teruggekom het, het sy dit baiemaal
opgemerk, in woorde wat hy hom so kalm laat ontval het oor die dood.
Sy, wat nou hier by haar staan te huil, het toe net nodig gehad om één
woordjie te praat om weer lewenslus op te wek in die vurig beminnende
hart van haar broer en daarby ook die vertroue wat selfs die gevaar in
bedwang hou. Dié woordjie het sy toe nie uitgespreek nie, hoewel sy hom
liefgehad het. Was sy onverskillig gewees vir sy liefde, dan sou sy nou
nie skuldig wees nie; maar haar lafhartigheid was sterker gewees as haar
liefde.

Alida staan nog maar te snik:

—Ag, ek is nog ongelukkiger as jy.

Dit lyk nou darem vir Paula of Alida haar droefheid regtig diepgevoeld
is. Bewoë sluit sy haar ou skoolmaat in haar arms; en—soos in die ou dae
by hul grappies—so meng die twee nou hul trane in verdriet.

—Ek het hom liefgehad, fluister Alida.

—Waarom wou jy dan nie toestem nie?

Sy ontboesem haar nou eindelik heeltemal, en so tussen haar snikke deur
sê sy:

—Jy, Paula, kan jou trane ’n vrye loop gee. Maar ek moet my vrolik hou
terwyl ek die dood in my hart dra . . . . My liewe Paula, mag God jou
behoed van ooit te moet dra wat ek nou te dra het! . . . . . En dis my
eie skuld, Paula . . . . Ag, dis waar, ek sou vandag liewer sy weduwee
wil wees as wat ek nou is.

So kom Paula dan te wete hoe haar vriendin doodgemartel word deur
innerlike smart. So op die oog sou jy gesê het dat Alida gelukkig was:
die gedoente van die groot wêreld laat hom skaars hoor tot by Maupas.
En kyk, nou sien sy meteens die onmiddellike en altyddurende straf wat
opgelê word aan dié wat bang is vir die lewe.

Alida leun op Paula haar skouer, net of sy smeek om hulp. Alhoewel sy
haar klere aanhet van pels, beef sy oor haar hele liggaam. Paula soen
haar, sy neem haar betraande gesig tussen haar hande:

—Alida, ek het tog so jammer vir jou. Maar jy moet moed hou; jy moet
vergeet. Dink aan jou kindjie. Maak van _haar_ ’n dapper vrou.

—Ek het hom liefgehad, herhaal sy nog ’n keer saggies.

Mevrou Kibert kom nou binne. Sy sien hoe die twee mekaar omhels; en sy
voel waarom hulle ween.

—U ma wag vir u, mevrou.

Sy soek na nog ’n woord en sê saggies:

—Dankie vir die besoek.

Dis ’n woord van vergifnis. Alida neem die ou vrou haar hand en soen dit.
Sy droog haar oë af, kyk nog vir die laaste keer na Marcel se portret en
loop haastig die kamer uit . . . .

Die rytuig gaan deur die blaarlose boomlaning en uit by die hek.

Mevrou Delourens was ongerus oor die lank wegbly van haar dogter; sy kyk
haar nou aan, met besorgdheid, met gehegtheid en jaloersheid. Sy vermy
sorgvuldig om haar te bekla oor die weiering van mevrou Kibert en oor die
houding van Paula. En terwyl die rytuig by die eikebos uitry, lê sy haar
hand op Alida haar arm en sê soetjies, terwyl mejuffrou Sonjon sit en
rondkyk:

—Nou sien jy hoe verstandig jou moeder was.

Die jong vrou kyk haar vraend aan. Sy vervolg:

—Natuurlik. Het ek jou toegelaat om met kommandant Kibert te trou, dan
was jy vandag weduwee.

Alida antwoord nie. Met skrik ontdek sy dat haar siel in baie opsigte nog
heeltemal onontgin is; en sy vra haarself of sy as weduwee nie minder
ongelukkig sou wees nie. Die smart wat die noodlot ons oplê, is dieper,
maar minder neerdrukkend as dié waaraan ons self skuld het, deur ons
swakheid, deur ons lafhartigheid vir die lewe. Die eerste soort breek ons
harte, maar reinig en versterk ons daarna. Die laaste soort verslyt ons
sonder enige voordeel na te laat, en laat ons langsamerhand laer en laer
buk onder slae wat niks veredelends meebring nie. Het sy die beste van
die twee gekies? . . . . Die heldhaftige dood te beween van ’n man wat sy
bo almal sou verkies—dit lyk vir haar nog ’n aangenamer lot as haar hele
lewe lank die veragtelikheid te moet beween van dié man wat altyd haar
lewensmaat bly . . . .




V.

JAN.


Die famielies wat in die verte deur die ongeluk getref word, wat sou hul
nie gee om deur iemand wat ooggetuie was van die bloedige offer, te hoor
vertel van hul liewe dode nie, van die besonderhede wat so kort en bondig
ontwyfelbare waarhede laat voel in verband met die treurige gebeurtenis,
al sou sulke besonderhede ook hul wonde weer oopmaak en hul trane weer
laat vloei. Ja, hul is gelukkig selfs in hul ellende, as hul maar die
noukeurige waarheid kan hoor, opdat die dood minder duister bly, en die
onsekerhede weggeneem word wat by dag ’n kwelling is vir hul gees en
snags verander in benoude drome . . .

Verskeie maande is al verloop na die veldslag in die Sahara. Van die twee
vrouens in rou op Maupas, het die één nog krommer geword en op haar bleek
gelaat het die glimlaggie vir altyd versterwe; die ander een het regop en
fier gebly, maar haar jeug versmadend, gee sy haar bitter en hopeloos oor
aan haar dae wat verbygaan. Omsluit deur eensaamheid en stilte, gaan hul
nie meer dorptoe nie, en stap geen deur meer in nie as van die armoedige
huisies waar altyd na hul uitgesien word.

Nietemin, as hul die stap van die brieweman hoor op die sand van die
agterplaas, dan gee hul harte nog ’n ruk. Die goeie ou man skep vreugde
in die belangryke rol wat hy speel, hy laat hul nie wag nie, op die
posseëls kykend roep hy hul al van vèr toe: „Hier is één van Parys . . .
van China . . . . van Algiers.”

—Dankie, Ravet; Marie is in die kombuis, laat sy vir jou iets te drinke
gee.

In die briewe lê nou die hele plesier wat die huis nog ken. Daar kom
nou meer as anders. Uit die verre lande wedywer die kinders van mevrou
Kibert met mekaar om haar droewige ou dag met hul liefde te verlig. Die
briewe uit Afrika is van Jan Berlier; hulle vertel net van Marcel en van
sy roemryke dood. In sy laaste brief skryf Jan dat hy teen die end van
Meimaand huis-toe kom. Dis nou Meimaand: alles is éne sonlig en blomme.
Met verlange kyk hul al uit op Maupas of daar nog nie iemand aankom
in die verlate boomlaning nie, waar die kastaiingbome trots hul wit
bloeiselpluime in die lug dra . . . .

Die jonkman wat stadig teen die bult opstap, onder die bome wat om die ou
huis groei, is nie meer die galante vryer van Isabella Orlandi nie. Hy
het darem nog altyd sy mooi skraal postuur en sy ligte dog vaste stap.
Maar sy gebruinde gelaat het iets manlikers, en dit lyk of sy oë elke
ding meer besonderlik raaksien. Sy sorglose jonkheid het oorgegaan in ’n
leeftyd van nadink en wilskrag.

Hy het die aand vantevore aangekom. Vroeg vanmôre het hy die rosevilla
van sy oom verlaat. Hy asem die lug in van sy ontwakende geboortegrond,
van die herlewende natuur. Die veld lyk nog kouerig, en is hier en daar
oordek met violet en purper dampe, soos ’n jongvrou wat langsaam haar
ooglede opslaat, haar uitrek, en haar sluierbedekking afskuiwe. So verras
Jan die ontwakende lente, die lewensvreugde wat met die daglig begin. Hy
bewonder die tere groen wat in Meimaand die velde en bome oorwaas, en hy
ruik die lug van die sagte jong blaartjies in die heinings. Hy soek na
die welbekende kerktorings teen die hang—die een byna in die groen bome
begrawe, die ander teen ’n bos van kastaiingbome, soos ’n grysaard wat
die koelte soek. Selfs die kranse van die berge het in die môrelig hul
dreiende aansien verloor. Onder die heldere lug glimlag die hele natuur,
en skyn vertroulik haar bevalligheid en betowering aan te bied, belofte
te gee van vrug en oes.

Jan draai hom om en sien in die verte, soos ’n plaat pêrelmoer en goud,
die meertjie lê, slapende nog in die môreson. Onder die strelende
sonstrale begin die water wellustig te rimpel. Die jonkman stap aan. Teen
die bult staan die villa Chenée, met oop rame in die môrewindjie. Hy dink
met plesier terug aan sy vyf-en-twintig-jarige leeftyd en aan Isabella
met haar mooi rooi lippe—net so klaar om te soen as om te babbel. Hy dink
terug en sê verwonderd:

—Amper vier jaar het ek hierdie plek, en vir haar, nie gesien nie. Dit
lyk my baie langer. Ek was toe maar ’n kalfie, wat met die lewe gespeel
het. Maar hy dink nie lank aan haar nie. In die eikebos hoor hy ’n meisie
sing wat die skape oppas: dis ’n ou liefdeliedjie:

    Bo-op die berg
      sing die voëltjies so.
    Ek neem my roer
      met my mee na bo.
    Vier wou ek skiet,
      maar weggevloë
    is almal nou,
      en geen één het ek, o!

Die stem klink so helder soos fonteinwater. In ’n draai van die pad
sien hy die skape, agter hulle die meisie, donker teen die lug, in die
omlysting van die bome wat oor die pad in mekaar groei. Dis ’n dogter van
vyftien of sestien jaar so gesond en fris as net ’n mooi boerenoointjie
kan wees. Sy sing weer verder:

    My liefie se hartjie
      het ek geraak.
    O, het ek my liefie
      nou seergemaak?

Sy stap verby Jan; hy glimlag.

—Dag, meneer Jan, sê sy, en buig met haar hoof.

—Ken jy my dan? vra hy, verbaas.

—Maar seker. Ek is die dogter van die boer op Maupas.

—Jeannette?

—Ja, om u te dien.

—Maar jy was so hoog soos my kapstewel, en nou is jy langer as die
koringhalme.

Daar is niks wat ons so laat voel hoe die tyd verbygaan nie as die
kinders wat groot word en wat ons maar min sien. Die meisie voel gevlei
en begin te lag, en haar vreugde werk aansteeklik. En terwyl sy verder
aanstap, sing sy weer die laaste versie:

    My liefie se hartjie
      het ek geraak.
    O, het ek my liefie
      nou seergemaak?

En tot by die jonkman, wat nog altyd onbeweeglik bly staan by die
eikebome, dra die windjie die laaste, flou-gehoorde woorde aan:

    ’n Bietjie maar net—
      maar dit maak my dood!
    O, soen my net éénkeer—
      en weg is die nood.

Hy slaan sy oë in die rondte op die vorme van die natuur, wat hom omring,
op die jong boomblare, op die golwende gras van die weilande, op die
jongmeisie, wat haar jeug dra soos die oorlopende wynbeker. Hy asem die
geure in van die veld en die môrelug van die bosse. En die lug van die ou
tuisplek maak hom weer vol lewenslus.

Nou dat hy ondervind het dat skone dae verbygaande is—nou wil hy daar
ten volle van geniet. Jongmense stel nie waarde op hul bestaan nie as
hul gedagteloos hulle plesier, ligsinnigheid en verstrooiing najaag,
en alles wat die tyd maar versnel en doodmaak gelyk. Dis lewensgevaar,
dis hartstog, dis liefdesmart of die aanblik van die dood, dis diepe
droefheid wat hulle meteens tot stilstand bring voor die ontmaskerde
gesig van die lewe—soos ’n mens aan die end van ’n tuinpad meteens ’n
koue grafsteen sien onder rose verberg—dié wat die nag nie ken nie, sal
hy met dieselfde gretigheid as ons die bedreigde prag van lig geniet en
die vorme wat weer in die donker verlore sal gaan?

Op die hoogtepunt van sy jonkheid aangeland, begryp Jan dit nou beter.
’n Ander, meer donkerblou hemel, ’n ander dor en kaal land het sy
gevoeligheid geskerp en volmaak gemaak. En veral het ander, droewiger
aandoeninge sy hart by herhaling getref, net soos die beitel van die
beeldhouer ’n klip tref en die onnodige stukke laat wegspat om ’n
beeld te laat ontstaan. ’n Gevoel van dankbaarheid laat hom die volle
en opwekkende gevoelens wat hierdie voorjaarsmôre hom gee, in verband
bring met die bloedige môre toe sy vriend geval het. So ’n doodval van
sy aanvoerder ná die oorwinning, so’n deurboorde voorhoof waarop die
verstand sy setel gehad het, so’n verkilde hart wat vol liefde was,
soveel werkkrag en moed, afgebreek soos ’n boom in bloei—kyk, dis dit wat
ons wys op die nietigheid van die mens en as teenstelling—die dag meer
lig gee! Daar, voor die bleek gesig van Marcel, uitgestrek op die grond,
skoon, ernstig en vreedsaam in sy onbeweeglikheid—’n skoonheid, so stil
tevrede, so kalm, dat hy dit nooit sal vergeet nie, so roerend in die
omgewing en in die omstandighede—daar het hy die lus gevoel om te lewe,
met sy hele hart en sonder vrees, en die behoefte om die ewige werk van
die dood teen te spreek.

Die ou hek van Maupas staan oop, soos altyd. Jan loop op in die
kastaiinglaning. Hy asem die geur van die bloeisels in. Hy weet dat daar
in ’n oomblik weer trane sal vloei, pynlik maar weldadig, en dat hy die
droewige verdienste sal hê van ou wonde weer oop te maak. Die gruis kraak
onder sy voete.

Mevrou Kibert sit op stoep te werk—met stram vingers—in die koel môrelug.
Sy staan op en kyk wie die besoeker is. Sy sien die jonkman.

—Jan, is dit jy? Ek het tog so na jou verlang!

Met die eerste oogopslag sien hy die spore van haar beproewing op haar.
Sy het krommer geword, en gryser. Maar met verwondering herken hy ook op
haar vermaerde gesig die vreedsame uitdrukking van vroeër.

—Mevrou, o, mevrou!

Haastig storm hy die treedjies op, en, net of dit natuurlik so kom, buig
hy oor haar en gee haar ’n soen.

Sy probeer vergeefs om nie te huil nie en fluister die naam van Marcel.

—Kom binne, sê sy. In die voorkamer kan ons beter van hom praat.

Sy loop sukkelend vooruit. Sy maak ’n deur oop en roep:

—Paula, hier is Jan Berlier.

—Ek het gisteraand gekom, sê die jonkman. En ek kom al vroeg vanmôre
omdat ek u graag gou wil sien.

—Dis baie goed van jou. Ek het wel geweet dat jy gou sou kom. Verskeie
dae al het ons oë die pad opgepas.

Paula kom binne en gee Jan haar hand. Haar mooi swart hare laat haar
mat-bleek gelaatskleur uitkom. Daar is geen vuur meer in haar donker oë
nie. Nog meer fier en regop as vantevore, dra sy trots haar verbryselde
hart. Alhoewel Jan heeltemal besig gehou word deur die treurige storie
wat hy vertel, verbaas dit hom om in die jong, ernstige gelaat en in
die stywe houding so’n lewensgeringagting te sien, Sy is verbaas om ’n
verandering in hom te ontdek: met die jare het hy ’n beslister en fermer
houding aangeneem—iets soos Marcel.

En in die klein voorkamer van die buitehuis—waar ’n sonstraal deur die
geslote luike kom—roep die getuie van sy dood die held weer op uit die
harde Afrikaanse grond waar hy rus, waar hy vir sy land geval het, en
bring hom terug in sy famieliekring. Jonk lyk hy, groot, skraal en
gespierd, sy hoof omhoog, gebiedend, begaaf met die meerderheid wat sy
verskyning laat voel, die aanvoerdersgees, die gewilde kalmte wat ’n
hoofman uitwys.

Op die piano sien Jan sy roos-omkranste portret.

Hy praat van hom soos hy dit sou verlang het: op eenvoudige en waardige
wyse. Hy het ’n mooi, waar manier van vertel. Sy woord verjaag alle
swakheid en wanhoop, hy bemoedig en vertroos en weet selfs die dood voor
te stel as voltrekking van ’n bestemming. Die twee vrouens het geween by
sy aankoms, maar aangenaam is sy verhaal nou vir hul harte.

Hy het sy maat nie sien val nie. Dit was net dagbreek toe die geweerskote
hom laat opspring het; hy het sy manskappe dadelik bymekaargeroep. Die
kommandant het, ’n entjie daarvandaan, die vyand dadelik aangeval. Die
sersant, wat by hom was, het my vertel hoe hy gesterwe het. Ek was op die
linkervleuel, hy in die middel. Hy het hulle uit hul posiesie geskiet
en toe agternagesit. Teen die rooi môrelug het ek sy swart skadubeeld
gesien. Die sersant het hom gewys op ’n duikie in die grond, waar miskien
nog van die vyand kon skuil. Hy gee ’n stap vooruit, voel meteens aan sy
voorhoof, bly nog ’n sekonde regop staan, en val toe met ’n slag teen die
grond.

Mevrou Kibert bêre haar gesig in haar hande, en daar is trane in Paula
haar oë, alhoewel sy probeer om haar te bedwing.

—Hy het nie meer geroer nie, sê die kaptein verder—hy het geen pyn te ly
gehad nie. Die dood het hom getref in die setel van sy gedagte: reg voor
sy voorhoof. En hy het aan sy vaderland gedink, en aan julle.

—En aan God, nie waar nie? fluister die arme moeder.

—Ja, aan God. Ek moes bevel voer in sy plek. Maar hy het die hele
oorwinning al behaal. Toe ek hom eindelik kon soek, het hulle hom ’n
entjie opsy gedra, onder ’n palmboom. Vergeefs het ek my oor hom heen
gebuig. Ons dokter het my droefgeestig aangekyk—hy het hom al ondersoek.
Ons samelewe het broers van ons gemaak. Ek het hom liefgehad soos
julle hom liefhet. En daar het ek hom beween soos julle, in jul naam.
En ek het gesien—dié droewige vreugde mog julle nie smaak nie—ek het
die kalme, stille vrede gesien wat hy in die dood gehad het. Dit het
hom ’n uitdrukking gegee van ewige skoonheid. As ek hom so sien in my
herinnering dan kry ek net gedagtes aan sieleadel en krag. Die aand
vantevore het hy nog met my meegegaan na my slaapplek. Dit was ’n heldere
sterrenag. Ons het baie oor die ou tuis gepraat. Hy het gepraat oor u en
oor Paula, hy het julle kort vantevore nog gesien. Hy het geen droewige
voorgevoel gehad nie, maar vir die dood het hy geen vrees gehad nie. In
sy baadjiesak het hy hierdie brief gehad, wat ek u gebring het—dit het sy
laaste hartslae gevoel.

Mevrou Kibert herken haar eie handskrif; sy kyk op—haar gelaat vol
moedersmart. As sy haar woorde kan kry, sê sy:

—En nou, nou rus hy in die vrede van God. Jan, sê my, waar is hy begrawe?

—Op die slagveld, mevrou, tussen twee ander offisiere van laere rang; aan
sy voete lê die gesneuwelde soldate.

Paula sê:

—Ons het inligtinge gevra omtrent wat daar gedaan moet word dat
hy oorgebring kan word na Chamberie. Hy sal hier rus in ons
famielie-grafkelder, by my vader, wat, net soos hy, op die veld van eer
neergeslae is, by my sustertjie Thérèse.

Jan kyk haar aan. Hy weet dat die famielie Kibert maar arm is.
Vertroostend, oortuiend, byna gebiedend wil hy hul die kosbare en
nuttelose plan afraai:

—Waarom hom terug te haal? Die plek waar hy lê, dra die naam van sy
oorwinning, daar het hy getriomfeer. Watter graf sou hom beter pas? Sou
hy ooit ’n beter monument kon verlang het?

—Hulle sal hom daar gou vergeet.

—Nee, Paula, dis tog nie so nie. Al die grafte het opskrifte en word goed
versorg. Op syne staan sy naam, sy rang en die drie oorwinninge wat sy
lewe kenmerk.

Paula kyk weg en dink na, en Jan se oë is op haar fyn sy-gesig. Nog altyd
trou aan haar broer, sê sy weer:

—Ons sou hom so graag digteby ons wil voel, om op die steen te kan kniel
wat hom bedek.

—Julle besit tog sy nagedagtenis, sy gedagte. Wat van Marcel oorbly, is
tog iets anders as sy stoflike oorskot.

—Ja, sê mevrou Kibert, dinkend aan sy onsterflike siel.

Die suster van Marcel dring nie verder aan nie. Maar Jan merk dat die
trane oor haar wange rol.

—Hy was ons trots en my lewe, snik sy; en met sagter stem laat sy daarop
volg: Hy het al lank ’n voorgevoel gehad van sy lot.

—Dit was die Heer Se wil, sê haar moeder. Ons ken Sy weë nie. Somtyds
lyk Hy vir ons so wreed, dat ons lus het om te murmureer. Nogtans is Sy
goedheid grensloos.

Jan is bewoë. Hy neem in sy hand die bewende, gekerfde ou hand, en, vol
eerbied, soos Marcel ook eendag gedaan het, druk hy daar ’n soen op. Hy
staan op en, die twee vroue aansiende, spreek hy met ernstige stem nog
hierdie laaste lofrede uit op die dode—miskien sal dit nog iets uitwerk
op Paula, wat nog die minste getroos en die mismoedigste is:

—Ja, sy kort loopbaan was kompleet. Deur sy wil, sy moed, het hy dit tot
’n blywende voorbeeld gemaak. Moet ons hom nie liewer beny in plaas van
hom te bekla nie? Sonder vrees het hy die dood tegemoet getree. Weet ons
waar of wanneer die dood ons afwag? Hy kan ons elke oomblik ontmoet. Dit
alleen is van belang: sonder vrees en sonder ophou steeds al ons kragte
in te span tot bereiking van ons bestemming. Ons moet die dode eer, dog
ook vertroue behou in die lewe.

Met haar donker oë, wat weer opvlam, kyk Paula die jonkman aan; hy
gee haar nuwe moed. Is hy dan nie meer die ligsinnige, jong offisier
wat gekheid maak met flirterige meisies nie? As sy terugdink, dan
vind sy dat sy hom altyd behandel het met ’n soort van geringagtende
verdraagsaamheid, miskien was dit ’n vae gevoel van ongeopenbaarde
hartseer. Syself, in haar trots, het gedink dat sy baie sterk was; nou
voel sy dat, as sy die respek van haarself en dié van Jan wil verdien, sy
sonder swakkerigheid die bitterheid en opstandigheid uit haar hart moet
ruk wat vir hulle daar opgehoop het soos dooie blare in ’n bos in die
winter.

—Gaan jy nou al weg? vra mevrou Kibert, half verdrietig.

Jan wil haar troos, deur met haar te praat oor al die bande wat haar nog
aan die lewe bind. Hy doen navraag na haar ander kinders: Magriet, wat
sendelinge is, en haar seuns in Asië.

—Hoeveel kinders het Etienne al?

—Die derde word verwag. Ek ken nog geeneen van hulle nie, maar o, ek
het hul lief, as die laaste blydskap wat God my nog skink. Hul name is
Mouritz en Francina, na my man en na my genoem. Dié wat kom, sal Marcel
genoem word.

—En as dit ’n dogtertjie is?

—Dan Marcella. Kyk, hier is die portret van die twee oudste.

—Is hulle nie fraai nie? sê Paula.

—Ja, die meisie lyk na jou, sy het jou swart oë.

—O, sy sal baie mooier wees.

—Dit glo ek nie, sê die jonkman, terwyl hy die portret aan mevrou Kibert
teruggee; en met die mooi glimlag, wat sy gesig so jonk laat lyk, sê hy
nog daarby:

—Is dié dan nie mooi genoeg nie? Jy is moeilik tevrede te stel.

Onwillekeurig kry Paula ’n kleur, nuwe lewe vlam op in haar bleek gelaat
en gee haar ’n ander aansien—so maak ’n sonstraal met ’n diamant. In haar
wanhoop het sy reeds alle besef van haar skoonheid uit die oog verloor,
en met vreugde vind sy dat sy dit nou weer besit.

Jan is bly om te sien dat die twee hul smart ’n oomblik vergeet, so hou
hy aan met vra omtrent die seuns, en waar hul eintlik woon.

—Ag, sê mevrou Kibert, ek kan al die vreemde name nie onthou nie; Paula
kan dit beter doen as ek.

En Paula vertel hoe haar broers daar aangaan. Dit gaan goed, maar hul het
te baie werk, en niemand uit die ou vaderland wil hulle kom help nie.

Eenvoudig en duidelik het sy alles vertel. Jan is opgetoë:

—Hier is geen toekoms meer vir ’n man nie, ek gaan hulle help.

—En jou militêre loopbaan? sê mevrou Kibert, terwyl die jonkman opstaan
om weg te gaan.

—Ek het daar nie so ’n lus in soos Marcel nie; ’n mens verlies so baie
tyd en krag. Maar nou klets ek, mevrou.

Hulle stap uit op die stoep; die front van die huis is toe onder die
blare en blomme van kamperfoelie, rose en meelkruid. Hulle leun teen
die stoeptralies. Hierdie lentemôre is ’n fees vir alle oë wat op haar
skoonheid rus. Die lug is deurskynend en yl. ’n Blouagtige waas—teken
van mooi weer—verdowwe sag die grillige vorme van die berge. Onder in
die laagte skuil die kerktorinkie van die dorpie weg in die skaduwee van
die kastaiingbome. Naderby het die veld die fris-heldere groen kleur wat
net in die voorjaar gesien word. Die halme van die jong gesaaides tril
in die windjie wat verbydwaal; in die vrugteboord het die bome die grond
al bestrooi met die wit- en rosesneeu van hul fyngeurende bloeisels,
en glimlag nog uit al die botsels aan hul takkies. Twee lindebome,
in die hoek van die agterplaas, versprei hul geur in die lug, en die
kastaiingbome van die laning versier hul donkergroen gebladerte met wit
blomtrosse.

Hulle hoor hiervandaan die ewige lied van die weergeboorte; hulle is
getuie van die onophoudelike belofte van die vrugbare aarde aan die
werksame mens.

Voor hulle en om hulle heen is die jonkheid van die jaar—’n beeld van
die bestendige lewe self. Swyend kyk hulle alles so aan; aldrie dink aan
Marcel, en hierdie alte skone dag maak hul droefgeestig.

Gebuig en moeg, neergedruk deur haar herinneringe, laat mevrou Kibert
haar dogter met die kaptein meegaan na die hek. Sy sien hul aanstap, dink
in stilte aan wat miskien kan gebeur, vertrou die toekoms van Paula toe
aan God, en gaan na binne om in eensaamheid die gebeurtenisse nogmaals
voor haar gees te haal waarvan Jan vertel het.

Paula en Jan groet mekaar aan die end van die laning. Die jonkman draai
nog ’n keer om en volg met sy oog die slank-buigsame gestalte wat tussen
die bome deurgly. Op dieselfde oomblik kyk Paula ook om. Die toeval jaag
’n kleur in haar gesig. Om hom nie te laat dink dat sy dit ekspres gedaan
het nie, draai sy om en stap dapper na hom terug.

—Jan, sê sy bewoë, ek dink net daaraan: ek het jou nie genoeg bedank nie,
vir my broer, wat ook min of meer ’n broer vir jou was, vir my moeder wat
jou briewe en jou besoek tog so aangenaam gevind het in haar droefheid.
Jy is baie vriendelik gewees vir ons. Ek het gevoel dat ek jou dit nog
moes sê, daarom het ek teruggekom na jou.

Haar ontroering maak haar skoonheid meer menslik en treffend.

—Ag nee! antwoord die jonkman, moenie so danig bedank nie; was ek dan nie
Marcel se maat nie. En vóór ons was ons vaders ook al maats.

Sonder nog meer woorde te kan kry, bly hulle mekaar so staan en aankyk.
Hulle voel ’n wonderlike verleëntheid, hulle wil daar ’n end aan maak,
maar wil ook nie. Jan sien op Paula se wange die skaduwee van die lang
ooghare, neergeslae oor haar vlammende oë, wat na die grond kyk.

—Luister, sê hy eindelik. In Marcel se baadjie was net één brief: die
laaste een van jou ma. Maar hierdie portret was daarby. Ek het gedink dat
ek dit maar aan jou moes gee.

Hy gee haar ’n half-verweerde kaartjie waarop sy sien, tussen die bome
van Maupas, twee klein meisies van tien of twaalf jaar—die één blond, die
ander bruin, die één het ’n soet gesiggie en kyk alles verwonderd aan,
die ander lyk of sy in beweging was: dis Alida en Paula self.

—Ag! sê Paula. En met dowwe stem vra sy:

—Het hy nooit met jou gepraat oor haar nie?

—Nee, nooit.

Die kaartjie ontglip aan haar hand en val met ’n droë tikkie op die sand
van die pad. Sy hou haar nou nie meer in nie, sonder enige trots in haar
houding beween sy die onverbiddelike lotsbestemming van haar broer—deur
die liefde na sy dood gelei, en hy het dit geweet.

Jan neem haar hand.

—Ja, daar vèr in Afrika het ek baiemaal gedink: hoe verkeerd en dom
gaan die noodlot tog te werk—waarom nie vir my geneem nie, in plaas van
Marcel? Oor my sal tog niemand getreur het nie.

Wat kan sy antwoord? Daar skiet net ’n vlam uit haar oë. Sy tel die
kaartjie self op, voordat Jan kan buk om dit te doen:

—Dankie, Jan; kom gou weer; jy bewys ons daar ’n weldaad mee.

Hy kyk haar ’n oomblik aan en stap dan weg. Sy gaan langsaam die tuin
deur, huis-toe. Sy hou van blomme, sy pluk ’n roos af, en, vir die eerste
keer vanjaar is dit vir haar ’n bietjie aangenaam om aan ’n roos te ruik.
Die dood van haar broer het vir haar ’n ander en onverwagte aansien
gekry; en by haarself herhaal sy die woorde van Jan, terwyl sy die
opwekkende les daarvan voel:

—_Ons moet die dode eer, dog ook vertroue behou in die lewe._

Dié woorde, is hul nie die kort samevatting nie, die aansporing tot ware
lewe, wat die loopbaan van helde samevat as in ’n kosbare kragaftreksel?
_Die_ is groot wat nie suinig is met die moeite wat hul moet gebruik nie,
en wat op hul kort of lang loopbaan ’n afdruksel maak van hul siel—vry
van alle vrees en swakheid. So put sy dan bevrediging en vertroosting uit
die aandoening self wat haar in verwarring bring. En terwyl sy die fyn
geur opruik, sweer sy by haarself om van nou af dapper haar swaar te dra,
sonder bitterheid en sonder te murmureer. Haar afgeskeepte jonkheid sal
nie nutteloos wees nie as dit hom aan die wêreld gee soos ’n vrywillige
offerande. En as sy by haar moeder kom, wat die blomme van Marcel water
gee, omarm sy die arme ou vrou, asof sy die ouderdom wil beskerm wat aan
haar sorg toevertrou is, asof sy die belofte van nuwe moed met ’n seël
wil bekragtig en wil toon dat sy dit meen met haar nuwe lewensopvatting.




VI.

ISABELLA.


Vooraan in ’n hokkie of „loge” van die eerste rang, in die konsertgebou,
sit mevrou Marthenay (Alida) en mevrou Landeau (Isabella). Aan al die
oë en brilletjies wat op hulle gerig is, bied hulle so hul skoonheid te
kyk aan—eersgenoemde met bedeesheid, laasgenoemde ekspres en beslis. En
die teëstelling in hulle skoonheid val goed in die oog. Isabella dra ’n
aandrok van dun, geel sy, met ’n punt laag toelopend van voor, sodat haar
volmaak-skone, dunne hals goed te sien is; en, om die blankheid van haar
hals nog meer te laat uitkom, dra sy ’n swart ferweellint daar om, met ’n
diamant daarin van die helderste water. Die sagte Alida dra ’n rok van
swart kant, sonder ’n enkele juweel; en die sombere kleur—wat sy ekspres
gekies het om nie in die oog te val nie—pas goed by haar fyne blondheid.

Agter die dames sit graaf Marthenay, meneer Landeau en kaptein Jan
Berlier. Die stuk wat vanaand gespeel word, is „Iphigenie in Tauris,”
van Glück. Op die eerste mate van die orkes, soos snel opmekaarvolgende
golwe, stilte en aandag in die saal verspreidende, verdwyn Marthenay
stilletjies deur die agterdeurtjie van die „loge.” In ’n oomblik is hy in
die dobbelsaal. Toe sy vrou omkyk, sien sy dat hy weg is. Alleenstaande
in haar ongeluk, en terwyl sy die vriend van Marcel so by haar sien, dink
sy met weemoed aan wat sou kan gewees het, maar wat nie is nie. Isabella
wag nou met die geduld en gespanne aandag van ’n kat haar kans af om
eindelik haar begeerde prooi te bemagtig, en sy gee haar bekoorlikheid
tyd om sy werk te doen, want sy voel agter haar blote nek, waar haar
swart hare opgeborsel is, die asem van die jonkman wat agter haar sit.
Meneer Landeau voel hom geslinger tussen twee gedagtes, tussen die
begeerte om in die nabyheid te toef van sy verfynd-wrede, skone vrou, en
die lus om na die leessaal te loop en in die koerante na te gaan hoe die
geldmark staan—die toneel van sy eindelose worstelinge.—Hy gaan.

Alleen gelaat, geniet Jan nou van die hemelse musiek—eenvoudig en rustig,
soos die lyne van ’n Griekse tempel. Wat hy hoor, is die roerende
smeekbede aan die kuise Diana gerig deur Iphigenie: vraende aan die
godin om haar tog liewer genadiglik te laat sterwe as haar te verban
na die woeste kuste van Tauris. Deur die voorwaartse beweging van haar
jong liggaam, haar uitgestrekte arms, die reglynige en harmoniese plooie
van haar wit gewaad, die adel in haar houding en haar suiwer-skone
gelaat, verteenwoordig die sangeres—maar in lewende lywe—die outydse
marmerbeelde, waarvan die onbeweeglik vaste vorme altyd nog aandoening
wek in siele wat gevoelig is vir skoonheid, en waarvan die invloed nog
altyd aangroei met die tyd. Half begrypende die hoë besieling van hierdie
kuns, juig die mense geesdriftig toe.

Isabella kyk om en sien met verbasing dat Jan se oë skitter van
opgetoënheid—hy kyk oor haar heen na die toneel. Sy fluister hom toe,
sodat hy vooroor buig en die geur kry van haar huid.

Ná die eerste bedryf het Alida lus om die kaptein te vra om haar na die
dobbelsaal te bring en haar man te gaan haal. Het sy hom nie iets te vra
nie? Maar sy durf nie en neem maar die arm van meneer Landeau. Dat almal
nou weg is, is net na Isabella haar sin, en sy wink vir Jan om naas haar
te kom sit.

—Weet jy, sê sy, dat ek jou dood al beween het?

—My dood? Maar dan was jy ’n bietjie haastig daarmee.

—Ja, die dood van kaptein Kibert is bekend gemaak geword; en jy was mos
daar by hom. Hoe kon ek weet dat dieselfde lot jou nie getref het nie?

—Het die mooi oë my waarlik beween?

—’n Hele aand.

—Hulle brand en skitter so, dat hul jou trane wel moet laat opdroog.

—Hulle is bly om jou weer te sien, Jan. En brutaalweg kyk sy hom aan met
brandende, smagtende oë. Oombliklik geluk dit haar om tussen hulle twee
te herstel die vryerige verhouding wat vir hulle vroeër so aangenaam
was. Sy sien dat hy sy handskoen uit het. Sy trek hare ook uit, en haar
vingers vol goue ringe, strengel sy deur dié van haar ou maat.

—Jy hou van edelstene, sê hy, en by die lig beskou hy die dun uitlopende
vingers en rose naels van haar blanke hand.

—Ja, antwoord sy, dan het ek ’n gedagte dat ek, in klein, al die skatte
van die wêreld by my dra.

Om sy mond speel ’n twyfelagtige glimlag.

—Die wêreld is baie groot, mevrou, om dit in u handjie te kan hou.

—Kyk hoe mooi is die groen van hierdie smarag, Jan.

—Ek hou meer van die veld-groen.

—En die helder-blou van hierdie saffier.

—Dis nie so skoon as die hemelblou nie.

—En hierdie robyn.

—Bloed is mooier.

—En hierdie pêrels.

—Ek hou meer van trane.

—Nou ja, dan kan jy tevrede wees, want trane het ek vir jou gestort.

—En die trane, mevrou, was hul ook van die eerste water, net soos die
diamant aan u hals?

—Is dit nie ’n mooi diamant nie? Die vonke wat dit uitskiet, is enig.

Hulle glimlag van pret oor hul verliefderige skermutseling—soos twee
sabelskermers wat mekaar met die wapen groet. Net of sy geniet van ’n
ruiker blomme, so asem die jong vrou gretig die jong lewe in. Haar
boesem gaan op en neer onder haar keurslyf van sagte sy, wat haar volle
vorme goed laat veronderstel, en op haar blanke huid kan Jan die fyn
vertakking van blou aartjies sien tot waar hul verdwyn onder die sye
stof. Die onberispelike snit en hang van haar kleed laat goed sien wat
’n volmaakskoon liggaam daarin sit, gekroon met die fiere koninklike
gelaat en pikswart hare. Hy hoef maar te buk om die skoon blom te kan
pluk—die seldsame, lewende orgideeblom. Die steel na hom toe gebuig, die
blaartjies uitgesprei—trillende in die lou aandwindjie—bied die blom
hom aan. Waarom sou hy dit nie pluk nie? Weet hy dan die skoonheid nie
op prys te stel nie, en die jeug, wat deur die plesier opgefleur word?
Maar as hy dit nie waardeer nie, dan sou hy nie in teenwoordigheid van
die vreugde die uitdrukking hê van diepe droefgeestigheid nie, wat alleen
ontstaan as ’n mens met die dood bekend is.

—Ek het tog so lank vir jou gewag, sê sy, met ’n veranderde stem, waarin
hy ’n toontjie van verlange ontdek.

—Het jy regtig vir my gewag?

—Ek wag nog vir jou.

Die orkes begin te speel vir die twede bedryf. Alida en meneer Lavernay
kom terug in die „loge”—meneer Landeau het sy plek aan meneer Lavernay
afgestaan omdat hy liewer in die leessaal bly by sy beursoordinkings dan
te luister na die droefgeestige musiek wat hy tog nie verstaan nie, en
wat so anders is as die operettedeuntjies.

Langsaam word die outydse drama op die toneel afgespeel. Maar die
musiek—opvoedster van kalme en reine siele—kan Jan nou nie meer bekoor
nie. Vlak voor hom, tussen die swart ferweellint en die keurslyf, sien
hy die blanke vlees van Isabella, en hy stel hom voor hoe sag dit moet
wees. Sy kyk half opsy en hy sien haar sy-gesig: met sy oog volg hy die
skone lyn van haar neus tot sy blik gevestig bly op haar rooi lippe—skone
lippe, slaafs tot sy diens bereid. Want het sy nie gesê nie: _Ek wag nog
vir jou?_ Waarvoor wag hy nog? Het hy dan meteens onverskillig geword
vir die tallose verleidinge van die lewe, in hierdie vrou samegevat in
haar buitengewone skoonheid, soos die soort oosterse reukflessies wat in
één druppeltjie die aftreksel bevat van duisend rose? Het die Afrikaanse
son dan sy bloed koud gemaak in plaas van daar gloed in te giet? Hy is
nog jonk en ongetroud, by wie sou hy meer kan geniet van sy jonkheid en
vryheid?

Die skone hoof, wat so sy aandag boei, draai nou weer na voor, en nou is
sy oog gevestig op haar hare—waarvan hy die gewig skat—op haar hals en
skouers. Dit duisel in sy hoof: ’n oomblik sluit hy sy oë en sweer dat hy
die vurige begeerte sal tevrede stel wat hom verteer.

Op die oomblik van oorgawe laat die musiek hom die akkoorde hoor van
diepe en aanhoudende gemoedsontroering—statig en bedaard, selfs by
die heftige smart wat hul moet vertolk. Sy oorspanne senuwee tril. Sy
gevoeligheid, vertienvoudig deur die uitsig op genot, drink die hemelse
musiek met graagte in, soos ’n verdroogde blom die dou.

Op die toneel betwis Orestes en Pylades mekaar die voorreg om, die een
vir die ander, te sterwe—dewyl op die somber kuste van Tauris een van
hulle as offer geëis word. Dis ’n diep-droewige worsteling waarin die
weldadige vriendskap die innigste liefde nog oortref.

Jan probeer om teëstand te bied aan die ontydige invloed van die musiek
en toneel, want dis heeltemal in stryd met sy opgewekte hartstog. Maar
sy wil is verlam en kan nie lank weerstand bied nie. Hy het die lewe, in
al sy uitinge van skoonheid, te lief om weerstand te kan bied aan so’n
volmaakte kuns, wat hy begryp en bewonder, waarvan die reine besieling
alle lae begeertes, alle haat en beuselagtigheid uit ons harte losruk,
soos onkruid uit ’n tuin uitgetrek word, sodat die oneindig kosbaarder
plant beter mag bloei: die heilige begeerte na liefde en toewyding.

Hy voel nou dat hy reeds verhewe is bo die aanbidding van die éne vrou.
’n Begeerte gryp hom aan om, as die ware, verskillende lewens gelyk te
lewe. Van ’n lae wellusteling is hy in ’n held verander; hy wil terug,
maar voel hom dan weer opgehef. Met onweerstaanbare mag dring sy verlede
lewensloop hom aan sy herinnering op: Hy is weer saam met sy vriend
Marcel, op die woestyntog, waar hy, in eensaamheid en gevaar, by gebrek
en strewe, gevoel het wat die lewe beteken in al sy grootheid, want hy
het toe besef wat die rigting en waarde daarvan is. En van die broer
dwaal sy gedagtes af op die suster. Van die begin af het hy vanaand elke
gedagte aan Paula verban. Het hy haar, ’n oomblik gelede, selfs nie
heeltemal vergeet nie? Waarom verskyn sy nou meteens weer in sy gedagtes,
en waarom sou dit wees dat die kuise musiek wat hy hoor, so bevorderlik
is aan haar ontydige koms in sy herinnering? Hy probeer om haar beeld te
verdrywe, maar hy het daar berou oor.

—O! dink hy, waarom is sy tog nie net so mooi soos hierdie een nie?

En weer is sy oog op die skone hals en skouers, dis net of daar lig
uitstraal wat hom aantrek. Maar met stille genoeë, dog sonder te dink aan
die growwe ongepastheid van sy vergelyking, erken hy darem:

—Paula het mooier hare; as dit los is, moet dit seker tot by haar knieë
kom.

Isabella draai haar hoof om en lag met hom.

Paula het mooier oë ook, dink hy weer. En in sy gedagte sien hy hoe die
swart oogappels, met hul blitsligte, hom weer aankyk. Maar daar’s ’n
verwyt in dié oë, en hy verstaan goed wat hul sê: Waarom dink jy aan my
met so min respek? skyn Paula hom te vra. Het ek miskien probeer—net
soos hierdie een by jou—om jou te verlei met vertoning en aanloklike
maniertjies? Het dit my, in jou teenwoordigheid, al ooit ontbreek aan
sedigheid en waardigheid? As jy my nie liefhet nie, laat my dan met vrede
in my eensame bestaan; moenie my reine jonkheid onteer deur die beeld
daarvan te maak tot ’n voorstelling van jou laere begeerlikheid nie. En
as jy my liefhet, o! as jy my liefhet! waarom is jou liefde dan nie sterk
genoeg om jou los te ruk van ’n bekoring waarvan jy nie weet of dit jou
lewe uit die goeie koers sal stuur nie. Kom tog na my toe terwyl jy nog
vry en onskuldig is. Laat my op jou voorhoof en in jou oog niks ontdek
wat laag en gemeen is nie. Ek weet nie of ek mooier is nie, maar ek het
jou lief, so innig, dat hierdie vrou nooit ’n begrip daarvan kan hê nie.

Hy behoor reeds nie meer tot dié jongkêrels wat deur die lewe gaan met
oogklappe aan nie. Dié soort jongkêrels kan nie die ontsaglik groot velde
sien wat naas die smalle pad van hul harstogte lê nie, en wat aldag die
vrugbare saad ontvang van menslike strewe. Nadat Jan nou eers net sy oog
gehad het op die begeerte van die oomblik, sien hy meteens die kaart van
sy hele bestaan voor hom uitgesprei, en hy lees daarop—uit sy afkoms en
sy verlede—die openbaring van sy toekoms. So beskou, kry die liefde vir
hom ’n ander betekenis. In plaas van die wellus, stel hy hom voor die
bekoring van ’n gemeenskap van gedagtes, en van die innerlike krag wat
voortspruit uit vrede van die gemoed en uit ’n kalm, huislike bestaan.
In plaas van verbygaande, heftige opbruisinge, stel hy die genot van
duursame geluk en die welsyn van die ras.

In die drie weke wat hy nou al terug is, het Jan al baiemaal na Maupas
gegaan. En dit was nie net maar om twee bedroefde vroue te troos nie.
Deur haar fierheid, deur haar ernstige en diepe gevoel, deur haar jeug,
waarvan die skone ingetoënheid vir hom duidelik word, oefen Paula ’n
onweerstaanbare aantrekking op hom uit. Ná elke besoek moes hy tot eie
verbasing beken dat die teruggetrokke en verstandige noointjie ’n hart
vol lewe besit, net so klaar om die lewe met geesdrif te geniet, as
sy die smart gedra het sonder te beswyk. Op die treffende manier van
liefhebbende harte, wat daar plesier in het om hul liefde terug na te
gaan dat hul kan sien hoe die tyd dit aangebring het, so vergelyk hy die
teenwoordige bekoring wat Paula op hom uitoefen met die vae herinneringe
van vroeër dae toe hy nog rond gespeel het met ’n wilde, uitgelate
Paulatjie. Vergetend dat hy haar self vergeet het, verbeel hy hom dat dit
’n ou neiging is wat die kinderjare oorleef het. Met die heldersiendheid
van die instink, bowenal voel hy dat sy toekomstige krag en ’n normale
verloop van sy lewe dáár te soek is, en nêrens anders nie. So bemin
hy dan die jong nooi, soos ’n mens op dertigjarige leeftyd bemin: met
vertroue en teerheid. Haar bekoorlike teenwoordigheid het sy hart vervul
met nuwe vrede.

Nou kom die hartstogtelike Isabella weer tussenin. Ná haar huwelik vir
geld, oorstelp sy haar „flirt” van vroeër dae met al haar onbevredigde
sinlike begeertes, met al die storme van haar gemartelde hart. Sy het
baie trouer gebly aan Jan as aan haar eie man, meneer Landeau. Sy het
uitgekyk na sy terugkoms. En toe sy hom weer sien, was sy nog meer
aangetrek deur die erns en diepte op die gesig van die jongman te lees,
as deur sy sorgloosheid en vrolikheid van vroeër dae; sy het by haarselwe
gesê dat sy nie meer sal wag nie, en om hom te behaag, hang sy haar
skoonheid voor hom uit soos ’n vlag.

Wel, sonder te weet, is dit haar ook geluk om hier in die „loge” van die
konsertgebou enige oomblikke oor hom te triomfeer. Die hele aand het sy
al getwyfel of haar middeltjies om die mooi jong offisier te vang, iets
uitgerig het—hy is maar terughoudend, en ook maar versigtig met sy woorde.

Daar val die gordyn, die bedryf is uit; nou sal sy die kans waarneem om
die afgebroke gesprek weer aan te knoop.

Brandend van ongeduld, kyk sy dadelik om na hom, en, ekspres so
vooroorbuiend dat hy mooi langs haar welgevormde hals kan kyk, vra sy:

—Waaraan het jy so gesit en dink? Ek het gemerk dat jy nie na die musiek
geluister het nie.

—Ek het aan twee mooi vrouens gedink.

—Dis één te veel.

Met haar twee oë, skerp soos pyle, probeer sy om die harde voorhoof te
deurboor en daarin te lees.

Ongeduldig en dorstig na haar geluk, waarvan sy haar wil verseker, staan
sy op en sê:

—’n Mens stik hier van die warmte. Kom, kaptein, bring my na die
wandelsaal.

En as sy aan die arm van Jan uitstap, kyk sy die vryerige Lavernay aan
met ’n blik wat sê: gefop oudjie! want hy sit haar en oppas. En as hul
uitstap in die gang, leun sy, met die hele gewig van haar wulpse liggaam,
op die arm van Jan.

Hy bly nog maar stil, en sy vra, met bevallige bedeesdheid:

—Jan, is ek dan nie meer mooi nie?

—Kyk om u heen, mevrou, wat sê die oë van die mense?

Ja, die oë van die hele deftige skaar in die wandelsaal is op hulle twee
gerig. Vrouens wat verbykom, kyk na haar rok en bereken die snit en
waarde daarvan; en haar bekoorlike blote arms en hals trek die aandag van
almal. Sy tik met haar waaier op Jan se vingers en antwoord.

—Jy, wat jy sê alleen, is al wat ek vra.

—En die ou oppasser van jou, daar in die „loge”? vra Jan, laggend.

—Hy doen my boodskappe.

Gesteund deur sy gedagte aan Paula, maak hy of hy die toenadering nie
merk nie, en nie sonder ’n seker ontroering nie, voel hy die ronde arm
van die verleidster op syne. Die hoogrooi kleur op die gesig van die jong
vrou bedek maar half ’n uitdrukking van teleurstelling.

—Onthou jy nog, Jan, die eikebos by Chenée?

—Ja, sê hy, en hy dink daaraan hoe die lot van Marcel daar beslis is.

—Ek sou so graag weer met jou daarnatoe wil gaan. Jan, sê my nou reguit:
as ek nog ’n jong meisie was, sou jy dan meer van my hou?

—Jy is nou mooier, maar anders. Ek sien altyd jou man agter jou.

—Jou grappies is laf, Jan, sê sy, nou sy sien dat meneer Landeau nie daar
is nie. Sy sê weer:

—Is jy dan bang vir hom?

—Glad nie!

—Vind jy hom onaangenaam?

—Ja.

— Moet hy dan aangenaam wees as jy met my wil . . . . „flirt”?

Hy lag en sê:

—Natuurlik.

—Maar dis snaaks.

—Ja, sy is tog sy vrou.

Nou lag sy weer; met haar gesig half agter haar waaier, sê sy:

—Ja, so op ’n manier.

—Hou op.

Sy maak die stemmetjie na van kinders wat knor gekry het.

—Ek sal dit nooit weer doen nie, hoor.

Hy kyk haar aan soos sy daar voor hom staan, heeltemal aan hom oorgegee.
Waarom sal hy nog weerstand bied aan die oproeping van die plesier, in
so’n skone vorm gehul?

—Isabella! fluister hy.

Op haar beurt kyk sy _hom_ nou weer in sy oë aan, en, stralende van
genoeë, lê sy haar sagte hand in die hand van die jonkman.

—Jan! my liewe Jan!

’n Oomblik verlustig altwee hulle in die saligheid van beloofde genot en
in die bedwelmende betowering wat die jonkheid aanbied. Daar lui die bel:
die voorstelling begin weer. Swaar weeg hul geluk op hulle, spraakloos
en langsaam stap hul terug na die konsertsaal. Bo-op die marmere trap bly
hulle staan om asem te skep. Haar triomf dwing haar die bekentnis af:

—Jy weet nie hoe jy my van ongerustheid laat bewe het nie, Jan. Ek het
waarlik al geglo wat die mense sê.

Vaag-ongerus, en met halfbeklemde hart, vra hy:

—En wat sê die mense dan?

—Dat jy Paula Kibert liefhet.

Hy laat die arm val wat op syne leun, en vra, met veranderde stem:

—Wie vertel jou dit?

—O! sê sy, ontsteld en bleek, asof sy aan sy voete die puinhope sien van
haar geluk. Net deur die towerkrag van één naam is sy verslae. En dié
naam, in haar onnoselheid moes sy dit self uitspreek. Dis genoeg dat sy
Jan net aankyk om te besef hoe groot haar nederlaag is; en woedend omdat
sy so meteens uit haar hemel geval het, vererger sy nog haar dwaasheid:

—Ja, die hoogmoedige klein ding, met haar prinsesmaniertjies, het jou
wel weet te vang; dit moes ek geweet het. Ek wed dat sy haar speletjie
al lank met jou gespeel het. Soos alle ou-jong-nooiens is sy op die
mannejag. Loop maar na haar toe: sy wag vir jou.

Nou die verleidster self hom aan sy ware liefde teruggee, sien hy haar
met medelye aan:

—Isabella, dit het vroeër net van jou afgehang om my vrou te word. En
vanaand nog het jy kon opmerk hoe swak ek en hoe sterk jy is. Dit betaam
jou nie om so te praat nie.

Sy antwoord niks. Die op-en-neer-gaan van haar bors toon aan wat ’n
storm daar in haar woel. Met haar allesoorwinnende skoonheid gee sy
die stryd op, erken haar nederlaag en gee haar oor aan haar verdriet.
Die neerlaag vind haar onvoorbereid. Te lank al het sy altyd mog reken
op die geluk van haar oorwinninge. Haar flirterige, sinlike liefde
weet net van geesdriftige verheffinge of wanhoop, en is onmatig in ’n
liefdeskermutseling.

Hulle bly alleen staan op die balkon, bo die trap; die mense is al almal
die konsertsaal in. Die leegheid van die wandelsaal lyk bowemate groot
vir Isabella. Sy vat met haar hande aan haar keel asof sy wil stik, en
hef eindelik haar oë op na Jan; dit maak sy hart seer om die smart te
sien van dié skone wese. Nou dat sy innig verdriet het, voel sy niks
laags of gemeens meer nie.

—Jan, snik sy, met ’n nouliks verstaanbare stemmetjie, jy het dit goed
gesien: daar is geen vrou wat jou liefde so verdien as Paula nie. Jy sal
gelukkig wees, en ek baie ongelukkig . . . .

Sy kan nie meer sê as dit nie, maar vooroorbuigend neem sy die hand van
die jongman en druk ’n soen daarop. Hy voel ’n traan op sy hand val, en,
as sy weer haar hoof ophef, sien hy die trane langs haar wange afrol. Sy
herstel haar genoeg om te kan sê, met ’n armsalige glimlaggie:

—Is _dit_ nou pêrels, Jan?

—Jou trane is duisendmaal meer werd.

Hy neem haar in sy arms en soen haar op haar oë. Die onversigtige
afskeidsomhelsing laat hulle amper weer beswyk. Hoeveel paartjies is daar
nie al aanmekaargeketen geraak nie ten gevolge van so ’n paar sekondes
van vertedering en jeugdige ontroering? In die liefde is oral gevaar; ons
vlees is so swak en ons wil so wankelend . . . . ’n Deur wat oopgaan, is
hul redding. Hulle gaan terug in hul „loge.”

—Omdat ek bang was, het ek my lewe misgeloop, sê sy.

Vir die res van die aand vergeet sy heeltemal wat ’n krag sy in haar
skoonheid besit, sy is droewig in haarself gekeerd, sy haat haar mooi
rok en haar juwele, en sou liewer die heerlike armoede van ware liefde
besit. Vir die res van die aand het haar oorwinnaar—onderdaniger en
kragteloser as ’n oorwonnene—sy oog nog op die skoonheid, wat nooit syne
sal word nie. Voordat die vlam van sy begeerte uitgaan, brand dit hom
nog. Voordat hy met vaste stap op die reguit pad van sy bestemming gaan,
kyk hy nog ’n slag om na die wellus—en nie sonder ’n suggie nie.

Toe sy uitstap by die deur om huis-toe te gaan, help hy haar nog met die
wit symantel wat sy om die blanke naaktheid van haar hals en skouers
slaan. En nou eers dat sy weg is, voel hy bly dat hy haar baasgeraak het,
en dink hy ongedwonge en vry aan die reine, fiere jongnooi wat sy hele
hart vervul—die hart wat so vol moed is en tog so swak.

Alida het maar min met Jan gepraat die hele aand. Hy het haar besig
gesien met haar man. Daar word gefluister dat Marthenay belangryke
verliese gely het by die dobbelspel en dat hy so opsigtelik aan die gang
is met ’n seker dame van die deftige wêreld. Sonder teenstribbeling
onderwerp Alida haar aan haar droewige bestaan, met ’n hart wat al
vooruit die ergste verwag. Wat help haar nou haar groot fortuin? Sy
verwag geen geluk meer nie. Haar natuur is te fyn en gevoelig om hom te
kan troos met die genoeëns van die wêreld, terwyl daar verlatenheid is in
haar huis en leegheid in haar hart. Haar dogtertjie alleen hou haar nog
terug van wanhoop. Sy maak haar groot met oordrewe liefde, en weet nie
dat sy haar ook ontwapen vir haar toekomstige lewe nie.

Maar vanaand het die teenwoordigheid van Jan haar weer met pynlike
helderheid laat terugdink aan die gebeurtenis daar in die eikebos
van Chenée toe sy te swak was om haar geluk te gryp ten koste van ’n
gemaklike selfoorwinning of selfs maar ten koste van ’n belofte om te
wag en geduld te hê. Sy wou Jan nog gevra het om haar iets te vertel
omtrent die dood van kommandant Kibert. Maar dié vraag het nie oor haar
lippe gekom nie: is dit nie reeds ontrou van haar as sy so’n vraag sou
doen nie? Nougeset, laai sy dié nuwe smart ook nog maar op haar innerlike
weduweeskap.

So kom sy dus nooit te wete nie dat Marcel, op die oomblik van sy dood,
die portret by hom gedra het van ’n blonde blouoog-meisie, wat hom
gebring het tot die fiere minagting van die dood.




VII.

DIE GEHEIM VAN PAULA.


Jan het ’n ope rytuig in die dorp gaan haal en help sy oom daarin. Die
oubaas is opgeskik in swart manel en keil, borshemp, hoë boordjie en
pêrelgrys handskoene, en in sy hand sy goudknop-wandelstok.

—Ek voel bra ongemaklik in al die deftigheid, sê hy aan sy neef.

Hy het spyt dat hy sy tuinklere moes uittrek. En ’n mens sou sê hy gaan
weg op ’n lang reis, want Jan moet allerhande raadgewinge aanhoor in
verband met sy agterblywende roosboompies.

Jan stel hom gerus daaromtrent.

—Maar, oom, vergeet veral nie u boodskap nie.

—Verbeel jou! sê die ou mannetjie, opwippend. Ek sal jou boodskap goed
oorbring, al sou my beste rose ook verlep solank as ek weg is.

Die oom gaan na Maupas om aan mevrou Kibert die hand van Paula te vra
vir sy neef Jan. Die rytuig verdwyn om die draai. Jan is ongeduldig en
opgewonde; in plaas van binne-toe te gaan, stap hy langsaam die pad
langs, agter die rytuig aan. Op dié manier sal hy sy oom gouer ontmoet
as hy terugkom; en miskien sal hy dan voor die aand tyd hê om self nog
na Maupas te gaan en te praat met haar, wat dan sy verloofde sal wees.
Hy kyk na die son, wat sonder die minste haas na die berge daal, en hy
verwens die vervelende lang somerdae.

Ná die aand van die komedievoorstelling het die gevoel in die jonkman se
hart nog inniger geword. Hy het Paula lief om haar moed en haar fierheid,
en ook om die geheimsinnige onverklaarbare aantreklikheid wat op ons
uitgeoefen word deur die gelaatstrekke, die kleur van die oë, die sware
hoofhare, die gestalte, en al die bekoorlikhede van die vrou in wie ons
vooruit die versekering en die blydskap van ons toekoms lees, of van ’n
toekoms vol rampsalige dog genotvolle kwelling. Die verstandige jongnooi,
met haar vlammende oogopslag, het sy hart vervul met tere liefde; bowenal
het sy hom daartoe gebring om die ware doel van ons menslike bestaan na
te streef—die doel wat nie daarin lê dat ons die begin en die end van
alles in onsself soek nie, maar daarin, dat ons onbaatsugtige en werksame
skakels uitmaak tussen voorgaande en nakomende geslagte. Waar sou hy ooit
’n edeler metgesel kan vind, dapperder, standvastiger, beradener? Sy het
groot geword soos ’n jong plantjie wat krag put uit vrugbare grond. Haar
famielie is ’n waarborg vir haar deugsaamheid. Net ’n bietjie son het
haar ontbreek om tot volle wasdom te kan kom. Sou liefde haar nie met die
warmte en lig kan bedeel nie? En wat ’n vreugde om te sien hoe sy opegaan
soos ’n blom, om te voel dat ’n mens daar ’n bietjie oorsaak van is, om
aan die alte swaar beproefde jonkheid weer smaak te gee in die dag wat
verbygaan, om haar te laat wens dat dit nie so gou verdwyn nie!

Sy sal hom liefkry; miskien het sy hom reeds lief. Sou hy verkeerd gesien
het, of het hy haar nou en dan betrap op ’n klein verrassing van haar
geheime jongmeisies-gevoel, ondanks die waardigheid en terughoudenheid
wat al haar beweginge bestuur? Het sy oog nie nou en dan ’n blossie
gevang op haar wange nie, ’n alte snelle knip van haar oë, en veral
die manier van aankyk, die blik, so rein, so trouhartig, so vas, so
onwillekeurig vriendelik op hom gerig? En nou, as hy terugdink, lyk
dit dan nie vir hom of hy ook gedeel het in die afkeer wat sy by alle
geleenthede laat blyk het teen Isabella Orlandi nie? Isabella Orlandi—hy
het haar nog nie weer gesien nie; hy sal haar ook nooit weer sien nie; hy
voel nog ’n soort van bygelowige vrees vir haar, en hy verban die alte
skone beeld uit sy gedagte; dit verneder hom en herinner hom wreed aan sy
swakheid. Maar as geliefde van Paula Kibert voel hy sterk genoeg om die
gewig van die hele wêreld te kan dra. Is dit nie ’n teken van ware liefde
nie, as dit al ons kragte verhoog en ons soveel selfvertroue gee?

Ander bedenkinge het nog by die gevoel van sy hart gekom. By ’n huwelik
skei ’n liefhebbende hart hom nie af van die stoflike en maatskaplike
lewe nie; en juis daardeur, deur die moeilikhede wat in die weg kom, leer
die liefde verstaan wat die menslike bestaan in die algemeen beteken,
en dat dit beskerm moet word; die hartstog, daarenteen, probeer om dit
te vergeet of te verniel. Die famielie Kibert is nie ryk nie, en wat hy
self moet erwe, is ook maar min. Alhoewel hy die militêre diens liefhet
en nie sonder hartseer daarvan sal afskeid neem nie, voel hy nie die
beroepsaansporing—soos Marcel by voorbeeld—wat ’n mens as dit ware by
die skouers gryp en dwing om ’n pad te gaan waarbuite hom net ongemak en
ongeluk te wag is. En hy moet rekening hou met die stoflike behoeftes van
sy aanstaande huishoue.

Sonder moeite het hy sy lewensplan uitgewerk: hy gaan as kolonis na
Frans en Etienne Kibert in Asië. Hulle het al so dikwels aan hul moeder
geskrywe dat hulle hulp nodig het om hul werk behoorlik uit te brei.
Hy is ’n kind en kleinkind van landbouers, en daar is ’n verlange in
hom na die vrye, vreedsame buitelewe. Sy vroutjie sal nie bang wees
om met hom oor die see te gaan nie: sy sal hom sterk maak vir ’n lewe
van stryd en avontuur. Die bloed van ou dokter Kibert—onverskillig vir
gevaar—die bloed van die ou moeder—met haar onoorwinlike geloof, wat alle
beproewings vir haar draaglik maak—dié bloed vloei ook in die are van die
meisie wat hy bemin.

Met die selfsug wat ’n minnaar kenmerk, vergeet Jan net één persoon,
by al sy toekomsplanne; of liewer, sonder daaraan te dink, maak hy nou
’n plan om dié één te beroof van haar enigste soetigheid in ’n bitter
bestaan. Die dapperheid van mevrou Kibert is vir hom ’n sterk waarborg
van Paula se moed, sy is so’n moeder waardig; maar hy besef nie dat hy
van die arme vrou haar grootste opoffering gaan verlang nie: haar laaste
kind, dié wat sy so angstig-beminnend in haar arms druk, en wat God haar
nog gespaar het.

Terwyl hy so op die pad van Maupas aanstap, sy geluk tegemoet, in die
skemer en die heerlike lug van die someraand, maak ou Marie die deur oop
vir sy oom. Sy laat hom in die voorkamer, en terwyl sy haar nooi gaan
roep, dink sy:

—Wat is die ou se planne—met sy swart manel en keil?

Die ou bly stilstaan voor ’n blompot met rose wat in die middel van die
tafel staan. Hy bekyk hulle so digteby dat dit lyk of hy hul wil opruik,
en meteens lig hy sy hande op in die grootste verbasing. So kry mevrou
Kibert hom daar staan. Hy groet haar nouliks, dog wys dadelik na die
blomme en roep uit:

—Daardie een! Sien u dit?

—Ja, sê sy, verwonderd.

—Waar het u dit gekry?

—Ag, ek weet nie meer nie, meneer.

—Onmoontlik! U _moet_ weet. Antwoord!

En ’n bietjie minder brutaal sê die ou rosegek dan weer:

—Asseblief tog, mevrou. Dis baie belangryk.

Mevrou Kibert probeer nou om haar geheue te ondervra:

—My seun het die steggies uit Siena meegebring. Ons het dit hier geplant
en dit dra mooi.

—A! het ek nie geweet dis ’n Sinese roos nie! En die naam weet u
natuurlik nie. Niemand ken hier die name van blomme nie.

Mevrou Kibert beken glimlaggend dat sy die naam nie weet nie.

En daar begin die ou uit te vaar, wel ’n halfuur lank, oor die skandelike
verwaarlosing van die plantkunde by die onderwys.

Mevrou Kibert, dinkende aan iets anders, kan skaars ’n woordjie hier en
daar inbring. Sy verseker hom dat sy van name niks weet nie, maar darem
baie van blomme hou.

Maar die ou is nou heeltemal opgewonde, en nie meer in te hou nie. Hy
vertel haar die geskiedenis en name van rose in vreemde lande. Mevrou
Kibert voel wel wat die doel van sy onverwagte besoek is: hy wat net vir
sy plante lewe en sy medemense veronagsaam, dit moet wel iets belangryks
wees wat hom uitgedrywe het, dit kan niks anders wees nie as ’n aanvraag
ten huwelik. Bewoë dink sy aan Paula, wat nie tuis is nie en so gelukkig
sal wees as sy terugkom. Die ou vrou probeer om sy woorde op ’n ander
koers te lei:

—Hoe gaan dit tog met Jan? Ons het hom al ’n paar dae nie gesien nie, hy
kom te min hier.

Maar die ou blommegek is nie haastig met sy boodskap nie. Hy is eindelik
so ver dat hy die roos uit die blompot het.

—O, met Jan gaan dit goed, sê hy onverskillig, en dan dadelik weer:

—Ja, hierdie soort is, so te sê, onbekend hier. Ek sal dit ’n naam gee.
Mag ek hierdie een saamneem, mevrou?

—Seker, meneer, sê mevrou Kibert. Sy vrees al dat sy mis gesien het
omtrent sy boodskap.

—Baie dankie, mevrou, ek wil met hom werk voor hy verlep is.

Hy is weg met die blom. In die deur bly hy staan, en op ’n geheimsinnige
toon, wat haar laat ontroer, sê hy:

—Ek sal u ’n geheim vertel: deur oor en weer ent het ek ’n nuwe roos laat
ontstaan. U sal dit sien. Dit het nog nie ’n naam nie. Ek sal dit na u
dogter noem: _Mevrou Paula Berlier_. My neef sal dié naam tog alte mooi
vind.

En sonder sy boodskap op ’n ander manier te laat blyk, is die wonderlike
ou snuiter weg—sy roos in sy hand en sy oë daarop.

Mevrou Kibert kan ’n glimlag nie onderdruk nie:

—Die arme ou! Hy vergeet ons almal vir ’n blom.

Jan kom die pad op, sy oom tegemoet, en is al byna by die eikebos. Hy
hoor die wiele van die rytuig op die gruis, en daar sien hy dit, deur die
takke van die bome. Hy hardloop, al is dit opdraans:

—Wel, oom?

Jan voel gerus, want die ou hou die blom in die lug, soos ’n oorwinnaar.

—Kyk, kyk, hierdie roos het nog makeer aan my versameling!

—Wat raak dit my! sê Jan kortaf. Sê sy ja of nee?

Die ou laat somaar die roos val en slaan sy hande wanhopend aan sy hoof:

—O my vadertjie! Ek is stapelgek. Ek het heeltemaal vergeet om te vra!

Jan kyk hom medelydend aan:

—Ek gaan nou terug, nou-nou.

—Nee, ek gaan self; gaan maar terug na u blomme, oom, hulle sal u weer
tot bedaring bring.

En so gaan Jan na Maupas.

Die ou kyk hom na tot hy verdwyn agter die draai van die pad. Dan droog
hy sy gesig af en sê die koetsier moet maar aanry. Vir die eerste maal in
sy lewe kom hy sonder plesier tuis in die Rosevilla.

Jan kry mevrou Kibert in die tuin van Maupas. Sy glimlag as sy hom sien;
en hy voel gerus as hy die vriendelikheid gewaar van die edele vrou.

—Dag, Jan. Jou oom was hier, weet jy daarvan?

—Ja, mevrou, hy was die draer van my lewenshoop, en hy het versuim om dit
aan u te sê.

—O, vergeef hom dit. Hy leef in drome, en sy drome is bloemryk.

Met bevallige huiwerigheid neem sy die hand van die jonkman.

—Maar stel jou gerus. Ek verstaan die taal van die blomme.

Hulle gaan sit by die kliptafeltjie onder die bome. Jan soen haar hand.
Hulle het mekaar al verstaan.

—Dus weet u dat ek haar liefhet? sê die jongman, bewoë.

En met vaster stem voeg hy daar by:

—Hoe sou ek haar nie kan liefhê nie, mevrou?

—Sy is dit werd, sê Paula haar moeder. En sy dink aan haar nuwe toekoms.

—Ek glo ek het haar altyd liefgehad. Net, ek het my eie hart nie geken
nie. As ’n mens nog te jonk is, kan jy die betekenis van die lewe nog nie
goed onderskei nie . . . . En ek het haar ook lief vir altyd.

—Ja, sê sy ernstig. Voor ’n mens hom bind deur ’n ewigdurende belofte,
moet jy seker wees van jouself. En ek het vertroue in jou.

—In Paula vind ek die moed van Marcel terug, en sy fierheid. Sy is so
mooi daarby. Ek sal die lotsbestemming seën as dit so is dat sy vir my
bewaar is.

—Dis God wat jy moet seën, Jan. Van Hom alleen kom ons krag. Ja, Paula is
’n goeie kind. Al is ek haar moeder, ek kan dit met trots sê. Met vreugde
gee ek haar aan jou. Jy was maar altyd so deurmekaar met my eie kinders,
en vir Marcel was jy ’n broer.

—O, mevrou, dis my aangenaam om u so te hoor praat . . . . Maar syself?

—Moenie ongerus wees nie, Jan, Paula sal jou neem. Maar jy moet haar dit
self vra . . . . Maar jy het seker al goed nagedink oor jul bestaan? Jy
weet, ons is nie ryk nie. As Paula toestem om jou vrou te word, sal my
seun Etienne en ek die opbrings van Maupas aan julle afstaan. Nadat die
wingerd afgesny is, bedra dit nie veel nie; maar dis al wat ons het.

Sy gee alles, en maak nog verskoning daarvoor.

—Nee, mevrou, sê Jan.

—Laat my nou uitpraat: Kyk, ek wil my uit alles terugtrek. Ek het min
nodig om te lewe. Etienne, wat dit kan doen, stuur my ’n gereëlde toelae;
ek het hom al gevra om dit minder te maak, maar hy wil nie. Jy moet dink
aan jou toekomstige famielie, Jan.

—O, mevrou, waar’s die geld wat gelyk staan met die skatte wat in Paula
haar hart lê. Maar moenie glo ek sal u alte edelmoedige aanbod aanneem
nie. Ek het al gedink aan ons toekoms. Etienne het iemand nodig om hom te
help in die kolonies. In al sy briewe sê hy dit. Nou wel, ek bied hom my
samewerking aan. Ek het hom verlede maand al daaroor geskrywe.

—O, so! dan wil jy jou vrou wegneem daarnatoe!

Op dié oomblik sien Jan Paula op die stoep—sy het net tuisgekom. En hy
merk nie hoe die oë van mevrou Kibert vol trane skiet nie. As hy haar
weer aankyk, is sy reeds bereid vir die nuwe offer wat God van haar verg,
en met ferme stem antwoord sy hom:

—Dat God jou planne seën! Daar is my dogter, Jan. Te lank het sy in
eensaamheid en ellende gelewe. Sy het behoefte aan geluk. En hoe gelukkig
sal sy tog wees met jou liefde! Haar jonkheid, wat sy al vergeet het, sal
sy weer voel herlewe. Ek gee jou permissie, Jan, om haar te sê dat jy
haar liefhet.

En, dewyl Paula al naby hulle is, sê sy fluisterend daarby:

—Ek gee jou my laaste en my liefste kind.

Haastig stappend en regop kom Paula oor die agterplaas na hulle toe,
onder die skaduwee van die kastaiingbome. ’n Bietjie styf in haar
swart rok, groet sy die jonkman, wat haar tegemoet kom. ’n Ligte rooi
verlewendig haar gelaatskleur terwyl haar donker oë verhelder. Sy soen
haar moeder:

—Ek kom van die boer. Môre sal ons eiers en botter kry.

Mevrou Kibert vat altwee same in haar moederlike blik. Sy staan op van
haar stoel:

—Ek gaan die ete klaarmaak. Ekskuseer my, Jan. Dis ’n mooi aand. Julle
kan nog maar ’n bietjie rondwandel tot die son ondergaan. Loop tot na die
bos van die waterval, en kom dan gou weer terug, kinders.

Ontroerd, en vol vertroue, kan sy nie nalaat om hulle haar kinders te
noem nie. Naas mekaar en lig van stap sien sy hulle gaan, die boomlaning
in.

—Hoe lank is sy! sê mevrou Kibert by haarself.

Hy is net ’n halfkop langer. En tog lyk hy groot. Hulle is ’n mooi paar.

Hul verdwyn onder die bome. Langsaam, want haar hart voel swaar, stap die
ou vrou na die huis. Sy maak haar klaar vir haar grootste opoffering, en
sê by haarself:

—Paula, my liefste, nou vir my verlore . . . . ek wens dat jy gelukkig
mag wees; as ’n goeie kind het jy dit wèl verdien. Wees gelukkig—dis
alles wat ek vra van God . . . .

Jan en Paula stap aan in die voetpaadjie van die populierbos, hy agter en
sy voor.

—Laat ons loop tot by die dennebos, sê sy, deur die takke kan ons dan die
aandrood op die berge sien.

Hy bly staan:

—Sal ons nie liewer hier bly nie?

En hy wys haar ’n ou boomstam wat as sitplek kan dien. Sy het laas daarop
gesit met Marcel, op hul laaste wandeling, vóór sy vertrek. Sy dink aan
dié dag terug en is half huiwerig om te gaan sit. Sy merk niks uit die
woorde van Jan nie. Weinig gewend om oor haarself te dink, getroos in
haar armoede en in die vooruitsig om agtergelaat te word, het sy geen
gedagte meer aan liefde of aan ’n huwelik nie. Sy dink dat sy vir altyd
die gevoelens van vroeër dae stil gemaak het, wat haar so baie verniet
laat ly het, en sorgvuldig bewaak sy haar verstote hart. Sy laat haar
oorhaal om te gaan sit. ’n Oomblik sit hulle so, spraakloos naas mekaar.

Die son is al weggesak agter die berg. Hulle het ’n gevoel of daar iets
heiligs en geheimsinnigs in hul nabyheid is: die aandstilte, aanswewend
oor die landskap. Aan hul voete golf die ryp graan van die lande saggies
op en neer in die windjie—soos ligte golfies langsaam wegsterwende op
’n seestrand. ’n Entjie verder, swaargeblaard en vol majesteit, val die
groot bosse reeds in slaap. En vèr, op die horison, trots dat hulle die
daglig nog in die oog het, gloei die laaste kranse in al die prag van hul
rose en violette tinte.

Die kalmte van die natuur is vir Jan ’n gelukkige voorteken, en versnel
die slae van sy hart. Hy kyk na haar wat naas hom sit, en verheug hom in
wat hy haar te sê het, want nogmaals herken hy in haar die bevalligheid
van haar jonkheid, en die fierheid van haar hele famielie.

Pynlik duidelik herinner sy haar nog die tere woorde van Marcel, hier
op dieselfde boomstam uitgespreek, die aand van sy vertrek na Afrika:
_Paula, moenie ongerus wees nie; ééndag sal jy nog gelukkig wees_. Vandat
Jan terug is, het sy haar in haar lot geskik, sonder bitterheid en sonder
swakheid. Ja, sy voel wel ’n soort gelate geluk, waarmee sy haar tevrede
stel na soveel skokke. Is _dit_ die geluk wat Marcel bedoel het? En die
vreedsaamheid van die aanduur word weer in haar wakker, die onbestemde
verlange na ’n ander soort saligheid. Maar sy weet nie dat die uur nou
gekom het nie.

Jan besluit nou om te praat:

—Paula, ek het aan jou ma vertel wat my planne vir die toekoms is.

Sy kyk hom aan met haar swart oë.

—Is jou verloftyd al verby? Gaan jy gou weer weg?

—Ek gaan nie terug na my kommando nie.

Verbaas wag sy op nader uitleg.

Haar oë blits:

—Ek gaan bedank.

—Jy, Jan! O, dis verkeerd van jou. Jy is nog nie dertig jaar oud nie,
jy het al ’n ereteken, en jy gaan jou loopbaan weggooi! Wat sou Marcel
daarvan gesê het?

—Marcel sou dit goed gevind het, Paula, want ek sal my land nog dien, op
’n manier wat nie minder nuttig is nie. In plaas van soldaat, word ek
kolonis. Ek het aan jou broer Etienne geskrywe; hy kan àl sy werk nie
alleen klaar kry nie, daar in Asië. Ek gaan hom help.

—Ag! sê sy, sal hulle nie bly wees nie! Hulle weet hoe lief jy vir Marcel
gehad het. Jy sal vir hulle van hom vertel soos jy ons vertel het. Jy sal
kennis maak met my nefie en niggie, wat ek nog nie eens ken nie.

’n Skaduwee versprei hom oor die vlakte, en begin op te klim teen die
hang van die berge. Op die meertjie in die verte sweef ’n purperkleurige
waas, geleidelik oorgaande in die rose en goudkleur van die aandhemel. En
die vrede van die aand daal neer op die onbeweeglike dinge van die aarde,
soos ’n hemelse seën.

Jan staan op en bly so voor haar staan.

—Jou broers sal nog blyer wees as hulle weet wat my ander plan is. En met
neergeslae oë sê hy, op sagter toon:

—Dis ’n plan wat vir my van baie groot betekenis is. Jou ma weet al
daarvan.

Hy kyk haar aan en merk, tot sy verbasing, dat sy hom nog nie verstaan
nie. Dat sy haarself so vergeet, is vir hom mooi; en eindelik, met diepe
erns en gevoel, spreek hy die beslissende woorde uit:

—Paula, ek het jou lief. Wil jy nie my vrou word en met my saamgaan oor
die see nie?

Spraakloos, staan sy nou ook op, en word doodsbleek. Daar is ’n druk op
haar bors, dit gaan op en neer, en toon aan wat ’n storm in haar hart
losgebreek het. Maar sy bly stil.

Hy gaan aan:

—Ek het jou lief, Paula. Het jy dit nie geweet nie? Toe ek van Algiers
teruggekom het, het ek jou teruggevind, so dapper . . . . . en so mooi.
Nee, moenie jou hoof skud nie. In die woestyne, ek weet dit nog, het
Marcel my baiemaal vertel hoe jy die steun was van jou moeder. En daar,
in die wildernis, as ek een of ander beeld of steun nodig gehad het om my
kragte aan te wakker, om my moed in te fluister, dan is dit aan _jou_ wat
ek gedink het. Ek sien dit wel, ek het jou altyddeur al liefgehad, van
ons kindsdae af, toe ons saam gespeel en gelag het. My geluk lê in jou
hande, Paula, wil jy my dit nie gee nie?

Sy antwoord nie. Sy is so bleek asof al haar bloed uit haar are
teruggedring is. Hy neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie. Hy wag vol
vertroue, kalm, sy hart swellend van hoop.

Sonder iets te sien, is haar oog op die vreedsame landskap gevestig. Die
kranse weerkaats nie meer die gloor van die ondergegane son nie. Die hele
natuur gaan skuil in die skaduwee wat die slaap voorafgaan.

Is dit dan nie dié geluksaligheid wat Marcel haar voorspel het nie, hier
op dieselfde plek, op net so’n kalm aand?

Terwyl sy nog maar stil bly, voel Jan ’n ontsaglike beklemming om sy
hart. Sy stem klink anders as hy die derde maal herhaal:

—Paula, ek het jou lief. Waarom praat jy nie? Ek smeek jou, antwoord my.

Saggies trek sy haar hand uit syne, terwyl sy sê:

—Nee, nee, ek wil nie!

Snikke verstik haar stem, en hardlopend vlug sy huis-toe.

En nou voel hy die nag binnedring tot in sy hart. Hy verag die lewe,
wat hy liefgehad het, en hy beny Marcel waar hy rus, in die sand van
Afrika—Marcel, wat reeds die uiteindelike vrede smaak.




VIII.

MEVROU KIBERT.


Mevrou Kibert wag haar kinders af, op stoep. Haar arms is gekruis op die
tralie. Haar hoof is gebuig. Haar lippe prewel ’n gebed. ’n Diepe vrede,
soos dié wat saans op die lande neerdaal ná ’n skone dag, is nou ook op
haar gelaat te sien, wat nog nat is van haar trane. ’n Paar rose loer
tussen die half-verlepte klimop uit, en beweeg in die windjie, wat hul
blaartjies verstrooi en hul geur in grypies wegsteel.

Sy sien Paula terugkom, ontsteld en snikkend, en probeer tevergeefs om
haar staande te hou met die woorde:

—Paula, wat makeer? vertel my . . . . .

Sonder te antwoord is sy binne-toe en in haar kamer.

Mevrou Kibert gee ’n paar stappies agter haar aan. Maar sy dink na, en
bly weer staan. Sy gooi ’n tjalie oor haar skouers, stap die treedjies
af, en so hard as haar bewende ou stappies haar wil dra, gaan sy die
boomlaning in. Sy gaan staan by die groot hek aan die pad, en sê by
haarself:

—Hy kan nog nie verby wees nie. Paula het so vinnig huis-toe gestap.

Sy kyk die pad op. Rondom hoor sy net die skel eentonige klaaggeluid van
die kriekies, en nou en dan die geskuifel van die sware kastaiingblare in
die windjie. In ongeduld wag sy ’n paar oomblikke en sien dan die swart
skadubeeld van Jan in die verte. Hy loop met geboeë hoof en liggaam. As
hy naby haar kom, sien sy dadelik op sy gesig dat hy bedroef en wanhopend
is. Versink in sy leed, merk hy nie dat sy daar staan by die pilaar van
die hek nie. As hy verby wil stap, roep sy hom:

—Jan!

Verbaas om sy naam te hoor roep, kyk hy op en gewaar die ou vrou; sy
glimlag hom droefgeestig toe. Hy groet en kom nader.

—Ag! sê hy, net asof hy kla by sy moeder. Ek is baie ongelukkig.

Sy steek haar hand uit.

—Jan, gee my jou arm. Laat ons binne-toe gaan. Dit word al donker en koud.

Moedeloos gehoorsaam hy:

—Mevrou, u weet dat dit my nie pas om ooit weer hier binne te gaan nie.
Maar ek sal u tot by die deur bring.

Aaneen klink die kriekiesgesang op uit die velde. En deur die stamme van
die bome sien hy in die lug die laaste goudglim van die verdwene son.
Hardnekkig hou die dag die stryd vol teen die nagskaduwees.

Spraakloos stap hul aan, naas mekaar. By die treedjies wil hy afskeid
neem, maar sy sê:

—Kom binne. Ek wil met jou praat. Paula is nie in die voorkamer nie.

Hy wil weier. Onverskillig gee hy dan maar toe en volg haar. Hy voel soos
’n veroordeelde wat maar min glo aan die trooswoorde van sy weldoener,
maar dit darem tog aanhoor.

Binnegekom, draai sy om na hom, neem sy twee hande in hare, kyk met haar
sagte oë in syne, en sê:

—Het sy geweier om jou vrou te word?

—Sy het wenend weggehardloop.

—Jan, my liewe Jan, jy het haar nie verstaan nie.

Die vriendelike bejeëning is balsem op sy smart, maar knak die bietjie
krag wat hy nog oorhet. Hy is klaar om in trane los te bars.

—Ag, dit _is_ so! sê hy. Sy het my nie lief nie, en ek hou tog so baie
van haar.

Sy laat die hande van die jonkman los, en leun nadinkend op die tafel.
Wat sy nou wil waag, is iets ernstigs. Mag sy beskik oor die hart van
haar dogter? Is sy, as moeder, wel seker dat sy haar goed deurgekyk het?

Sy beskou die jonkman, wat sy graag haar seun sou wil noem, en sy dink
aan sy trou en moed. Bowenal dink sy aan Paula haar brandende hart en aan
haar toekoms. Sy voel nou seker van haar saak, kyk Jan glimlaggend aan,
en sê eindelik:

—Jy het dit mis, Jan, Paula het jou _wèl_ lief.

Hy skud sy kop.

—Nee, nee, mevrou. Ek vra geen verklaring nie. Laat my nou gaan.

—Sou die moeders dan teenwoordig nie meer weet wat daar omgaan in die
harte van hul dogters nie?

Sy dink eers weer na, en vul dan aan:

—Paula het jou lief. Jy het nie verstaan dat sy haarself opoffer vir my
nie.

—Vir u? Hoe so?

En oplettend kyk hy mevrou Kibert aan. Sy jeug kan sy neerlaag nie verdra
nie, en hy voel reeds ’n nuwe roering van hoop. Intussen verbaas dit haar
nie dat hy haar gedagtes nie kan lees nie, en dit klink byna soos ’n
ekskuus uit haar mond as sy sê:

—Het jy haar nie vertel dat jou plan is om na Asië te gaan nie?

—Ja.

—Sy wou my nie alleen laat agterbly nie, Jan. En daarom het sy gehuil en
weggeloop. Maar sy _het_ jou lief: is haar trane nie bewys daarvan nie?

Hy sien nou in hoe hy net aan homself gedink het; sonder ’n woord staan
hy daar voor die ou vrou, wat hy heeltemal verbygesien het, vir wie hy
besig was ’n eensame en treurige bestaan vóór te berei, vir haar, wat ’n
uurtjie gelede selfs geen klag laat hoor het nie toe hy haar gevra het
om haar laaste kind aan hom te gee.

Terwyl hy nog altyd stilbly, gaan mevrou Kibert voort, kalm en bedaard:

—Sy wou my nie eensaam laat agterbly nie.

En met ’n droefheidverbergende glimlaggie, voeg sy daarby toe:

—Verbaas dit jou, Jan?

Hy bly nog maar stil en probeer om hom sterk te maak teen die diepe
ontroering wat hom aangryp. Maar die ou vrou gaan aan, met sagte maar
besliste stem:

—Dis verkeerd van haar, Jan. Sy het my liefgehad voordat sy jou liefgehad
het. Vandag hou sy meer van jou as van my, maar sy weet dit nog nie. Sy
is my vreug gewees, my hele krag selfs. Later sal jy ondervind wat die
toewyding van hierdie kind beteken. Sy is so aan my geheg dat sy haarself
daarvoor wil opoffer. Maar dit wil ek nie hê nie. God wil dit ook nie hê
nie.

Die jonkman ween. Sy neem sy hand:

—Sy kyk agtertoe, maar in die lewe moet ’n mens vorentoe kyk. Vaders en
moeders kan vir hul kinders lewe, maar nie omgekeerd nie. Dis die wet van
die natuur. Dis die wil van God. Moenie bedroef wees nie, Jan, sy sal
jou vrou word. Ek gaan haar haal vir jou. Maar beloof my eers weer dat
jy haar sal liefhê, dat jy altyd vir haar mooi sal oppas, dat jy haar
gelukkig sal maak. My Paula verdien dit tog so.

Jan probeer nie meer om sy trane in te hou nie. Dis trane van diepe
veréring vir so’n wonder van selfverloëning. In sy eerbiedvolle en
liefderyke bewondering, maak hy byna geen onderskeid tussen moeder en
dogter nie, mekaar so waardig in wederkerige opoffering van hul geluk.

En hyself, verblind deur sy liefde, het daar nie aan gedink nie dat die
liefde—wreed, soos eertyds die gode—’n offerande eis, die versoenende
offerande van ’n edele hart wat verskeur word.

Skielik buig hy voorover en druk sy lippe op haar hand, met ’n beweging
asof sy ’n heilige is.

—Ek sou voor u wil kniel, fluister hy. Wees geseën onder al die vroue.

—O Jan, wat sê jy daar?

Hy gaan aan:

—Maar ek neem u offerande nie aan nie. Ons sal hier in die moederland by
u bly. Paula sal u nie hoef te verlaat nie.

Maar mevrou Kibert is al weggestap. Aan die end van die voorkamer maak sy
’n deur oop. Op die drempel draai sy om en sê aan hom:

—Wag daar tot ek weer kom.

Sy loop deur haar eie kamer en bereik die kamer van haar dogter, sonder
geluid te maak. Gedra op die geure van die tuin, sluip die sterwende,
geheimsinnige aandgloed deur die venster in en word in die spieël
teruggekaats, tesame met die boomblare wat nou, soos ’n swart skaduwee,
teen die lig afsteek. In die halflig sien sy Paula sit op die voetenent
van haar bed, gekromd oor haar eie skoot, bewenende haar verlore geluk.
Vrywillig en sonder swakheid het sy dit verloor . . . . En mag sy dit nou
nie beskou as ’n skone, verre, beloofde land, waar sy nooit sal binnegaan
nie? En sy geniet van haar leed, van haar ou, vurige liefde, waarvan
niemand ooit iets sal weet nie—haar liefde, waarvan sy gedink het dat sy
dit al lank verstik het, en wat nou in haar verdriet herleef. Sy geniet
só, dat sy amper lus kry om maar nou te sterwe.

Sy skrik uit haar droefheid op, want sy voel ’n kus van haar moeder op
haar hare.

—Paula, waarom huil jy? Jy moet dapper wees in die liefde, soos jy dit
gewees het by beproewinge.

Die dogter spring op, en, wetende dat die skemer die tekens van haar
ontroering half verberg, verdedig sy dadelik haar gedrag:

—Ma, ma weet nie wat daar gebeur het nie. Ek het hom nie lief nie . . . .
Sy voorstel het so onverwags gekom, dit was so snaaks vir my, dat dit my
’n bietjie dof geslaan het. Ma, dis die eerste keer, verstaan ma . . . .
Maar lief het ek hom nie, ek verseker ma dit . . . . . ek kan nie anders
nie.

Haar ma kyk haar met innige liefde aan asof sy die volle maat wil begryp
van die jonge, standvastige toewyding, wat nie wil beken nie, en tot in
die wanhoop daarin wil volhard.

—Kom saam met my, Paula, sê sy eindelik. Jan het jou nie alles vertel
nie. Jy het te gou weggehardloop. Hy het nie tyd gehad om jou te sê dat
ek saam gaan met julle twee nie.

Soos blomme waarop, na ’n reënbui, die water-druppeltjies skitter soos
edelgesteentes, so straal daar meteens ’n glans van blydskap uit die
betraande gelaat. Sy slaat haar arms om die hals van haar moeder. As
mevrou Kibert nog sou getwyfel het aan Paula haar geheim, dan is hierdie
skielike verandering in Paula wel genoeg om alle sekerheid te gee.

—Ma, is dit waar? Hoe gelukkig sal ons daar tog wees! . . . . . Ek het ma
tog so lief.

Mevrou Kibert glimlag, sy begryp wel dat die laaste woorde vir iemand
anders bestemd is.

—Ek het wel geweet, sê sy saggies, terwyl sy Paula haar wang streel, soos
vanmelewe toe sy nog klein was. Met ontroering aanskou sy die ontluikende
geluk, waartoe die Voorsienigheid haar ’n kans gegee het om iets by te
dra. En stilletjies dank sy die Heer dat Hy haar wens vervul het.

Skamerig, en sonder haar ma aan te kyk, vra Paula:

—Is hy al weg?

—Hy is nog daar.

Sy bloos, maar die skemering verberg dit vir die oog van haar ma.

—Kom, ons gaan terug na hom toe, sê mevrou Kibert. Sy neem Paula haar
hand en lei haar binne in die voorkamer:

—Jan, hier is jou vrou.

Self lê sy hulle hande in mekaar. Hulle kyk mekaar nie aan nie. ’n
Heerlike ontroering swel in hul boesem en vul dit met die genade en
skuheid van die lewe—die geheime kenteken van goddelike krag.

Jan is die eerste wat sy oë opslaat en die geliefde voorwerp van sy
saligheid aankyk. Paula haar trane van flus het haar skoonheid verminder,
maar het haar uitdrukking van trots ook getemper en haar bedeel met ’n
onderdaniger, aandoenliker menslikheid, wat ook spreek uit haar houding
van oorgawe. Om haar vrouweswakheid kry hy haar nog meer lief.

—Kan ek nou glo aan my geluk? sê hy eindelik.

Met ’n sug van verligting antwoord sy:

—O, ja!

—Paula, ek het jou lief.

In ’n byna onhoorbare suggie sê sy die woorde na:

—Jan, ek het jou lief.

Nou kyk sy hom ook aan, en hulle glimlag met mekaar. Maar dadelik soek sy
die oog van haar moeder, en, seker nou van haar geluk, sê sy:

—Ma gaan met ons saam na Asië. Daar oorkant sal ons almal bymekaar wees,
behalwe suster Magriet, die sendelinge.

Jan verstaan nou watter kragargument mevrou Kibert gebruik het om die
hart van haar dogter te leer ken. En hoewel hy twyfel aan die saamgaan
van die ou vrou, en vanself begryp dat dit maar ’n leuentjie is uit ’n
goeie hart, maak hy maar of hy net so bly is as hulle.

—My kinders, my liewe kinders! sê mevrou Kibert. God skenk ons groot
blydskap. Dat Sy seën op julle daal, op julle huis en famielie! Jan,
omhels jou verloofde!

Hy druk sy lippe op haar nog traanvogtige wang. So is reeds by hul eerste
omhelsing die spore van smart teenwoordig, as om aan te dui dat hul
lewens één is, in smart sowel as in vreugde.

Aan die ander end van die kamer kyk mevrou Kibert na die portret van
Marcel. Maar dis al so donker dat sy meer in haar verbeelding dan op die
portret sy gelaatstrekke gewaar. Jan en Paula kom nou by haar:

—Marcel sal tevrede wees, sê hy. Ek glo nou dat hy al my hart geken het
voordat ek dit self geken het.

En Paula onthou haar broer se woorde: _Moenie ongerus wees nie: eendag
sal jy nog gelukkig wees._

Hy, wat toe reeds op sy voorhoof die teken van die dood gedra het, en
die dood tegemoet gegaan het met ’n ferme stap—het hy toe in die toekoms
gesien met oë wat reeds geopen was vir ’n ander wêreld; en moet ’n mens
van die lewe afgeskei wees om die verwantskap van siele te deursien en
die geheim van hul bestemming? . . . . Haar susterlike gehegtheid aan
haar broer maak dit vir haar aangenaam om hom in verband te bring met
haar liefde vir Jan.

—Nou gaan ek huis-toe, sê Jan aan Paula.

Sy voel dadelik bedroef. Terwyl sy reeds al haar gedagtes gee aan haar
toekomstige man, veroorsaak die eerste skeiding al pyn.

Mevrou Kibert kom tussenbei:

—Dis al laat. Bly maar by ons, Jan, en eet saam. Jy sal met min tevrede
moet wees. Na die ete kan jy teruggaan na jou rosevilla.

Hy aarsel:

—Ek kan nie, mevrou. My oom sal ongerus wees. Ek het hom flus ’n bietjie
kortaf behandel op die pad, en ek wil hom nie nog meer las aandoen nie.

—Bring hom môre saam om by ons te eet, sê mevrou Kibert. Sê aan hom ons
sal ons mooiste rose op tafel sit.

As Jan Maupas verlaat, is dit al nag in die eikebos. Vrolik en sonder
haas stap hy die skuinste af, asof dit die reguit en maklike pad is
van sy toekomstige bestaan. Dis dieselfde skuinste wat Marcel een nag
opgehardloop het—sy bors gloeiende van liefde en die voorproef van gevaar
op sy droë lippe . . . .

Paula val laat eers in slaap. Sy ontvang die liefde met ’n ferme hart,
met roerende erns, wat vir haar glad nie ’n verslapping in deug is nie,
maar ’n versterking. Sy het dit opdraans gehad in haar jeug, stryd
voerende met stoflike moeilikhede en siele-smarte, soos bokke wat ’n
steilte uitklim en vlokkies wol aan die bossie agterlaat. Nou voel sy of
sy in die vlakte wandel—met sagte gras onder haar blote voete. Voor haar
uit is daar net lig op die horison. En wat sou haar afskrik as sy weer
eendag moet klim? Steun sy dan nou nie op ’n sterk arm nie, en voel sy
haar eie moed dan nie hernuud nie?

Maar sy is al lank aan slaap geval as haar ou moeder nog waak en bid:

—My God, fluister die arme ou vrou, vir die eerste keer in my lewe het
ek ’n leuen vertel. Vergewe my. Ek moes die twee kinders tog aan mekaar
gee. U het hulle vir mekaar geskape. Gaan hul geluk nie voor myne nie?
Ek is te oud om met hulle saam te gaan. Ek kan my dode nie verlaat nie.
Die aarde trek my ook al aan; weldra roep U my ook. Hier wil ek die ure
van U koms afwag. Maar gee my tog krag, o my God, om die laaste afskeid
met kalmte te dra. Ek het my so gewend gemaak aan Paula haar liefderyke
sorge; en deur my my enigste aardse vreugde te ontneem, herinner U my
daaraan dat ons nie vir ons onherroeplik moet heg aan die sake van die
wêreld nie. As sy weggaan, neem sy my hart saam, wat U so vol geluk
gemaak het voordat U dit breek. Vooraf bied ek U reeds my smarte aan,
opdat U U oorvloedigste seën uitstort op my seuns, Jan ook daarby, en op
my dogters, dié wat lewe en dié wat gestorwe is. . . .

Sy bid nog lank so. In haar geloof vind sy eindelik berusting; en as sy
uiteindelik aan slaap val, dan is dit in vrede.




IX.

HAAR LAASTE KIND.


Die grond is bedek met sneeu, sodat die voetstappe van die mense
onhoorbaar is—soos skimme gaan hulle daaroor, hierdie wintermôre, op pad
na die kerk in Chamberie. Instappend in die kerk herken vriende mekaar en
groet swyend met ’n hoofknikkie.

Stappie vir stappie, want sy is bang om te gly op die bevrore grond,
laat mevrou Kibert die ander maar verbystap wat sterker is as sy. Tog is
sy nog een van die eerstes, want sy hou nog haar ou gewoonte om altyd
baie te vroeg op ’n plek te wees. Sy gaan heeltemal apart sit, en sonder
haarselwe daar af in gebed. Sy voel groot behoefte aan die goddelike
beskerming, en smeek dit af met haar hele hart. Vandag nog sal sy haar
bittere eensaamheid moet ingaan. Die oomblik het gekom dat sy haar
laaste kind moet afgee, die enigste wat sy nog in haar arms het en wat
God tot dusver gespaar het. Om drieuur sal Paula en haar man vertrek van
Chamberie om na hul broers te gaan in Asië.

Die huwelik is ’n paar maande gelede voltrokke. Die jong gehude paar
het toe die eerste weke van hul huwelikslewe gaan deurbring in die
onvergelyklike skone gedeelte van die land—die fris-groen vlakte van
Chablais, aan die meer Leman, omgewe deur hobbelige hoë berge, tot aan
hul toppe met bos begroeid—verderaf skerpgepunte koppe, bedek met ewige
sneeu, helder-wit afstekend teen die klaarblou lug, saans nagloeiend in
die lig van die ondergaande son. Daar, in die geseënde oord, waar die
lug helder deurskynend is, skenk die fyne kleuroorgange van die natuur
’n lieflike bekoorlikheid aan die dae, wat tog alte gou verbygaan. Die
siel moet daar wel tot homself inkeer. Die hemelgewelf spieël hom af in
die water van die meer, wat nou bleekblou en dan weer donkerblou is. Die
grond aan die oorkant lyk huiwerig om water en lug te skerp van mekaar
te skei en werp ’n ylblou missluier op om die skeidingslyn te versag.
Veral die najaar verleen ’n roerende skoonheid aan hierdie towerland,
wat die byna wegsterwende tinte harmonies laat samesmelt, tot tempering
van die somervreugde, wat te oorvloedig daarop uitgestort word; en die
skaterlag van water en weilande, vlaktes en berge, word omgesit in die
pynlikverlangende glimlag van die wellus wat hom swak voel en darem nog
wil geniet, en nie ontsien om in ’n wrange en bedwelmende mengsel die lus
tot lewe en liefde saam te vat met die voorgevoel van die naderende dood
nie.

Paula en Jan ondervind die betowering van die najaar. Hulle asem die
wrede bekoring daarvan in. Hulle sien hoe die blare van die bome
duisende skone verbygaande kleure aanneem, hoe die wingerde tot aan die
waterkant ’n opskik van goud aantrek, om in ryke skoonheid te sterwe. So
is hul jeug reeds gewaarsku, hulle voel hoe onstandvastig die liefde is
wat haar doel in haarself soek, en, deur liefkosing te beskou as dagtaak,
haar duursaamheid nie weet te grondves op ’n samelewing van wedersydse
vertroue en ’n begeerte tot stigting van ’n gesin nie.

Hulle keer terug na Maupas as die oeste af is en die lande en
vrugteboorde die mense verlos van landbousorge. Paula hou vas aan haar
moeder, as om ’n dreiende toekoms te vergeet. En die toekoms weeg
swaar op die weinige ure wat die twee nog verenig. Mevrou Kibert moes
haar dogter wel vertel dat sy besluit het om tuis agter te bly. Jan
is so goed om sy hele plan van vertrek te wil opgooi. Die karakter en
bekwaamheid van die jongman, die geeskrag van die jongvrou, die geldelike
omstandighede van hul famielie weerskante—alles wys daarop dat hulle na
die kolonies moet gaan om hul kragte behoorlik te kan ontwikkel en ’n
nuwe tuis te wen. Etienne hou ook altyd meer en meer aan dat hulle moet
kom, dat sy onderneminge goeie gevolge het en ’n groot sukses waarborg.
Hy smeek sy suster om hul moeder ook mee te bring, om daar, as voorwerp
van hul gesamentlike sorge en liefde, ’n gelukkige oudag te slyt. Beleef
maar beslis weier mevrou Kibert. Ek is tog alte oud, sê sy as Jan en
Paula by haar aanhou. Ek wat nog nooit verder gegaan het nie as tussen
Maupas en Chamberie, hoe sal ek so ’n lang seereis kan verdra? Ek sal
net lastig wees vir julle. Ek bly hier, en beurt om beurt kom julle by
my kuier. Julle sal my vertel van my kleinkinders wat ek nie ken nie, en
wat ek liefhet, soos ek my eie kinders liefgehad het voor hul geboorte.
En dan glimlag sy om hul aandag af te trek van haar oë wat vol trane is.
Maar in stilte dink sy by haarself: Ek voel dat God my roep. Nou, nou
eers is my taak volbrag. Ek is digter by die dode as by die lewende. As
ek alleen is, sal ek meer my man opsoek en my klein Thérèse: hulle wag
vir my in die kerkhof. Veral ook sal my hart aan Marcel dink, wat daar
vèr in Afrika rus. Nee, ek sal nog net één reis maak, en dit sal wees om
by dié te kom wat ek liefhet. Dié wat nog lewe, het my nie meer nodig
nie. Van vèr sal ek vir hulle bid—eers van hier en dan daar bo. Ek kan
niks anders meer doen nie . . . .

Paula doen al wat sy kan om haar ma elke dag liefde te bewys. Hulle het
tog so lange jare saam hul brood met trane geëet. Die jongvrou maak haar
byna ’n verwyt van haar eie geluk, nou dat sy op vertrek staan; en haar
ma wil haar maar altyd die geluk nog meer laat voel.

—Ek merk waar jy aan dink, sê Jan, as hy trane sien in Paula haar oë.

—Ek het jou lief, Jan, antwoord sy, ek het jou lief bo alles in die
wêreld. Maar sy . . . .

Hy kus haar, en antwoord:

—Ek is nie jaloers nie, Paula, en ek begryp jou smart so goed . . . .

Jan het self ’n plan gemaak omtrent die ou vrou haar woning as hulle weg
sal wees: in die winters sal sy op kamers gaan woon in Chamberie: sy sal
daar minder afgesonderd wees as op Maupas. Sy het teen-gestribbel, en
gesê:

—Julle moenie uitgaaf aan my hê nie.

Namate die dae verbygaan, voel Paula haar moed sak, terwyl die moed van
mevrou Kibert al groter word. As ’n soort van verheerliking dra sy nog op
haar diep-gerimpelde voorhoof, in haar helder oë, op haar bleek wange,
die afglansing van haar siel. Saans praat sy met die twee kinders oor hul
toekoms, en stort in hul harte ook haar eie vertroue op God—die vertroue
wat heeltemal aan die Voorsienigheid oorlaat al wat voorbereid is met
beslistheid, moed en deug. Altyd sal hulle wel dink aan hierdie lering,
deur eie edele voorbeeld so aanskoulik gemaak.

So teen mekaar aangedruk, soos reisigers deur ’n onweer bedreig, smaak
hulle nog die geluk van hul laaste samesyn, tot die droewige afskeidsure
aanbreek.

Jan en Paula slaap nog toe mevrou Kibert stilletjies uitgaan om by haar
God die hoogste krag te gaan soek wat sy netnou nodig sal kry.

So sit sy dan in die kerk. Sy het meer behoefte aan moed as aan kalmte.
Voor die uur van smarte slaan, soek sy krag en geduld by Hom Wat alle
menslike ellende gedra het sonder kla.

Mevrou Kibert sit ’n bietjie apart in ’n donker hoekie, verlore in haar
eie oordenkinge. In gedagte gaan sy die laaste jare van haar lewe weer
oor, en vind soveel om die Heer voor te dank. Het Hy haar nie die seën
geskenk waar sy so lank met besorgdheid om gesmeek het nie—die geluk van
haar dogter? Paula, haar eie Paulatjie—sy het haar wel nie die liefste
van al haar kinders nie, maar sy is die sagste, en was haar steun in die
beproewinge van haar oudag; hoe dikwels het sy nie die Here Se seën op
haar afgesmeek nie, want op Paula veral het die verdriet van die famielie
neergekom! En om haar dogter nou die afgebede seën te skenk, verskeur
die Heer die hart van die moeder. Maar dewyl die Heer dit nou vir so’n
prys wil doen, hoe sou sy so laf kan wees om te murmureer teen Sy wil
en weldaad, hoe kan sy dit regkry om die eensaamheid te verwens wat sy
vanaand sal ingaan soos in ’n vroegtydige dood? En sy sê in haar gebed:

—Nee, nee, ek sal myself nie beklaag nie; ons is tog maar te gou
om soiets te doen tot verontskuldiging van ons swakheid. My God, U
ondersteun my in my behoefte. Vanaand wil ek sterk wees. Hulle sal my
nie sien ween nie. Ek sou tog nie met hulle kan saamgaan nie. U het
my gewaarsku dat my kragte uitgeput is; en dan, my werk is gedaan.
My kinders sal dit voortsit beter as ek kan. Ek dank U dat U my, in U
goedheid, nog die geluk van my dogter laat sien het. Ek dra haar op
aan U beskerming gedurende die lang seereis, en ook haar man, wat ook
my kind geword het . . . . Ek dra ook aan U hoede op, my God, ’n ander
lewentjie wat nog in duisternis en onsekerheid verkeer, die lewentjie van
’n klein wesentjie wat nog moet kom, wat my oë nooit sal sien nie, wat my
hande nie sal verwelkom in die wêreld nie. Gee daaraan ook gesondheid,
verstand, wilskrag, en onderwerping aan U heilige wil. Gee hom ’n lang
lewe, opdat hy U lank en goed kan dien. Laat hom volhardend en sterk wees
in wat goed is; laat hom nie bang wees om te lag nòg om te ween nie; laat
hom werklustig wees; en laat hom word vir sy moeder wat sy vir my gewees
het . . . .

As mevrou Kibert haar hoof ophef van haar hande, waarop sy vooroor geleun
het, sien sy dat die priester klaar is om die diens te sluit. Sy verwyt
haar dat sy nie na die preek of gesang geluister het nie. Maar sy vind
dat sy in haar gebed die kalmte en vrede gevind het wat sy kom soek het.

Die mense staan op van hul sitplekke en verlaat langsaam die kerk. Mevrou
Kibert stap ook uit op die sneeu, in die triestige winterdag, wat haar
sal sien terugkom van die stasie . . . . alleen.

As sy terugkom op Maupas, en deur die gang stap, wat vol kiste en koffers
is, vind sy haar ou meid Marie besig met die ete klaar te maak.

Meneer het uitgegaan, sê sy, om ’n rytuig te bespreek.

—Sonder te eet? vra mevrou Kibert—sorgsaam soos altyd.

—Hy wou nie.

—En mevrou?

—Watter mevrou? Ag ja, juffrou Paula. Ek kan tog nie gewend word om haar
mevrou te noem nie . . . . is dit nie snaaks nie? . . . . die juffrou is
in haar kamer . . . . As ’n mens oud word, dan vergeet jy ook alles, en
ek is niks meer werd nie.

—Dit kan ook nie anders nie, Marie: ons is altwee oud.

Maar albei vergeet wat hulle te doen het en dink aan die vertrek wat op
hande is; die ou bediende haal haar bril af en stryk haar hand oor haar
oë.

Met haar bewende hande wil mevrou Kibert nog vir die laaste keer haar
dogter haar sjokolade klaarmaak soos sy daarvan hou. Dan gaan sy luister
aan die kamerdeur, en hoor Paula sug. Sy klop, stap saggies binne, en
vind Paula in trane.

—Ma, ag ma, moet ek regtig weggaan! Ek het geen moed meer nie.

Mevrou Kibert sit die koppie neer, en lê haar gerimpelde hand op die
voorhoof van haar dogter:

—My liefste, ek wou jou vanmôre nog bedien, en ek het van hierdie
broodjies laat kom, wat jy so graag eet.

Sy buig vooroor, en terwyl sy Paula kus, sê sy saggies:

—Hou moed, Paula, God wil dit so! Die liefde van jou man gee my die
versekering dat jy gelukkig sal wees. En moenie oor my ongerus wees nie.

Maar die trane hou maar aan. Jan kom binne, en sien die twee in mekaar se
arms. Hy dink dat dit Paula is wat moeite doet om haar ma te troos.

—Ons kom weer, ma, sê hy. Ek beloof u, ons kom weer. Ander jaar kom
Etienne en sy vrou kuier, en dan kom ons die jaar daarna.

Maar as die ou vrou opkyk, merk hy met verbasing dat sy nie ween nie, en
dat dit sy is wat moet troos.

—Waar sal ek in dié twee jaar wees? dink sy. En kalm en ernstig antwoord
sy:

—Jan, jy moet jou vrou tog baie liefhê. As julle vèrweg is, dan sal dié
gedagte my krag gee. God is goed en Hy waak oor ons. Die skeiding sal die
band tussen ons hegter maak. Ons gedagtes en ons harte bly één. As daar
sekerheid van liefde is, dan beteken afstand tog maar min.

Met dié plegtigheid, wat sy waarskynlik nie opsetlik aan haar woorde gee
nie, gaan die ou moeder aan:

—Bemin mekaar trou. Moenie jul liefde maak tot ’n vervelende en
verswakkende tederheid nie. Put daaruit, en uit jul wedersydse vertroue,
die wilskrag en die volharding vir jul lewe. Kyk vooruit. As julle
agteruitkyk na ons dode, na my, moenie dat dit julle ontmoedig nie,
maar laat dit strek tot beter begrip van jul jonkheid en van al wat God
daarvan verwag.

Jan en sy vrou het haar hande geneem en haar spraakloos aangehoor.

—Ja, sê sy nog daarby, asof sy in die toekoms sien, kyk vooruit, na jul
planne, na jul toekomstige kroos. Gee aan jul seuns en dogters dapper
harte, en laat hulle ook voor hulle uitkyk, met oë wat uit jul eie
verlede krag sal put om te sien.

Hulle ween albei, terwyl die ou moeder doodkalm bly. En sy besluit:

—Ek seën julle. Vir jou, Paula, om jou vrome waaksaamheid oor my, en om
jou sorg vir jou broers. En vir jou, Jan, om jou vriendskap vir Marcel,
en om al die geluk wat ek in daardie twee oë lees, al is hulle vol
trane . . . .

Mevrou Kibert gaan met hulle saam tot by die stasie. Hulle ontmoet daar
bowendien nog ’n paar vriende wat die jong vertrekkende paar kom groet.
Jan se oom is siekerig, maar hy het die bediende gestuur met ’n ruiker
blomme. Alida staan opsy—bleek en skraal, hoewel sy ’n dik pelskleed aan
het: sy wag op ’n geskikte oomblik om Paula te groet. Paula sien haar
staan, en gaan na haar toe; ’n oomblik aarsel die twee, en dan is hulle
in mekaar se arms. Paula sien hoe haar ou skoolmaat lyk, en vra saggies:

—Nog altyd so verdrietig?

—Altyd nog. Maar jy Paula?

Terwyl hul saam na die kant van mevrou Kibert stap, vra Paula snel aan
haar:

—Alida, bewys my tog ’n vriendskap: gaan tog af en toe na ma toe, hou ’n
oog op haar, en skryf my hoe dit met haar gesondheid gaan.

—Ek beloof jou dit.

Alida bly alleen staan, en bewoë stap Paula terug na haar ma en Jan. Soos
altyd as die oomblik van afskeid kom, is die laaste woord van die ou vrou
’n gebed:

—Dat God julle beskerm!

Maar as die trein wat hulle wegneem, verdwyn het, raak sy haar voorhoof
aan en voel dat dit yskoud is, en sy dink:

—Dit was hoog tyd. My moed was op.

Sy is verplig om op die bank te gaan sit, in die derdeklas wagkamer. Die
reisigers wat kom en gaan, is besig met hul reiskaartjies en hul koffers
en sien nie eens die ou vrou in haar rouklere wat daar alleen sit en huil
nie.

Sy het weer geword ’n arme, swakke, lydende sterfling. Maar sy het darem
die krag besit om tot die laaste oomblik haar wanhoop verborge te hou vir
haar kinders.

In die trein druk Jan sy wenende vroutjie aan sy bors. Sy leun haar
hoof teen die hart waaraan sy haar heeltemal oorgegee het, en laat aan
haar trane ’n vrye loop. Hy begryp dat hy maar stil moet bly. Hy streel
net saggies haar wang met sy hand, en nou en dan buig hy vooroor om ’n
eerbiedige kus te druk op die oë waarvan hy die trane nie kan stuit nie.
Sy lig nou haar hoof op, en Jan verseker haar:

—Ons kom eendag terug, Paula.

Sy skud haar hoof, twyfelagtig, of wil nog nie vertroos word nie.

—Jy is my alles, Jan, fluister sy; en dan begin sy weer te ween.

Hy begin nou oor haar ma te praat:

—Paula, wat ’n voorbeeld gee sy ons van moed en selfopoffering. Dat ons
dit tog nooit vergeet nie! En as ons dit haar miskien moet nadoen, dat
ons dan steeds aan haar terugdink. O, dat dié wat uit jou gebore word,
soos sy mag wees! Dat hy ’n ferm en dapper hart mag besit! Dat hy sy
bestemming aanvaar sonder sy hande slap te laat hang, opdat hy, deur
nie bang te wees vir die lewe nie, die dood ook nie vrees nie: dis net
onvrugbare siele wat terneergeslae word deur die gedagte aan die dood.
Dat God ons kind beskerm, en ook haar vir wie ons daar agterlaat met
verskeurde hart.

—Ja, antwoord sy nou, dis ook my gebed. Dis God wat aan ma die
tevredenheid en berusting gegee het wat sy op my wou oorbring.

Haar jong lewe het menige uur van smart en rou geken. Maar sy dink dat
hierdie nog die swaarste is. Sy dink dis die dood wat sy voel. Maar dis
die lewe—die lewe in sy verhewenste roering—wat sy voel in die diepste
van haar siel. En dis dié hoogste lewe wat haar liefde louter, en dié
heilige vlam van moederlike opoffering waarvan sy die krag meer en meer
sal ondervind. Eendag sal sy verstaan dat die edelste, innigste, volste
lewe bestaan in algehele oorgawe van eie hart, en in selfopoffering.

Die trein stoom verby die eikebos van Maupas; en Jan en Paula kyk nog
’n keer uit oor die welbekende ou landskap. Die takke van die bome
dra sneeuvlokkies, soos klein wit blaartjies wat die ondergaande son
tempteer; en die ryp op die wingerdstokke blink in die aandstrale soos
skitterende kantwerk.

Dáar, en nêrens anders, het sy haar lewe deurgebring totnogtoe, dáar het
sy kennis gemaak met die lewe, met die dood, met die liefde. En sy dink
aan ’n jong, trotse dingetjie wat ’n hoë borsie opsit omdat sy haar ma
oppas.

—Soen my, sê sy aan haar man.

Hy omarm haar, en voldoen aan haar wens. En dié kus verwek ’n heilige
ontroering in hul wese, want hulle voel daarin nie alleen ’n tere
vereniging van hul liggame en siele nie, maar ook haar lange, vrome
toewyding aan haar moeder; hulle voel ook die geheimsinnige vooruitsig op
die betekenis van hul vereniging vir hul ras en nasie; dit vermeerder hul
lewenshoeveelheid en deel aan hul liefde iets onsterfliks mee . . . .




X.

KALME BERUSTING.


Met moeite staan mevrou Kibert op van die bank waar sy gaan sit het om te
huil. Sy sien al die vreemde mense heen en weer verbystap, en wil haar
droefheid vir hul oë verberg. Sy dink by haarself:

—Hier kan ek tog nie veel langer bly nie.

Sy staan eindelik op, en moet aan die muur vashou om te bly staan. Sy
vra haarself of sy wel ooit nog krag genoeg het om die huis te bereik.
Sy voel _nou_ eers haar swakheid en ouderdom soos ’n sware drag op
haar skouers. Sy dink terug aan die dag toe sy aangesukkel het in die
eindeloos-lange laning van Chenée. Aan die deur van die stasie, dink sy
met swarigheid aan die lang ent pad huis-toe. Gewend om nooit koste vir
haarself te maak nie, dink sy daar nie eens aan om een van die huurrytuie
te neem wat daar staan nie.

Stadigies begin sy aan te stap, leunend op haar sambreel, voetjie vir
voetjie, om nie te gly op die sneeu nie. Die moeite wat sy haar moet gee,
trek haar aandag van haar droefheid af. Maar elke keer as sy ’n oomblik
stilstaan, fluister sy die naam van Paula—Paula, wat haar nooit meer tot
steun sal wees nie. In gedagte volg sy haar twee geliefde reisigers, wat
haar geluk wegdra.

—Hulle is nou al dáar of dáar . . . .

As sy oor die bruggie gaan van die troebele, wild-tuimelende spruitjie,
bly sy ’n oomblik staan en leun teen die brugreling om asem te kry. Daar
hoor sy ’n sagte stem roep:

—Mevrou, wil u my toelaat om met u mee te gaan?

Dis Alida, wat gesien het hoe die ou vrou aarselend en sukkelend die pad
van die stasie ingeslaan het, huis-toe; sy het nie geweet of sy die ou
vrou moet help nie—volgens haar belofte aan Paula—dan of sy haar maar
ongesteurd moet laat in haar diepe smart. Maar nou sy sien dat mevrou
Kibert nie meer kan nie, kom sy nader.

Mevrou Kibert is so gedaan, dat sy somaar die arm neem van die jongvrou.
Sy stap bedruk en spraakloos aan. Alida is by-die-hand genoeg om haar
op ’n mooi manier te troos deur haar te vertel hoe bly haar kinders sal
wees as hulle mekaar daar in Asië ontmoet. Aan die deur bedank Paula haar
moeder haar hartlik vir haar moeite.

—Maar ek sal u ook nog die trap ophelp, sê mevrou Marthenay.

—Dis baie goed van jou, dankie.

En as hulle bo kom, sê mevrou Kibert:

—Bly nog ’n oomblik om uit te rus. Ek het swaar op jou arm geleun, die
hele pad.

Daar lê iets smekends in haar gedoofde oë, wat die treurige verlatenheid
van haar huis aanskou. Dit maak Alida verdrietig, en sy antwoord dat sy
’n bietjie sal sit.

Sy volg die ou vrou in haar slaapkamer, wat oordag ook as voorkamertjie
dien—’n skerm is voor die bed geplaas.

Ou Marie, nog bedroef oor die vertrek van die _juffrou_, bring ’n
telegram binne:

—Hier is ’n telegram, sê sy; en stuurs kyk sy die deftige mevrou
Marthenay aan.

Met moeite, want sy beef, maak mevrou Kibert die telegram oop. Die rooi
papiertjie, wat die dood kan inhou, maak sy nooit meer oop sonder angs
nie. Maar haar gelaat helder meteens op. Solank as sy lees, kyk Alida
onwillekeurig rond na die armlike meubels—byna kloosterlik eenvoudig.
En daar val haar oog op ’n vergrote portret van Marcel. Sy gaan nader
om te kyk. Die portret was geneem na sy terugkoms van die woestyn, as
kommandant; hy het die strenge kyk van ongenaakbaarheid in sy oë. En
duidelik sien sy weer die dag terug toe hy met haar gepraat het in die
bos van Chenée.

Mevrou Kibert lig haar hoof op van die telegram en sien hoe Alida daar
voor die portret staan. Sy het nou spyt dat sy haar daar in die kamer
gebring het. Maar as sy omdraai en na die ou vrou terugkom, bars Alida
meteens in trane uit.

—Wat makeer?

—Mevrou, o mevrou!

En die jongvrou snik haar geheim uit voor die moeder van Marcel.

—Ek het hom liefgehad. As u kon weet hoe lief ek hom gehad het!

Met groot medelyde kyk mevrou Kibert die jongvrou aan, wat haar seun moeg
gemaak het vir sy lewe. Paula het haar vertel dat Marcel, op die oomblik
toe hy gesneuwel het, in die binnesak van sy baadjie die portret gehad
het van ’n blonde meisiekind. ’n Meisie_kind_, ja, dit is sy, ’n swak
kind, wat die uitverkorene was van die manhaftige siel!

—Arme kind, sê sy, terwyl sy met haar hand die wang streel van Alida, wat
uitgeput op ’n stoel neergesak het.

Die ellende wat die ou vrou nou te vertroos het, laat haar haar eie smart
vergeet, en oombliklik het sy haar teenwoordigheid van gees en haar moed
terug.

—Alida, my kind, bedaar!

Maar mevrou Marthenay snik aaneen. Eindelik bring sy die woorde uit, wat
al eenkeer oor haar lippe gekom het, en wat ’n samevatting is van haar
hele ongelukkige bestaan.

—Waarom is ek nie sy weduwee nie? Dan sou ek minder ongelukkig gewees het
as nou.

Mevrou Kibert sê saggies:

—Maar jy wou nie sy vrou word nie.

—O, ja, _ek_ wou wél, want ek het hom liefgehad; maar my ouers was teë
daarop.

Sy beskuldig haar ma nie alleen nie.

Maar die ou vrou skud haar kop, en naderbykomend, sê sy nog sagter,
terwyl sy altyd nog Alida haar wang streel:

—Arme kind! Jy het nie geweet wat dit beteken om lief te hê nie.

Alida wil teëpraat, maar die ou vrou gaan aan:

—Nee, jy het nie geweet wat liefde is nie. As ’n mens jou hart weggee,
dan is dit vir altyd. En liefde skenk krag, geduld en lydsaamheid. Jou
ma het jou geluk gesoek—maar op háar manier. Sy het gedink dat sy goed
doen deur jou af te keer van my seun. Beskuldig haar nie: beskuldig net
jouself. Ongetwyfeld sou mevrou Delourens toegegee het as jou liefde
onherroeplik gebly het. Want sy het jou liefgehad en sy sou geleer het
om in te sien dat die voorwerp van jou liefde haar goedkeuring werd was.
Nee, jy _wou_ nie die vrou word van Marcel nie.

[Illustration: Arme kind, sê sy, terwyl sy met haar hand die wang streel
van Alida, wat uitgeput op ’n stoel neergesak het.]

Alida snik wanhopend:

—Ek het hom _nog_ lief.

Buite haarself van verdriet, hou sy nog vas aan haar nuttelose liefde.

Op ferme toon gaan mevrou Kibert voort:

—Jy was bang vir die lewe. Jou ouers was bang vir die lewe vir jou. Die
lewe, Alida, is nie die tydverdryf en ydele gedoente van die wêreld nie.
Om te lewe is om te voel dat jy ’n siel besit, en dat jy dit heeltemal
besit. Dis om lief te hê, lief te hê met al jou kragte, vir altyd, tot
aan die end, tot aan selfopoffering. Daar moet geen vrees bestaan vir
moeite, nòg vir groot vreugde, nòg vir groot verdriet: dis alles net
openbaringe van ons menslike natuur. Uit die dae wat verbygaan, moet ’n
mens die goeie opvang, wat nooit verbygaan nie. ’n Meisie wat gaan trou,
neem aan om deelgenoot te word van arbeid en van gevare, en nie om groter
gemak te soek of beuselagtige genot nie. In haar toewyding self sal sy
groter behae skep. Dit weet jy nie.

Alida luister nou aandagtig, en sy dink by haarself:

—Dit het niemand my nog ooit gesê nie.

Mevrou Kibert gaan aan:

—Op hierdie oomblik selfs, dat my hart verbryseld is, kan ek nie anders
nie as God dank vir sy oorvloedige weldade. Jy verbaas jou daaroor, my
kind, dat ek jou, op so’n dag as hierdie, nog van my geluk vertel. En tog
is dit waar: ek _is_ gelukkig. As God my sou vra om weer met my lewe te
begin, ek sou weer begin. En nogtans het ek gesigte wat my die liefste
was, koud en beweegloos gesien; en ek het die dood geken in sy wreedste
gedaante vir ’n moeder: as hy haar kind wegneem wat vèrweg is van haar.
Maar in my man, in my seuns en dogters, het my hele hart geleef, en het
ek alles gesmaak wat die goddelike goedheid ’n mens kan gee. My lewe was
vol omdat ek verbind was aan hul lewe. Myself het ek nooit beween nie.
En nou voel ek ook nie eensaam nie. My dode hou my geselskap, en dié wat
leef, verlaat my nie. Kyk, hierdie telegram het ek netnou van Etienne
gekry. Hy weet dat Paula vandag van my weggaan; en uit naam van almal
spreek hy my moed in. Ek het dit nodig gehad.

—Mevrou! sê Alida, en soen haar hand.

—Ja, my kind, ek het my lewe liefgehad, ek het die lewe liefgehad. En ek
kan sterwe, selfs in eensaamheid, selfs as vreemde hande my oë sal moet
toedruk: God het my ’n skone deel toegemeet. En die dood sal my volgsaam
en tevrede aantref as hy kom.

Daar skitter ’n vreemde verrukking in haar helder oë. Alida is nou kalm
en kyk haar aan vol eerbiedige bewondering.

—Praat nog so met my, smeek sy as mevrou Kibert ophou.

Die ou vrou kyk haar lank en teer aan. Dan streel sy weer haar wang, en
sê:

—My kind, jy moet my iets belowe.

—O mevrou, alles wat u wil.

—Moenie meer aan Marcel dink nie. Jy het nie reg daartoe nie. Neem jou
teenswoordige lewe op, in sy geheel en sonder wroeging, God wil sien dat
jy moed genoeg toon om vroeëre bande los te maak. Dit was verkeerd van
jou om jou man sy betrekking te laat neerlê. Werk is die adel van ons
dae. Spoor hom aan om iets te soek waarmee hy hom kan besig hou, opdat
jou fout weer goedgemaak word.

—Hy het my verlaat, mevrou.

—Niksdoen was miskien oorsaak daarvan. Probeer om hom dit te vergewe.
Gaan met jou hart te rade. Laat hy self sy landerye bestuur, laat hy
deelneem aan gemeentebelange—so is daar nog veel waarvan ek nie weet
nie. En dan sal jy sien dat alles beter sal gaan. Jy kan nog gelukkig
word. Jou dogter sal jou daarin te hulp kom. Is ’n vrou wat ’n kind
het, ooit te bekla? Kweek deug aan in die jong lewe, en bevalligheid en
standvastigheid. Jy moet haar liefhê, nie in jou belang nie, maar vir
_haar_ welsyn. En die vrede van die Heer sal op jou neerdaal.

—Ag, sê Alida, ontroerd, as u wil toestem om my af en toe hier by u te
ontvang, en so met my te praat, dan sal ek seker weer nuwe moed skep.

Sy dink daar nie aan dat haar teenwoordigheid ’n pynlike nagedagtenis
oproep by mevrou Kibert nie. Die ou vrou aarsel nie langer as ’n enkele
sekonde nie: is dit nie God wat haar vra om hierdie arme swak skepsel ook
nog te help nie?

—Kom so dikwels as jy nodig het, is haar eenvoudige antwoord.

As mevrou Marthenay weg is, neem sy die portret van Marcel en sit dit
agter die skerm, naas haar bed, terwyl sy dink:

—Hier is hy nader by my, en kan Alida hom nie meer sien nie. As sy haar
hele plig dapper wil volbring, dan is dit nodig dat sy sy beeld nie meer
sien nie.

Dan kniel sy, en bid:

—Vader, U Wat my sterkte is, help my. Ek het nou aan U afgegee alles wat
ek liefhet. Ek het nou niks meer om U te gee nie as my smart. Neem dit
van my aan. En beskerm almal wat ek liefhet, die dode wat in U vrede rus
en die lewende wat hul plig doen as mense . . . .

As sy opstaan om ou Marie te help tafel dek, dan is daar ’n glans van
heilige vrede op haar gelaat—die vrede van dié wat die dood sonder vrees
tegemoet gaan nadat hulle die lewe aanvaar het sonder swakheid.


EINDE.

[1] Die naam Kibert uit te spreek op ooreenkomstige manier as die naam
Joubert.

[2] Die naam Berlier op ooreenkomstige manier uit te spreek as die naam
Villier.

[3] Dis daar so die gebruik dat die moeder dit doen.




        
            *** END OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK BANG VIR DIE LEWE ***
        

    

Updated editions will replace the previous one—the old editions will
be renamed.

Creating the works from print editions not protected by U.S. copyright
law means that no one owns a United States copyright in these works,
so the Foundation (and you!) can copy and distribute it in the United
States without permission and without paying copyright
royalties. Special rules, set forth in the General Terms of Use part
of this license, apply to copying and distributing Project
Gutenberg™ electronic works to protect the PROJECT GUTENBERG™
concept and trademark. Project Gutenberg is a registered trademark,
and may not be used if you charge for an eBook, except by following
the terms of the trademark license, including paying royalties for use
of the Project Gutenberg trademark. If you do not charge anything for
copies of this eBook, complying with the trademark license is very
easy. You may use this eBook for nearly any purpose such as creation
of derivative works, reports, performances and research. Project
Gutenberg eBooks may be modified and printed and given away—you may
do practically ANYTHING in the United States with eBooks not protected
by U.S. copyright law. Redistribution is subject to the trademark
license, especially commercial redistribution.


START: FULL LICENSE

THE FULL PROJECT GUTENBERG LICENSE

PLEASE READ THIS BEFORE YOU DISTRIBUTE OR USE THIS WORK

To protect the Project Gutenberg™ mission of promoting the free
distribution of electronic works, by using or distributing this work
(or any other work associated in any way with the phrase “Project
Gutenberg”), you agree to comply with all the terms of the Full
Project Gutenberg™ License available with this file or online at
www.gutenberg.org/license.

Section 1. General Terms of Use and Redistributing Project Gutenberg™
electronic works

1.A. By reading or using any part of this Project Gutenberg™
electronic work, you indicate that you have read, understand, agree to
and accept all the terms of this license and intellectual property
(trademark/copyright) agreement. If you do not agree to abide by all
the terms of this agreement, you must cease using and return or
destroy all copies of Project Gutenberg™ electronic works in your
possession. If you paid a fee for obtaining a copy of or access to a
Project Gutenberg™ electronic work and you do not agree to be bound
by the terms of this agreement, you may obtain a refund from the person
or entity to whom you paid the fee as set forth in paragraph 1.E.8.

1.B. “Project Gutenberg” is a registered trademark. It may only be
used on or associated in any way with an electronic work by people who
agree to be bound by the terms of this agreement. There are a few
things that you can do with most Project Gutenberg™ electronic works
even without complying with the full terms of this agreement. See
paragraph 1.C below. There are a lot of things you can do with Project
Gutenberg™ electronic works if you follow the terms of this
agreement and help preserve free future access to Project Gutenberg™
electronic works. See paragraph 1.E below.

1.C. The Project Gutenberg Literary Archive Foundation (“the
Foundation” or PGLAF), owns a compilation copyright in the collection
of Project Gutenberg™ electronic works. Nearly all the individual
works in the collection are in the public domain in the United
States. If an individual work is unprotected by copyright law in the
United States and you are located in the United States, we do not
claim a right to prevent you from copying, distributing, performing,
displaying or creating derivative works based on the work as long as
all references to Project Gutenberg are removed. Of course, we hope
that you will support the Project Gutenberg™ mission of promoting
free access to electronic works by freely sharing Project Gutenberg™
works in compliance with the terms of this agreement for keeping the
Project Gutenberg™ name associated with the work. You can easily
comply with the terms of this agreement by keeping this work in the
same format with its attached full Project Gutenberg™ License when
you share it without charge with others.

1.D. The copyright laws of the place where you are located also govern
what you can do with this work. Copyright laws in most countries are
in a constant state of change. If you are outside the United States,
check the laws of your country in addition to the terms of this
agreement before downloading, copying, displaying, performing,
distributing or creating derivative works based on this work or any
other Project Gutenberg™ work. The Foundation makes no
representations concerning the copyright status of any work in any
country other than the United States.

1.E. Unless you have removed all references to Project Gutenberg:

1.E.1. The following sentence, with active links to, or other
immediate access to, the full Project Gutenberg™ License must appear
prominently whenever any copy of a Project Gutenberg™ work (any work
on which the phrase “Project Gutenberg” appears, or with which the
phrase “Project Gutenberg” is associated) is accessed, displayed,
performed, viewed, copied or distributed:

    This eBook is for the use of anyone anywhere in the United States and most
    other parts of the world at no cost and with almost no restrictions
    whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms
    of the Project Gutenberg License included with this eBook or online
    at www.gutenberg.org. If you
    are not located in the United States, you will have to check the laws
    of the country where you are located before using this eBook.
  
1.E.2. If an individual Project Gutenberg™ electronic work is
derived from texts not protected by U.S. copyright law (does not
contain a notice indicating that it is posted with permission of the
copyright holder), the work can be copied and distributed to anyone in
the United States without paying any fees or charges. If you are
redistributing or providing access to a work with the phrase “Project
Gutenberg” associated with or appearing on the work, you must comply
either with the requirements of paragraphs 1.E.1 through 1.E.7 or
obtain permission for the use of the work and the Project Gutenberg™
trademark as set forth in paragraphs 1.E.8 or 1.E.9.

1.E.3. If an individual Project Gutenberg™ electronic work is posted
with the permission of the copyright holder, your use and distribution
must comply with both paragraphs 1.E.1 through 1.E.7 and any
additional terms imposed by the copyright holder. Additional terms
will be linked to the Project Gutenberg™ License for all works
posted with the permission of the copyright holder found at the
beginning of this work.

1.E.4. Do not unlink or detach or remove the full Project Gutenberg™
License terms from this work, or any files containing a part of this
work or any other work associated with Project Gutenberg™.

1.E.5. Do not copy, display, perform, distribute or redistribute this
electronic work, or any part of this electronic work, without
prominently displaying the sentence set forth in paragraph 1.E.1 with
active links or immediate access to the full terms of the Project
Gutenberg™ License.

1.E.6. You may convert to and distribute this work in any binary,
compressed, marked up, nonproprietary or proprietary form, including
any word processing or hypertext form. However, if you provide access
to or distribute copies of a Project Gutenberg™ work in a format
other than “Plain Vanilla ASCII” or other format used in the official
version posted on the official Project Gutenberg™ website
(www.gutenberg.org), you must, at no additional cost, fee or expense
to the user, provide a copy, a means of exporting a copy, or a means
of obtaining a copy upon request, of the work in its original “Plain
Vanilla ASCII” or other form. Any alternate format must include the
full Project Gutenberg™ License as specified in paragraph 1.E.1.

1.E.7. Do not charge a fee for access to, viewing, displaying,
performing, copying or distributing any Project Gutenberg™ works
unless you comply with paragraph 1.E.8 or 1.E.9.

1.E.8. You may charge a reasonable fee for copies of or providing
access to or distributing Project Gutenberg™ electronic works
provided that:

    • You pay a royalty fee of 20% of the gross profits you derive from
        the use of Project Gutenberg™ works calculated using the method
        you already use to calculate your applicable taxes. The fee is owed
        to the owner of the Project Gutenberg™ trademark, but he has
        agreed to donate royalties under this paragraph to the Project
        Gutenberg Literary Archive Foundation. Royalty payments must be paid
        within 60 days following each date on which you prepare (or are
        legally required to prepare) your periodic tax returns. Royalty
        payments should be clearly marked as such and sent to the Project
        Gutenberg Literary Archive Foundation at the address specified in
        Section 4, “Information about donations to the Project Gutenberg
        Literary Archive Foundation.”
    
    • You provide a full refund of any money paid by a user who notifies
        you in writing (or by e-mail) within 30 days of receipt that s/he
        does not agree to the terms of the full Project Gutenberg™
        License. You must require such a user to return or destroy all
        copies of the works possessed in a physical medium and discontinue
        all use of and all access to other copies of Project Gutenberg™
        works.
    
    • You provide, in accordance with paragraph 1.F.3, a full refund of
        any money paid for a work or a replacement copy, if a defect in the
        electronic work is discovered and reported to you within 90 days of
        receipt of the work.
    
    • You comply with all other terms of this agreement for free
        distribution of Project Gutenberg™ works.
    

1.E.9. If you wish to charge a fee or distribute a Project
Gutenberg™ electronic work or group of works on different terms than
are set forth in this agreement, you must obtain permission in writing
from the Project Gutenberg Literary Archive Foundation, the manager of
the Project Gutenberg™ trademark. Contact the Foundation as set
forth in Section 3 below.

1.F.

1.F.1. Project Gutenberg volunteers and employees expend considerable
effort to identify, do copyright research on, transcribe and proofread
works not protected by U.S. copyright law in creating the Project
Gutenberg™ collection. Despite these efforts, Project Gutenberg™
electronic works, and the medium on which they may be stored, may
contain “Defects,” such as, but not limited to, incomplete, inaccurate
or corrupt data, transcription errors, a copyright or other
intellectual property infringement, a defective or damaged disk or
other medium, a computer virus, or computer codes that damage or
cannot be read by your equipment.

1.F.2. LIMITED WARRANTY, DISCLAIMER OF DAMAGES - Except for the “Right
of Replacement or Refund” described in paragraph 1.F.3, the Project
Gutenberg Literary Archive Foundation, the owner of the Project
Gutenberg™ trademark, and any other party distributing a Project
Gutenberg™ electronic work under this agreement, disclaim all
liability to you for damages, costs and expenses, including legal
fees. YOU AGREE THAT YOU HAVE NO REMEDIES FOR NEGLIGENCE, STRICT
LIABILITY, BREACH OF WARRANTY OR BREACH OF CONTRACT EXCEPT THOSE
PROVIDED IN PARAGRAPH 1.F.3. YOU AGREE THAT THE FOUNDATION, THE
TRADEMARK OWNER, AND ANY DISTRIBUTOR UNDER THIS AGREEMENT WILL NOT BE
LIABLE TO YOU FOR ACTUAL, DIRECT, INDIRECT, CONSEQUENTIAL, PUNITIVE OR
INCIDENTAL DAMAGES EVEN IF YOU GIVE NOTICE OF THE POSSIBILITY OF SUCH
DAMAGE.

1.F.3. LIMITED RIGHT OF REPLACEMENT OR REFUND - If you discover a
defect in this electronic work within 90 days of receiving it, you can
receive a refund of the money (if any) you paid for it by sending a
written explanation to the person you received the work from. If you
received the work on a physical medium, you must return the medium
with your written explanation. The person or entity that provided you
with the defective work may elect to provide a replacement copy in
lieu of a refund. If you received the work electronically, the person
or entity providing it to you may choose to give you a second
opportunity to receive the work electronically in lieu of a refund. If
the second copy is also defective, you may demand a refund in writing
without further opportunities to fix the problem.

1.F.4. Except for the limited right of replacement or refund set forth
in paragraph 1.F.3, this work is provided to you ‘AS-IS’, WITH NO
OTHER WARRANTIES OF ANY KIND, EXPRESS OR IMPLIED, INCLUDING BUT NOT
LIMITED TO WARRANTIES OF MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR ANY PURPOSE.

1.F.5. Some states do not allow disclaimers of certain implied
warranties or the exclusion or limitation of certain types of
damages. If any disclaimer or limitation set forth in this agreement
violates the law of the state applicable to this agreement, the
agreement shall be interpreted to make the maximum disclaimer or
limitation permitted by the applicable state law. The invalidity or
unenforceability of any provision of this agreement shall not void the
remaining provisions.

1.F.6. INDEMNITY - You agree to indemnify and hold the Foundation, the
trademark owner, any agent or employee of the Foundation, anyone
providing copies of Project Gutenberg™ electronic works in
accordance with this agreement, and any volunteers associated with the
production, promotion and distribution of Project Gutenberg™
electronic works, harmless from all liability, costs and expenses,
including legal fees, that arise directly or indirectly from any of
the following which you do or cause to occur: (a) distribution of this
or any Project Gutenberg™ work, (b) alteration, modification, or
additions or deletions to any Project Gutenberg™ work, and (c) any
Defect you cause.

Section 2. Information about the Mission of Project Gutenberg™

Project Gutenberg™ is synonymous with the free distribution of
electronic works in formats readable by the widest variety of
computers including obsolete, old, middle-aged and new computers. It
exists because of the efforts of hundreds of volunteers and donations
from people in all walks of life.

Volunteers and financial support to provide volunteers with the
assistance they need are critical to reaching Project Gutenberg™’s
goals and ensuring that the Project Gutenberg™ collection will
remain freely available for generations to come. In 2001, the Project
Gutenberg Literary Archive Foundation was created to provide a secure
and permanent future for Project Gutenberg™ and future
generations. To learn more about the Project Gutenberg Literary
Archive Foundation and how your efforts and donations can help, see
Sections 3 and 4 and the Foundation information page at www.gutenberg.org.

Section 3. Information about the Project Gutenberg Literary Archive Foundation

The Project Gutenberg Literary Archive Foundation is a non-profit
501(c)(3) educational corporation organized under the laws of the
state of Mississippi and granted tax exempt status by the Internal
Revenue Service. The Foundation’s EIN or federal tax identification
number is 64-6221541. Contributions to the Project Gutenberg Literary
Archive Foundation are tax deductible to the full extent permitted by
U.S. federal laws and your state’s laws.

The Foundation’s business office is located at 809 North 1500 West,
Salt Lake City, UT 84116, (801) 596-1887. Email contact links and up
to date contact information can be found at the Foundation’s website
and official page at www.gutenberg.org/contact

Section 4. Information about Donations to the Project Gutenberg
Literary Archive Foundation

Project Gutenberg™ depends upon and cannot survive without widespread
public support and donations to carry out its mission of
increasing the number of public domain and licensed works that can be
freely distributed in machine-readable form accessible by the widest
array of equipment including outdated equipment. Many small donations
($1 to $5,000) are particularly important to maintaining tax exempt
status with the IRS.

The Foundation is committed to complying with the laws regulating
charities and charitable donations in all 50 states of the United
States. Compliance requirements are not uniform and it takes a
considerable effort, much paperwork and many fees to meet and keep up
with these requirements. We do not solicit donations in locations
where we have not received written confirmation of compliance. To SEND
DONATIONS or determine the status of compliance for any particular state
visit www.gutenberg.org/donate.

While we cannot and do not solicit contributions from states where we
have not met the solicitation requirements, we know of no prohibition
against accepting unsolicited donations from donors in such states who
approach us with offers to donate.

International donations are gratefully accepted, but we cannot make
any statements concerning tax treatment of donations received from
outside the United States. U.S. laws alone swamp our small staff.

Please check the Project Gutenberg web pages for current donation
methods and addresses. Donations are accepted in a number of other
ways including checks, online payments and credit card donations. To
donate, please visit: www.gutenberg.org/donate.

Section 5. General Information About Project Gutenberg™ electronic works

Professor Michael S. Hart was the originator of the Project
Gutenberg™ concept of a library of electronic works that could be
freely shared with anyone. For forty years, he produced and
distributed Project Gutenberg™ eBooks with only a loose network of
volunteer support.

Project Gutenberg™ eBooks are often created from several printed
editions, all of which are confirmed as not protected by copyright in
the U.S. unless a copyright notice is included. Thus, we do not
necessarily keep eBooks in compliance with any particular paper
edition.

Most people start at our website which has the main PG search
facility: www.gutenberg.org.

This website includes information about Project Gutenberg™,
including how to make donations to the Project Gutenberg Literary
Archive Foundation, how to help produce our new eBooks, and how to
subscribe to our email newsletter to hear about new eBooks.