The Project Gutenberg eBook of Dawid se reis na Groenland This ebook is for the use of anyone anywhere in the United States and most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included with this ebook or online at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States, you will have to check the laws of the country where you are located before using this eBook. Title: Dawid se reis na Groenland Author: David Binney Putnam Author of introduction, etc.: Bob Bartlett Illustrator: Kakutia Translator: O. G. P. Grosskopf Release date: September 29, 2025 [eBook #76953] Language: Afrikaans Original publication: Pretoria: J.L. van Schaik, Beperk, 1928 Credits: Jeroen Hellingman and the Online Distributed Proofreading Team at https://www.pgdp.net/ for Project Gutenberg *** START OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK DAWID SE REIS NA GROENLAND *** DAWID SE REIS NA GROENLAND DEUR DAVID BINNEY PUTNAM MET ’N VOORWOORD DEUR KAPT. BOB BARTLETT VOORSIEN VAN PORTRETTE EN VERSIERINGS WAT SPESIAAL GETEKEN IS DEUR DIE ESKIMO KAKOETIA VAN KARNA OP WALVIS-SOND VERAFRIKAANS DEUR O. G. P. GROSSKOPF UITGEWERS: J. L. VAN SCHAIK, BEPERK, PRETORIA 1928 AAN MY BESTE VRIENDIN wat eintlik na Groenland behoort te gegaan het, MY MOEDER VOORWOORD. Dawid het my versoek om ’n voorwoord te skryf vir sy boek waaraan ek hom die laaste drie maande sien werk het. Gister het ek die manuskrip gelees wat toe net afgetik is van die noukeurig met potlood geskrewe bladsye van die seun. Onder die lees het ek meer as ooit besef hoe gelukkig Dawid was dat hy eers verlede jaar met Oom Will (Dr. Beele) sover as die Galàpagos-Eilande wat op die Ewenaar geleë is, kon saamgaan, en nou weer na Noord-Groenland. Ek moet beken dat ek eers besware gehad het by die gedagte dat so’n jong seun sou saamgaan. Hoewel dit maar net ’n somerreis was, kan ’n mens tog in die Noordpoolstreek enigiets te wagte wees, en loop mens gedurig gevaar om ’n taamlik slegte tyd te hê—swaar, in alle geval, vir ’n seun. Maar nou dat die ekspediesie sy end nader (en gedeeltelik was dit baie vermoeiend), moet ek erken dat my besware ongegrond was. Dawid is ’n doring wat regtig weet hoe om deur te druk. Elkeen wat sy gawe verhaal lees, sal dit geredelik toegee. Van begin tot end het ek hom goed dopgehou, en hy het uitstekend daarin geslaag om alles—en selfs meer—uit te voer wat enigeen van hom kon verwag. En Dawid is tog nog maar ’n seun. Hy het op die Beebe-ekspediesie, maar ook op hierdie een baie geleer wat diep in sy jong siel sal indring. Ek is daar verseker van dat hy in die komende jare veel sal maai van wat hy gesaai het en wat deur ander vir hom gesaai is. Die skool is bepaald ’n goeie instelling en behoort nommer een te staan. Maar dit lyk vir my stellig die ideale opvoeding om—as die geleentheid daartoe hom voordoen—ondervindinge van hierdie aard met „boekgeleerdheid” te verbind. Ek het iemand die aanmerking hoor maak dat die arme kêreltjie g’n ware seunslewe het nie. Enigeen wat onder die indruk verkeer, ken eenvoudig vir Dawid nie. Hulle het hom nie, soos ek, met seuns van sy eie jare, óf tuis met sy maats op die voetbalveld, of met die jong Eskimo’s op die „Morrissey” en aan wal in Groenland gesien nie. Dawid is nog maar ’n seun, maar ’n seun met taamlik rype ervaring. Hy is nie ’n model-seun nie; hy is dood-eenvoudig ’n S-E-U-N! En hy sal nog lang jare jonk bly met ’n jong hart en die onbedorwe varsheid en vrolikheid van die jeug. En vir my wat in my swerwende lewe nog nie baie jong seuns om my gehad het nie, was dit ’n ware genot om Dawid by my te hê. Ek wonder of baie seuns wat hierdie eenvoudige verhaal van Dawid met al sy interessante voorvalle lees, nie jaloers sal word nie. Ek is seker ek sou as ek die oorlosie ’n groter aantal jare kon terugsit as waaraan ’n mens graag wil dink. Watter jong kêrel sou nie graag drieduisend myl van sy huis gaan jag en walrusse, ysbere, narwalle en wat dies meer sy, sien nie? Dit is die ware doel van hierdie boek.—Verstaan my goed, nie om ander minder gelukkige seuns ontevrede te maak met hul lot nie; maar om hulle bloed warm te maak en hulle te laat besef dat daar nog baie dinge anderkant die rantjies is. Om so wakker geskud te word, kan hulle g’n kwaad doen nie. Dis ’n goeie versterkingsmiddel vir jong seuns, wat hulle jeug verkwansel en ’n slegte begin maak deur in outo’s en by danse en klubs en dergelike dinge meer rond te flenter in plaas van in die buitelug te gaan waar hulle vuil hande kan kry, en hulle spiere gehard kan word en die verstand gesuiwer deur eerlike ondervindinge op see en in verre lande. Ek hoop dat die seuns (en hulle Vaders ook) wat in hierdie boek saam met Dawid die weg na Groenland volg, besiel sal word met die gees van Dawid, en self Ultima Thules sal vind wat die moeite werd is. Robert A. Bartlett. Aan Boord van die Morrissey, BAFFIN-BAAI, 5 September 1926. DAWID SE REIS NA GROENLAND INHOUDSOPGAAF Hoofst. Bls. I. Ons vertrek na Groenland 1 II. Deur die Straat van Belle Isle 15 III. Ons bereik Groenland 30 IV. Langs die kus van Groenland 38 V. Upernivik en die Eende-Eilande 49 VI. Dwarsoor Melville-Baai 62 VII. Skipbreuk 72 VIII. Die „Morrissey” herstel 88 IX. Ons eerste Narwal 101 X. Ons Eskimo-kunstenaar 110 XI. Walrusjag 117 XII. Na Jones-Sond 126 XIII. Nanoek 136 XIV. By Pond-Baai 144 XV. Nog weer Bere 157 AFBEELDINGE. Teenoor Bls. „Hulle sit ’n Verfkwas in my Hand” 6 Die Skipper leer Dawid om Waarnemings te maak 10 ’n Portret van die Skrywer in Baffin-Baai geneem 26 Nils, Dawid en Matak, die Seun van Poeadloena 42 Harry Raven, die Dierkundige, leer my om die Kopbeen van ’n Narwal skoon te maak 107 Besig aan die Geraamte van ’n Narwal 109 Twee blonde Eskimo’s! Dawid en Nils 114 Walrusse op Dek. Die Vleis het die Eskimo’s gekry, die Geraamtes en Velle het na die Museum gegaan 119 Genoeg Eende vir ’n paar lekker Maaltye 138 Dr. Rasmussen wys vir Dawid ’n ouderwetse Harpoenpunt van die Eskimo’s 151 Twee Sneeuhase van Pond-Baai 154 Die Ysbeer en haar twee Kleintjies swem weg van die Ysberg 160 HOOFSTUK I ONS VERTREK NA GROENLAND Verlede jaar het ek saamgegaan op die Beebe-tog na die Galápagos-Eilande met die stoomboot Arcturus, wat spesiaal vir die reis toegerus was. Dit was ’n wetenskaplike ekspediesie na die Ewenaar om eksemplare uit die diepte van die see te kry, waarvan sommige op ’n diepte van byna drie myl gevang is. Die eilande waarheen ons gegaan het, lê op die Ewenaar, seshonderd myl wes van Ecuador in Suid-Amerika, en op pad soontoe het ons deur die Panama-kanaal gegaan. Oom Willie—dit is mnr. Beebe—het my as ’n jonger gas laat saamgaan op dié deel van die ekspediesie wat na die Stille Oseaan gegaan het. Ons het baie nuwe ondervindinge opgedoen, party waarvan taamlik spannend was. Daar was duikery met ’n helm te sien, en vuurspuwende berge in werking met strome lawa wat in die see afloop, en jag op groot seeduiwels met ’n harpoen. Alhoewel ek die jongste lid van die geselskap was—my twaalfde verjaarsdag het ek daar by Kokos-Eiland ten suide van Panama gevier—kon ek aan byna alles deelneem. En dit was natuurlik baie prettig. Kaptein Bob Bartlett is ’n groot vriend van Pa. Soos julle sal onthou, was dit kapt. Bob wat saam met admiraal Peary gegaan het toe hy in 1909 vir die eerste maal die Noordpool bereik het. Wel, hy en Pa het dikwels gepraat van ’n Groenlandse ekspediesie, en die kaptein het gesê dat dit omtrent die pragtigste soort van reis is wat mens kan maak, met baie om te doen en te sien. Die Amerikaanse Museum vir Natuurstudie in New-York wou vir sy nuwe Saal vir Seelewe ’n klompie dinge hê, onder ander voëls uit die Noordpoolstreek. Toe het Pa besluit om ’n ekspediesie te organiseer om die nodige dinge te gaan haal, waaronder narwalle, bruin Groenlandse haaie, walrusse, allerhande seehonde en baie voëls. Natuurlik kon ons nie alles kry wat ons gaan soek het nie, maar selfs ’n deel daarvan sou die reis die moeite werd gemaak het. Hulle het vir my gesê ek kan saamgaan op hierdie reis na Groenland, en onmiddellik na sluiting van die skool moes ek my na die skeepswerf op Staten-Eiland begeef, waar hulle besig was om die Morrissey opnuut uit te rus; hulle het gesê dat ek daar volop te doene sou hê. Die plan is om noordwaarts te gaan tot omtrent sewehonderd myl van die Noordpool. In die geheel sal ons meer as seweduisend myl aflê en in die loop van Oktober terug wees. As ons miskien laat is, sal Pa my per trein van Sydney terugstuur skool-toe. En ons vat ook ’n klompie skoolboeke saam waaruit ek sal moet leer as daar tyd is. Die vooruitsig van al die awonture wat ons hoop om te hê, maak ’n mens regtig opgewonde. Ek het ’n 2.56 Newton-geweer en ’n twee-en-twintig koeëlgeweertjie, en ek hoop ek sal ’n bietjie kans kry om te skiet, alhoewel ek dink dit sal die prettigste wees om te help by die wetenskaplike werk en die opstop van diere, en om die lewende beelde te maak. ’n Deel van my pligte is om ’n dagboek te hou gedurende die ekspediesie om dit later in boekvorm uit te gee. Verlede jaar het Ma my saamgevat tot anderkant die Ewenaar. En vanjaar gaan ek saam met Pa tot 780 myl noord van die Noordpoolkring dit wil sê as ons dit gelukkig tref met die ys. In elk geval is ek gelukkig vir ’n seun van dertien jaar! Die skool het Donderdagagtermiddag gesluit. Vrydag het ek na Pa se kantoor gegaan en ’n deel van die uitrusting beskou. Ek en hy is weke-lank besig gewees met die uitrusting, ons het lyste opgestel en algemeen voorbereidsels gemaak. Die agtermiddag het ons in ’n skuitjie oorgery na Wes New-Brighton op Staten-Eiland, na aan Williams se skeepswerf, waar ons skip, die Morrissey gelê het. Die Morrissey is ’n visserskoener met twee maste. Hy is honderd voet lank met ’n breedte van twee-en-twintig voet en het ’n diepgang van omtrent veertien voet as hy swaar gelaai is. Nou, by die begin van ons reis, is die diepgang waarskynlik twaalf voet. Die bemanning is algar Newfoundlanders, wonderbare matrose in goeie en slegte weer. Kapt. Bartlett is die eienaar en Pa en ’n paar van sy vriende het die skip opnuut uitgerus deur ’n motor te laat insit en ander veranderinge te maak vir die gerief van ons geselskap. Jim is die langste van die bemanning. Hy is oor die ses voet en lyk soos ’n „cow puncher” met smal en breë skouers. Hy is ’n knap skeepstimmerman. Tom, die bootsman is die oudste en mees ervare. Hy kan omtrent enigiets maak wat op ’n seilskip nodig is. Hy was op verskeie reise na die noorde saam met Peary op die Roosevelt waaronder die een na die Pool. Joe is die grootste van die bemanning en Ralph die jongste. Billy Pritchard is volgens my opvatting die vernaamste man aan boord. Hy is die kok. Hy is taamlik klein, maar is ’n uitstekende kok en het al veel deurgemaak op see. Hy is in die verre noorde gewees en het al viermaal skipbreuk gely. Toe die Morrissey van Newfoundland afgekom het om ons te haal, is hy toe die skip ruk, skoon uit sy kooi geskiet, oor die hele kombuis en het bo op die stoof te lande gekom. Billy se handlanger is Dom, en hy is altyd baie gaaf teenoor my. Ons skipper is Robert A. Bartlett wat saam met Peary was en jare van sy lewe in die Noordpool-streek deurgebring het; en hy is omtrent die mees ervare seevaarder deur ys wat lewe. Kaptein Bob is verskriklik vriendelik teenoor my en hy en sy broer Will Bartlett, ons stuurman, het belowe om my die name van al die toue te leer, ook om al die punte van die kompas in die regte orde op te noem, en sulke dinge meer. Sien, ek het nog nooit vantevore op ’n seilskip gereis nie, en daar is baie dingetjies om te leer. Wel, toe ek op die skip kom, sit hulle ’n verfkwas in my hand en sê ek moet die romp begin skilder, daar ons toe in die droë dok was om ’n gat vir die nuwe skroefas in die agterstewe te laat boor. Daardie dag het ek amper ’n kwart van die romp geskilder en Saterdag heeldag was daar ander skilderwerk—kooie, kaste, deksels van luike ens. Ons het ’n klomp Masury-verf gehad wat vir die ekspediesie present gegee is. En daar was ook baie om skoon te maak. Die Morrissey is in drie afsonderlike kajuite verdeel. Die bak het ses kooie, waar die bemanning slaap. Dit word ook as kombuis gebruik. Meer na agter is die hoof-kajuit waar die meeste van ons slaap. Daar staan ’n groot tafel in die middel van die vertrek wat ons gebruik om te eet, skryf, werk ens. In hierdie kajuit is twaalf kooie en die draadlose toestel, en ’n groot bo-lig is ingesit waar die luik vir die goedere vroeër was. Die draadlose toestel is een vir kort golwe en word bewerk deur Ed Manley, ’n liefhebber wat hom vrywillig vir die werk aangebied het en wat aan die Marietta-Kollege sy graad behaal het. Die pragtige groot radio-uitrusting waarmee ons hoop om selfs van anderkant die Noordpool-kring tot by die huis te kan praat, is deur mnr. Alwater Kent en die Nasionale Karbou-Maatskappy wat die Eveready-batterye fabriseer, aan die ekspediesie geskenk. Dan kom die masjienekamer wat vroeër die agterste skeepsruim was en waarin hulle die vis weggepak het en die steenkool gelaai het toe die skip nog gebruik is as vragskip. Al rondom die motor is goedere styf ingepak, sodat hulle onmoontlik kan roer as die skip in ’n storm rol. Party van hulle behoort aan Knud Rasmussen en party aan professor Hobbs vir wie ons in Sidney sal oplaai. Hy gaan na Suid-Groenland om die oorsprong van storme op die groot gletserveld daar te bestudeer. Ons sal Rasmussen aan die Groenlandse kus by Disko-Eiland oplaai, en ons neem die goedere vir hom na sy handelstasie by Thule, naby Kaap York. Rasmussen is ’n groot Deense ontdekkingsreisiger en ’n deskundige oor die Eskimo-taal. Agter die masjienekamer is die kajuit waarin die kaptein, Pa, mnr. Raven en mnr. Streeter slaap. Daarin is ses kooie, ’n tafel, ’n stofie en die enigste stoel aan boord. Bokant die tafel is ’n rak met boeke, meestal oor die Noordpool-streek en awonture. Ek het ’n paar spesiale boeke van my eie om te lees, waaronder Two Years before the Mast, Doctor Luke of the Labrador, The Cruise of the Cachelot en Richard Carvel. En dan het Pa nog ’n paar boeke wat vir my wag, Latyn en Engelse grammatika, wat nie heeltemal so plesierig klink nie. Ons voorrade is meestal in ’n spesiale pakkamer langs die kombuis en meer na agtertoe in die gang en die lasaret gepak, op die dek het ons oor die vyftig vate brandolie vir ons Standard Diesel-motor wat soos jullie seker weet, olie gebruik, en nie petroleum nie. Ons het Saterdag, die twintigste Junie, van af die Amerikaanse Jagklub op Long-Eiland-Sond in see gegaan. Dit was by Rye waar ons tuis is, en die meeste lede van ons geselskap was voor ons vertrek by ons op besoek. Dit was ’n warm, sonnige dag, en ’n groot menigte het in bote uitgekom en die Morrissey deurgekyk. Daar was ’n groot noenmaal by die klub, en kommodoor Mallory het aan Pa en kapt. Bob die vlag van die klub gegee om saam te neem na die Noorde. Omtrent kwart voor vyf was al die besoekers van die skip af, en het ons die anker gelig en die Sond afgevaar. ’n Groot vloot van jagte en klein bote was rondom ons en het ons met ’n geweldige getoeter en gefluit ’n pragtige afskeid gegee. Oupa se jag, die Ilorindia het al die moeders, susters en vrouens van ons geselskap met Ma en my broertjie June aan boord gehad. Hulle het tot by Sound-Strand, Connecticut, saamgegaan. En toe, nadat hulle die laaste vaarwel getoeter het, en ons op ons mishoring geantwoord het, was ons regtig op pad na die noorde! Maandag was ’n heerlik stil dag, sodat ek en Art Young kans gekry het om ons goed weg te pak. Sy kooi is net onder myne, dus moet ons ’n kas saam gebruik. Art is die baas-skut met pyl en boog wat al in Afrika leeus gaan skiet het. In Amerika het hy grysbere, elande [1] en Kadiak-bere met sy pyle doodgemaak. Nou hoop hy om sy geluk met ysbere en walrusse te probeer. Maandagoggend, ons eerste dag op see, het ons naby Block-Eiland, aan die oostelike punt van Long-Eiland-Sond, agtien vliegtuie gesien wat algar in die rigting van New-York gevlieg het. Miskien wou hulle vir kommandeur Byrd verwelkom wat binne ’n paar dae terug verwag is uit Engeland nadat hy na die Noordpool gevlieg het. Mnr. Byrd is bevriend met Pa en was in ons huis net kort voordat hy sy reis in die Chantier begin het. ’n Goeie wind het gewaai en die see was heeldag taamlik stil. Dit was lekker sonskyn, maar koud, sodat ons wol-oorhemde en jasse moes aantrek. Dié dag het algar middag- en aandete geniet. Toe ons in die agtermiddag deur Vineyard-Sond opseil, het ’n duikboot en ’n klomp skepe van die kuswag by ons verbygegaan. Toe begin dit onstuimiger word, terwyl ’n stywe suidewind waai, wat goed was om mee te seil. Die volgende agtermiddag het ons ’n klomp klein walvisse, van omtrent 25 voet lank, gesien. Twee of drie van hulle het amper heeltemal uit die water gespring, en eenslag het ons een omtrent vyftig tree voor ons skip heeltemal sien uitspring. Hy het soos ’n ontsaglike geweerkoeël gelyk. Daardie dag was amper ons hele geselskap siek, selfs ’n klompie van die bemanning. Ek was meeste van die tyd op dek en het na mnr. Raven en Van Heilner se vertellinge geluister oor speer-valle en hoe die Maleiers valle stel om diere te vang. Ons skip het so gerol en gekantel dat die water dikwels by die spuigate aan bakboord en stuurboord ingeloop het. Ek het net deur ’n spuigat gekyk toe ons ’n groot golf kry. Ek staan nog en kyk hoe kapt. Bob die grootskoot laat skiet, en net toe ek omdraai, kom die water skielik in en slaan my in die gesig. Ralph, een van die bemanning, het my gewys hoe om van tou beskermings vir die seile te maak. Dit word gebruik om te verhinder dat die seile teen die staalkabels slaan en afslyt. En Jim het my die name van die seile geleer, en hy begin nou met die toue. Die laaste twee dae van die reis na Sydney was nie so aangenaam nie, want ons het mistige weer gehad en ’n bietjie reën. Af en toe het ons missienjale van die kus van New-Skotland gehoor, en toe die mis verdwyn, sien ons die kus en vuurtorings. Dit is baie prettig om in die kraaines te wees. HOOFSTUK II DEUR DIE STRAAT VAN BELLE ISLE Ons het Donderdag oggend ’n paar minute voor twee-uur in Sydney aangekom, en ek het opgebly om te sien wat sou gebeur. Gelukkig was daar g’n mis nie, wat alles makliker gemaak het. Die eerste wat ons in die oggend gedoen het, was om ons kajuite aan die kant te maak, en daarna het ons aan land gegaan na ’n klein hotel waar ons gebad het. Op die Morrissey word nie dikwels gebad nie, hoewel ons later waarskynlik die ronde wasbalie sal gebruik wat eintlik vir ons klere bedoel is, maar seker daarvoor ook sal deug. Toe Pa die skip op die skeepswerf by Staten-Eiland opnuut laat uitrus het, het hulle ’n groot waterbak van staal wat omtrent 750 gellings kan hou op die dek gesit. Dan is daar nog die watervate; dus behoort ons regtig genoeg te hê. As ons watervoorraad bo in die noorde opraak, vertel kapt. Bob my, gaan ons eenvoudig na ’n ysberg en pomp die water uit vywers bo-op die berg in ons waterbak. Vir hierdie doel het ons ’n soort van klein pomp met ’n stuk slang aan elke kant. Die gesmelte water op die ysberge is heeltemal vars, tensy daar te veel skuim ingewaai is. Die oggend in Sydney het ek ’n paar briewe geskryf aan Ma en ander mense. Daarna, in die agtermiddag, het Robert Peary, Art Young, Ed Manley, Fred Linekiller en ek in ons klein moterboot oorgery na die stad Sydney. Sydney lê omtrent vyf myl ver, anderkant ’n groot baai en is baie groter as Noord-Sydney, waar ons skip lê. Daar het ons ’n groot, ou, vierkantig getuigde seilskip met skietgate al langs sy sye gesien. Dit was eens op ’n tyd, ek meen in die tyd van die ou „Ironsides”—’n fregatskip van die Britse mariene. Ons het aan boord gegaan om te kyk of ons nie ’n ou pen van die soort waaraan mens iets op die skip kan vasmaak (E. belaying pin) vir my versameling kon kry nie, maar tevergeefs. Op die volgende dag het Pa, Art Young, Carl, mnr. Kellerman en ek uitgegaan om te probeer of daar nie kans was om forelle te vang in een van die stroompies wat ’n paar myl van ons ankerplek in die baai loop nie. Maar ons het niks uitgevoer nie. Toe ons ’n ruk gevis het, gaan ons terug na die skuit wat ons ’n endjie van die kus geanker het. Maar dit het intussen laagwater geword en ons vind die skuit amper hoog en droog in die modder. Ons het ’n hele ruk, tot by die knieë in die modder, gestoot en getrek totdat ons hom eindelik weer in die water gekry het. Art het skoene aangehad, dus probeer ek, om hom na die skuit te dra, maar hy was te swaar. Toe bring ons die skuit nader aan die wal en Pa probeer om Art te dra. Pa het vir Art op sy rug—Art is ’n groot man en weeg seker 190 pond—en begin net om uit te kom, toe die ekstra gewig sy voete tot bokant sy stewels in die modder druk, en toe ons probeer om sy bene uit die modder te trek, verloor hy sy een stewel; hulle verloor albei hulle ewewig en val in die modder en water. Hulle het dit albei as ’n grap opgevat en moes toe amper ’n myl omloop eer ons ’n plek kon kry waar ons hulle maklik kon oplaai. Op ’n ander stuk strand het ons die kos geëet wat ons saamgebring het. Daar in die nabyheid het Art en ek die eerste buit van die ekspediesie gekry. Nadat ons stilletjies nadergekom het, storm ons skielik daarop af. En wat, dink julle, het ons gekry? Dit was ’n groot menigte van „clams”. In die geheel het ons omtrent ’n skepel van hulle uitgegrawe, en daardie aand het ons ’n lekker „clam chowder” [2] geniet. Dit was nie heeltemal so spannend soos om ’n walrus te kry nie, maar dit was in elk geval pret en ons het volgehou dat die „clams” werklik die eerste buit was wat ons aan boord gebring het. Ons het Newfoundland op die agt-en-twintigste Junie vir die eerste maal gesien. Dit was ’n pragtige gesig, met die sneeu wat weens die laatheid van die jaargety nog teen die helling van die berge gelê het. Pa sê dit lyk of daar altyd ’n buitengewone jaargety is waar ons ook al mag heengaan. Op sommige van die heuwels het die son geskyn, terwyl op ander skaduwees rondgedryf het. In seker opsigte het hulle gelyk soos die meestal kaal heuwels van Montana met hulle deininge. Net buite die Baai van Eilande, ’n groote baai aan die weskus van Newfoundland, het ons drie visskoeners opgemerk. Ons het van vier- tot agture geneem om oor die baai te seil. Omtrent halfagt het ons een van die skoeners verbygeseil en iemand die kornet hoor blaas, maar nie alte goed nie. Dit het snaaks geklink om so ’n geluid oor die afgeleë watere te hoor aansweef. Die sonsondergang was lieflik, so rooi, dat dit gelyk het of daar bloed uit die hemel tap. Voor ons het die weer mooi gelyk, maar agter ons was ’n groot, swart wolk, waarin elke nou en dan die bliksemstrale gespeel het. En dit was regtig stormagtig. Dit was so donker, dat ons niks kon sien nie. Ek het op dek tweemaal geval, daar dit baie moeilik is om jou weg te vind weens al die goed wat daar lê—vaatjies, platboom-skuite, moterbote en die Hobbs-kano’s, behalwe nog ’n hele boel hout en toue. Die wind het gewaai so al wat hy kon, en die reën het in strome geval. Art en ek het ons oliejasse en stewels aangetrek en aan boord gegaan om die boligte wat verskriklik gelek het, met iets te bedek. Dit lyk of boligte nooit in goeie orde is nie. Ons het seildoeke en geteerde bokseile oor hulle getrek. Die water het oor die boeg geslaan. Maar die Morrissey het hom skynbaar aan niks gesteur nie, en ek dink kapt. Bob en Will het op ’n manier daarvan gehou. Kapt. Bob is ’n wonderbare man en is baie gaaf teenoor my. Dit lyk of hy daarvan hou dat ek met die toue werk en soveel as moontlik omtrent die skip uitvind. Die weer het een- of tweekeer baie naby ons geslaan, en baiemaal was die lug helder verlig deur die verblindende weerligstrale wat woes heen-en-weer geskiet het. Op die negen-en-twintigste het ons die eerste ysberge gesien, en na die middag het ons omtrent tien verbygeseil, waarvan vier regtig groot was. Een van hulle was omtrent vyftig voet hoog en honderd voet lank. Omtrent een agste van ’n ysberg is bo die water en sewe-agstes onder die water. Julle kan vir julle dus voorstel hoe groot die een wat ek beskryf het in werklikheid was; later het ons natuurlik ysberge gesien wat nog groter was. Die kleiner berge en blokke drywende ys word by ons „growlers” genoem. Net ’n week gelede het ons berig gekry dat die Straat van Belle Isle van Labrador tot Newfoundland toegevries is, maar die suidewind wat die laaste paar dae gewaai het, het die straat blykbaar skoongevee en ons het sonder moeite deurgegaan. In die straat het ons twee stoombote gesien wat waarskynlik, net soos ons, vir die eerste keer in die seisoen deurgeseil het. Nadat ons die straat verlaat het, het ons heeldag verspreide ysberge gesien, tot omtrent vieruur, toe ons vir die eerste keer regtig ys raakgeloop het. Daar was ’n menigte van blokke in een plaat wat omtrent drie myl lank en een myl breed was. Daar het honderde van berge omtrent so groot soos ’n ordentlike huis rondgedryf. Ek het saam met Ed Manley in die kraaines geklim en afgekyk op die pragtige gesig. Die ys was bo blou en onder ’n mooi ligte groen. As ’n mens bo in die kraaines is, kan mens die voetstuk van die ysberg ver onder sien. In die oggend was dit taamlik mistige weer en ons het baie naby party ysberge gekom. Een slag, toe ek op dek was, het ons minder as honderd tree van ons ’n berg gesien wat gelyk het soos ’n klein hotel, omtrent honderd-en-twintig voet hoog en driehonderd voet lank. Twee dae lank was ons so-te-sê die hele tyd tussen ys. Kapt. Bob sê dit is die ysveld van Labrador. Een oggend het ek wakkergeskrik van ’n skok deurdat ons teen ’n stuk ys gestamp het. Die boeg van die skip word uit die water gelig en kom dan met sy hele geweld op die ys neer en verpletter dit, of anders ry ons feitlik ’n end daarop totdat dit losbreek. In alle geval is dit lekker om te weet dat die Morrissey van goeie soliede eikehout gebou is, en dat daar bowendien nog ’n valse kiel van groenhout [3] buite-om is om hom ’n bietjie teen die ys te beveilig. Sover as ons kon sien was daar die hele dag ys, en ’n bietjie mis. Ons koers het heen en weer gekronkel, in en uit en om die ys. Dit lyk snaaks om skielik op soveel ys af te kom, terwyl daar nou-die-dag glad niks was nie. Die water is stil waar daar baie ys is, dus het ons goed gevorder, ten spyte van al die kronkelinge wat ons moes maak. Een aand het ons heeltemal ’n gesellige aand gehad om die tyd te verdryf. Met ons klein Pathex-toestel het ons lewende beelde gemaak, dan was daar lekkers, en ons „foggey-dew”-orkes het tussenin gespeel en Art Young het solo’s gespeel op sy snaakse klein viool wat hy saam na Afrika gehad het en orals op sy jagtogte. „Nanook van die Noorde” was die naam van die film, en Bob Flaherty wat dit geneem het is ’n groot vriend van ons en het my baie vertel van die Eskimo’s in die streek van Hudson-Baai. Tussen hakies, Pa sê ons sal miskien aanstaande somer soontoe gaan. By tye het die son oordags lekker geskyn en Pa en mnr. Kellerman het ’n klomp lewende beelde en portrette geneem. Mnr. Kellerman klim op die boegspriet en vandaar op die staglyne en neem dan lewende beelde van die voorstewe as hy deur die ys sny. Dit is baie boeiend om te sien hoe die bemanning die skip deur die ys bring. Een man is in die kraaines op die fokmas. Hy roept uit waarheen om te gaan en die man aan die wiel herhaal sy woorde om te verhinder dat daar ’n fout gemaak word. Jy hoor die man bo skreeu, „Stuurbo-ord!” En die stuurman antwoord aan die wiel, „Stuurbo-ord!” Dan swaai die skip om na bakboord; want as die helmstok deur die wiel na die een kant getrek word, dan draai die skip na die ander kant. Dit was vir my heeltemal ’n interessante eerste Julie. Die temperatuur was omtrent 34 grade, net twee grade bo die vriespunt. Gewoonlik swem ek tuis in die tyd van die jaar! Een aand het professor Hobbs van die Uniwersiteit van Michigan ’n lesing gehou oor die groot gletserveld van Groenland. Hy glo dat baie van die storms op die Atlantiese Oseaan hulle oorsprong in Groenland het. Soos julle seker weet, is daardie land feitlik die ene ys. Daar is al langs die kus, veral in die suide, net ’n smal strook land wat nie deur die gletserveld bedek is nie. Die gedagte is dat dit miskien ’n myl of meer dik is, maar niemand weet presies wat die afmetings is nie. Die gletsers is tonge van die gletserveld wat as-’t-ware na die oseaan uitlek en dan afbreek as ysberge. In die deel van Groenland waarheen ons gaan bo in die noorde, is daar omtrent driehonderd mense. Die groot gletserveld van Groenland en die Suidpool-streek word beskou as die koudste dele van die wêreld, kouer selfs as die Noordpool-streek. Toe Peary oor die noordelike gedeelte van Groenland gereis het, het hy gevind dat die wind in sy gesig waai as hy op ’n ysheuwel klim en as hy afdraand gaan, dan waai die wind op sy rug. M. a. w. daar was altyd ’n wind wat van die ys afgekom het. Professor Hobbs en sy geselskap vir wie ons na Holsteinsborg neem, sal ’n studie maak van hierdie winde, die beweginge van die ys en ander dinge. Een slag, omtrent ons twede dag tussen die ys, terwyl ons in en uit ons vaarweg kronkel, sien ons iets swarts in die water. Ek skreeu vir die ander om na die seehond te kom kyk. Dit was die eerste noordelike seehond wat ek buitekant ’n dieretuin of sirkus gesien het. Ek het hom te siene gekry deurdat ek op die punt van die boegspriet was met Robert Peary, ons eerste masjinis, met wie ek baie rondspeel. Hy is ’n seun van admiraal Peary wat die Noordpool ontdek het. Dit is sy eerste reis na die noorde, en ek en hy is groot maats. Julle het seker al gehoor van Eric die Rooie. Hy was ’n Noor wat ’n skip uitgerus het en in 983 van Noorweë geseil het na ’n land wat deur ’n seker Gunbjorn ten weste van Ysland ontdek is. Toe hy die land bereik het, wonder hy hoe hy mense sal kan beweeg om daar te gaan woon, dus toe noem hy dit Groenland. Dit was die eintlike begin van die teenswoordige Groenland. Daarna het hulle vee na die suidelike gedeelte gebring en daarmee geboer. Groenland is van suid na noord omtrent vyftienhonderd myl lank en op sy wydste plek omtrent seshonderd myl wyd. Ons sal Knud Rasmussen by Disko-Eiland oplaai waar, soos ek gelees het, baie fossiele gevind word. Ek hoop om ’n paar vir my versameling te kry. Tuis het ek ’n kamertjie wat ons my museum noem, en daarin versamel ek ’n hele klomp goed wat werklik interessant is. Daar het ek alreeds ’n klomp goed wat ek van die ekspediesie met die Arcturus saamgebring het, en ander deur ontdekkingsreisigers wat ons huis besoek het, aan my gegee. Een van my grootste skatte is ’n klompie stukke van die dop van ’n dinosour-eier wat ek van Roy Capman Andrews gekry het, die eerste man wat die soort eiers in Asië gevind het. Hulle is tienmiljoen jare oud. HOOFSTUK III ONS BEREIK GROENLAND Ons het op 5 Julie Groenland vir die eerste keer te sien gekry. Dit was ’n pragtige gesig met die hoë sneeubedekte berge wat uit die mis uitgesteek het. Die hele agtermiddag het ons die kus in ’n noordelike rigting gevolg, maar ’n taamlike end van die land. Van die Straat van Belle Isle af het ons ver van die kus gehou; as gevolg van die mis, die seestrome en die ys waardeur ons moes vleg, was dit dus moeilik om vas te stel presies waar ons was. Die volgende oggend was kapt. Bartlett besorg, want ’n sterk wind het gewaai en ons het nie geweet of ons nie miskien ons hawe verbygeseil het nie. Ons wou Holsteinsborg bereik. Weens die mis was ons nie in staat om ons berekeninge te maak nie. Ons het gedurig met die verkykers uitgekyk en omtrent nege-uur gewaar ons iets soos ’n groot wit vlag wat naby ’n paar klein hutte op die kus waai. Waarskynlik was dit die droë vel van ’n seeleeu of soiets. In elk geval het die Groenlanders vir ons gesein, en ons het stilgehou, want ons was ernstig om iemand aan boord te kry en uit te vind presies waar ons ons bevind het. Ons laat toe ’n klein boot neer, en Pa, Peary, die masjinis, die stuurman en Carl gaan aan land en bring die eerste man na die skip. Drie kajaks het hulle tegemoet gekom. Carl praat toe Noors met hom en vra waar Holsteinsborg is. Maar hy kon nie verstaan nie, dus wys ons hom die kaart en noem die plek. Toe verstaan hy en beduie deur gebare dat hy ons die pad soontoe sal wys. Dit was groot pret om te sien hoe hy in sy klein kajak op- en afgaan sonder om om te slaan. ’n Kajak is ’n Eskimo-boot, ’n soort kano wat gemaak is van seehond-vel wat oor ’n raamwerk van dun hout gespan is. Dit is bo-op ook toe gemaak, behalwe dat ’n gat gelaat is waar ’n man inklim en sy voete onder die dek insteek waar dit maar omtrent ses duim diep is. Daar is ook ’n vel wat oor die opening pas en wat die man om sy lyf vasmaak om die water heeltemal uit te hou. Die roeispaan is van een stuk hout gemaak met ’n blad aan elke ent. Dit word in die middel vasgehou en eers word die een ent in die water gesteek en dan die ander. In Suid-Groenland is daar gewoonlik been aan die ente, van die roeispaan, terwy die handvatsel glad gemaak is. Die noordelike Eskimo’s het gewoonlik g’n been aan die roeispaan nie, en buitendien is daar vir elke hand ’n kerf ingesny. Harry Laven het prente van noordelike diere geteken en die Eskimo het vir ons hulle name in sy taal gesê. Omtrent vier-uur het ons in Holsteinsborg aangekom. Dit was ’n baie goeie klein hawe in die monding van ’n fjord. ’n Fjord is ’n lang smal baai of sond gewoonlik met steil kranse aan weerskante. Pa sê die landskap van Groenland is baie soos die van Noorweë. Die huise is algar verskillend van kleur, en maak ’n baie bont vertoning. Bo-op die heuwel het ’n klein rooi kerkie gestaan en aan die voet was die dorpie, meestal hout-huisies met sooie rondom gepak om die koue uit te hou. ’n Paar van die sooi-huisies het van voor tonnels, soos die ighloes in die noorde. Die plek waar ons geland het, was ’n klein dok met ’n inleg-fabriek aan die een kant en rakke vir die Eskimo’s se kajaks aan die ander kant. In Holsteinsborg het ek groot pret gehad met handeldryf. Drie van die matrose, Jim, Joe en Ralph, en ek het aan land gegaan met ’n paar ou hemde en ’n ou broek. Ons het omtrent vyftien hutte binnegegaan. Daar was maar vyf-en-twintig hutte in die dorp. Hulle het bestaan uit een kamer met ’n soort van verhoog vir die bed teen die agtermuur. Alles, tot koskook, word in die een kamer gedoen en die hele famielie slaap op een bed. Die huise was baie bedompig en het na velle en honde geruik. Die honde was orals te sien, tot in die tonnels het hulle gelê, sodat mens nouliks kon verbykom. Daardie aand om nege-uur het ons na ’n fjord, Ikortok genoem, vertrek om professor Hobbs en sy geselskap aan wal te sit. Ons het omtrent veertig myl die binneland ingegaan. Deur drie platboom-skuite aanmekaar vas te bind het ons ’n vlot gemaak om sy goed van die skip te vervoer. Een vrag was ’n bietjie te swaar, sodat die vlot amper gesink het deurdat een van die skuite vol water geloop het. Terwyl die laaste vrag afgelaai is, het Pa en ek met Carl ’n bietjie gaan vis vang, maar sonder sukses. Ons sien toe aan land ’n voëlnes wat lyk of dit ’n goeie eksemplaar kon wees. Ons probeer om dit te kry, deur teen ’n rots uit te klim, maar kon dit nie bereik nie. Toe ons in ons motor-bootjie die land verlaat, het ons in vlak water geraak. Die skroef van ons Johnson-motor raak toe die grond met die gevolg dat die motor losruk en oor boord val. Gelukkig kon ons dit weer kry. Ons moes egter die hele pad terug roei, daar die motor vol soutwater geword het en nie wou loop nie. Die hooggety het juis met geweld die fjord opgekom en ons moes vir omtrent vier myl net hard roei. Toe ons ’n stuk strand bereik, trek ons die boot uit die water, en werk aan die motor. Ek vat toe ’n geweer om te sien of ek nie ’n paar voëls kon kry nie wat geskik sou wees om te eet of anders om opgestop te word. Teen die tyd dat ek die ander end van die strand bereik het, het hulle hoop opgegee om die motor droog te kry en weer begin roei. Hulle skreeu toe vir my dat ek maar al langs die kus moes terugstap, daar dit dan makliker sou wees om te roei. Ek het nie veel van die idee gehou nie, maar ek moes òf aanstap, òf daar bly. Ek het ’n paar van die velstewels wat hulle kamiks noem, aangehad, en dit was moeilik om daarmee oor die rotse te loop. Ek was ook bang vir honde, want ons het aan land, nie ver van die ankerplek van die Morrissey, ’n klomp klein hondjies gekry. Nou is ’n teef in die noorde dikwels so kwaai soos ’n wolf as sy kleintjies het. Ek het ’n paar honderd tree af een gesien en het dus agter ’n rots gaan sit en wag dat hy moet verder weggaan. Toe ek die kus naby die skip bereik het, stuur hulle ’n platboom-skuit om my te haal. Op die volgende dag het ons in ’n paar dorpies langs die fjord oorgebly. Die Eskimo’s het in bootjies en kajaks gekom om met ons te handel en die Europeane en hulle snaakse skoene te sien. Toe ons hulle vra na visse wat geskik was vir eksemplare, bring hulle ’n seevark te voorskyn. Daardie agtermiddag het ons ’n groot kolonie van voëls teëgekom. Dit was wonderbaar om te sien. Die hele sy van die rots was oortrek met duisende neste van seemeeue. Dit is ’n soort van klein seemeeu wat in die winter soms sover as New-York afkom. Die voëls het met hulle aanhoudende geskreeu ’n verskriklike lawaai gemaak. Ons het in die platboom-skuite tot teen die rots geroei en daar ’n klompie voëls geskiet om saam terug te vat en ander om te eet. Ons het ook lewende beelde geneem van die voëls wat al om die rots vlieg. Op ’n afstand het die menigte vlieënde voëls presies soos ’n sneeustorm gelyk. Toe is ons terug na Holsteinsborg om twee mans terug te bring wat ons daar gekry het. Om drie-uur in die oggend het ons daar aangekom en hulle in ’n boot aan wal gesit in plaas van met die Morrissey in te seil, want ons wou so gou as moontlik aangaan na Disko. HOOFSTUK IV LANGS DIE KUS VAN GROENLAND Op pad na Disko het ons slegte weer getref en ons moes omtrent veertig myl van Holsteinsborg agter ’n klompie eilandjies gaan skuiling soek. Daar was glad g’n mense nie. Ons het ’n paar visse gevang en ’n paar voëls geskiet om saam terug te neem. Op een eiland het drie verlate sooi-huisies gestaan. Hulle was vol modder, visgrate en bene van seehonde. Toe ons terugkom van die hutte het ek met twee van my maats, Jim en Ralph, gaan visvang. Ons het in die platboom-skuit ver uitgegaan tot waar die see heeltemal ru was—ek het tenminste so gedink. Ons het ’n paar rotskabeljoue gevang. Jim het ’n groot heilbot tot teen aan die skuit gebring, maar net toe hy hom in die skuit wou trek, gee die vis ’n ruk en raak los. Een aand toe ’n paar Eskimo’s langs die kus aan boord gekom het, wys ons hulle lewende beelde van Eskimo’s wat ’n walrus harpoeneer, om te sien wat hulle daarvan sou dink. Hierdie prente het ons in die midskeepse kajuit gewys waar ons algar eet en die meeste van ons slaap. Met ons Pathex-toestel het ons die prente op ’n doek gewerp wat Fred van die oliekleedjie van ons tafel gemaak het. Toe die geharpoeneerde walrus die Eskimojagter wegsleep, het ons gaste geskreeu of gebrom. Dit was baie komieklik. Hulle het al van lewende beelde gehoor, maar hulle nog nooit gesien nie. Na die noordse prente het ons hulle ’n paar van die Suidsee-Eilande gewys. Die Eskimo’s het nog nooit iemand sien swem nie, dus het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. Toe ’n vriend van ons wat hul taal kon praat hulle vra wat hulle daarvan dink, toe sê hulle net hulle het van algar baie gehou, veral die prent waarop ’n leeu met sy dresseerder speel. Hulle het nog nooit soiets soos ’n leeu gesien nie. Daar is byvoorbeeld, soos ons verstaan, nie ’n enkele kat in die hele Groenland nie. Dit is baie vermaaklik om die skuite te sien wat jou tegemoet kom, en die Eskimo’s wat so heeltemal anders is as ons en g’n woord Engels kan praat nie, behalwe ’n paar soos „shirt”, „sugar” en „coffee” wat hulle opgetel het. Sulke dinge wil hulle ruil vir stewels, beursies en velle. In die suide kerf hulle sulke dinge soos kajaks, messe en penhouers uit die ivoor van walrus-tande. Hulle het partykeer baie gawe hoede wat van bont of eiderdons gemaak is. Een man het twee modelle van kajaks met die hele uitrusting, tot die klein rokkie vir die harpoentou en die figuur van ’n man, na my toe gebring. Ek het een daarvan vir my klein museum by die huis gekoop. Daarvoor wou hy ’n ou broek of ’n hoeveelheid twak hê. Selfs die vrouens wil twak hê om te pruim. Ek het ook ’n paar baie mooi beursies gekoop wat van die vinne van seehonde gemaak is en knippies van been het. Dit is moeilik om ’n kleinigheid vir elke vriend by die huis te kry. Die Eskimo’s is oor die algemeen baie gaaf en eerlik. Die meeste kan akkordion speel, en dit lyk of hulle baie musikaal is, en hulle hou bepaald van dans. Ons het volop goed aan boord wat vir presente en ruilhandel deug, veral as betaling vir hulp en werk wat gedaan word. Geld beteken hier maar min. Ons voorrade sluit in byle, messe, krale, naalde, twak, pype, lekkers ens. Albei geslagte is lief vir gekleurde doeke, en spieëltjies is altyd welkom. By een van die dorpe het ons ’n trop honde ’n vrot haai sien vreet. As ’n haai ’n paar dae dood is, word daar skynbaar ammonia in die vleis gevorm. Die honde hou daarvan, en nadat hulle dit gevreet het, lyk dit vir my, word hulle dronk en kan nouliks loop. Fred Linekiller, die opstopper van diere, is besig om my te wys hoe ’n mens voëls afslag. Dit is ’n interessante werk. Die eerste wat mens moet doen as mens ’n voël geskiet het is om watte in die wonde en die bek van die voël te steek, om te keer dat die bloed nie oor die vere loop nie. Dan word ’n naald deur die neusgate gesteek en die bek word toegewerk, dat die watte nie kan uitkom nie. Dan word die vere op die bors vanmekaar gemaak en die vel van die borsbeen tot die sagte deel van die maag deurgesny. Dan word daar koringmeel ingestrooi om die vel droog te hou en die bloed en vogtigheid op te suig. Daarna word die vel nie afgetrek nie, maar gedruk om dit nie te rek nie. Weer meel word ingestrooi hoe verder die vel afgeslag word. As mens by die bene kom, word by die knie ’n sny gemaak, maar so dat die been bly om die voet in posiesie te hou. Net bokant waar die stertvere uitkom, word ’n sny gemaak en die vel omgekeer met die binnenste na buite en die vel word versigtig opgedruk na die kop. Dit kan tot ’n bietjie verder as die oë gedruk word. Dan word die kop geskraap en ’n mes word tussen die kakebeen en die agterste deel van die kop ingedruk, sodat ’n mens die harsings kan uithaal. Dan word die vel, met die binnenste buite, met arsenikpoeier bewerk, en daarna word dit weer omgekeer met die vere na buite en die vere word uitgepluis. Dan is dit gereed om saamgevat te word om op te stop en op te sit, of anders om bestudeer te word soos dit is. Toe ek een oggend wakker skrik, vind ek dat ons in die klein, maar goeie hawe Godhavn op Disko-Eiland was. Kapt. Bob moet meeste van die tyd op wees, veral natuurlik as ons op pad is. Hierdie slag, byvoorbeeld, was hy die hele nag op, en Pa met hom. Disko is ’n moeilike plek om te land as mens dit nie verskriklik goed ken nie. Daar is ’n klein steenkool-myn naby Godhavn. Steenkool uithaal en visvang, is omtrent al wat die mense daar doen, behalwe dat hulle gaan jag, veral in die winter. Die meeste werk word deur die vrouens gedoen, terwyl die mans gaan visvang of jag. Toe ons aan land gaan, sien ons die vrouens met groot mandjies die steenkool uit ’n bootjie haal om dit te weeg en in ’n groot loods weg te pak. Carl, mnr. Streeter, Art Young en ek het saam met twee Eskimo’s uitgegaan om in die mond van die baai haaie te vang. Ons het omtrent van een- tot vieruur gevis, maar het nie hond haar afgemaak nie. Later het ons deur ruil ’n paar pragtige modelle van goed uitgeruste kajaks gekry, ook van klein sleetjies met swepe en geweers daarop vasgebind met rieme. Ons het met die Goewerneur die hele Godhavn deurgegaan, en Carl het opgetree as tolk. Dit is gerieflik om hom by jou te hê want hy praat taamlik goed Deens. Hy is ’n Amerikaner, maar sy ouers is albei Noors en by hulle huis in Minnesota het hulle baie Noors gepraat, en dit is baie nes Deens. Ons het die drukkery waar die enigste koerant in Groenland gedruk word, besoek. Dit is ’n maandblad, en die drukkery is ’n klein rooi geboutjie met een klein drukpers. Omtrent drieduisend koerante in die Eskimo-taal word gratis onder feitlik al die inwoners van Groenland versprei. Die Goewerneur het ons vir ons versameling ’n ingebinde kopie present gegee. Die grootste gedeelte word deur Eskimo’s al langs die kus geskryf en ingestuur. Die volgende oggend omtrent halfsewe het ons die anker gelig en Godhavn verlaat. As die anker opgetrek word, word almal na die windas geroep en dit word met ysterstange, soos handvatsels van ’n pomp, gedraai. As dit ’n lang ent ketting is, duur dit baie lank en is dit regtig harde werk. In die middag het Pa my georder om ’n sakkie vol te maak met goed om te handel, want ons sou by ’n dorpie met die naam van Proven aangaan. Ons het omtrent agtuur daar aangekom. Die hawe was baie klein, sodat die Morrissey nie kon ingaan nie en ons die boot moes gebruik. Ons is op die klein landingsbrug deur die hele bevolking begroet. By die punt van die dok was omtrent agt haaie wat nog lewendig was met toue onder die water vasgebind. Later het Harry Raven een van tien voet lank gekry om saam te vat. Agterna het hy uitgevind dat die lewer ses voet lank was. Terwyl Pa en die ander tee gedrink het met die Goewerneur (al hierdie klein dorpies in die suide het ’n Deen aan die hoof wat Goewerneur genoem word, al is die gemiddelde bevolking net veertig), het ek uitgegaan om ’n paar kamaks of velstewels te handel. Dit is ’n soort van dubbele, hoë skoen of stewel wat van die vel van seehonde gemaak word met die hare na binne en binne-in nog ’n harige stewel met gras daaronder om dit sagter en warmer te maak. Die harige seehond van Groenland is heeltemal anders as die seehond van Alaska wat bont lewer. Hy het nie bont nie, maar net growwe hare, en het g’n waarde nie, behalwe vir sy traan en vel. Ek kon verskillende pare kamaks kry, maar hulle was omtrent net half so groot soos my voete. Die Eskimo’s is baie klein mense, en die grootstes kom gewoonlik omtrent net tot by my skouer. Natuurlik het hulle ook klein voete. In Proven het ek twee broeke van seehondvel geruil, een vir ’n baadjie en die ander vir ’n dosie lekkers en ’n wol-oorhemp. Ek het ook ’n soort halskettinkie soos die vrouens daar dra as hul vir hulle uitdos vir ’n steen seep, ’n stuk sjokolade en ’n soldate-spieël geruil, en ek dink ek het ’n goeie slag geslaan, want die halskettinkies is moeilik om te maak en moeilik om te kry. Ons wou ook ’n kajak kry, maar dit sou gemeen gewees het om een te vat, want die Eskimo’s is nes kinders en sal amper enigiets gee vir lekkers en mooi stowwe. Die kajak is hul vernaamste middel om kos te kry en is vir hulle dus verskriklik belankrik. Ons het altyd probeer om niks te vat wat vir hulle onmisbaar is nie, en om iets regtig nuttigs in ruil te gee vir belangrike voorwerpe, So het ons byvoorbeeld later toe ons ’n paar kajaks ruil, hout en ander materiaal waarvan hulle nuwes kon maak, gegee. ’n Baie gewenste en nuttige ruilmiddel van ons was Tetley-tee, in halfpond-blikkies. Dit, dikwels met ’n sakkie of blikkie suiker, was orals baie welkom, terwyl ons dit aan boord altyd self gedrink het. HOOFSTUK V UPERNIVIK EN DIE EENDE-EILANDE Ons het omtrent middernag van Proven vertrek. Na ons vertrek uit die klein hawe, toe ons ’n paar kaal rotsagtige eilande verbyseil, het Pa en ’n paar ander aan land gegaan om ’n bietjie te gaan skiet. Ons het, toe ons aankom, ’n groot menigte van voëls en eende daar sien rondvlieg. Hulle het van een- tot vyfuur weggebly, solank soos ek geslaap het. Later het Pa my vertel dat dit pragtig was, die water grys en stil soos silwer en die hemel loodkleurig met helder tinte van oranje en lemoengeel waar die son op die gesigseinder was. Hulle het seeswaels (E. tern), eider-eende en meeue saamgebring, sommige om te eet en ander om op te stop. Die volgende dag was dit mistige weer, dus het ons stadig geseil, want ons moes op ons hoede wees vir ysberge wat ons net op kort afstande kon sien. Omtrent nege-uur die volgende oggend het ons Upernivik bereik, die laaste stad van enige betekenis in Noord-Groenland en, as ek my nie vergis nie, die noordelikste stad in die wêreld. Daar woon ’n Deense Goewerneur en ’n paar ander Dene. Sy naam is Goewerneur Otto, en hy het ons baie goed behandel, ook later op die terugreis. Upernivik is ’n mooi klein plek, op ’n eiland aangelê. Op die plek waar ons geland het, was net ’n klein skeepswerf, ’n paar pakhuise en lewensbehoeftes. Van hierdie hawe het ’n nou paadjie oor ’n steil heuwel na die eintlike stad gelei. Die is aan die ander kant teen ’n hang na die suide geleë met ’n pragtige uitsig op Sanderson-Hoop, ’n taamlik groot berg wat ’n paar myl weg is en aan ’n ope fjord lê wat gladnie vir ’n hawe deug nie. Die dorp bestaan uit ’n dosyn houthuise, party waarvan regtig mooi is, veral die Goewerneur se woning en een vir die dokter wat daar woon; laasgenoemde doen ook diens as ’n hospitaal. En rondom die houthuise lê die sooihutte van die oorspronklike bevolking wat skynbaar vashou aan hulle ou lewensgewoontes. Op ’n heuwel by die dorp staan ’n fraai nuwe kerk. Ons het die middag saam met Goewerneur Otto en sy dogter Ruth, ’n meisie van omtrent twaalf jaar, in hulle huis geëet. Daarna het ons by die hawe lewende beelde geneem van ’n Eskimo wat sy kajak omkeer. Dit het gelyk of hy gladnie swaar kry nie. Hy val eenvoudig na een kant toe om terwyl hy in sy kajak of vel-boot sit en kom dan aan die ander kant weer op, deur net ’n draai met sy roeispaan te maak. Toe hy dit doen, het hy ’n waterdigte pak aangehad en ’n soort kappie op sy kop wat hy styf om sy nek getrek het, en om sy middel, waar hy in die opening in die dek van die kajak gesit het, was ’n stuk vel styf vasgemaak om die water uit te hou. Robert Peary het lus gekry om dit ook te probeer. Hy verwissel toe sy klere vir ’n hemp van seehond-vel en klim in die kajak—dit was moeilik om daarin te kom, want hy is soveel groter as die Eskimo—en keer half om. Die kajak was nou onderstebo en sy kop kom aan die ander kant uit, maar gaan met ’n gespat weer onder. Hy kon eenvoudig nie weer orend kom nie en hang toe met sy kop onder die water en die boot onderstebo oor hom. Ek het regtig gedink hy verdrink. Hy kom vir die twede keer op en skreeu om hulp. Ons was natuurlik naby en Carl roei toe onmiddellik in ’n skuit na hom toe, maar val amper self in die water terwyl hy vir Robert help om weer regop te kom. En het die Eskimo’s nie gelag nie! Hulle het dit as ’n groot grap beskou. Maar Robert het skynbaar gevoel asof hy soveel yswater van Baffin-Baai ingesluk het as wat hy kon verdra en hy was so koud dat hy reguit na die skip teruggegaan het om ander klere aan te trek. Dog ek sal ’n weddenskap maak dat hy ander jaar by die huis in Maine die ding sal regkry. ’n Paar Eskimo’s is uitgestuur om haaie vir die museum te vang en Doc, Ralph en ek het in die boot agternagegaan. Hulle het toe al vier grotes gevang en ’n ander een het weer oor boord geval. Hierdie Groenlandse haaie is baie stadig en lui. Hulle sit hulle glad nie teë nie. Hulle beweeg baie stadig en dit lyk of hulle niks kwaai is nie, en heeltemal anders as die haaie wat ek in Florida gesien het wat mense daar gevang het. Die volgende oggend het Goewerneur Otto ons saamgevat om sy honde te sien wat hy gedurende die somer heeltemal alleen op ’n kaal rotsagtige eiland omtrent ’n myl vandaar hou. In die somer word hulle omtrent alle drie dae met eende gevoer wat in ’n groot mandjie soontoe gebring word. Die meeste eende is skynbaar al taamlik lank bewaar, sodat hulle alle taamlik „ryp” is. Maar die honde hou bepaald daarvan. Ons het in ons groot skuit oorgegaan met die goewerneur en ’n paar Eskimo’s wat die kos gedra het. Toe die honde—dit was omtrent ’n dosyn—ons sien kom, storm hulle af na die see en volg ons soos ons verbygaan, terwyl hulle aanhoudend blaf. Hulle het goed geweet dat dit etenstyd was. Ons het geland en besluit om hulle ’n end van die water af te voer waar dit gelyker was en Kellerman dus beter in staat sou wees om lewende beelde te neem. Terwyl die Eskimo’s die groot mandjie met voëls gedra het, moes een van hulle die honde afhou. Daarvoor moet hy ’n roeispaan gebruik. Tog het hulle opgespring en probeer om die mandjie vleis op die man se skouer te bereik, sodra hulle die minste kans kry. Ek het g’n die minste twyfel nie dat hulle hom sou onderstebo gespring het as hy alleen gewees het. Toe is die voëls klompiesgewys vir die honde gegòoi. In ’n oomblik was hulle verskeur en opgevreet. ’n Hond kan een van hulle in ’n oogwink oopskeur en hom afwurg, alles behalwe die vere. Daar was baie bakleiery, en die hele tyd was daar ’n groot lawaai soos hulle tjank en vir mekaar blaf. Dit was baie interessant om die koning-hond te sien. Elke span van honde in hierdie land het ’n leier, die koning wat baas is. Hy is gewoonlik die swaarste en mooiste onder hulle en natuurlik ook die baas-bakleier. Ek dink hy spook die leierskap eenvoudig uit. Een ding is seker, as hy vir hulle iets „sê”, dan voer hulle sy orders gou genoeg uit, of anders kry hulle op hul bas. Die koning het ook ’n koningin, en dit is grappig om te sien hoe hy vir haar sorg. As sy ’n eend, of ’n stuk daarvan, beetkry, dan staan die koning maar net by haar en sorg dat g’n ander hond haar molesteer nie. As een van hulle opgewonde raak en naby die koningin en haar kos mag kom, dan gee die koning net een brom—en dit is die end van die saak. Of as ’n ander hond ’n stuk eend het en die koning kom na sy kant toe, dan laat hy dit sommer val en hardloop weg, of hy gaan lê op sy rug en soebat. Daar was sekerlik tug op die eiland. Toe die spul oor was, was daar net ’n klompie vere op die rotse rondgestrooi en die honde se bekke en koppe was besmeer van die bloed, soos hulle die vleis verskeur het. In elk geval het hulle blykbaar algar ’n goeie maaltyd gehad en het hulle vir die eerste keer rustig gelê om vir die volgende etenstyd oor drie dae te wag. In die winter is daar werk vir hulle, baie werk. Hulle is natuurlik van groot belang vir die mense in hierdie noordelike streke. Daar is g’n perde nie en natuurlik g’n outo’s of enigiets van die aard nie. Dus word alles op sleë vervoer en die word deur honde getrek. Die hondevelle is besonder fraai. Die haar is dig en sag en blink. Pa het ’n paar hondevelle gekoop om ’n jas daarvan te laat maak. Daardie agtermiddag het ons Upernivik verlaat en ’n noordelike rigting oorgesteek na Melville-Baai. Algar was daar om ons vaarwel te sê en die Goewerneur het bo die heuwel waar die Deense vlag waai, sy kanonnetjie laat afskiet. Hulle het ons ’n saluut gegee met drie kanonskote en ons het met drie geweerskote geantwoord. Die Eende-Eilande is ’n klompie rotsagtige klein eilande, naastenby twaalf myl van die vasteland van Groenland aan die suidelike end van Melville-Baai. Ons het hulle omtrent twee-uur die volgende agtermiddag bereik en in ’n soort van hawe tussen die grootste twee eilande geanker. Ek reken die grootste is omtrent twee myl lank en sowat ’n halfmyl wyd, en heuwelagtig en vol rotse. Langs die see waar die land ’n bietjie vlak is, is die rotse oorgroei met mos en is daar kolle met vleie en modder. Op albei eilande het ons taamlik rondgeloop en groot getalle van eider-eende teëngekom wat daar in groot troppe broei. In die ou dae het die walvisvaarders as hulle na Baffin-Baai gekom het, hulle hoofkwartier hier opgeslaan en skeepsvragte van eende-eiers bymekaar gemaak. Ons het baie eende op hulle neste gesien. Die nes is somar ’n donsagtige bol vere op die gelyk grond. Hulle pluk die donse uit hulle borste, sodat die wyfies as mens hulle in die hande kry, lyk asof iemand ’n handvol donse daar uitgetrek het. Dit word eider-dons genoem en word vir baie goeie bulsakke en kussings gebruik. Dit is baie warm en ook van groot waarde. Die Eskimo’s versamel dit van die neste en pluk dit van die eende, en dit, saam met die velle van vosse en seehonde en ’n paar ander artiekels soos die ivoor van walrusse en die slagtande van narwalle is die vernaamste artiekels vir handel met die buitewêreld. Die mannetjies en wyfies van die eider-eende is baie verskillend. Die wyfie is heeltemal bruin, terwyl die mannetje net ’n bietjie bruin op sy bors en maag het, met baie wit op sy rug en aan sy nek, en vere wat donker-grys of amper swart is. Die wyfie is baie stadig en dit is baie maklik om haar by te kom en dood te maak. Ons het ’n hele klomp van hulle geskiet om te eet en hulle aan die takelwerk opgehang waar Billy, die kok, dit kan haal wanneer hy dit nodig kry. Die mannetjie is baie wilder en vlieg vinniger en is taamlik moeilik om te skiet. Daar was baie min mannetjies op Eende-Eiland. Dit lyk of die mannetjies op eie houtjie weggaan, terwyl die wyfies broei. Later het ons in die fjords anderkant Upernivik baie van hulle teëgekom. Albei geslagte is groot en swaar en heerlik om te eet. Sover terug as die jaar 1850 en vir sowat dertig jare daarna is in hierdie dele veel jag op walvisse gemaak. Baie van die skepe het van Skotland gekom. Daar is op die heuwel of klein berg by Eende-Eiland ’n klipbaken van walvisjagters en ook ’n ringmuur vanwaar hulle uitgekyk het. Tussen hakies, in daardie baken het Peary in 1888 ’n dokument agtergelaat. Ons kon egter niks vind nie. Waarskynlik het die Eskimo’s al lank gelede alles daar uitgehaal. In ’n laagte naby die water, waar ’n hoop vuilgoed gelê het, het ons die graftes van ’n paar walvisjagters gevind. Hulle was met klippe bedek, maar net een naambord het oorgebly. Daarop was die volgende te lees: „In memory of William Stewart, A. B., S. S. Triune of Dundee, June II, 1886. Aged 24.” Art het met my uitgegaan om met my nommer sestien haelgeweer te gaan skiet, maar ek het nie goed gevaar nie. Ek het nie baie oefening gehad om voëls in die vlug te skiet nie en is, daarin maar sleg. Om met ’n twee-en-twintig koeëlgeweer te skiet, lyk baie makliker. Art self is ’n uitstekende skut met koeël- of haelgeweer. Ons het baie eiers gevind en Pa en ’n paar ander het groot klompe eiers gevind, honderde van hulle blykbaar deur Eskimo’s wat die eilande vroeër in die seisoen besoek het, versamel en daar neergesit om later gehaal te word. Hulle was in ’n gat gebêre met klippe daar omheen gepak en die skeure met mos toegestop, sodat hulle uitstekend goed beskut was. Hulle het ook die kopbeen van ’n ysbeer gevind. By drie van die eiers wat ons gevind het, het die klein eendjies net uitgekom. Ons het hulle saamgevat na die skip. Een het ek onder ’n eendewyfie gesit wat ek lewendig in ’n Eskimo-strik gevind het, en die ander twee agter die stoof in die kombuis waar dit lekker warm was. Twee van hulle het ’n taamlike ruk gelewe, maar later het ons hulle op ’n pynlose manier doodgemaak en hulle gebêre as eksemplare vir die museum. Ons het ook ’n paar neste vir die museum saamgevat, en ek het een vir my versameling gekry. HOOFSTUK VI DWARSOOR MELVILLE-BAAI Teen die twintigste Julie was ons amper oor Melville-Baai. Dit was op die kop ’n maand na ons vertrek van die huis, wat uitstekend goed was. Ons was natuurlik baie gelukkig dat ons die hele tyd nooit regtig moeite met die ys gehad het nie. Gewoonlik is Melville-Baai omtrent die gevaarlikste en moeilikste deel van die reis noordwaarts. In baie gevalle duur dit weke eer mens daar deurkom, en partykeer is dit eenvoudig onmoontlik om deur te kom. Dr. Rasmussen het my later vertel dat hy al terwyl hy probeer het om deur te kom, ses volle weke rondgedryf het, daar sy skip vasgevries was in die pakys. En dit in die middel van die somer. Na ons vertrek van Eende-Eiland was ek ’n hele ruk besig om die goed vir handel en vir presente reg te maak. Ons sou natuurlik nie veel handel dryf nie, net vir goed wat ons persoonlik wou hê. Die meeste goed was bedoel om die mense te betaal wat ons op jag, en by die versameling van eksemplare sou help. Een van my lekker werkies was om blikke met skroefdeksels vol te maak met lekkers en suiker. Ons het ook woloorhemde en jersies met skitterende kleure wat mnr. Alex Taylor van Rye aan die ekspediesie geskenk het, uitgesoek. (Ek mag sê dat ons hele bemanning nou mnr. Alex Taylor se woloorhemde gebruik en dat ons hulle nuttig vind). In die aand van 20 Julie het ons by Kaap-York aangekom. Dit is ’n groot kaap wat die noordelikste punt van Melville-Baai uitmaak en eintlik die begin is van die verre Noord-Groenland. Die mense wat daar en nog meer noordelik woon, maak deel uit van die Eskimo-stam van Smith-Sond en woon nader aan die Noordpool as enige ander volk. Omtrent op hierdie breedtegraad is ’n mens verder noord as die noordelikste deel van die vasteland van Noord-Amerika, Europa of Asië. Ons het dus besef dat ons begin het om regtig ver noord te kom. Die kaap self is ’n hoë berg wat so-te-sê direk in die see uitloop. Party van die hange is heeltemal rooi, en die sneeu is ook karmosynkleurig weens ’n soort stof wat dit skynbaar bedek. Hierdie deel word die Karmosyn-Rotse genoem en feitlik elke Noordpool-ekspediesie maak melding van hulle en beskryf hulle. Agterom die kaap is ’n groot gletser wat direk in die water afbreek, en dit is baie gerieflik. Kapt. Bob het die skip tot reg teenaan die ysmuur gebring en ’n paar man het van die boegspriet op die gletser gespring en die skip met toue vasgemaak, sodat hy daar teenaan kon lê asof die ys ’n kaai was. Natuurlik was daar g’n wind nie en die see was heeltemal stil. Toe vat hulle ’n slang en gaan daarmee ’n end op en sit die punt in een van die baie stroompies wat van die top van die gletser afloop, alles gesmelte sneeu. Die skuinste was genoeg om die water in ons groot waterbak op dek te laat afloop. Die matrose het ook die vaatjies met behulp van emmers volgemaak. Dit was ’n uitstekende plan om ’n hele voorraad egte yswater te kry. Terwyl ons daarmee besig was, het ’n paar Eskimo’s in hulle kajaks aangekom. Ons het vir ’n koeëlgeweer en ’n klompie ammuniesie ’n pragtige kajak van hulle gehandel. Die volgende dag, toe ons aan land gaan, sien ons dat die eienaar van daardie kajak al goed op weg was met die maak van ’n nuwe. Hy het dus met sy uitstekende geweer goeie vooruitsigte gehad vir die jag. Ek hoop dit van harte, want ’n kajak is vir ’n Eskimo omtrent die vernaamste lewensbehoefte. Waarskynlik is ’n geweer die volgende. Dit is veral waar as ons dit vergelyk met ’n outo wat vir ons tog maar ’n weeldeartiekel is, waarsonder ons maklik kan klaar-kom. ’n Kort end van die klein nedersetting by Kaap-York is daar ’n „voëlberg”. So noem hulle die plekke waar ’n mens „dookies”, ’n klein soort auks [4] vind. Hulle is klein voëls wat teen berge hou waar mens talus-hellinge aantref—dit wil sê lang afdraandes met los rotse wat opmekaar gestapel is. Hulle maak hulle neste in die holtes en skeure waar hulle moeilik is om te vind. ’n Eskimo het saam met ons in die skuit na hierdie „voëlberg” gery. Ons het teen die helling uitgeklim tot by ’n plek wat hulle gereeld gebruik en waar hulle van los klippe ’n ruwe skerm gemaak het. Hy het ’n net aan ’n lang stok saamgevat. Ons het teen die helling gaan sit, gedeeltelik bedek deur die skerm. Toe vlieg die voëls verby, altyd in dieselfde rigting. Dit lyk of hulle gedurig aan die gang was, of hulle opvlieg van die rotse, ’n wye draai oor die see maak en dan weer terugkom. Daar was duisende van hulle. As ’n voël by ons verbyvlieg, amper so naby dat mens hom kon aanraak, maak die Eskimo ’n vinnige swaai met sy net en pardoems,—daar lê een van die voëls in die net. Hy trek gou die net terug, haal die voël uit en maak hom dood, en hy is weer gereed. Dit is hoofsaaklik die werk van die vrouens wat baie bedrewe daarin is en honderde (waarskynlik duisende) van hulle vang. Hulle is heerlik om te eet, en die velle word gebruik om veer-klere te maak vir ’n voering wat teen die lyf gedra word. Nadat ons Eskimo-vriend ons gewys het hoe om dit te doen, het ek ook probeer. Dit het baie maklik gelyk. Maar dit was nie die geval nie. Ek het baiemaal misgevang. Pa en Dan Streeter het gestaan en kyk en kiekies geneem, en hulle het vir my gelag as ek so’n swaai maak sonder om iets te vang. „Drie kanse en jy is uit!” roep hulle toe ek vir die derde keer misvang. Maar na ’n ruk het ek darem ’n paar gevang, en ’n paar het ek met die stok raakgeslaan sodat hulle half bedwelmd was en ons hulle kon kry. Pa en Dan het ook probeer, maar hulle het ook g’n rekords geslaan nie. ’n Kêrel met ’n goeie oog vir krieket soos Babe Ruth behoort by soiets uit te blink. Dit was in alle geval groot pret, en natuurlik was dit die eerste keer dat ek probeer het om voëls met ’n net te vang. Wat baie snaaks is, is dat ek die volgende dag werklik met ’n strik ’n paar gevang het. Die plek waar ons skip die agtermiddag gelê het was net lang ’n groot klomp baai-ys, ysskolle met water tussenin. In die verte kon ons hier en daar seehonde sien. Hulle sit in die son en bak, maar gewoonlik digby ’n gat in die ys. Sodra hulle skrikgemaak word, seil hulle af en verdwyn. Selfs as ’n mens hulle skiet, tensy hulle onmiddellik dood is, plof hulle nog in die water en sink. Dan en een van die Eskimo’s het probeer om die seehonde—of „poeiesie”, soos die Eskimo’s hulle noem—te bekruip. Hy was taamlik gelukkig en het drie raakgeskiet, twee waarvan hulle gekry het. Hulle het ook taamlik nat geword, terwyl hulle so oor die ys kruip en deur dammetjies water wat deur die son gesmelt is. In alle geval was dit ons eerste buit en die vleis was ook lekker. Voor die volgende oggend het ons noordwaarts gegaan na Parker-Sinow-Baai. Toe ek wakker word, lê ons daar geanker. Dit is ’n mooi plek, ’n klein baai heeltemal op die kus met ’n stukkie gelyk grond en daar agter kom ’n gletser af wat tot by die groot gletserveld uitstrek. Aan weerskante van die gletser staan twee steil berge en een van hulle het ons Bartlett-Kop genoem. Een van die berge het aan die seekant kranse wat steil uit die see oprys. En daar is ’n groot voël-kolonie. Op die kus het ons ’n blou vos gesien. Na môre-ete het ons die voël-kolonie aangepak om eksemplare te kry. Dit was ’n heerlike, sonnige en stil dag en ons het regtig ’n aangename tyd gehad. Party van ons is tot die agtermiddag besig gewees en het die boot teruggestuur om ons middagete te haal. Ons het teen ’n krans uitgeklim. Om dit reg te kry moet ons die maklikste kant van ’n steil puntjie uitkies. Van die krans af kon ons ’n paar van die neste bereik. Ons kon selfs aan party van die voëls raak, aan auks en seemeeue. Hulle het op hulle neste gesit en broei, en party op baie klein kuikentjies. (Toe ons drie weke later terugkom, was daar baie meer kuikentjies.) Op hierdie plek het ek ’n ligte lyn gebruik en heel party voëls daarmee gevang. Ek het aan die een ent ’n lissie gemaak en die oor die kant van die krans laat afsak, totdat dit op een van die neste lê. As die voël dan terugkom en reg daarop gaan sit, gee ek ’n skielike ruk. Dit het heeltemal goed gewerk. Bob Peary, wat baie goed kan klim, het ’n tou om sy lyf vasgemaak, en toe het ons hom laat afsak om eiers en neste te kry. Art Young en Carl was die „ankers” aan die ander ent van die tou. Een slag terwyl hy afgaan, het Bob op ’n los klip getrap en dit afgestamp. Die klip het in sy val ’n groot klom ander klippe losgeruk en die hele spul het met ’n geweldige geraas en gespat in die water geval. Die krans was van bo tot onder omtrent loodreg, met net ’n lys wat omtrent twintig voet bokant die water uitgestaan het. Na ’n ruk het Bob tot daar afgegaan waar hy kon staan, en toe het ons Pa ook soontoe laat afsak met ’n klein kamera waarmee hy lewende beelde kon maak. Later het die boot soontoe omgegaan, en die manne wat daarin was het die tou styf vasgehou, terwyl die manne bo dieselfde gedoen het, en so het eers Pa en na hom Bob langs die tou afgeseil, nadat hulle eers ’n emmer met eiers en ’n kissie met neste laat afsak het en ook ’n klompie kuikens wat hulle daar gekry het. HOOFSTUK VII SKIPBREUK Maandag die ses-en-twintigste Julie het ons teen ’n verborge rots geseil naby Northumberland-Eiland wat aan die mond van Walvis-Sond op 77 graad twintig noorderbreedte lê, aan die oostekant van Baffin-Baai. Ons was besig om rondom die eiland te seil om ’n paar Eskimo’s te soek wat saam aan boord sou kom om ons te help jag. Ons was nou in goeie jagveld. Die aand vantevore het ons van die skip af sewentien walrusse gesien. Kapt. Bob het al by Kaap-York verneem dat seker Eskimo’s op seker plekke sou wees waar hulle gewoonlik woon; maar toe ons daar kom, was hulle toepiks verlate. Die nasie trek baie rond na die beste plekke om te jag, en hulle het seker onverwags getrek, omdat die fjords en baaie vanjaar besonder vroeg vry van ys was. Ons was in alle geval taamlik naby genoeg om vier sooi-huise op ’n seker punt te ondersoek. ’n Groot-kliprif het van die berg uitgeloop na die see se kant. Dit is wat die aardkundiges op Engels ’n „dyke” noem, ’n harde kliprif waarvan die sagter gedeelte aan weerskante weggevreet is deur die reën en sneeu. Wel, die „rif” het blykbaar onder die water taamlik ver uitgesteek. Naderhand het ons uitgevind dat daar aan altwee kante diep water was tot amper teenaan. Maar ons het net die buitekantste knoppie gevang omtrent tien voet onder die oppervlakte van die water. Dit was omtrent half-een in die oggend toe ons teen die rif vasgeloop het. Dit was natuurlik dag en die son het helder geskyn, en gelukkig was daar g’n wind nie, en die see was kalm. Dit was verskriklik opwindend. Die skok het my amper uit my kooi gegooi. Ons het ’n gekraak gehoor en ’n stamp gevoel, en daarna was alles stil. Ons het dikwels vantevore teen ligte ysblokke geseil wat die skip ’n bietjie laat dril het, maar dit was niks vergeleke met hierdie nie. Ek het so gou as wat ek kon my broek aangetrek en was net besig om my kouse aan te trek, toe Pa deur die bolig skreeu dat algar op dek moes kom en maar moes laat staan om aan te trek. Ek het vir Bob Peary en Dok wakkergemaak en ons is toe gou boontoe. Ons was ’n halfuur besig om die olievate van agter na die boeg te verskuif om die agterstewe ligter te maak, want daar het die rif die skip geraak en daar het hy vasgesit. Dit was net hoogwater toe ons die stamp gekry het. Ons het die fokseil, en die binne- en buitekluiwer opgehys en die motor volstoom laat loop, maar die skip het nie geroer nie. Toe, terwyl die see sak, bring ons in die platboom-skuite ’n groot klomp goed aan wal en doen wat ons kan om gereed te wees vir die volgende gety. Die Morrissey het vyf-en-veertig graad of meer na bakboord oorgehel en aan boord was alles in ’n verskriklike wanorde! ’n Mens kon eenvoudig nie op die droë dek staan nie, en waar dit glibberig was van die olie—en dit was amper orals die geval—was dit net moontlik om weg te kom deur aan ’n tou vas te klou. En boonop het hulle verskillende male lelik geval met die verskuiwing van die olievate. Kapt. Bob het sy hand lelik gesny en Dok het dit daar en dan verbind. Onder in die kajuite was alles onderstebo. Dit het te gek gelyk om die klere wat aan hakies in die plafon gehang het van die mure te sien skuins wegstaan soos dronk mense. Die water het gesak en die skip hoog en droog op die rots agtergelaat, behalve die boeg wat nog skeef in die water gehang het. Kapt. Bob het aan elke kant van die agterstewe tien leë olievate vasgemaak om die skip te help oplig as die water weer hoogkom. Ons moes eenvoudig klaar wees vir enigiets, ingeval dit sou blyk dat die Morrissey so erg beskadig was dat hy nie bo water kon bly nie, of veral as ’n storm sou opkom, wat die skip sou uitmekaar breek en dit baie moeilik of miskien onmoontlik maak om enigiets te red. En julle moenie vergeet dat ons byna duisend myl van die naaste Deense nedersetting was en meer as 2000 myl van Sydney, die naaste groot plek nie. Een ding wat ons dadelik baie versigtig aan land gebring het, was die klein draadlose toestel waarmee ons draadlose telegrafis, Ed Manley, met die wêreld in verbinding kon tree ingeval ons groot toestel aan boord verlore sou gaan. Dié klein toestel wat vir ons so uiters belangrik kon gewees het, is deur die Nasionale Karbou-Maatskappy wat die „Eveready”-batterye maak, aan ons present gegee. En toe, in die middag, kom die hoogwater, en ons was bitterlik teleurgesteld. Want die see was meer as drie voet laer as toe ons die ongeluk gekry het. Daar was dus g’n hoop dat ons voor die volgende hooggety sou kon loskom nie. Dit was ’n kwaai saak, want die oorhel en die gemaal is verskriklik skadelik vir ’n skip, en sou sekerlik ’n swakker skip vernietig het. Maar die Morrissey is van eikehout en is besonder sterk. Die see was darem hoog genoeg om oor die laagliggende deel aan bakboord te spoel, al kon dit die skip nie oplig nie. Daar het ’n lelike lekplek in die sy van die skip ontstaan en die water het so vinnig ingeloop dat ons algar moes help om die water uit te skep met emmers wat aan ’n tou deur die bolig moes neergelaat word in die middelste kajuit. Die pompe was onbruikbaar, want deur die skuins ligging van die skip kon hulle die water nie bereik nie. My kooi en twee ander was gevul met ’n mengsel van water en olie en my goed, veral die in die kas daaronder is baie beskadig. Gelukkig het iemand my kooigoed uitgehaal. Die vuur in die stoof van die kombuis en van die agterste kajuit moes doodgemaak word, want daar was gevaar dat dit sou uitval en die skip aan brand steek. Die groot stoof in die kajuit was met kramme vasgemaak, sodat dit nie kon skuif nie. Billy, die kok, het aan land gegaan en aanhoudend koffie gemaak, dus kon die mans gedurig iets warms kry om hulle aan die gang te hou. Eer alles verby was, het amper algar vir meer as veertig uur aaneen gewerk, Ek was meer as vyf-en-twintig uur besig en was toe omtrent doodmoeg. Die kaptein het orders gegee om al die kos aan land te bring. Daar was ook baie meer om te doen: Ons moes meer vate aan die skip vasmaak, die vrag regpak, petroleum aan land bring vir die motorboot, ingeval ons vasbrand, en lampolie vir die priemus-stowe. Dan het hulle ook nog die groot swaar anker in die platboom-skuite ’n hele end van die skip af weggevat en dit daar in die see laat sak, sodat ons met die windas daaraan kon trek. Terwyl die water laag was, het ons baie werk gehad aan die beskadigde boom van die skip. Die vals kiel, ’n groot hout-affêre heeltemal onderkant die eintlike kiel, was agter die grootmas so-te-sê afgeskeur, en ’n hele klomp toupluksel was losgeruk uit die voeg van die kuilgang. Ons het op die nat rotse gaan lê en ’n klomp toupluksel, ’n soort vesal soos uitgerafelde sakgoed—of sal ons sê goiïngsak?—ingesit met kalfater-gereedskap wat bestaan uit ’n soort van stomp bytel en ’n houthamer (of ook ’n gewone hamer) om die goed in die voeë of barste vas te stamp. Toe het ons ’n klomp van Billy se smeerseep gevat wat hy vir die skottels gebruik en dit met ’n hamer bewerk en met die hande tot ’n deegagtige massa gebrei. Dit het ons oor die toupluksel gesmeer. Ons het in die water gewerk totdat die see te hoog gerys het, en toe het ons met ’n leer aan boord geklim. Ek kon ook baie help by hierdie werk. Daarna was ons baie besig met water uitskep. Aan land het ons een van ons klein tente opgeslaan en die meeste van ons goed, soos slaapsakke, komberse, geweers en ammuniesie daarin gesit. Elkeen het so goed soos hy kon, sy goed bymekaargeskraap om dit aan land te bring. Dit was baie opwindend, presies asof ons die skip vergoed wou verlaat. Dit was ook baie treurig om ons pragtige Morrissey so te sien, deurtrek van die water en olie, en alles so verskriklik omgekrap. Na die aflaai van die goed, en nadat die manskappe elkeen ’n beker koffie en klinkers geniet het en wat Billy verder in die blikke kon kry, was dit so amper al weer hoogwater, so teen elf uur in die nag. Die son was natuurlik die hele tyd ewe hoog bokant die gesigseinder, net in ’n ander rigting, sodat dit altyd gelyk het of dit helder in die agtermiddag was. Ons was vreeslik gelukkig om g’n stormagtige weer te hê nie. Almal is aan boord geroep en drie manne het gepomp, terwyl die ander die windas gedraai het. Ons het die groot anker en ’n kleintjie in die see gehad om met die windas daaraan te trek. ’n Taamlike wind het opgekom en ons moes die skip daar en dan van die rif afkry, anders sou dit sekerlik vergaan, en ons sou daar gestrand wees. Nadat ons omtrent ’n uur gewerk het, was ons net op die punt om moed op te gee, toe die wind sterker begin waai. Kapt. Bob het nou orders gegee om al die seile te span. Elkeen klim in die maste en trek vir al wat hy werd was. Die wind swel die seile, en die motor beur volstoom vorentoe. Maar die skip bly sit, en ons was net moedeloos. Toe kom daar meteens ’n besonder groot golf en ’n windvlaag, en skielik kreun die skip en gly van die rif af. Vyf-en-twintig uur daarna was ons heeltemal los. Maar was ons nie bly nie! Pa, Carl en ek het aan land gegaan om die goed reg te pak in geval dit sou reën, terwyl hulle met die skip lywaarts [5] omgeseil het, waar hulle beter daarvoor kon sorg en uitvind hoe sake staan. Die skip het skynbaar baie gelek, en hulle was van plan om hom op die strand te bring as die water die pompe baasraak. Ons het dadelik ingekruip, ek meen omtrent halfdrie. En toe ons wakker word, was dit twee-uur in die agtermiddag! Dit is te begrype dat ons baie moeg gewees het. Buitendien is Carl baie siek gewees en het dit net moeilik gevind om aan die gang te bly. Die Morrissey was verdwyn. Ons het natuurlik nie die minste idee gehad waar hy was nie, maar al wat ons kon doen was om te wag en alles so goed as moontlik in orde te bring. Die volgende dag, in die mis, het Carl en Pa met die motorboot uitgegaan om te sien of hulle die ander klomp kon vind, maar hulle het die skip nie gekry nie. Ons het toe maar ’n soort van huis gebou, die komieklikste huis wat mens jou kan voorstel. Robinson Crusoe het selfs nooit ’n snaakser een gesien nie. Dit het drie mure gehad, algar hoofsaaklik van kos gemaak, met ’n groot seil daaroor getrek as ’n dak en ’n paar geteerde bokseile om te help. Die sterkste muur, aan die kant van waar die wind gewaai het, was gebouw van sakke meel op kiste met ingelegde groente. In daardie mure was sakke ertappels, kratte vol uie, vate, sakke met pakhout [6], hamme en spek. Ons het in elk geval gevoel dat ons genoeg kos gehad het. Ons was besonder bly dat ons ’n hele klomp „pemmican” [7], spesiaal deur Armour gemaak, gehad het wat Pa se vriend Herman Nichols vir ons gegee het. Ons het twee groot beervelle gehad, en die saam met ’n geteerde bokseil, het ons op die klam grond gelê as vloer. Met ’n priemusstoof wat lampolie brand, het ons heeltemal tuis gevoel, al het die wind die seile amper van die dak afgewaai. Ons het groot klippe daarop gepak en ’n paar swaar hamme wat ons van mnr. Swift gekry het met toue aan die kante van die seile vasgebind. Ek het heeltemal siek geword en moes amper die hele tyd wat ons in „skipbreuk-kamp” deur gebring het, in my slaapsak bly. Dit was deksels koud sonder ’n vuur om huis te verwarm, maar ons het darem eersteklas gevorder. Pa het ons verseker dat die draadlose boodskap dat ons skip van die rif af was, teen die tyd al ontvang was. Ongelukkig het die water ons draadlose toestel belemmer toe die ongeluk plaasgevind het. Ed Manley het ’n paar dae nodig gehad om dit weer in orde te bring. Teen die middag van die derde dag, terwyl hy besig was om tee te maak op die priemusstofie, kyk hy by die deur van ons hut uit en gewaar ver weg teen die berg vier Eskimo’s wat na ons toe kom. Toe hulle nader kom, kon ons sien dat hulle algar groot pakke dra. Toe hulle by die hut kom, sit die man ’n babetjie wat hy geabba het neer. Die moeder het ’n sak met leë blikke op haar rug gedra, wat ons kon sien, het van die Morrissey gekom. Met die paar woorde wat ons kon verstaan en baie tekens en gelag—hulle is altyd baie goedgehumeurd en gaaf—vertel ons vriende ons dat hulle op die skip gewees het en gehelp het om te pomp. Hy was aan die ander kant van die eiland geanker. Skynbaar was hy net ’n paar myl van ons af. Nadat ons hulle kos gegee het, hoofsaaklik ’n groot bak vol ertjies waarvan hulle baie hou, het Carl en Pa vertrek om die skip te soek, terwyl hulle my agtergelaat het om te slaap. Ek het vergeet om te sê dat ons vir die Eskimo’s ’n bietjie ham gegee het wat lekker gelyk het, en wat hulle te kenne gegee het dat hulle graag sou proe. Maar hulle het net niks daarvan gehou nie, want dit was te sout. Hulle gebruik mos nooit sout by hulle vleis nie en kan nie verstaan hoe ons daarvan kan hou nie. „Naggha pioek” het hulle met ’n snaakse gesig gesê. Dit beteken „nie lekker nie.” Omtrent middernag, sowat agt uur later hoor ek ’n skreeu. Ek skrik wakker en sien die Morrissey in die baai, anderkant die plek waar hy gestrand het. Pa en Carl was aan boord. Daar die wind bedaar het, het hulle omgeseil om die goed te kom haal. Hulle het my aan boord gestuur en Dok het my georder om onmiddellik na bed te gaan en my so warm as moontlik te hou. Daar my kooi nog klam was waar die water ingeloop het, het ek in Pa se kooi geklim in die agterste kajuit waar ’n vuurtjie gebrand het. Toe ek wakker word, was ons op pad na die suide. Die plan was om terug te gaan na Upernivik en daar die skip op die strand te bring om dit te herstel. Met soveel mense aan boord het kapt. Bob en Pa gereken dat dit beter sou wees om nie te waag om die skip aan die noordekant van Melville-Baai te probeer regmaak nie, want dit is dikwels ’n moeilike baai om oor te steek. As die Morrissey met hoogwater op die rif gevaar het, dan sou dit goed gegaan het. Hier strand dikwels skepe deur die honderde van rotse en riwwe wat nie op die kaarte aangegee word nie, en deur die onvolledige inligting waaroor die seevaarders beskik. Maar sulke dinge gebeur natuurlik altyd op die verkeerde tyd. Dit was pure ongeluk. Toe die wind opkom, was dit met ons ’n kwessie van vergaan of loskom. Hierdie het ek in die agterste kajuit geskryf terwyl ons oor Melville-Baai geseil het op pad na Upernivik. Die skip was in ’n verskriklike toestand, maar alles in nou weer taamlik agtermekaar. En elkeen het sy slaap omtrent weer ingehaal. Rondom my kooi en mnr. Kellerman syne is die planke ingeduik. Dit kom van die verskriklike drukking op die raamwerk en balke toe die skip op sy sy gelê het, wat gemaak het dat die ligte binnenste raamwerk van die kooie gekraak het as die skip net effentjies geroer of meegegee het. Pa vra my nou net of ek graag weer ’n reis na die noorde sou onderneem. Ek het natuurlik ja gesê. My eintlike antwoord was: „Met kapt. Bob sou ek na enige plek graag saamgaan.” HOOFSTUK VIII DIE MORRISSEY HERSTEL Dinsdag die derde Augustus het ons weer in Upernivik aangekom met Melville-Baai veilig agter die rug. Ons het goed geweet dat ons reis daar en dan sou ophou, daar ons die lekplekke in die Morrissey nie kon regmaak nie. Op die terugreis het elke minuut omtrent tien gellings water ingeloop. Dit op sigself was nie erg nie, maar daar was gevaar dat dit enige oomblik erger kon word, veral as die skip ooreis sou word of in botsing kom met ys of iets anders. Toe ons inseil was ek aan die beurt om te pomp. As die motor slaan, moes ons amper aanhoudend pomp, want deur ’n toestel wat Robert Peary uitgedink het, gebruik die motor in sy verkoelingsinrigting baie water uit die skeepsruim, en dit het die pompery baie verminder. Ons het dadelik ’n paar Eskimo’s aan boord laat kom om te pomp. Kapt. Bob het aan land gegaan om uit te vind hoe diep die water was en hoe skuins die kus, om te sien of ons die Morrissey op die strand kon bring. Later in die agtermiddag het die Goewerneur en sy assistente ons vertel dat daar omtrent tien Engelse myle (die Deense myl is omtrent vier van ons s’n) van Upernivik ’n fjord was waar dit maklik sou wees om die skip op die strand te bring. Hulle het die plek self gebruik om onder aan hulle skepe te werk. Ons het onmiddellik vertrek en dit het ons twee-en-’n-half-uur geneem om daar te kom. Op weg soontoe het ons deur ’n soort van natuurlike poort in die rotse wat omtrent so wyd soos die lengte van die skip was, geseil. Dit was baie, baie diep, want aan weerskante was daar ’n berg met steil kranse wat waarskynlik baie vame onder die water eindig. Hulle het die skip geanker en vir ’n hoë gety gewag, terwyl kapt. Bob voorbereidsels gemaak het om hom uit die water te kry, sodat hulle aan die boom kon werk. Ongelukkig was die skade heeltemal onder aan die kiel, dus was dit nutteloos om die skip maar net oor te kantel op sy sy. Pa het in Upernivik reëlings getref om ’n dosyn Groenlanders saam te vat wat kon help by die moeilike werk, soos die verskuiwing van die ballas. Ons het ook die goewerneur se smid en ’n klompie van sy gereedskap geleen. Die volgende dag het ’n paar van ons die goewerneur in ons motorboot teruggebring na Upernivik. Dr. Heinbecker en ek het daar gebly en ’n besoek gebring aan dr. Rasmussen, die vroulike dokter wat daar woon en al die klein nedersettings in die rondte besoek. Sy maak die ritte in haar eie klein motorboot, vergesel deur ’n paar Eskimo’s wat dit vir haar dryf. Sy is Deens en is baie gaaf. Sy is baie groot en sterk en wonderlike verhale word van haar vertel, hoe sy in die winter haar span honde dryf, en selfs mans wat probeer om by te hou, word uitgeput. Die hele tyd wat ons in Upernivik deurgebring het, het sy ons in haar klein hospitaal in lekker beddens laat slaap, en ons in alle opsigte uitstekend behandel. Gedurende ons besoek daar het ons allerhande interessante kos gekry, soos die vleis van seehonde, auks en eende en eendeëiers. Daardie agtermiddag het dr. Rasmussen berig gekry dat daar siekte was in ’n klein dorpie met die naam van Aupilagtok wat net ’n paar myl van die plek waar die Morrissey was geleë was. Die ander het teruggegaan na die Morrissey, terwyl Dok en ek saam met dr. Rasmussen na die dorpie gegaan het, nadat ons hulle versoek het om ons daar te kom haal. Ons het met haar skuitjie gegaan wat in Denemarke gemaak is. Dit is baie sterkgebou en ploeg ewe maklik deur die ys asof daar nie soiets was nie. Daar was in Aupilagtok ’n klein winkeltjie in ’n klein kamer wat teen die huis van die hoofman gebou was. Sy naam was Imik en later het hy Pa op ’n driedaagse tog na die gletsers en die groot gletserveld begelei. In die winkel het hulle lood vir koeëls wat hulle in primitiewe vorms gegiet het, ook doppies en kruit. Hulle geweers skiet met koeël en koeëlpatrone en hulle maak alle ammuniesie self. Hier het die Eskimo’s geld waarvoor hulle beskuit, suiker, twak en ander dinge koop. Hierdie artiekels word met ’n snaakse skaaltjie geweeg met twee ou koper-skarniere as gewigte. Na ’n ruk het Pa en ’n paar ander met ons motorskuit aangekom en ons het algar teruggegaan na die Morrissey, dwarsdeur ’n hele spul ys. Meestal het dr. Rasmussen se skuit, die Mitik, wat baie breed is vooruit deur die ys geploeg en ons s’n het gevolg. Toe ons by die Morrissey aankom, wou die kaptein ontslae raak van ’n paar van ons om dit makliker te maak vir Billy, die kok, wat ook vir die hele trop Eskimo’s moes sorg. Buitendien was hulle besig om die ballas te verskuif en alles klaar te maak om die skip op sy sy oor te kantel. Gevolglik moes hulle alle vure doodmaak en op die strand boer. Dr. Rasmussen het ons dokter, Harry Raven en my genooi om saam met haar na Upernivik te gaan, en ons het die uitnodiging aangeneem. Ons het in haar boot teruggegaan na Upernivik en omtrent vieruur in die oggend daar aangekom. Dit was natuurlik helder dag en die son het geskyn; want ons was die hele tyd gelukkig om heerlike weer te hê, terwyl dit ook taamlik warm was. Ek meen die temperatuur was op sy warmste sowat sestig graad en op sy koudste nooit onder veertig nie. Gedurende die middagete om twee-uur die agtermiddag het ons weer ’n groot geskreeu van die Eskimo’s gehoor. „Demiaksoa!” het hulle geskreeu. Dit is hulle woord vir „skip”. (Ek het die woord gespel soos dit vir my geklink het.) Tot ons groot verbasing sien ons ’n oorlogskip die hawe binnekom. Dit blyk toe die Islands Falk (dit beteken Ysland-Valk), die Deense patrollie-skip te wees. Onder in Suid-Groenland het hulle deur middel van hulle radio-toestel van ons moeilikheid gehoor en het daar en dan noordwaarts vertrek om ons te kom help. Die eerste draadlose berig wat deur ’n Amerikaanse skip aan hulle oorgesein is, het gesê dat die Morrissey heeltemaal vergaan was, en dat ons algar op die kus was. Waarom juis so’n berig gestuur is, kon ons nie begryp nie, daar ons natuurlik niks van die aard laat weet het nie. In elk geval het kapt. West van die Valk later ’n ander berig ontvang van die Kanadese skip Boethic wat aan die Kanadese kant was. Die Boethic het ’n draadlose onderhoud met ons gehad en het kapt. West met die ware feite bekendgestel, naamlik dat ons op weg was na Upernivik om ons skip te herstel. Die Valk het dus na Upernivik gekom om ons te help. Ek het ’n klein skuit gekry en uitgeroei na die oorlogskip en aan boord gegaan. Tot my groot verbasing is ek begroet deur dr. Knud Rasmussen wat in die Valk opgekom het van Disko waar ons hom sou ontmoet het. Maar sy skip van Denemarke was baie vertraag en hy kon dus nie daar by ons aansluit nie. Ek het hom vertel wat ons oorgekom het. Kapt. West, kommandeur Riis-Carstensen, dr. Rasmussen en ’n paar ander gaan toe na die Morrissey en bied hulle hulp aan. Op die end het hulle ’n gawe klomp manne soontoe gestuur met ’n duiker en bote en alles. Die duiker het omtrent ses dae gewerk, terwyl die Deense offisiere en matrose op die skip geslaap het en aan land uitgekamp het. Dit blyk toe dat dit met behulp van die duiker moontlik was om die lekplekke meer of min toe te stop. Maar ek is seker dat ons sonder sy hulp in ’n taamlik benarde toestand sou gewees het. Die groot moeilikheid was om die beskadigde plek te bereik wat heeltemal onder aan die skip was. En op die plek waarheen hulle ons gestuur het om die skip op die strand te bring, was die gety nie sterk genoeg om die kiel heeltemal uit die water te kry nie. Ons was regtig dankbaar vir alles wat die Deense amptenare vir ons gedoen het. Niemand kon gawer en edelmoediger teenoor ons gewees het nie. En ek het nog nooit ’n gawer klomp manne teëgekom nie. Dit was vir my groot pret om op die skip en in die dorp met hulle rond te gaan. Die meeste van die sestig man aan boord het van alle dele van Denemarke gekom en was juis besig om hulle verpligte jaar op see uit te dien. In Denemarke moet elke man een jaar in die land- of seemag diens doen. En ek dink hulle hou algar daarvan om hierdie reis na Groenland te maak, omdat dit so ’n verandering is. Terwyl hulle aan die skip besig was, het Dok, Harry en ek na Upernivik getrek. Pa het drie mans na die gletser geneem waar hulle portrette geneem het en eksemplare van voëls versamel het. Dit was ’n woelige tyd vir Upernivik, waarskynlik die lewendigste wat hulle nog ooit gehad het. Want behalwe die Morrissey was die Valk daar met sestig man wat meestal aan land was. Daar was elke aand ’n dans in ’n groot pakhuis naby die skeepswerf, wat gewoonlik tot die oggend aangehou het. Dit was in kort nooit nag nie. As in die somer ’n skip na een van die afgeleë dorpe kom, vergeet die mense heeltemal om te slaap. Algar bly die hele tyd wakker. Vir die manskappe van die skepe is dit eintlik vermoeiend, want die dorpsmense kan tenminste slaap as die skip vertrek, terwyl die manne aan boord dan eers regtig begin werk. Die kerk van Upernivik is die noordelikste in die wêreld. Die nuwe gebou is toe net klaargemaak en die Sondag toe ons daar was, ingewy. Daar was ’n menigte mense, en die Goewerneur het sy pluiskeil opgehad en wat daarby behoort. Ons het natuurlik algar soontoe gegaan, ook na ’n Eskimo-bruilof in die agtermiddag. Die gesange en ’n lang preek was algar in die Eskimo-taal. Die eerste kerk in Upernivik is reeds in 1780 gebou. In die aand van 10 Augustus het die Morrissey teruggekom na die hawe. Die duiker het die skip pragtig reggemaak. Kapt. West het aan kapt. Bartlett ’n brief gegee wat getuig dat die Morrissey weer heeltemal seewaardig was. Ons was dus gelukkig, want dit het beteken dat ons ons reis wat so amper noodlottig was, kon voortsit. Ons het besluit om weer noordwaarts te gaan en Knud Rasmussen na Thule te bring. Die aand voor ons vertrek het hulle vir ons in Goewerneur Otto se huis ’n groot geselligheid gegee. Alle luike is toegemaak om dit donker te maak en toe, om dit geselliger te maak, het hulle ’n menigte kerse opgesteek. Agtien mense het in die klein eetkamer ingedruk. Daar is toesprake gehou, en dit was net ’n lekker affêre. Ek het taamlik vroeg ingekruip, maar die grootmense, dink ek, het nie voor sewe-uur in die oggend gaan slaap nie. Die laaste aand was daar nog ’n afskeid op die Ysland Valk. Kapt. Bob en Pa was die gaste van kapt. West by ’n dinee. Hulle het al die goed van dr. Rasmussen op die Morrissey gelaai. Hy sou die hele end pad saam met ons gaan, tot by New-York, en het dus ’n hele klomp klere en ander goed gehad. Toe ons die anker lig en weer op koers gaan, laat ons ons vlag sak en skiet drie skote van ons grootste geweer as ’n saluut. Die Valk antwoord toe met drie skote van sy groot kanonne, en die mense op die land skiet nog ’n saluut met hulle klein kanonnetjie. Dit was heeltemal ’n spoggerige afskeid. Die Goewerneur was in sy groot roeiboot en waai vir ons vaarwel. Upernivik kon ons bepaald nie beter behandel het nie, en ons het dit ten volle waardeer. En toe draai ons weer noordwaarts met dr. Rasmussen. En ons het ons gelukkig geag dat ons weer op pad was in plaas van suidwaarts te retireer. Ons was nou op die punt om Melville-Baai vir die derde maal oor te steek, wat heeltemal ’n rekord is vir een seisoen. Dr. Rasmussen het byvoorbeeld al veertig maal oor die baai geseil. Waarskynlik het hy meer in hierdie streke gereis as enige ander lewende man. Hy het my vertel dat dit hom een slag ses weke geneem het om net oor Melville-Baai te kom, daar sy skip in ’n groot massa dryfys vasgevries was en sommer rondgedryf het. Hoe gelukkig was ons dus nie om driemaal oor te kom nie feitlik heeltemal sonder ys. HOOFSTUK IX ONS EERSTE NARWAL Nadat ons Melville-Baai oorgesteek het sonder om by Kaap York aan te gaan, het ons in Thule aangekom. Met die opkom, aan die ander kant van Melville-Baai, het hulle my uit een halt gekul. Dit was een oggend baie vroeg toe ek nog geslaap het, en hulle het my nie wakker gemaak nie. Toe die bote uitkom om die Morrissey te ontmoet het die manne hulle hoede geswaai om ons te groet. Maar toe hulle nader kom en dr. Rasmussen aan boord sien, begin hulle te skreeu en te juig. Die man wat hulle klein motorboot gedryf het, was so opgewonde, dat hy skoon vergeet om die motor tot stilstand te bring, met die gevolg dat sy boot in volle vaart reguit teen die sy van ons skip loop en so hard stamp dat al die mense in sy boot omval. Ons het Rasmussen na sy handelstasie gebring nadat hy vyf jaar laaste daar gewees het, en Pa het onderneem om die vosvelle wat hulle gedurende die winter van die Eskimo’s gehandel het, vir hom saam te neem na New-York. Mnr. Rasmussen se bestuurder, wat ook sy neef was, het die belofte gekry om vanjaar te mag teruggaan na Denemarke, nadat hy ses jaar aanmekaar in Thule gewees het. ’n Appel wat Pa vir hom gegee het, toe ons vir die eerste maal daar was, was die eerste wat hy in al die tyd geëet het. Van Thule het ons ook ’n Eskimo-meisie Nette saamgevat wat haar opleiding as verpleegster begin het en nou na Denemarke teruggaan om haar kursus te voltooi; sy sal by mevr. Rasmussen tuisgaan. Hans Nielsen is Rasmussen se bestuurder, en hy is natuurlik baie in sy skik oor die geleentheid om weg te kom. Hy het sy eie kajak op die Morrissey gebring om ons met die jag te kan help. Terwyl ons in Thule was, het Pa, Dan, Bob Peary en ek een oggend vroeg met twee Eskimo’s in die motorboot uitgegaan om te sien of ons seehonde kon kry. Ons het omtrent vyf myl die fjord opgegaan tot aan die voet van die gletser, en het omtrent ses gesien, maar ons kon nie naby genoeg kom om hulle te skiet nie. Ons het ’n paar skote op ’n afstand geskiet, maar het niks gemaak nie. Toe moes ons teruggaan, want sodra as Nielsen en Nette gereed was, sou ons na Walvis-Sond vertrek. Daardie oggend, terwyl hulle besig was om te pak, het ons voor mnr. Nielsen se huis ’n dansie gehad. Kel het lewende beelde van die geselskap gemaak. Ons het ’n emmer lekkers daar gehad, en toe die omgestuur is, het die Eskimo’s albei hande ingesteek. Maar hierdie gawe noordelike volkie is regtig uiters beleefd en sal nooit iets vat eer hulle genooi word nie. En ek glo nie dat hulle ooit steel nie. Dit was baie interessant om van mnr. Rasmussen te verneem dat die Eskimo-taal g’n vloekwoorde besit nie. Hulle gebruik eenvoudig g’n slegte taal nie. Die ergste wat mens vir ’n man kan sê, is dat hy ’n leuenaar is of ’n slegte jagter. Ons het van Thule ’n klomp Eskimo’s saamgeneem, waaronder ’n ouerige man wat saam met Peary gegaan het en baie siek was. Hy het aan kapt. Bob gesê: „Ek verlang terug na die dae van Pearyarksjua, toe ons volop kos en klere gehad het.” Die kaptein het hom natuurlik goed geken en het nog vertel dat hy omtrent die sterkste was van die hele lot Eskimo’s wat hulle gehad het, en ook een van die beste jagters. Sy naam is Aangmalokto. Dr. Heinbecker het vir hom ’n bietjie medisyne gegee en die skipper het hom tee en brood met konfyt gegee, maar hy kon dit nie eers eet nie. Dit was baie treurig. Thule self lê aan die punt van Noordster-Baai op ’n rotsagtige stuk strand in die vorm van ’n halwermaan. Aan die kant wat naaste aan die oseaan is, is daar aan die een kant ’n groot tafelkop met steil kranse bo wat ondertoe eweredig skuins afloop en talus-hellinge vorm. Dit lyk baie nes ’n mesa of hoogvlakte in die weste van ons land (V. S. A.). Hierdie eienaardige berg se naam is Omoenoeï. Daar is vier raamwerk-geboue, die noordelikste handelstasie in die wêreld. En omtrent ’n myl van daar lê die Eskimo-dorp, bestaande uit ’n aantal verstrooide toepiks, die velhutte waarin hulle in die somer woon, met die kliphutte vir die winter langs die kus in die nabyheid. Ek reken daar woon omtrent veertig mense. Rasmussen hou hierdie handelstasie sedert 1910 aan die gang. Dit is bedoel om hierdie noordelike Eskimo’s, die Smith-Sond-stam, te help. Hulle is die noordelikste stam in die wêreld. Voor daardie tyd is hulle nooit in die geleentheid gewees om gereeld hulle benodighede te koop of hulle velle van die hand te sit nie, behalwe so nou en daan as walvisvaarders of ontdekkingsreisigers daar gekom het. Voordat Peary omtrent dertig jaar gelede begin het, het hulle g’n geweers of staal of iets dergeliks gehad nie, behalwe wat hulle self gemaak of gevind het. Toe het hulle pylpunte van stukkies meteorsteen gemaak en vuurklip wat hulle opgetel het, gebruik om vuur te maak. Omtrent al hulle wapens en messe was van ivoor gemaak. Die slagtande van ’n walrus is uitstekend daarvoor. Selfs vandag besit hulle baie min in vergelyking met die armste volk wat ons in die wêreld ken. Maar hulle is gesond en gelukkig en baie goedgeaard en goedhartig. Hulle is natuurlike, uitstekende jagters. Dit is absoluut noodsaaklik as hulle aan die lewe wil bly. In Thule vorm Rasmussen en die Deense komitee wat met hom die saak dryf, as-’t-ware ’n koninkryk. Pa noem dit ’n verlige diktatorskap, waarby hy bedoel dat Rasmussen feitlik koning is, maar alles vir die beswil van die mense reël. Hulle het hul eie geld, drie soorte muntstukke van verskillende waarde met ’n gaatjie in die middel. Die handelstasie betaal hulle daarmee vir hul bont, en die Eskimo’s gebruik dit weer om goed in die winkel te koop. Die goedere word baie goedkoop verkoop, en volgens mnr. Rasmussen is die bedoeling om die handelstasie selfbetalend te maak. Soos ek in ’n vorige hoofstuk gesê het, het ons baie goedere van New-York saamgebring. En nou neem ons die vosvelle, die winter se opbrings van die jag, saam terug. Vroeg in die agtermiddag van 15 Augustus het ons Thule verlaat. Die volgende oggend, toe ek op dek kom, was ons by Northumberland-Eiland en kon ek die eienste plek sien waar ons skipbreuk gely het en so amper ’n hele ruk moes oorbly. Ek was op die dwarshoute op die uitkyk na walrusse en gewaar toe ’n paar seeleeus en twee wat moontlik walrusse kon wees. Toe ek begin koud kry, neem Bob Peary my plek in. Kort daarna het ons die skip aangehou weens die mis, en omtrent algar het ingekruip om te slaap, want met die voortdurende sonskyn, lyk dit, kon ons nie genoeg tyd kry om te slaap nie. Ek was onder in die hoofkajuit toe mnr. Nielsen inkom en aan Carl, wat Deens praat, sê dat daar ’n dooie wit walvis in die nabyheid was. Ek gaan toe na Pa en vertel hom daarvan. Binne ’n paar minute was daar ’n boot in die water en was hulle op pad om hom te kry. Toe hulle die drywende liggaam bereik, skreeu hulle dat dit ’n wyfies-narwal was en nie ’n wit walvis nie. Hulle sleep haar toe aan en ons sit twee of drie takels aan haar en begin haar op te hys. Sy was omtrent vyftien voet lank en het heel moontlik oor ’n ton geweeg. Sy was al ’n hele ruk dood en het taamlik sleg geruik, dus het ons besluit om haar oop te sny, terwyl sy langs die skip hang, en die binnegoed uit te haal en ’n klompie van haar spek af te sny. Die binnenste vleis was nog goed en bruikbaar. Ons het ’n roeiboot langs die skip vasgemaak en Harry Raven en Fred het daarin geklim en die ding stukkend gesny met hulle oliejasse aan, want dit was ’n morsige werk. In die narwal het Harry ’n kleintjie gevind. Hy was ook nie te klein nie, maar was vyf voet sewe duim lank. Hulle het hom sorgvuldig gebalsem, d.w.s. Harry het ’n soort vloeistof in sy are gepomp wat verhinder dat die vleis sal sleg word. Hy moet na die Museum geneem word presies nes hy is. Ek dink ’n kleintjie van ’n narwal is ’n skaars eksemplaar, en ons hoop algar ons sal hierdie een in ’n goeie toestand kan aflewer. HOOFSTUK X ONS ESKIMO-KUNSTENAAR Karna is ’n Eskimo-nedersetting aan Walvis-Sond, ten noorde van Thule en regoor Northumberland-Eiland, waar ons skipbreuk gely het. Die vorige keer kon ons weens die ys nie daar kom nie. Die slag het ons reguit soontoe gegaan om jagters te kry, daar die omstreke van Walvis-Sond uitstekend was vir walrusse en narwalle. Onmiddellik noord daarvandaan word ook wit walvisse gevang. Toe ons omtrent drie myl van Karna was, kom daar ’n kajak na die skip toe. ’n Man klim uit en lag van oor tot oor toe hy vir Rasmussen gewaar. Dit blyk toe dat hy Olsen, die sendeling van Karna en ’n ou vriend van Rasmussen, was. Toe hy die maste gewaar, het hy gekom om ons te ontmoet. Ons skip was natuurlik daardie jaar die enigste een. Hy het ons die vaarweg na Karna gewys waar ons ’n goeie diepte van water vir die skip gekry het. Teen dat ons die anker laat sak het was daar ’n dosyn of meer mans aan boord. Rasmussen en Pa was spoedig aan land en het jagters gehuur om narwalle te jag. Kort na ons aankoms het die narwalle op ’n streep voor die dorpie in die sond op- en afgeswem. Verskillende male het ons ’n man in ’n kajak so-te-sê bo-op een gesien, klaar om die harpoen te gooi, maar elke slag gebeur daar iets en hy kry hom nie. ’n Ander weer het sy harpoen in ’n narwal gegooi, maar hom sê dat sy tou gebreek het. Skynbaar spring ’n narwal omtrent net soos ’n seevark. Hy is baie mooi met ’n gespikkelde vel soos blou seep met wit en loodkleurige kolle. Die mannetjie het ’n groot slagtand wat aan die linkerkant van sy kop reg na voor uitsteek. Dit is ivoor en het ’n spiraalvormige oppervlakte (soos die horing van ’n springbok). Die grootste slagtand wat ek gesien het is tien voet lank. Hulle is „eenhorings van die see” genoem. Die grootste narwal wat ons gekry het, was vyftien voet lank. Waarskynlik haal hulle ’n lengte van twintig voet. Die grootste deel van die nag het ons in Karna deurgebring deur besoeke af te lê en na narwal-skedels te soek, terwyl die jagters besig was. Die afspraak was dat Rasmussen saam met Bob Peary in die groot platboom-skuit met die Johnson-motor die fjord sou opvaar en probeer om ’n paar narwalle te kry. Later het ek gehoor dat twee jagters hulle narwal in die nabyheid gekry het net nadat Pa om halfvier ingekruip het. Toe ek in die oggend op dek kom, lê daar ’n pragtige groot narwal met ’n slagtand. Hy was vyftien voet lank sonder die slagtand wat omtrent sewe tot ag voet was. Later het hulle ’n klein wyfie gebring wat omtrent nege voet was. Fred en Harry was heeldag besig met die narwalle. Daar hulle so swaar was, moes ons twee van die voorste takels van die slagseil gebruik om hulle op die skip te hys. Fred het met gips afgietsels van die koppe, sterte en vinne gemaak. Daar is van al die kante portrette van hulle geneem, die mate geneem en stroke van hulle velle afgesny, sodat hulle in die museum ’n natuurgetroue model van ’n narwal sou kon opbou. Toe hierdie werk klaar was, het ons begin om die vleis van die bene af te haal. Die meeste van ons het gomelastiek-stewels aangehad, sodat dit nie iets sou saak maak as ons in die bloed trap nie. Maar die Eskimo’s het niks omgegee nie. Hulle kry natuurlik die vleis vir hulle gebruik. Terwyl ons gesukkel het en twee of drie keer moes sny, het die Eskimo’s baie vinnig en handig te werk gegaan, daar hulle al dikwels die soort werk gedoen het. Na ’n paar uur was die geraamtes heeltemal sonder vleis. Van Karna het ons ses jagters met hulle kajaks saamgevat om ons te help om walrusse te kry. Vier van hulle was vroeër saam met Peary; hulle name was Etoekasjoek, Poead-loena, Koedloektoe en Kesingwa. Laasgenoemde was een van die Eskimo’s wat saam met kapt. Bob teruggekom het van 87 graad 47 noorderbreedte, net ’n kort end duskant die Noordpool, toe hy in 1909 saamgegaan het met Peary wat self verder gegaan het tot by die Pool. Hulle is algar mooi manne, en alhoewel hulle maar min Engels kan praat, tog vat hulle ’n ding gou en is hulle baie gaaf om by te kom. Daar is twee gawe seuns. Die een is Poead-loena se seun Matak. Die ander een is Nils wat sestien is. Hy het baie ligte hare—omtrent soos myne—en blou oë. Hy kom van Suid-Groenland, en ek dink sy pa is ’n Deen. Hy is baie handig in ’n kajak en is algemeen goedgeboud. Al is hy drie jaar ouer as ek, kom hy tog nouliks tot aan my skouer. Hierdie mense is natuurlik algar baie klein. Baie min van die mans is langer as vyf voet vyf, maar hulle is so sterk gebou soos osse met kort bene en dik lywe net ’n bietjie vet, dog hard. Dié seun Nils het al op sy eie seehonde en narwalle doodgemaak. Ons het ook ’n gawe Eskimo aan boord geneem met die naam van Kakoetia wat meer of min beteken „die een met die sagte stem.” Hy is ’n knap tekenaar en maak graag tekeninge van die wapens wat hulle gebruik en van diere en ander dinge. Ons het hom papier en potlode gegee, en in die loop van twee dae het hy ’n mooi klompie tekeninge gemaak. Party van hulle sal gebruik word as versierings in die boek wat uit hierdie aantekeninge sal ontstaan. Dit is baie prettig om te dink dat my boekie oor Groenland gedeeltelik geïllustreer sal wees deur ’n regte Eskimo, en dat die prente self werklik in die kajuit van die Morrissey geteken is in die teenwoordigheid van my en Pa, daar ver in Walvis-Sond op agt-en-sewentig graad noorderbreedte. Later het ek uitgevind dat Kakoetia ’n seun is van Panikpa vir wie kapt. Bob baie goed ken. Hy was een van Peary se manne en was ook ’n kunstenaar. ’n Klompie van sy tekeninge verskyn in verskillende boeke oor Peary se reise na die Poolstreek. Dit is interessant om te sien hoe die gawe om te teken oorgeërf word van vader op seun. Ons gaan vir Kakoetia ’n groot rol papier gee, ’n paar skryfblokke, potloode en ’n mooi klomp pragtige tekenkryt, meestal „Crayola” wat Oupa Bub vir my gegee het. Hy is baie in sy skik daaroor, en ek reken hy sal in die winter baie pret hê deur prente te teken en te kleur. Ons het vir hom natuurlik ook nuttige dinge gegee, want hy was baie gaaf teenoor my. Ek hoop om vir hom later deur Rasmussen, of op ’n ander manier, ’n kopie van die boek te stuur, want Pa sê sy naam moet op die tietelblad verskyn as die persoon wat verantwoordelik is vir die versierings. HOOFSTUK XI WALRUSJAG Omtrent om halfsewe in die aand van die sestiende Augustus het ons ’n kort end van Northumberland-Eiland ’n trop walrusse gewaar. Hulle het heeltemal vinnig in die water vooruitbeweeg, terwyl hulle so nou en dan dryf en baie soos seevarke opkom. Hulle kry die meeste van hulle kos op die bodem van die see; dit bestaan uit „clams” en ander goed van die aard. Tussen hakies, kapt. Bob vis dikwels met ’n sleepnet om eksemplare van die bodem van die see te kry, en hier in Walvis-Sond het hy nog die beste trekke gemaak. Daar is „clams” en garnale in groot getalle. Dit is die rede waarom die walrusse van hierdie plek hou. In ’n paar minute was die Eskimo’s in hulle kajaks en agter hulle aan. Dit was baie interessant om hulle dop te hou. Een Eskimo gaan voor die trop en maak ’n groot lawaai om hulle aandag te trek. Dan kom die ander jagters stadig en stilletjies van agter en probeer om miskien tot op twaaf voet van hulle te kom, en dan word die harpoen met alle mag in die walrus gegooi. Mens hoor dan ’n harde geblaas soos van stoom wat ontsnap, deurdat hy sy asem optrek. Dan slaan hy met sy stert en verdwyn. Die man in die kajak gee gou pad, om te verhinder dat die walrus miskien onder hom weer opkom. Dan hou hulle die dobber dop—dit is ’n opgeblaasde seehondvel wat aan die ent van die harpoen se tou vasgemaak is om te sien in watter rigting die gekweste walrus gaan. As die dobber wegtrek of deur die dier onder die water getrek word, dan volg hulle. Dit is alles verskriklik gevaarlik en menige Eskimo word beseer of doodgemaak as die verwoede walrus ’n aanval maak op hul ligte bootjies wat hy met een stoot van sy slagtand kan verpletter. As die walrus aanval, lig hy sy kop op en kom met sy slagtande neer op die ding wat hy aanval, waardeur hy dit verskriklik oopskeur. Ek het hulle al baie dobbers op die manier sien aanval. As die walrus opkom en die manne kan naby kom, dan word die hele ding weer herhaal, behalwe dat hulle dié slag probeer om naby genoeg te kom om die dier met ’n speer dood te steek. Die origes bly dikwels naby die gekweste en blaf en brul, baie nes die geloei van ’n koei, en proes en blaas water uit. Dit is ’n verskriklike lawaai, en dit is baie opwindend. As die ander naby kom, dan stamp die Eskimo’s met die roeispane op die rand van die boot en skreeu om die walrusse af te skrik, of anders mog die hulle aanval. Partykeer as hulle die walrusse so wil verwilder, kom hulle tot drie of vier voet van hulle af. Binne ’n kort tyd was daar vier walrusse geharpoeneer waarvan drie met die speer doodgesteek was en gereed om op die Morrissey gehys te word. Die gewonde een was aan die groot boot vas. Ons wou hom nie skiet nie, want hy het ’n pragtige kop gehad, en ’n koeël beskadig maklik die kopbeen en bederf dit as ’n eksemplaar. Art, Pa en kapt. Bob het in die groot boot uitgegaan om hom te haal. Die kaptein wou hom self doodsteek. Hy het vir Art georder om hom met sy pyl en boog te skiet, Art het sewemaal na hom geskiet en hom elke slag in die nek geraak. Hy het erg gebloei en was net briesend. Die pyle sou sy dood veroorsaak het, maar hulle wou hom so gou as moontlik afmaak. Hy het so hard geruk dat hy die Morrissey geswaai het. Hy was nou aan die skip vas met ’n Eskimo-tou wat van die vel van die gebaarde seehond, of oeghsoegh, gedraai is. ’n Bewys van sy wonderbare krag is die feit dat hy in staat was om die skip om te swaai. Eindelik het hy hoop opgegee om los te kom en toe storm hy reg op die groot boot af. Hy draai half op sy rug, sit een van sy groot vinne aan elke kant van die boot se boeg en maak met sy slagtande ’n verwoede aanval op die boot. Ons het op die dek gestaan en kyk, omtrent maar net dertig voet van hom af, en kon die splinters sien waai. Hy het twee gate dwarsdeur die boot gemaak. Die Eskimo’s was in hulle kajaks en hulle en kapt. Bob het daarin geslaag om die groot bul dood te steek. Een slag het hy direk onder ’n kajak opgekom wat werklik so-te-sê van sy rug afgegly het toe die man daarin weg roei vir al wat hy werd was. Toe hy dood was, het ons die twee voorste takels van die stagseil aan hom gehaak en hom aan boord gehys, ’n taamlik moeilike werk. Daarna het ons die ander gaan haal wat die jagters doodgemaak het. In die geheel was dit sewe en ’n kleintjie waarvan ek netnou sal vertel. Wat mooi is by hierdie soort jag is dat nie ’n enkele pond vleis verlore gaan nie. Mens kan sê dit is ’n seën vir die Eskimo’s. Hulle vat elke stukkie en gebruik dit as kos vir hulle self en vir hul honde. Ons koms het hulle net gehelp om ’n voorraad te kry. Ek reken hulle het in die geheel vier of vyf ton vleis gekry van die walrusse en narwalle. Daarna het Pa, Dan en ek in die klein roeiboot twee jagters in kajaks gevolg. Hulle het reguit tussen ’n trop van omtrent veertig ingegaan en een geharpoeneer en vir ons ’n teken gegee om hom te kom skiet. Daar was ’n taamlike groot trop van hulle binne vyftig tree van ons wat geproes, geknor en geblaf het. So nou en dan het een tot amper teenaan ons boot afgedwaal. Hulle lyk vreeslik komieklik as hulle hul gesigte met die baarde uit die water steek en ’n mens aanstaar soos kwaai ou mans. Dan gee hulle ’n knor, blaas ’n straal stoom uit en verdwyn. As hulle kwaad gemaak word soos nou, dan vorm hulle ’n kring met die slagtande van die bulle na buite, na die jagters gekeer. Ek kan my nie ’n meer spannende soort sport voorstel nie. Ek wens ek kan eendag leer om ’n kajak regtig goed te hanteer en probeer om self ’n walrus dood te maak. Toe ons taamlik naby was, skiet Pa vyf skote, en ek dink vier daarvan het hom in die nek en in die kop geraak. Maar dit was net ’n 2.56 geweertjie—nie ’n groot kalieber nie—en het dus niks uitgevoer nie. Toe skiet Dan ’n skoot met sy groot ver-draende geweer, en raak hom agter in sy nek sodat hy dadelik omval. Hy het egter op die water gedrywe. Baie van hulle sink sodra as hulle dood is. Toe het ons teruggegaan na die een wat Dok en Keilerman geskiet het, nadat ons die ander gehaal het. Twee jagters in kajaks het daar gewag. Dit was ’n walrus-koei. Maar die interessantste was dat daar by haar in die water twee kleintjies was. Die oudste een was ’n bulkalf, omtrent ’n jaar oud, reken ek. Hierdie tweetjies wou ons lewendig in die hande kry, dus het Carl sy lasso gaan haal. Pa het hom in ’n klein skuit soontoe geroei. Carl staan daar en swaai, sy lasso gereed om te gooi as hy die kans kry. Hulle roei tot teenaan die koei wat gedeeltelik bo die water drywe. Toe die kalf met die slagtande opkom, gooi Carl sy tou, maar dit gly af. Toe besef hulle dat dit makliker sou wees om die klein kalf sonder slagtande te vang, daar hy skynbaar nie so wild was nie. Carl probeer dus om hom te vang, en met sy derde gooi kry hy sy tou om die dier, wat glad nie maklik was nie, want sy kop was klein en glibberig, en hy het gou geduik. Daar was ’n groot gespat en ’n gedoente. Die klein walrus was gladnie so klein nie. Hy het omtrent 150 pond geweeg en was so sterk soos ’n jong bul. Carl trek toe die tou oor die agterstewe en kry dit uiteindelik nog ’n paar slae om die dier, en toe maak hy hom heeltemal vas. Ten slotte het hulle hom na die Morrissey gesleep en toe is hy met die takels vir die platboom-skuite op die dek gehys. In die tussentyd het die ander jong walrus verdwyn. Ek dink dis seker die eerste keer dat ’n walrus met ’n tou gevang is. Dit is in elk geval die eerste keer dat hierdie „cowboy” dit reggekry het. Ek weet dat ysbere al vantevore so gevang is. Ons het die klein walrus twee dae lank aan boord gehou. Pa het hom Halitosis genoem. Hy het nie al te lekker geruik nie. Ons het probeer om hom melk te voer en hy het skynbaar deur ’n waterslang ’n bietjie ingekry. Hy het vir elkeen kwaai geblaf. Maar dit was regtig treurig om hom te sien net nadat hy aan boord gekom het. Die liggame van die ander walrusse het in ’n groot hoop op die dek gelê. Hy begin toe dadelik rond te snuffel totdat hy sy moeder kry, en toe gaan lê hy doodstil teen haar. Later het Harry hom op ’n pynlose manier doodgemaak, met kloroform. Hy is toe gebalsem om net soos hy was, saamgeneem te word na die Amerikaanse Museum vir Natuurstudie. HOOFSTUK XII NA JONES-SOND Ons het al ons jagters by Karna agtergelaat, nadat ons ’n dag daar deur gebring en rondgekuier en met die Eskimo’s afgereken het vir die werk wat hulle vir ons gedaan het. Hulle het natuurlik al die walrusvleis gekry, ook die vleis van nog twee narwalle wat gedurende ons afwesigheid gevang is. Dit het ons aan dr. Rasmussen te danke gehad, want hy het daarvoor gesorg dat elkeen sy uiterste bes doen om vir ons die nodige eksemplare te verskaf. Daar was in werklikheid nog drie narwalle, maar een kleintjie het Harry heel gehou en gebalsem. Die geraamtes en kopbene van die ander het ons ook saamgevat. Kellerman het ook lewende beelde geneem wat wys hoe mens die dooie narwalle aan land bring en stukkend sny. Dit was in die nag toe dit betrokke lug was en nie lig genoeg om portrette te neem nie. Dus het ’n paar mans helder flikkerligte wat Kellerman gehad het, opgesteek en die het die strand met ’n snaakse helder, amper verblindende lig verlig. Nadat die narwalle aan land gebring is, het Koedloektoe en die ander groot stroke van die vel afgesny waarvan hulle algar baie hou. Hulle het dit uitgedeel en al die mans het dit gretig geëet. Hulle manier om dit te eet is om ’n groot stuk in die mond te stop totdat hy vol is, dan sny hulle dit met ’n mes teen hulle lippe af. Hoe hulle nooit hul neuse of lippe raaksny nie, begryp ek nie. Dit lyk in elk geval baie komieklik, en behoort ’n goeie rolprent te maak. Ek het ook narwalvel geproe, maar het dit niks lekker gevind nie. Dit is taaierig en word skynbaar afgesluk sonder om gekou te word. Ek dink die binneband van ’n outo sal omtrent net so lekker wees, behalwe dat hy beter sal ruik. Poeadloena en nog ’n jagter het saamgegaan na Northumberland-Eiland. Die agtermiddag het ons nog ’n paar walrusse gekry, maar terwyl ons rondgepeuter het om ’n paar lewende beelde te neem, het ons twee van hulle verloor. Ek dink dit het die Eskimo’s ontmoedig, want hulle kon nie begryp nie hoe die wit mense goeie vleis kon laat verlore gaan wat hulle feitlik doodgemaak het deur allerhande fratse uit te haal vir ’n man wat in ’n masjien kyk en ’n handvatsel draai. Daar was daarem een groot walrus, en ons het sy vleis na Keate geneem, die dorpie waar ons die jagters afgelaai het. Dit was net ’n klein endjie van die plek waar ons skipbreuk gely het. Daardie aand het ons begin om Baffin-Baai oor te steek na Jones-Sond aan die Kanadese kant. Ons was eers van plan om verder noord te gaan na Eta wat maar omtrent sestig myl vandaar was. Maar dit het laat in die jaar begin word, en die Morrissey het vir kapt. Bob al baie moeilikheid gegee. Al was hy goed heelgemaak, het hy darem nog ’n bietjie gelek en ’n klomp plekke het gebars. Die voorste dek het byvoorbeeld so erg gelek dat toe die walrusvleis daar opgestapel was, die bloed afgetap het tot in ons kajuit en die tafel, maar veral Bob Peary se kooi besmeer het. Dit was eenvoudig onmoontlik om die dek in orde te bring, want al die voeë moes opnuut toegestop word todat die skip weer na ’n skeepswerf kon gebring word. Dit het in elk geval raadsaam gelyk om nie verder noordwaarts te gaan nie. Buitendien moes ons nog terug na Holsteinsborg om Hobbs se geselskap te haal. As dit nie die geval gewees het nie, sou kapt. Bob verder gegaan het na Eta. Nadat ons een dag goed gevorder het met ’n stywe windjie vir ’n paar uur, het ons die mond van Jones-Sond bereik, en daar is ons ontvang deur ’n digte mis wat al ons takelwerk met ys bedek het. Nadat ons ’n hele end in Jones-Sond geseil het in die hoop om die laerliggende land te bereik waar ons miskien muskus-osse sou kry, is ons deur dik dryfys teruggehou. Oornag is ook nuwe ys gevorm. Die winter was blykbaar net om die hoekie. Ons draai toe om en vaar weer na die mond en wag toe vir die mis om op te klaar. Daar was aan alkante van ons volop dryfys, dus was dit nie raadsaam om te waag om te ver in deur die ys gevang te word nie. ’n Skielike windvlaag kon dit byvoorbeeld rondom ons vaswaai en ons totaal verhinder om uit te kom. Vroeg in die agtermiddag het die mis verdwyn en ons seil toe in Craig-Hawe wat aan die noordekant van die sond by Ellesmere-Land lê. Pa, Rasmussen, Dok en Joe, die matroos, gaan toe aan land en berig dat die stasie gesluit was. Dit is die noordelikste poliesie-pos in die wêreld en is gewoonlik deur die beroemde Noordwestelike Berede-poliesiemag beset. Tot ons groot teleurstelling was daar niemand by die stasie nie. Later het ons verneem dat hulle verder noordwaarts getrek het na ’n nuwe stasie op Ellesmere-Land. Ons het ’n briefie agtergelaat om te sê dat ons daar gewees het. Daar was twee hoofgeboue, barakke en ’n pakhuis met olievate en sakke steenkool daaromheen gepak. Alles het baie netjies gelyk. Die geboue self was gesluit. Toe ons Craig-Hawe verlaat, gewaar ons op ’n taamlike afstand twee gebaarde seehonde op die ys. Toe die Morrissey naby die een kom, skiet Art Young hom met ’n koeëlgeweer dood met ’n netjiese skoot dwarsdeur die nek. Toe draai hy om en skiet na die ander een. Hy het hom wel geraak, maar die seehond het van die ysskol afgeseil en waarskynlik gesink. Toe hulle die eerste seehonde kry, spring Jim, die matroos, wat gewoon is om op die seehond-jag in Newfoundland gedurende die lente seehonde dood te maak, op die ysskol en gee die seehond met ’n swaar haak wat spesiaal vir die doel gemaak is, ’n hou oor sy kop. Dit het die kopbeen gebreek, sodat die seehond nutteloos was as ’n eksemplaar vir wetenskaplike doeleindes. Ek het dus orders gekry om uit te kyk na meer van hulle, want ons wou baie graag ’n goeie eksemplaar hê. Ons was nie seker of daar walrusse in Jones-Sond was nie. Maar Dok en ek het spoedig omtrent ’n myl vorentoe drie diere op ysskolle gewaar wat vir ons baie na groot seehonde gelyk het. Ons het hulle met die verkyker dopgehou en dit blyk toe dat dit walrusse was, en dit nogal besonder grotes. Ons seil toe reguit na hulle toe en Carl en Dok en Cal en Pa sit in die boeg klaar met hulle geweers. Toe hulle taamlik naby was, skiet hulle en raak ook die walrus, maar sonder om hun dood te maak. Dit is baie moeilik om hulle dood te kry en as daar nog enige lewe in hulle is, seil hulle van die ys af in die water. Die arme groot walrus lig hom toe met sy vinne op om te sien van waar die lawaai kom en wat dit beteken. Dit lyk of hulle in die water taamlik kwaai is, en dit is taamlik moeilik om naby hulle te kom. Maar op die ys, lyk dit, is hulle baie dom en treurig en lomp, soos ’n yslike lui koei. Maar daardie slagtande van hulle is natuurlik verskriklik gevaarlik, en ek glo nie daar is ’n dier wat met ’n walrus kan baklei nie, nie eers ’n ysbeer nie. Maar hulle hoor en sien bepaald maar swak. En as hulle op ’n ysskol in die son lê en slaap, en die water is so stil dat die ys nie skommel en hulle stoor nie, dan is dit regtig maklik om baie naby hulle te kom. Hierdie walrus, al het hy drie skote gekry, probeer om van die ysskol af te kom. Toe skiet Carl hom met Pa se groot geweer dood. Ons laat staan hom op die ysskol en gaan verder na die ander skol, waar nog twee lê en slaap. Hulle het elkeen ’n raakskoot gekry, maar dit het hulle darem nog geluk om die water te bereik. Carl gooi toe my harpoen van die skip in die een, maar die ander een het gesink, hoewel Nielsen, Rasmussen se bestuurder wat ons op hierdie deel van ons reis vergesel het, hom amper met sy harpoen gekry het. Ons was jammer om hom te verloor. Ons algar hou nie daarvan om enige dier dood te maak en dit dan te laat verlore gaan nie. Om die waarheid te sê, ek het gedink ek sou dit groot pret vind om diere dood te maak. Dit is bepaald baie opwindend, maar ek glo nie ek gee baie daarvoor om nie. Dit is alles goed en wel om diere dood te maak om hulle te eet, of vir ’n museum. Maar ek glo nie ek sou ’n dier wil doodmaak net om iets te kan wys nie. Dit lyk vir my mensliker om hulle lewendig te kom sien en hulle te laat staan waar hulle is. Na wat Pa vir my vertel, ook kapt. Bob en andere, moet wild hier ’n paar jaar gelede baie meer volop gewees het, maar ander ekspediesies het natuurlik vreeslik baie doodgemaak. Natuurlik maak ook die Eskimo’s nou baie meer dood vandat hulle geweers het. Heel moontlik sal oor ’n ruk, nes in die weste van ons land, al die wild hier uitgeroei wees. Ons het nog ’n walrus gesien wat nie te ver weg was nie. Die Morrissey het baie na aan hom gegaan en Art het hom twee pyle in die nek gegee. Hy het van die boegspriet geskiet sodat hulle ’n lewende beeld daarvan kon neem. Die pyle sou hom miskien doodgemaak het, want hulle het diep ingedring en hom baie laat bloei. Maar dit sou ’n ruk geduur het, dus het hulle hom maar met ’n koeël doodgeskiet. Niks van die diere is gemors nie. Harry Raven het die harsings vir die museum gehou, en lede van die ekspediesie het die koppe gehou. Alhoewel ek dink dat ons manskappe ’n lekker tyd en sekerlik baie pret gehad het, het hulle nogtans min kans gehad om regtig te jag. Ek weet Pa het gehoop dat die manne wat vrywillig saam gekom het en baie gewerk het, meer pret sou gehad het. Hy is dus bly as daar vir hulle ’n kans is om iets te kry wat hulle kan saamvat. Die vleis het ons gehou vir die Eskimo’s by Pond-Baai waarheen ons op weg was. HOOFSTUK XIII NANOEK! Daardie nag in Jones-Sond, nadat ons die walrusse gekry het, was baie pragtig. Die groot volmaan het geskyn terwyl die sonsondergang roos- en goudkleurig was. Die son het daardie aand regtig ondergegaan, hoewel dit natuurlik heeltemal lig gebly het. Dit was die eerste maal na ’n lang tyd dat ons die maan gesien het. Die maan en die sonsondergang was albei die hele nag sigbaar, weerkaats deur ’n dun laag silwerige, pas-gevormde ys. Ek en Pa het die hele nag opgebly. Pa het ’n gebaarde seehond op ’n ysskol geskiet. Dit was regtig ’n goeie skoot, mooi deur die kop. Ralph het toe op die ysskol gegaan en ’n riem om die seehond gesit, en ons het hom toe met die takel vir die platboom-skuite aan boord gehys, en daarna is ons weer weg. Kort daarna sien ons weer ’n grote op ’n ysskol en Pa probeer om hom van veraf te skiet, maar dit was mis, daar hy te hoog gevat het. Die twede skoot was raak, maar die seeleeu het nog afgeseil en kort daarna bo die water verskyn. Dan en Pa het in ’n skuitjie uitgegaan om hom te probeer kry, maar elke slag as hulle naby hom kom, raak hy weg en kom op ’n ander plek weer uit. Dit was hopeloos om hom te skiet, tensy hulle naby genoeg kon kom om een van die seehond-hake in hom te steek, anders sou hy tog maar sink. Na ’n ruk het hulle maar opgegee en omgedraai. Toe verskyn daar drie seehonde naby hulle, wat hul koppe uit die water steek om te sien wat dit alles beteken. Maar hulle het so gou weer weggeduik dat ons nie kon skiet nie. Die nuwe ys het vinnig gevorm en die barometer was aan dale, dus het ons begin padgee na die mond van die sond, daar kapt. Bob wou uitkom eer daar gevaar was vir moeilikheid met die ys ingeval ons ’n storm kry. As dit vroeër in die seisoen gewees het, sou ons graag in Jones-Sond gebly het, want daar was bepaald baie wild. Ons het gedurig opgelet, maar het niks meer gesien nie. Ons het nou ooswaarts geseil, al langs die kant van groot plate dryfys, dit wil sê drywende skolle waarvan sommige maar net ’n paar tree in die vierkant was, terwyl ander weer honderd voet of meer was, of bestaan het uit ’n aantal skolle wat deur nuwe ys aanmekaar vasgevries was. Mens kon amper die nuwe ys sien ontstaan. Die termometer het omtrent op 25 graad of minder gestaan. Klein kristalle het in die stil water saamgesmelt en ’n dun laag gomelastiekagtige ys gevorm. As die skip so deur die ys gaan, het die oppervlakte taamlik vas aanmekaar gehou. As die boeg kabbelings veroorsaak, dan wiegel die ys so, en ’n taamlike drukking was nodig om dit regtig te breek. Dit was omtrent vieruur in die oggend, en ek wou net gaan inkruip, want ek het koud gekry. Maar dit was die moeite werd om op te bly, want ek glo nie ek het al ooit iets gesien wat so mooi is soos die lig op die ys en die stil grys water, en die met sneeu bedekte berge en donker rotse en wit gletsers aan weerskante van die sond nie. Dan was nog besig om sy walruskop skoon te maak. Pa was by die boeg, Ralph by die wiel en Jim op die uitkyk. „Beer! Beer!” roep Ralph skielik met sagte stem. Jim gee die teken om die motor aan te hou, en dadelik kom die kaptein boontoe wat onder ’n bietje gelê en slaap het nadat hy vier-en-twintig uur wakker gewees het. Vanwaar ons was, kon mens niks meer van die beer sien nie as ’n klein gelerige kol daar ver, anderkant ’n groot ysskol. Ek het orders gekry om boontoe te klim en hom dop te hou, en te skreeu as hy in die water gaan. As ’n beer in die water is, is dit taamlik maklik om hom te vang, want hy swem nie te vinnig daarvoor nie. Maar as hy eers die land bereik, het hy ’n goeie kans om weg te kom. Kapt. Bob was bang dat hy na die een kant oor die ysskol sou gaan, terwyl ons die ander kant omseil. Die Morrissey het in alle geval om die ysskol geseil en het stilletjies tot omtrent dertig tree van hom genader. Die beer hou sy neus hoog in die lug en kom toe na die skip se kant toe en spring pragtig oor ’n strook nuwe ys. Dit het gelyk of hy niks bang was nie, maar net belang gestel het in die snaakse, nuwe ontsaglike dier wat hom kom hinder het. Kapt. Bob wou seker maak dat ons die eerste beer kry, dus het hy ’n paar man gelyk laat skiet. Die geweers van Pa, Dan en Dok het gelyk afgegaan, en later het ons gesien dat elke skoot raak was en dat blykbaar elkeen ’n doodskoot was. Jim en Ralph spring van die boegspriet op die ys en maak ’n tou om die dooie beer vas. Hulle hys hom toe aan boord en bring hom na die voorpart van die dek, want die orige het vol gelê van die vleis, velle en koppe van die walrusse. Teen die tyd het die skip net morsig gelyk en baie nes ’n slaghuis. Maar daar die barometer aan dale was en dit gevoel het of ons sneeu kon verwag, het al die manskappe dadelik aan die werk gegaan en tot brekfistyd aangehou. Toe was alles so taamlik agtermekaar. Ek moet sê dat ons nou ’n wonderlike verskeidenheid van vleis gehad het. Aan die takelwerk het harte en vleis van walrusse en beervleis gehang, en aan die hooftoue auks en murres [8]; dan was daar nog die heerlike vleis van seehonde. Die volgende dag middag het ons seehond-vleis geëet wat nie te gaar gekook was nie, en dit was regtig lekker. Ons het dus vir ’n tydjie lekker vleis gehad om te eet. Billy het dadelik ook vir Pa en Rasmussen ’n paar bottels beerolie uitgebraai. Dit is uitstekend vir skoene en ander leerwerk. Terwyl ek nou van bere praat, moet ek nog vertel dat ek nou twee volledige uitrustings van Eskimoklere het. Die noordelike drag sluit nanoekies of ’n beervelbroek in. Nette het hulle aan boord gemaak van ’n stuk van ’n vel wat dr. Rasmussen vir Pa gegee het. Toe ons in Karna oorgebly het, het die Eskimo-vrouens die vel met hul tande gebrei totdat dit heeltemal sag was en maklik om te bewerk. Dan het ek nog stewels van seehond-vel met die bont van konyntjies aan die binnekant en ’n netsja of baadjie met ’n hoofdeksel daaraan. Hierdie noordelike uitrusting is besonder warm en lekker om te dra. Hierdie beer van ons, sê hulle, was vier jaar oud. Hy was sewe voet vier duim lank, en hulle het sy gewig op byna ses honderd pond geskat. Later het Fred die vel en die kop bewerk sodat dit kon saamgevat en ’n vloermat daarvan gemaak word. Ek het die kopbeen skoongemaak, en dit was net moeilik om al die vleis daarvan af te kry. So het ’n regtig heerlike dag op ’n taamlik opwindende manier geëindig. Ons was net oor een ding spyt, naamlik dat dit so vroeg in die oggend—of liewer so laat in die nag—te donker was om kiekies van die beer te neem. Ons het in alle geval binne omtrent agt ure ’n walrus en ’n gebaarde seehond gekry en, beste van alles, „Nanoek”, die beer. Die grappigste van die hele spul was dat Pa net die nag vantevore ’n radiogram aan Ma gestuur het dat ons hoop om spoedig ’n ysbeer op een van die ysblokke te kry en dat die vel bestem was vir ’n vloermat vir my broertjie June waarop hy in die winter voor die vuur kon speel. Ons kry toe so kort daarna die beer en die vloermat vir klein June. HOOFSTUK XIV BY POND-BAAI Op die agt-en-twintigste Augustus het ons eindelik, nadat ons lank deur ’n digte mis geseil het, op ’n kort afstand land gewaar. Vir die laaste paar dae het ons al langs die kus van Devon-Eiland en Bylot-Eiland afgeseil om by Pond-Baai te kom waar daar ’n pos was van die Noordwestelike Beredepoliesiemag en ’n stasie van die Hudson-Baai-Maatskappy. Kapt. Bob was al die tyd nie in staat om land te sien of waarnemings te maak nie, maar deur middel van ruwe berekening was ons omtrent seker dat ons die suidelike deel van Pond-Baai bereik het. Soos julle seker weet, beteken „ruwe berekening” dat mens uitvind waar jy is deur te sien hoeveel myle die skip volgens die log afgelê het. Die log is ’n klein instrument soos ’n klein skeepskroef wat by die agterstewe aan ’n lang tou afgelaat word; dit draai vinnig of stadig volgens die snelheid waarmee die skip vaar, en die getal omwentelinge word aangeteken, waardeur die getal knope of seemyle wat die skip afgelê het, aangewys word. Terwyl ons so in die mis rondgedryf het, so ver van die hoë land dat ons dit nouliks kon sien as dit deur die mis sigbaar word, het Pa en dr. Rasmussen in ’n skuitjie uitgeroei om murres en klein auks te gaan skiet. In heeltemal ’n kort tyd het Pa een-en-vyftig van hulle geskiet en daardeur verskillende maaltye vir die bemanning verskaf. Later het ons die platboom-skuit met die Johnson-motor daaraan, neergelaat. So was dit net ’n nuttige boot om mee vooruit te gaan en uit te vind hoe diep die water was. Een van die matrose gaan sit toe daarin en gebruik die peillood en roep dan uit wat die diepte van die water was. Nadat ons vir ’n paar myl ons pad so-te-sê gevoel het, hou ons na aan die kus stil op ’n plek waar ’n stroompie teenaan ’n gletser uitkom. Ons het nog maar ’n paar gellings in die groot waterbak gehad, en amper al die vate was leeg. Terwyl die bemanning besig was om die vate aan land te bring en hulle vol te maak, het Bob Peary, Ed Manley en ek in die mis gaan roei om seehonde te soek. Ons het in die loop van die dag heelparty gesien. Natuurlik het ons die land nie uit die oog verloor nie, maar al langs die kus gehou om die terugweg te kan vind. Mens kon net omtrent honderd tree ver sien. Ons het na ’n paar seehonde geskiet, maar dit was mis. Dit is taamlik moeilik om hulle in die water te skiet. Hulle kom net vir ’n minuut, soms net ’n paar sekondes, op, beskou jou as jy naby is en duik weer weg. Ons was net agter een aan wat taamlik lank bo water gebly het, toe ons die mishoring van die Morrissey hoor blaas. Dit was die teken vir ons om terug te kom. ’n Rukkie later het ons aan wal gegaan en teen die hang van ’n rotsagtige heuwel die graf van ’n walvisjagter gesien. Hy was harpoenier op ’n beroemde walvisvaarder, die Diana van Dundee in Skotland, en is in 1903 daar begrawe. Die graftes van ’n paar ander walvisjagters in die nabyheid was oor die honderd jaar oud; want toe het baie van hulle al daar gekom. Aan my is vertel dat daar partymaal ’n paar duisend manne in een seisoen in hierdie streek gejag het, en dat party skepe die winter in klein hawens langs die kus deurgebring het. Nou is die walvisse amper uitgeroei, en die walvisvaarders is gevolglik buite werking gestel. In die loop van die dag het mis opgeklaar en het ons Albert-Hawe binnegeseil; dit was een van die ou kwartiere van die walvisvaarders. Aan alkante is daar hoë rotse, sodat dit besonder goed beskut is, en die water is daar baie diep. In die ou dae het hulle die skepe tot teenaan die skuinstes aan die voet van die rotse gebring om ballas te laai. Toe seil ons verder in die baai wat feitlik ’n wye sond is, amper twaalf myl wyd, tot by die plek waar die Hudson-Baai-Maatskappy (H. B. C) hulle stasie het. Net naasaan hierdie stasie is die afdeling van die „Royal Canadian” Beredepoliesie. Die poliesie het barakke en ’n pakhuis en die H. B. C. meer of min dieselfde. Dan staan daar al langs die strand ’n dosyn klein pondokkies en sooihuise waar die Eskimo’s woon. Maar die meeste Eskimo’s van hierdie streek woon ver van die stasie in dorpe waar meer kans is om te jag. Daar was ses Europeane, drie van die poliesie en drie van die H. B. C. Maurice Timbury was die hoof van die poliesie en George Dumo die agent van die H. B. C. Hulle was algar baie gaaf teenoor ons en het vir ons ’n baie aangename tyd verskaf. Ons het ’n dinee met die poliesie gehad en daarna ’n dans in die huis van die H. B. C. Ons het dus ’n woelige tyd gehad en baie pret. ’n Victrola-grammofoon het die musiek verskaf, en die Eskimo’s het ook kom dans. Nettie, die Groenlandse meisie wat ons saamvat na Holsteinsborg was die mooiste meisie op die dans. Sy dans goed, en dr. Rasmussen is ’n uitstekende danser. Die Eskimo’s hier in Baffin-Land lyk heeltemal anders as die in Groenland. Die vrouens tatoeëer hulle gesigte en dra ’n ander kleredrag. Daar by die stasie waar hulle baie Europese klere kan kry, sien mens nie meer veel van hulle oorspronklike drag nie. Ek glo ook nie dat soveel „winkel”-kos juis baie goed vir hulle is nie. In alle geval het die spul wat ek daar gesien het, maar tingerig en pap gelyk in vergelyking met die pragtige fris kêrels waarmee ons aan die ander kant van Baffin-Baai in aanraking gekom het. Hulle kajaks lyk groter en wyer as die van die Groenlandse Eskimo’s. Die vleis van die walrus wat ons in Jones-Sond doodgemaak het, het ons saamgebring na Pond-Baai en onder die Eskimo’s uitgedeel. Hulle was blykbaar baie bly, want dit is ’n uitstekende hondevoer, en mens kry daar nie meer walrusse nie. As terugbetaling vir ons presente het ’n paar vrouens aan boord gekom en die vleis afgeskrap van die walrus- en seehondvelle wat ons nog nie klaar gemaak het nie. Daarna is hulle gesout, in vate gepak en toegemaak om na die museum te gaan. Dit was ’n verskriklike werk om al die vetterigheid van die dek af te kry, en vir ’n hele paar dae was dit so glyerig soos ’n skaatsbaan. Ons het na ’n paar winterhuise van die Eskimo’s (of ighloes van klip) omtrent ’n myl van die stasie gegaan. Hulle is baie oud, en is eeue gelede deur ’n stam bewoon; maar dit was so lank gelede dat die teenswoordige Eskimo’s niks van hulle afweet nie en glo dat hulle van heeltemal ’n ander ras was. Dr. Rasmussen beweer dat volgens die voorwerpe wat in hierdie ou dorpie gevind is, vergeleke met ander wat alreeds bestudeer is, die mense waarskynlik omtrent duisend jaar gelede daar gewoon het, en op ander plekke miskien nog vroeër, omtrent die tyd toe die eerste Noormanne na Groenland gekom het in die jaar een duisend en later. Hierdie ou klip-ighloes van die Eskimo’s is sirkelvormig gebou meestal met ’n deursnee vyftien voet of meer. Daar is ’n klein buitekamer wat as voorportaal diens doen en bedoel is om die binnevertrek warm te hou. Dit is so laag dat hulle bepaald op hande-vier-voet moes inkruip. Nadat mens ingekruip het, kom mens by ’n trappie wat na die binnevertrek lei. Hierdie vertrek dink ek was omtrent vyf voet hoog met ’n verhoog rondom, ’n paar voet hoër as die middelste gedeelte wat ’n klein vierkant vorm. In een hoek van die verhoog, gewoonlik naby die deur, het hulle kos gekook. Die platform agter is as slaapplek gebruik en is mooi netjies met plat klippe opgemessel. Die mure bestaan uit klip, sooie en walvisbene. Die dak is van plat klippe en been. Op ’n paar plekke lyk dit of die ribbebene van walvisse gebruik is as balke om die mure te stut en miskien die blafon. Die huisies moet regtig warm en sterk gewees het. Ek het vergeet om te sê dat hulle eintlik gedeeltelik onder die grond is, daar die vloer gewoonlik ’n paar voet laer is as die grond buite. Ons het rondom die huise en by ’n paar van die ou graftes gegrawe. En die volgende dag het ek en Pa en Dan saam met mnr. Gale en sy assistent, Abraham Ford van Labrador, in hulle motorboot twaalf myl die baai opgevaar na ’n paar ander ou huise. Ons het ’n paar mooi voorwerpe gevind soos speerpunte en sneeumesse van been en ivoor gemaak, harpoenstele en ’n klein kom uit been uitgesny. Later het Pa nog van die Europeane voorwerpe gekry wat hulle versamel het, sodat ons op die ou end net ’n mooi versameling van interessante voorwerpe gehad het. En baie van hulle was werklik uit die steentydperk van hierdie volk afkomstig, toe hulle nog amper alles wat hulle gehad het van klip gemaak het, soos b.v. pylpunte van vuurklip of van been of ivoor. Dit is verbasend om te dink dat hulle met hierdie primitiewe selfgemaakte wapens tot yslike spermaseti-walvisse kon doodmaak. En tog moet hulle dit gedoen het, want om hulle huise lê die bene rondgestrooi. En in die ou tyd het hierdie dele van die oseaan seker gekrioel van die walvisse, walrusse, seehonde en narwalle. Timbury en die ander twee konstabels, Murray en Dunn, het daardie agtermiddag met ons uitgegaan om sneeuhase te skiet. Ons het een gesien, maar kon nie naby genoeg kom nie, want een van die honde het ons gevolg en elke slag die haas geja net as ons hom in die oog kry. Ed het op ’n klein meer omtrent twee myl van die dorpie ’n eend geskiet en ek twee. Ons het nie geweet hoe ons moet maak om hulle te kry nie. Eindelik het Ed sy klere uitgetrek en tot onder sy arms die yskoue water ingegaan en hulle gehaal. Tussen hakies, hier by Pond-Baai is die noordelikste draadlose stasie in die wêreld. Die poliesie en die H. B. C. het elk ’n draadlose ontvang-toestel vir kort golwe, en die poliesie het buitendien ’n uitsaai-stasie; maar ek glo nie dat dit te goed werk nie. Dit was interessant om in mnr. Galle se huis ons ou vriende, die Eveready-batterye te sien, die enigste wat hy gebruik. Pa het met hulle afgespreek om later in November op die Eveready-uur ’n spesiale program te hê as hulle dit kon regkry, al was dit ook maar vir ’n paar minute. Dit wil sê hy wou dit so laat reël dat ’n deel van die program in New-York so uitgesaai sou word dat hulle dit by Pond-Baai kon opvang en hulle Pa uit New-York met hulle kon hoor praat. Toe ons die dorpie verlaat, was dit so winderig en ru dat ons weer by Albert-Hawe oorgebly het. Art en Ed en ek het na die steil rotsagtige eiland gegaan om hase te soek. Ons het die eerste heuwel beklim en daar baie spore gesien, maar g’n hase nie. „Daar is een!” skreeu Art skielik, „daar by die groot rots. Dawid kruip jy stilletjies agter daardie klipstapel, dan bly ek en Ed hier en trek sy aandag.” Ek kruip toe soetjies na die kant van die heuwel en toe die haas my nie meer kon sien nie, hardloop ek so al wat ek kan, maar loop teen die end weer stadiger en loer toe versigtig bo-oor. Daar sit die haas omtrent sestig tree van my af en kyk na Art en Ed. Ek korrel toe haastig en skiet, en die haas slaan op die plek neer. Die twee-en-twintig patroontjie het mooi by sy skouer ingegaan, deur sy hart en anderkant weer uit. Ons sien toe dat sy rug lig-grys was en dat hy baie groter was as die Amerikaanse konyne. Ek verstaan dat hulle in die winter spierwit word. ’n Ander een het ons hot en haar geja en amper verloor. Per geluk het ek van die ander afgedraai, en daar sien ek ’n hele end weg sy ore uitsteek. Ek fluit toe om hom te laat opstaan; maar toe hy dit doen, skiet ek hom mis, en hy begin te hardloop. Ek skiet toe na hom in die hardloop en met ’n gelukskoot kry ek hom deur sy heupe en sy rugstring. Hy was groter as die eerste en spierwit. Ons het nog ’n paar ander probeer skiet, maar sonder sukses. Toe ons weer by die skip kom, was dit al omtrent tienuur en amper donker. Hier by Pond-Baai het ons vir die eerste maal weer begin om regtig nag te kry. Die son gaan onder, en dan is dit vir ’n paar uur donker. Ek het Pa gevra om vir Ma ’n radiogram te stuur en te sê dat ek besig was om ’n paar pragtige velle van sneeuhase vir haar te brei waarvan sy dan ’n kraag of soiets kon maak. En Fred wys vir my hoe om poeierkwassies van die stertjies te maak. HOOFSTUK XV NOG MEER BERE Teen die twede September was ons op pad, al langs die ooskus van Baffin-Eiland af met die bedoeling om Baffin-Baai oor te steek na Holsteinsborg om Hobbs se geselskap op te laai. Daar was g’n ys om van te praat nie, net ’n paar verstrooide ysberge, en die weer het taamlik lekker sonnig en heeltemal warm gebly wat baie buitegewoon was vir die tyd van die jaar. Presies om sewe-uur in die oggend maak Pa my wakker en sê daar was drie bere op ’n klein ysberg naby ons. Ralph en Jim, dieselfde wag wat die eerste beer ontdek het, het hulle gewaar. Alle manskappe het op dek verskyn om die pret nie mis te loop nie. Carl het sy tou reggesit terwyl Art sy pyl en boog uitgehaal het vir die jag. Geen geweers sou gebruik word nie. Pa wou hê dat uitsluitlik die boog en die tou sou gebruik word, om lewende beelde te maak. Keilerman het sy twee toestelle vir die lewende beelde op dek gehad, en verskillende van die ander spul het hulle gewone kamers gereed gehou. Bob Peary het ook ’n klein kamera vir levende beelde gehad, maar hy was op diens by die motor, dus het ek dit so goed as ek kon vir hom bewerk. Die Morrissey het tot heeltemal naby die ysberg gegaan, en ons het ’n klompie mooi portrette geneem. Dit was ’n groot beerwyfie met twee jonges wat, soos hulle vir my vertel het, in Februarie gebore is. Hulle was taamlik groot en fris en het waarskynlik albei oor 150 pond geweeg. Dit was darem snaaks om die beer hier buite in die water te sien, omtrent twintig myl van die land. Maar later het dr. Rasmussen ons vertel dat hulle dikwels honderde myle ver gaan, en dit amper die hele tyd in die water. Dit lyk of swem vir hulle omtrent net so maklik is as loop. Toe ons naby kom, loop die ou beer reguit na die waterkant, en die jonges agterna. Ons draai toe weg van die ysberg en gaan om na die windkant om hulle gerus te stel. Hulle was skynbaar daarmee tevrede. Miskien het hulle gedink dat die skip maar net ’n groot, vuil blok ys was. Hulle het in alle geval weer terug geklim en gaan lê. Die twee jonges het by die moeder gaan lê, en toe Harry deur die verkyker kyk, sê hy hy kon sien dat hulle hul ontbyt gebruik. Toe ons weer naby kom om vir Art ’n kans te gee met die pyl en boog, word die ou beer regtig onrustig en staan weer water se kant toe. Hulle swem toe in ’n streep weg, en lyk kompleet soos drie klompe botter, eers die ma en dan die jonges agterna. Hulle is nie regtig wit nie, maar effens gelerig, amper botterkleurig, veral as net hulle koppe bo die water uitsteek. Hulle swart neuse en hulle oë wys die meeste. Ons het met die Morrissey twee- of driemaal binne dertig voet van hulle gekom en portrette geneem. Elke slag draai die beer-wyfie om en knor vir ons en brom vir haar kleintjies dat hulle moet aanstoot om weg te kom van die eienaardige gedierte wat hulle agtervolg. Ons wou hulle weer by die ysberg kry as dit moontlik was; daarom het ons ’n platboom-skuit neergelaat met Carl daarin, geroei deur Ralph en Joe wat moes probeer om hulle terug te ja na die ys. Verskillende male het dit hulle met moeite geluk om die bere in die rigting van die ysberg te kry, maar hulle het ten enemale geweier om weer daarop te klim. Dit was ’n komieklike spelletjie om te aanskou. In die tussentyd was Jim aan boord besig om ’n ruwe hok vir die jonges te maak, want Pa het besluit, as dit kon wees, om hulle lewendig te vang en hulle na die Bronx-Dieretuin by New-York te bring. Eers wou hulle my toelaat om een te skiet, daar ek regtig begerig was om heeltemal alleen ’n beer dood te maak. Maar ek het saamgestem dat dit baie beter sou wees om hulle lewendig te vang as dit moontlik was. Dit is regtig ’n snaakse toeval dat kapt. Bob in 1910 naby dieselfde plek die yslike ysbeer „Silver King” gevang het wat van die tyd in die dieretuin was. Hy is verlede jaar dood. Art het op die boegspriet geklim met sy boog en pyle en ’n vyl waarmee hy die groot twee-duims staalpunte van die pyle nog ’n slag goed wou skerp maak. Kellerman wat by sy toestel staan, vra vir Art of hy gereed is, en Art se hy is heeltemal gereed. Toe bring kapt. Bob die skip weer kort by hulle. Die eerste slag kon Art nie skiet nie, omdat een van die kleintjies so-te-sê bo-op die oue was. Ons maak dus nog ’n draai en kom weer na hulle toe. Dit was ’n moeilike taak, want daar was taamlik ruwe deininge, en dit was nodig om die skip taamlik presies in posiesie te kry, sodat mens die kamera kon gebruik wat aan die stuurboord kant van die boeg opgestel was. Toe trek Art los met sy groot boog. Ek moet daarby sê dat die boog ’n spankrag van omtrent vyf-en-negentig pond het, wat beteken dat ’n sterk man nie meer kan doen nie as om die snaar te span en die boog te buig, om nie eers van mik te praat nie. Ek het Art dwarsdeur ’n twee duims plank van sagte hout sien skiet. Die eerste twee pyle het die beer in die nek geraak. Dit was ’n moeilike teiken om na te skiet, daar net die nek en ’n stukkie van die lyf bo die water uitgesteek het en Art maar op ’n skraal plekkie gestaan het op die boegspriet, terwyl die skip taamlik gerol het. Die beer het omgedraai en gebrul en met sy poot na een van die kleintjes geslaan wat naby was. Met die volgende draai van die skip het Art nog twee pyle geskiet, en ek dink een van hulle het taamlik diep ingegaan. Die beer-wyfie het baie gebloei en haar kop het onder die water gegaan. Toe kom sy weer op en sy en die kleintjes vryf hulle neuse teenmekaar, en toe sak haar kop weer. Sy was dood. Ek reken dis die eerste keer dat ’n ysbeer met pyl en boog doodgeskiet is, in elk geval die eerste keer sedert die tyd toe die Eskimo’s nog primitiewe wapens gebruik het. Die jonges het by die liggaam van hulle ma gebly totdat Carl in die platboom-skuit naby gekom het. Toe swem hulle weg en blaf soos ’n hele trop honde. Ons hys haar toe aan boord en gooi ’n seil oor haar. Toe agtervolg ons die jonges. Dit was die mees opwindende gebeurtenis wat ek ooit beleef het en baie interessant. Carl het goed vasgetrap in die boeg van die skuit wat net baie geskommel het in die deininge, en die roeiers het hom na die jong bere geroei, terwyl die Morrissey naby gekom het om Kel ’n kans te gee vir sy afnemery. Met die eerste gooi het Carl sy beer gekry. Hy het die tou om sy kop in die lug geswaai en toe laat skiet. Die lissie val net mooi oor die beertjie se kop. Dit was pragtig om te aanskou. Die mense in Pendleton, Oregon, wat ons die tou gestuur het, sou net baie in hulle skik daarmee gewees het. Pa het daar en dan voorgestel om een van die beertjies „Cowboy” te noem. Die eerste een sou „kapt. Bob” wees. Die beertjie kon nie uitmaak wat gebeur het nie, totdat hulle begin om hom nader te trek. Toe begin hy te knor en te blaf. Toe Carl hom langs die skuit kry, byt hy die tou en klou en krap die boot en ook na Carl, en hy probeer om in te klim. Hy was bepaald lus om te veg. Een haal met sy kloue sou seker genoeg wees om iemand se arm skoon af te ruk. Carl het swaar handskoene aan gehad en beskermings vir sy polse. As die beer probeer om in te klim, klap Carl hom met sy hand in sy gesig en druk sy pote van die skuit se rand af. Hy het na Carl gehap en was net kwaai. ’n Rukkie later, nadat hy die skuit ’n bietjie rondgesleep het, het dit Carl geluk om ’n slag van ’n tou agter sy skouers om sy lyf te kry en toe het hulle hom met ’n takel aan boord gehys. Toe hy aan boord kom, het hy alles gebyt wat binne sy bereik kom, en probeer om die seile te skeur, en allerhande moeilikhede veroorsaak. Ons hys hom toe in die lug, en met ’n kleiner tou trek ons hom vorentoe na die hok wat by die boeg na bakboord gestaan het. Ons moes hom oor die kluiwer lig en aan die ander kant in die opening van die hok neerlaat. Op pad het hy die stoofpyp van die kombuis afgestamp. Toe sit ons ’n tou om een van sy voorpote en onder die hok deur en trek so hard soos ons kon. Ons het sy kop op die manier ingekry en toe moes ons algar sy agterlyf druk. Na omtrent ’n halfuur se gesukkel was hy eindelik in sy hok. Carl gaan toe en vang die ander beertjie wat intussen omtrent ’n kwart myl ver geswem het. Hom het ons maklik genoeg bo op die hok gekry. Maar terwyl Will teen die kluiwer staan en leun, spring die beertjie na hom, en hy het net bytyds weggespring. Die beer het op dieselfde plek weer neergekom. Dit was maar naby. Ons het hom net soos die eerste in die hok gesit. Ons gee hulle toe ’n eend, en tot ons verbasing vreet hulle dit dadelik op. Dit is baie selde dat ’n dier so kort nadat hy gevang is, vreet. Hulle moet op daardie ysberg taamlik honger gewees het. Ons wou toe sien wat hulle sou maak met die hondekos wat ons in blikke gehad het. Dit word Ken-l-Rantsoene genoem en is heeltemal lekker, selfs vir mense. Die Eskimo’s in die noorde het baie daarvan gehou. Wel, ons bere was net gek daarna. Hulle het vir jou regtig stukke daarvan afgehap wat Carl op ’n lepel by die kant ingesteek het. Pa het hom gevra om vir „cap’n Bob” en „Cowboy” te sorg. Dit was feitlik die end van die ekspediesie. Daar was natuurlik nog baie meer, en dit het nog ’n volle maand geduur eer ons by die huis was. Nadat ons die jong beertjies gevang het, het ons Baffin-Baai oorgesteek na Holsteinsborg en Hobbs en geselskap opgelaai. En toe draai ons huis-toe. Op die heel eerste dag het ons die agterste skroefas en die skroef verloor toe ons een derde van die pad oor Davis-Straat was. Ons moes dus die orige van die afstand na Sydney sonder motor aflê. Ons het daardie hele 1400 myl geseil en dit met ’n paar harde windvlae. Ons het net gesukkel om deur die Straat van Belle Isle en die Golf van St. Lourens te kom, want ons het mis en teenwinde gekry. Dit het ons 15 dae geneem om die afstand net met seile af te lê. Maar dit was eenkant ’n mooi einde vir ’n reis op ’n skip wat eintlik net vir seile bedoel was eer ons die motor ingesit het. En noudat ek terug is van Groenland, skryf ek dit op die Morrissey, met Kaap Breton-Eiland voor ons. Dit sal alles per spoor na Sydney gestuur word, en miskien sal die boekie naastenby gereed wees teen ons weer tuis is—tog maar ’n lekker plek, nè! VOETNOTE [1] Eland staan hier vir Eng. moose. [2] Clams is ’n soort mossel wat in Amerika gevind word en chowder is ’n bredie wat van clams of vis gemaak word. [3] ’n Harde Amerikaanse houtsoort. [4] Die Auk is ’n groot soort pikkewyn wat waarskynlik uitgesterf is. Daar is egter kleiner voëls wat tot dieselfde famielie behoort, waarvan party kan vlieg en ander nie. [5] Lywaarts: na die windkant. [6] Pakhout is takke ens. onder in die skip om die goedere teen die water te beskerm. [7] Pemmican is fyngestampte biltong (oorspronkelik van die bieson) met vet gemeng en in blikke ingelê het dit deel uitgemaak van die voorraade van ekspediesies na die Poolstreke. [8] Die murre of guillemot behoort ook tot die auks. Sien aant. bl. 38. *** END OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK DAWID SE REIS NA GROENLAND *** Updated editions will replace the previous one—the old editions will be renamed. Creating the works from print editions not protected by U.S. copyright law means that no one owns a United States copyright in these works, so the Foundation (and you!) can copy and distribute it in the United States without permission and without paying copyright royalties. Special rules, set forth in the General Terms of Use part of this license, apply to copying and distributing Project Gutenberg™ electronic works to protect the PROJECT GUTENBERG™ concept and trademark. Project Gutenberg is a registered trademark, and may not be used if you charge for an eBook, except by following the terms of the trademark license, including paying royalties for use of the Project Gutenberg trademark. If you do not charge anything for copies of this eBook, complying with the trademark license is very easy. You may use this eBook for nearly any purpose such as creation of derivative works, reports, performances and research. Project Gutenberg eBooks may be modified and printed and given away—you may do practically ANYTHING in the United States with eBooks not protected by U.S. copyright law. Redistribution is subject to the trademark license, especially commercial redistribution. START: FULL LICENSE THE FULL PROJECT GUTENBERG LICENSE PLEASE READ THIS BEFORE YOU DISTRIBUTE OR USE THIS WORK To protect the Project Gutenberg™ mission of promoting the free distribution of electronic works, by using or distributing this work (or any other work associated in any way with the phrase “Project Gutenberg”), you agree to comply with all the terms of the Full Project Gutenberg™ License available with this file or online at www.gutenberg.org/license. Section 1. General Terms of Use and Redistributing Project Gutenberg™ electronic works 1.A. By reading or using any part of this Project Gutenberg™ electronic work, you indicate that you have read, understand, agree to and accept all the terms of this license and intellectual property (trademark/copyright) agreement. If you do not agree to abide by all the terms of this agreement, you must cease using and return or destroy all copies of Project Gutenberg™ electronic works in your possession. If you paid a fee for obtaining a copy of or access to a Project Gutenberg™ electronic work and you do not agree to be bound by the terms of this agreement, you may obtain a refund from the person or entity to whom you paid the fee as set forth in paragraph 1.E.8. 1.B. “Project Gutenberg” is a registered trademark. It may only be used on or associated in any way with an electronic work by people who agree to be bound by the terms of this agreement. There are a few things that you can do with most Project Gutenberg™ electronic works even without complying with the full terms of this agreement. See paragraph 1.C below. There are a lot of things you can do with Project Gutenberg™ electronic works if you follow the terms of this agreement and help preserve free future access to Project Gutenberg™ electronic works. See paragraph 1.E below. 1.C. The Project Gutenberg Literary Archive Foundation (“the Foundation” or PGLAF), owns a compilation copyright in the collection of Project Gutenberg™ electronic works. Nearly all the individual works in the collection are in the public domain in the United States. If an individual work is unprotected by copyright law in the United States and you are located in the United States, we do not claim a right to prevent you from copying, distributing, performing, displaying or creating derivative works based on the work as long as all references to Project Gutenberg are removed. Of course, we hope that you will support the Project Gutenberg™ mission of promoting free access to electronic works by freely sharing Project Gutenberg™ works in compliance with the terms of this agreement for keeping the Project Gutenberg™ name associated with the work. You can easily comply with the terms of this agreement by keeping this work in the same format with its attached full Project Gutenberg™ License when you share it without charge with others. 1.D. The copyright laws of the place where you are located also govern what you can do with this work. Copyright laws in most countries are in a constant state of change. If you are outside the United States, check the laws of your country in addition to the terms of this agreement before downloading, copying, displaying, performing, distributing or creating derivative works based on this work or any other Project Gutenberg™ work. The Foundation makes no representations concerning the copyright status of any work in any country other than the United States. 1.E. Unless you have removed all references to Project Gutenberg: 1.E.1. The following sentence, with active links to, or other immediate access to, the full Project Gutenberg™ License must appear prominently whenever any copy of a Project Gutenberg™ work (any work on which the phrase “Project Gutenberg” appears, or with which the phrase “Project Gutenberg” is associated) is accessed, displayed, performed, viewed, copied or distributed: This eBook is for the use of anyone anywhere in the United States and most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included with this eBook or online at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States, you will have to check the laws of the country where you are located before using this eBook. 1.E.2. If an individual Project Gutenberg™ electronic work is derived from texts not protected by U.S. copyright law (does not contain a notice indicating that it is posted with permission of the copyright holder), the work can be copied and distributed to anyone in the United States without paying any fees or charges. If you are redistributing or providing access to a work with the phrase “Project Gutenberg” associated with or appearing on the work, you must comply either with the requirements of paragraphs 1.E.1 through 1.E.7 or obtain permission for the use of the work and the Project Gutenberg™ trademark as set forth in paragraphs 1.E.8 or 1.E.9. 1.E.3. If an individual Project Gutenberg™ electronic work is posted with the permission of the copyright holder, your use and distribution must comply with both paragraphs 1.E.1 through 1.E.7 and any additional terms imposed by the copyright holder. Additional terms will be linked to the Project Gutenberg™ License for all works posted with the permission of the copyright holder found at the beginning of this work. 1.E.4. Do not unlink or detach or remove the full Project Gutenberg™ License terms from this work, or any files containing a part of this work or any other work associated with Project Gutenberg™. 1.E.5. Do not copy, display, perform, distribute or redistribute this electronic work, or any part of this electronic work, without prominently displaying the sentence set forth in paragraph 1.E.1 with active links or immediate access to the full terms of the Project Gutenberg™ License. 1.E.6. You may convert to and distribute this work in any binary, compressed, marked up, nonproprietary or proprietary form, including any word processing or hypertext form. However, if you provide access to or distribute copies of a Project Gutenberg™ work in a format other than “Plain Vanilla ASCII” or other format used in the official version posted on the official Project Gutenberg™ website (www.gutenberg.org), you must, at no additional cost, fee or expense to the user, provide a copy, a means of exporting a copy, or a means of obtaining a copy upon request, of the work in its original “Plain Vanilla ASCII” or other form. Any alternate format must include the full Project Gutenberg™ License as specified in paragraph 1.E.1. 1.E.7. Do not charge a fee for access to, viewing, displaying, performing, copying or distributing any Project Gutenberg™ works unless you comply with paragraph 1.E.8 or 1.E.9. 1.E.8. You may charge a reasonable fee for copies of or providing access to or distributing Project Gutenberg™ electronic works provided that: • You pay a royalty fee of 20% of the gross profits you derive from the use of Project Gutenberg™ works calculated using the method you already use to calculate your applicable taxes. The fee is owed to the owner of the Project Gutenberg™ trademark, but he has agreed to donate royalties under this paragraph to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation. Royalty payments must be paid within 60 days following each date on which you prepare (or are legally required to prepare) your periodic tax returns. Royalty payments should be clearly marked as such and sent to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation at the address specified in Section 4, “Information about donations to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation.” • You provide a full refund of any money paid by a user who notifies you in writing (or by e-mail) within 30 days of receipt that s/he does not agree to the terms of the full Project Gutenberg™ License. You must require such a user to return or destroy all copies of the works possessed in a physical medium and discontinue all use of and all access to other copies of Project Gutenberg™ works. • You provide, in accordance with paragraph 1.F.3, a full refund of any money paid for a work or a replacement copy, if a defect in the electronic work is discovered and reported to you within 90 days of receipt of the work. • You comply with all other terms of this agreement for free distribution of Project Gutenberg™ works. 1.E.9. If you wish to charge a fee or distribute a Project Gutenberg™ electronic work or group of works on different terms than are set forth in this agreement, you must obtain permission in writing from the Project Gutenberg Literary Archive Foundation, the manager of the Project Gutenberg™ trademark. Contact the Foundation as set forth in Section 3 below. 1.F. 1.F.1. Project Gutenberg volunteers and employees expend considerable effort to identify, do copyright research on, transcribe and proofread works not protected by U.S. copyright law in creating the Project Gutenberg™ collection. Despite these efforts, Project Gutenberg™ electronic works, and the medium on which they may be stored, may contain “Defects,” such as, but not limited to, incomplete, inaccurate or corrupt data, transcription errors, a copyright or other intellectual property infringement, a defective or damaged disk or other medium, a computer virus, or computer codes that damage or cannot be read by your equipment. 1.F.2. LIMITED WARRANTY, DISCLAIMER OF DAMAGES - Except for the “Right of Replacement or Refund” described in paragraph 1.F.3, the Project Gutenberg Literary Archive Foundation, the owner of the Project Gutenberg™ trademark, and any other party distributing a Project Gutenberg™ electronic work under this agreement, disclaim all liability to you for damages, costs and expenses, including legal fees. YOU AGREE THAT YOU HAVE NO REMEDIES FOR NEGLIGENCE, STRICT LIABILITY, BREACH OF WARRANTY OR BREACH OF CONTRACT EXCEPT THOSE PROVIDED IN PARAGRAPH 1.F.3. YOU AGREE THAT THE FOUNDATION, THE TRADEMARK OWNER, AND ANY DISTRIBUTOR UNDER THIS AGREEMENT WILL NOT BE LIABLE TO YOU FOR ACTUAL, DIRECT, INDIRECT, CONSEQUENTIAL, PUNITIVE OR INCIDENTAL DAMAGES EVEN IF YOU GIVE NOTICE OF THE POSSIBILITY OF SUCH DAMAGE. 1.F.3. LIMITED RIGHT OF REPLACEMENT OR REFUND - If you discover a defect in this electronic work within 90 days of receiving it, you can receive a refund of the money (if any) you paid for it by sending a written explanation to the person you received the work from. If you received the work on a physical medium, you must return the medium with your written explanation. The person or entity that provided you with the defective work may elect to provide a replacement copy in lieu of a refund. If you received the work electronically, the person or entity providing it to you may choose to give you a second opportunity to receive the work electronically in lieu of a refund. If the second copy is also defective, you may demand a refund in writing without further opportunities to fix the problem. 1.F.4. Except for the limited right of replacement or refund set forth in paragraph 1.F.3, this work is provided to you ‘AS-IS’, WITH NO OTHER WARRANTIES OF ANY KIND, EXPRESS OR IMPLIED, INCLUDING BUT NOT LIMITED TO WARRANTIES OF MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR ANY PURPOSE. 1.F.5. Some states do not allow disclaimers of certain implied warranties or the exclusion or limitation of certain types of damages. If any disclaimer or limitation set forth in this agreement violates the law of the state applicable to this agreement, the agreement shall be interpreted to make the maximum disclaimer or limitation permitted by the applicable state law. The invalidity or unenforceability of any provision of this agreement shall not void the remaining provisions. 1.F.6. INDEMNITY - You agree to indemnify and hold the Foundation, the trademark owner, any agent or employee of the Foundation, anyone providing copies of Project Gutenberg™ electronic works in accordance with this agreement, and any volunteers associated with the production, promotion and distribution of Project Gutenberg™ electronic works, harmless from all liability, costs and expenses, including legal fees, that arise directly or indirectly from any of the following which you do or cause to occur: (a) distribution of this or any Project Gutenberg™ work, (b) alteration, modification, or additions or deletions to any Project Gutenberg™ work, and (c) any Defect you cause. Section 2. Information about the Mission of Project Gutenberg™ Project Gutenberg™ is synonymous with the free distribution of electronic works in formats readable by the widest variety of computers including obsolete, old, middle-aged and new computers. It exists because of the efforts of hundreds of volunteers and donations from people in all walks of life. Volunteers and financial support to provide volunteers with the assistance they need are critical to reaching Project Gutenberg™’s goals and ensuring that the Project Gutenberg™ collection will remain freely available for generations to come. In 2001, the Project Gutenberg Literary Archive Foundation was created to provide a secure and permanent future for Project Gutenberg™ and future generations. To learn more about the Project Gutenberg Literary Archive Foundation and how your efforts and donations can help, see Sections 3 and 4 and the Foundation information page at www.gutenberg.org. Section 3. Information about the Project Gutenberg Literary Archive Foundation The Project Gutenberg Literary Archive Foundation is a non-profit 501(c)(3) educational corporation organized under the laws of the state of Mississippi and granted tax exempt status by the Internal Revenue Service. The Foundation’s EIN or federal tax identification number is 64-6221541. Contributions to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation are tax deductible to the full extent permitted by U.S. federal laws and your state’s laws. The Foundation’s business office is located at 809 North 1500 West, Salt Lake City, UT 84116, (801) 596-1887. Email contact links and up to date contact information can be found at the Foundation’s website and official page at www.gutenberg.org/contact Section 4. Information about Donations to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation Project Gutenberg™ depends upon and cannot survive without widespread public support and donations to carry out its mission of increasing the number of public domain and licensed works that can be freely distributed in machine-readable form accessible by the widest array of equipment including outdated equipment. Many small donations ($1 to $5,000) are particularly important to maintaining tax exempt status with the IRS. The Foundation is committed to complying with the laws regulating charities and charitable donations in all 50 states of the United States. Compliance requirements are not uniform and it takes a considerable effort, much paperwork and many fees to meet and keep up with these requirements. We do not solicit donations in locations where we have not received written confirmation of compliance. To SEND DONATIONS or determine the status of compliance for any particular state visit www.gutenberg.org/donate. While we cannot and do not solicit contributions from states where we have not met the solicitation requirements, we know of no prohibition against accepting unsolicited donations from donors in such states who approach us with offers to donate. International donations are gratefully accepted, but we cannot make any statements concerning tax treatment of donations received from outside the United States. U.S. laws alone swamp our small staff. Please check the Project Gutenberg web pages for current donation methods and addresses. Donations are accepted in a number of other ways including checks, online payments and credit card donations. To donate, please visit: www.gutenberg.org/donate. Section 5. General Information About Project Gutenberg™ electronic works Professor Michael S. Hart was the originator of the Project Gutenberg™ concept of a library of electronic works that could be freely shared with anyone. For forty years, he produced and distributed Project Gutenberg™ eBooks with only a loose network of volunteer support. Project Gutenberg™ eBooks are often created from several printed editions, all of which are confirmed as not protected by copyright in the U.S. unless a copyright notice is included. Thus, we do not necessarily keep eBooks in compliance with any particular paper edition. Most people start at our website which has the main PG search facility: www.gutenberg.org. This website includes information about Project Gutenberg™, including how to make donations to the Project Gutenberg Literary Archive Foundation, how to help produce our new eBooks, and how to subscribe to our email newsletter to hear about new eBooks.